Dis 05:00 in die oggend. Teen 07:00 is sy asemrowend en die res van die span reg om met die eerste foto op die Rovos Rail-trein te begin, maar o wee – die trein is nie daar nie!

 

Paniekbevange bel ek my kontak, net om te hoor dat die trein om 08:30 in die stasie sal wees. Fantasties, dink ek – 11:00 vertrek die trein uit Kaapstad na Dar es Salaam, ons sal dit maak. Ek het Sondagaand niks geslaap nie, ek was so bang dat daar nie genoeg tyd sal wees nie!

 

Maar die kort gelukkie ontaard skielik in 'n nagmerrie. Om 08:30 is die trein nie daar nie, ook nie 09:00 nie. Ook nie 09:30 nie! Ek is besig om 'n angsaanval te kry. Omdat die trein reeds laat is, moet ons solank met van die foto’s op die platform begin.

 

Met 'n rookmasjien in die hand blaas ons rook om die gevoel te skep van 'n ou stoomlokomotief-stasie. (Hoewel van die trokke uit 1914 dateer, word die trein elektronies uit Kaapstad gesleep. Die ou stoomlokomotief word eers in Pretoria aangeheg.)

 

Om 10:30 daag die trein op. Nou is ek al na aan 'n asma-aanval. Dit is onmoontlik om 5 foto’s in 'n halfuur te doen. 'n Normale agt-bladsy-modestorie neem ongeveer 8 ure om af te neem!

 

Geluk by die ongeluk, dis al wat ék dit kan noem, want gelukkig vir ons blaas daar toe 'n “fuse” en die trein sit sonder elektrisiteit! Die fuse moet vervang word en dit gee ons 'n ekstra uur. Binne 'n uur en 'n half skiet ons 5 foto’s!

 

Die model hardloop van trok tot trok om klere om te ruil en grimering vinnig te retouch. Toe Mignonne om 12:00 haar voete van die trein af sit, word die sein gestuur dat hy reg is om te vertrek. Die mees spanningsvolle dag eindig in 'n reuse-sukses te danke aan 'n professionele model, 'n fantastiese fotograaf, Johan Wilke, my altyd-staatmaker, Fiona Gentry, en my regterhand, Chernelle Liedeman.