Henry Schickerling is ’n Suid-Afrikaans-gebore ontwerper wat vir beroemdes in die opera-wêreld pragrokke ontwerp. Hy bly in New York, waar hy sy eie ontwerpersfirma, Tosca New York, gestig het en eksklusief met Saks Fifth Avenue werk. Deesdae soek almal sy rokke, van Pretty Yende en Aretha Franklin tot Arabiese prinsesse…

“Ek het op laerskool al besef ek wil met klere werk nadat ek ’n sertifikaat ontvang het vir ’n klereskets. Ek kan nou nog klere onthou wat my ma, Rina (90), gedra het toe ek vyf jaar oud was. Sy was lief vir naaldwerk en my oorlede pa, Fred, was die Suid-Afrikaanse agent vir die Switerserse naaimasjien, Bernina. Ons het in Linden gebly. Ek het nog altyd ’n voorliefde vir klere skets, geweet wat pas by wat. Riaan Cruywagen se ouers was saam met ons in die kerk en sy ma het een keer gesê sy sou wegkruip vir my omdat ek altyd vir haar sou sê haar rok en hoed pas nie!

Ná skool het ek by die American Academy of Fashion in Kaapstad studeer en is daarna oorsee. Op 22 het ek ’n kursus by die beroemde Tailor and Cutter Academy in Londen gedoen., later by Mila Schon in Milaan en Pino Lancetti in Rome gewerk. Terug in Johannesburg in 1976 het ek saam met ander ontwerpers die South African Couture Syndicate gestig. Ek onthou ek’t toe klere gemaak vir Christiaan Barnard se vrou, Barbara, en presidentsvrou Marga Diederichs.

Ek’t in 1983 besluit om New York toe te trek. Ek’s een keer by die Metropolitan Opera voorgestel aan Renee Fleming, een van die grootste operasterre ter wêreld. Dit was ’n hoogtepunt, en die begin van baie dinge, toe ek haar rok ontwerp het vir haar Suid-Afrikaanse konserttoer.

Sedertdien het ek al vir verskeie bekende operasterre en ryk vroue klere ontwerp en werk ek eksklusief met SAKS Fifth Avenue, wat vir my kliënte stuur - van Arabiese prinsesse tot bekendes soos Aretha Franklin, vir wie ek drie rokke gemaak het. Ek het al klere gemaak vir Judge Judy, Joan Rivers, ‘n sakevrou van Google en onderhandel nou met ’n Hollywood-ster.

Ek het onlangs weer ’n rok gemaak vir Susan Graham, wat ek al jare ken, wat sy in April na die Opera News-toekennings gedra het. Ek het vroëer vanjaar ’n rok vir Pretty Yende gemaak en ons praat nou oor een vir haar debuut by Carnegie Hall in Oktober.

Dis nogal senutergend om met bekendes te werk, want jy weet nooit wat kan hulle ontstel nie. Gewoonlik is hulle vriendelik, maar ek moet ook maar partykeer aandring op respek.

Ek het Tosca New York in 2002 saam met Marion Milnovic gestig, wat 18 jaar vir Oscar de la Renta gewerk het. Wat ons uniek maak is dat ons vir vroue van enige grootte ontwerp. Operasangers is nie klein gebou nie. Ek moet hul asemhaling in ag neem want hul middelmaat vergroot wanneer hulle sing. Boonop hou Amerikaanse vroue van “drop dead gorgeous gowns” waarmee sy ‘n reaksie lok, so ek moet kreatief bly!

Ek glo jy hoef nie ontwerpersklere te dra om mooi te lyk nie. Enige vrou kan aantreklik wees as sy moeite doen.

As ek nou terugkyk oor my loopbaan is ek bevoorreg om te kan sê ek’t alles bereik wat ek wou. Ek bly in Manhattan, om die draai van Cameron Diaz en langs Jan Smuts se 90-jarige kleinseun, Jan Smuts Clark. Ek gaan kuier een keer per jaar vir my ma en familie in Pretoria. Ek mis Suid-Afrika en Afrikaans praat.

Dis nie aldag maklik in New York nie, daar’s groot kompetisie. Dis nie altyd die mees talentvolle een wat dit in die modebedryf maak nie, dis die een wat die hardste werk!