Met groot nuuskierige oë het die klein seuntjie al sedert laerskooljare van die kantlyn af raad gegee en sy ma help aantrek. En vandag is dit stééds vir Chris Viljoen lekker om sy modekennis met vroue te deel. Hy geniet dit om vroue te sien blom in mooi klere.

Hier deel hy sy eie top-5 mode-oomblikke:

1. Ek was omtrent agt jaar oud. My pa het ná 'n lang buitelandse reis teruggekom. Ons was so opgewonde, my ma het 'n nuwe uitrusting gaan koop: 'n koningsblou uitklokbroek en 'n polkakol-bloes (mouloos) met 'n groot strik om die nek en 'n paar taankleurige 70's-stapelhakskoene. Ek kon nie glo hoe mooi sy gelyk het nie!

2. In my tienerjare was ek mal oor Top-shop, die musiekprogram op TV. Dit is waar ek die eerste keer die video van Madonna se "Material Girl" gesien het. Hierin het sy vir Marilyn Monroe in 'n pienk satynrok, met lang handskoene en diamanté-oorbelle nagemaak. Dit was wonderlik glam, nes die tagtigs.

3. My gunsteling-fliek van alle tye is Out of Africa. Karin Blixen (Meryl Streep) kom na Afrika om te trou - in die Nairobi Country Club. Sy dra 'n hobbel-romp ("hobbel" genoem omdat jy nie daarin geloop kan kry nie) met 'n driekwart-lengte peplum-baadjie in ivoor met 'n cloche-hoed op haar kop. Dit het my asem weggeslaan.

4. So 'n paar jaar terug het ek 'n vrou op die lughawe gesien. Sy het haar wye heupe in leggings gedruk en haar bors in 'n T-hemp met horisontale strepe, op plat skoene. Sy het al die reëls gebreek, maar haar houding was fantasties. Van daai dag af glo ek almal kan alles dra, dit gaan oor jóú en jy moet goed voel.

5. By die onlangse koninklike troue, toe Victoria Beckham opdaag in die trofeehoed, smokrok, wat langer agter is as voor, en die toringhoë platform-hofskoene. Sy was die toonbeeld van modern, nóú. Ek wens net dit was in 'n helder kleur.