Catherine Schuller, een van Ford-modelagentskap se eerste plus-groot modelle en dosent aan die New York Fashion Institute of Technology, gaan eersdaags haar projek, Curves Across Continents, na Suid-Afrika bring.

SARIE.com het Catherine, wat ook ’n voorkomskonsultant is, tydens die New York Modeweek ontmoet toe sy haar eie modeskou, Runway The Real Way, bekend gestel het. Dit was die eerste keer dat modelle van “alle groottes”, soos sy dit noem, die kans gekry het om in die nuutste modes van spesifieke ontwerpers te verskyn. Catherine gebruik modelle van enige ouderdom, grootte, lyftipe of velkleur. “Die idee is om vir veral jong vroue te wys dit maak nie saak hoe ons lyk nie, ons kan almal fantasties voel oor onsself," sê Catherine. Catherine was ook die redakteur van Mode, een van die eerste plus-grootte modetydskrifte in Amerika.

Want ons almal verdien om goed te lyk. Ons almal verdien om goed te voel oor onsself.

 - Catherine Schuller

Die Curves Across Continents-projek beplan om gewone vroue van alle groottes uit Suid-Afrika te identifiseer en as modelle op te lei. Dit is ten bate van welwillendheid en verbind aan haar Divabetic-welwillendheidsprojek - ’n bewusmakingsveldtog oor diabetes, een van die grootste gesondheidsprobleme in Amerika. Catherine meen die modebedryf raak al meer gewoond aan die idee van die plus-groot model, waar dit eens taboe was. Sy wil die plus-groot bedryf herskep, sê sy.

“Ek weet hoe dit voel om ’n plus-groot vrou te wees en ek is gemaklik in my vel. Ek wil hê ander vroue moet ook so voel. Nou kan ek ’n trots plus-groot revolusie begin in ’n bedryf waarin mense nie weet wat om met sy plus-groot modelle en klere te doen nie. Ek wil ander vroue inspireer om gemaklik te wees in hul vel.”

Catherine gee aantrekwenke vir die voller figuur:

Catherine wil ander vroue inspireer om goed te voel oor hulself, maak nie saak hoe groot of klein gebou hulle is nie:

SARIE.com is agter die skerms by Catherine Schuller se Runway The Real Way. Blaai deur ons galery vir dié foto's.