Die Kate-naellak

Die skoonheidshuis Butter London het 'n naellak-skakering aan Kate Middleton opgedra. Die naam is No More Waity, Katie – haar bynaam vóór die verlowing! Die kleur is volgens die Kanadese Elle 'n liggrys met 'n effense glim. Gesofistikeerd en tog in pas met die nuutste trends.

Kate se Nanette-rok

Maar naelkleur is nie die enigste gier wat deur dié prinses-in-wording beïnvloed word nie. Reiss Online, 'n aanlyn-klerewinkel, het die Nanette-rok, soortgelyk aan die een wat Kate op hul verlowingsfoto's gedra het, vervaardig. Die rok het binne een uur ná die bekendstelling daarvan heeltemal uitverkoop.

Dié foto: Geluk en liefde

In 'n onderhoud met Vogue het Mario Testino vertel van die dag toe hy die amptelike verlowingsfoto's van Kate en William geneem het. Dis nou die foto's waarin sy die Nanette-rok dra.

In die onderhoud verwys hy na Kate as Catherine, want dit is hoe sy ná die troue bekend sal staan. Hy vertel hoe gemaklik en stylvol sy is. Hy het haar en William in 2005 na die uitstalling van sy prinses Diana-foto's uitgenooi. "Sy was wonderlik! Sy het almal wat aan die projek gewerk het bedank. En sy het vrae gevra en almal so gemaklik laat voel in haar teenwoordigheid," vertel hy.

Toe Mario jare gelede vir prinses Diana afgeneem het, het hy 'n CD van Dalida, 'n Franse sangeres, op die stel gespeel. "Ek het besluit om dieselfde musiek tydens die fotosessie met Catherine en William te speel."
Oor die toekomstige prinses het hy net mooi woorde te sê: "Prins William kon nie vir 'n beter lewensmaat gevra het nie. Hulle deel 'n sekere energie en hulle is 'n span. Hoewel sy reeds die koninklike status en verantwoordelikheidsin het, het sy tog ook 'n teenwoordigheid en ’n sin vir humor wanneer sy by 'n vertrek instap."