Skeppende direkteur Raf Simons het met ’n couture-reeks vorendag gekom deur net die regte kombinasie van die Dior van ouds te vermeng met moderne en relevante style van vandag. Alexandra Schulman, redakteur van die Britse uitgawe van Vogue, het opgemerk dat die kleurkombinasies onkonvensioneel is.

Donkeroranje, pepermentgroen en diep-pers is die kleure van die oomblik. Daar was volume in die rompe, hande in romp- en broeksakke, fyn borduurwerk op moue en ook aandrokke en hooftooisels met kant-detail. Simons se idees is nuwerwets, soos sy kombinasie van metaalpienk en -blou met swart vir formele aanddrag.

Hierdie reeks het beslis aandag getrek na Simons se idees en visie vir die modehuis. Ons wag in spanning vir die vrystelling van Dior se “ready-to-wear” reeks.