Sê ja! en gryp die dag aan met Beautiful Belle, Estée Lauder se splinternuwe geur. Die parfuum is ’n mengsel van lietsjie, lemoenbloeisel, katjiepiering, marsepein en muskus. Dis ’n geur om op verlief te raak – op jou groot dag en oor en oor elke dag.

Beautiful Belle se slagspreuk is #lovebreaksalltherules … Hier wys SARIE se modespan en twee modeontwerpers hoe jou trourok die reëls kan breek.

Amaria Carstens, SARIE se moderedakteur

1. Gekleurde borduursel

Vandat ek die eerste keer dié Gucci-rok op die loopplank gesien het, sê ek as ek ooit weer trou, trou ek in dit. Die gekleurde detail, treffende borduurwerk en vere-detail het my asem weggeslaan! Moenie wegskram van kleur op jou troudag nie – al gebruik jy dit net in fyn detail.

Magdel Muller, SARIE se styl-en-mode-assistent

2. Deursigtig

In die Beautiful Belle-veldtog straal die model Grace Elizabeth selfvertroue uit. As daar één trourok is wat selfvertroue vier en verg, is dit ’n deursigtige een. Maar soos die danser Julianne Hough vir ons gewys het – die styl kán elegant lyk! Heroorweeg gerus die tradisionele wit materiaal en tipiese snit en waag met ’n rok wat jou kurwes wys. ’n Deursigtige rok is boonop perfek vir ’n somertroue in Suid-Afrika.

Links: Magdel Muller Regs: Berta Bridal

3. ’n Rok wat transformeer

In die Beautiful Belle-video word Grace Elizabeth se rok met ’n enkele beweging getransformeer: ’n rok met ’n dramatiese romp verander in ’n stylvolle sleeprok van sy. So wys die rok die verskillende dimensies van jou persoonlikheid en styl. Die seremonie self kan steeds formeel wees, maar met die onthaal wil jy die nag omdans.

Beautiful Belle-veldtog

Olga-Maré Hougaard, modeontwerper van Olga-Maré

4. Eenvoudig en treffend

Natja het my die kreatiewe vryheid gegee om ’n rok te ontwerp wat by haar persoonlikheid en styl pas. Sy wou wegbeweeg van die tradisionele voorkoms, dus het ons besluit om die rok eenvoudig dog treffend te hou. In plaas van ’n sluier het ons ’n mantel gekies, en die rok het ’n spleet eerder as ’n sleep gehad.

Natja se rok deur Olga-Maré FOTO: Pritti by Migneon Marais

5. Natuurlike materiaal

Elsje se rok is van natuurlike materiale gemaak – sy met skaapwol en suiwer katoen vir die borduursel. Die kristalle het Elsje self op ’n familielid se plaas in Namibië gekry – en dit het nog grond daarop gehad toe ek dit ontvang.

Elsje se rok deur Olga-Maré FOTO: Dearheartphotos

Besoek Olga-Maré se webtuiste hier. Fotograwe: Pritti by Migneon (Natja) en Dearheartphoto (Elsje).

Olga-Maré se wenke aan bruide
  1. Volg jou eie styl en dra iets wat by jou persoonlikheid pas. Moenie bang wees om ’n bietjie te waag nie. Jy hoef nie elke norm en tradisie te volg nie! Dis die één dag waarop die bruid niks verkeerd kan doen nie en mooi sal wees, maak nie saak wat nie.
  2. Fokus op een item wat jy wil hê moet uitstaan. Moet byvoorbeeld nie groot oorbelle of ’n bonkige halssnoer by ’n rok dra wat reeds detail by die moue of neklyn het nie. Dit neem die fokus weg van waarop jy dit eintlik wil hê – jou rok.
  3. Wanneer jy by die paadjie afstap, moet jy steeds soos jy lyk – natuurlik die mooiste weergawe van jouself, maar steeds jy. Moet dit nie oordoen nie. Daar is ’n fyn lyn tussen net genoeg en té.
  4. Luister gerus na jou ontwerper. Hulle het gewoonlik goeie raad, veral as dit kom by watter snit jou figuur pas. Maar moet ook nie bang wees om te sê as jy nie hou van ’n voorstel of ontwerp nie. Die maak van die rok vir jou spesiale dag is ’n avontuur waarop jy en die ontwerper saam is.

Suné Snyman, ontwerper van Suné Snyman Design

7. Eenskouer-styl

Baie bruide vergeet maklik van die eenskouer-styl, maar dis regtig vleiend en gemaklik. Dié rok is geïnspireer deur minimalistiese tendense en eenvoud. Blomme is gebruik om aksent op die regte plekke te plaas. 

Suné Snyman Design FOTO: Local Truth

8. Blaar-motiewe

Dié trourok van crêpe-materiaal het ’n A-lyn-silhoeët met ’n lae rug en driekwartmoue van net. Die inspirasie vir die kontrasterende goue kralewerk het gekom van ’n Bybelse krans wat ’n nuwe seisoen aandui.

Die bruid, Nienie, het verkies om nie tradisionele wit kant te gebruik vir haar moue nie, maar eerder ’n blaarmotief wat ek en sy self saam geteken en ontwerp het. Elke kraletjie en blaartjie is met die hand gewerk en bied ook tekstuur en diepte aan die bostuk. 

Nienie se rok deur Suné Snyman Design FOTO: Pritti by Migneon Marais

9. Pienk

Dié trourok het ek spesifiek ontwerp vir die rebelse bruid wat nie noodwendig in wit wil trou nie, maar eerder ’n sagte skakering van pienk. Die hele rok is gemaak van lae net in verskillende skakerings van pienk. Die bruid is lief vir die see en wou graag kralewerk op haar rok hê. Die romp se rompgedeelte beeld die spoel en breek van branders uit. 

Suné Snyman Design FOTO: Local Truth

Besoek Suné Snyman Design se Instagram-blad hier. Fotograwe: Local Truth en Pritti by Migneon (Nienie)

Suné Snyman se wenke aan bruide
  1. Wees ’n bietjie rebels en kies kralewerk wat met die hand in ’n interessante motief gewerk is, eerder as gewone gekoopte kant. 
  2. Gestreepte wit materiaal wat in verskillende rigtings gesny word, kan ’n groot visuele impak hê. Selfs sagte wit kolle op wit materiaal kan baie funky, maar steeds statig lyk. 
  3. Pasop vir spierwit. Daar is ’n groot verskeidenheid wit skakerings – van ivoor en room tot blouwit en melkwit, om net ’n paar te noem. Jou gelaat gaan nie by alles ten beste vertoon nie. 
  4. Oorweeg ’n hoed of haarstuk in plaas van ’n sluier. Veral met die nuutste somermodes kan ’n strooihoed hom leen tot fantastiese foto’s. 
  5. Oorweeg twee rokke, een vir die seremonie en ’n korter een vir die onthaal. Dit gee jou die kans om twee van jou top-style op jou troudag te dra. 

Beautiful Belle is nou landwyd in winkels beskikbaar. Besoek Estée Lauder se webtuiste vir meer inligting! #LoveBreaksAllTheRules