Die Dear Dorothy-klerereeks het in 2009 ontstaan toe Laura een keer 'n maand verkopings van goeie, outydse (vintage) klere by haar huis gehou het. Mense het gekom om na ou plate te luister en met 'n glasie wyn in die hand die klereversameling te beloer.
"Daar was baie voor- en nadele met my vintage klere," vertel Laura. "Als was so uniek, maar daar was net een van elke item en nie noodwendig in die regte grootte nie. Dis waarom ek besluit het om eerder my eie reeks, wat inspirasie neem uit die modes van die 50's, te begin."
  
Sy het aan die werk gespring en 'n patroonmaker en naaldwerkster aangestel om haar reeks aanmekaar te sit. Dit het ook maar soms bietjie gesukkel, sê sy. "Omdat ek nie mode studeer het nie (ek het 'n graad in kunsgeskiedenis en Nederlands) was dit aan die begin moeilik, maar dis nou my tweede seisoen en dinge gaan makliker."

Dear Dorothy lê baie klem op die uurglasfiguur van die vyftigerjare, maar daar's beslis 'n moderne streep.  Sagte bloese en uitskoprompe is met moderne juweliersware te sien in haar reeks. Sy noem Grace Kelly, plaaslike ontwerpers soos Coppelia en Cleo Dromer, en vrouens met kurwes as dinge wat haar inspireer.

Oor die naam sê Laura: "Ek het geweet ek wil 'n oudtydse naam gebruik, omdat my reeks deur ouderwetse dinge geïnspireer is, en omdat briefskryf so deel van die verlede is, het ek gehou van die 'Dear' element. En ek's mal oor alliterasie!"

Dear Dorothy word by Mungo and Jemima (Langstraat 108, Kaapstad) verkoop, asook by die City Bowl-mark wat aan die einde van elke maand in Hopestraat, Tuine (in die Kaap), plaasvind.

Besoek www.dearestdorothy.tumblr.com om te sien waarmee Laura op die oomblik besig is.