Sy gesels met Marguerite van Wyk oor die inspirasie vir dié skepping en ander projekte

Wat het jou geïnspireer om dié skepping te maak?
Die ''eksplosiewe'' drie-dimensionele vorm van die rok is geïnspireer deur die gewelddadige, wrede aard van Vigs. Die patroon van die rok is geïnspireer deur die driehoekige geometrie van die HIV-molekule. Die rok is ontwerp om te lyk asof dit aangeval is deur reuse-molekules! Die gevorderde snyersbaadjie wat daarby gedra word, is 'n moderne interpretasie van die 16de eeuse Spaanse wapenrusting en 18de eeuse Franse manspakke. Dit mimiek die pantseragtige kwaliteit van die kondoom. My uitrusting weerspieël dus die vermoë van die kondoom om jou te beskerm. Ek het R30 000 gewen van die South African Clothing and Textile Workers Union (SACTWU) met dié skepping.

Waar het jy jou inspirasie vir dié rok gekry en hoe het jy jou navorsing aangepak? Wat inspireer jou in die algemeen met jou ontwerpe?
Ek het verskillende soorte wapenrustings nagevors en het gevind die 16de eeuse Spaanse wapenrusting was die interessantste. Dit het ook die HIV-molekule se vorms die beste weergegee. Ek is deur die geometrie geïnspireer.

Ek word deur die meeste dinge om my geïnspireer. Vreemde, mooi dinge. My werk is nogal konseptueel. Ek kry dikwels inspirasie uit historiese kostuums en glo in die hergebruik (recycling) van bestaande, ongewone materiale.

Hoe het mense op die kondoom-skepping gereageer?
Verwonderd, nuuskierig. Hulle kon dit eintlik nie glo nie. Die borduurwerk daarop het gemaak dat mense dit nie eintlik herken nie. Almal was geïnteresseerd en gefassineerd en wou meer uitvind -- van kleintjies tot oumas.

Baie mense sê dis bloot geskep om te skok . . .
Ek wou iets skep wat die oog tref. Iets wat mooi is, maar wat mense ook laat dink. Ek wou hê mense moes die ontwerp waardeer voor hulle besef waarvan dit gemaak is. Dit was lekker om te sien dat hulle eers, as hulle die rok behoorlik beskou het, agtergekom het dat dit van komdome gemaak is. En dán het hul nuuskierigheid toegeneem. En dit was die hele doel van die rok. Om debat te stimuleer en mense akuut bewus te maak van die hele HIV/vigs-vraagstuk.

Jy het al materiaal soos motorbinnebande gebruik . . . watter ander alternatiewe materiale maak ook deel uit van jou ontwerpe?
Ek het al die binnebande van trok-motorbande gebruik om supergestruktureerde argitektoniese oorvou-baadjies met kappies vir die Arise Cape Town Fashion Week te ontwerp. Ek het ook al opgesnipperde matrasstopsels vir deursigtige bostukke en verskeie tipes rubber-vloerbedekkings vir snyersbaadjies gebruik. Ek vind die teksture van dié materiale baie inspirerend. Ons is beperk in Suid-Afrika met ongewone materiale, so om bestaande materiale te hergebruik help om my te definieer as 'n ontwerper. Dit is ook eko-vriendelik.

Watter pryse het jy reeds ingepalm?
Die Durban July Young Designer Award in 2008 en 'n pryswennersreis na die London Graduate Fashion Week in 2009. Ek het ook tweede plek in die Foschini Annual Design Awards in 2008 gewen.

Het jy sedert kleintyd gedroom van 'n loopbaan as mode-ontwerper?
Ek was nog altyd geïnteresseerd in kuns en ontwerp, maar het ook sielkunde en medies oorweeg. Ek het in 2005 aan Worcester Gimnasium gematrikuleer.

Vertel ons so 'n bietjie van jou grootwordjare...
Ek het groot geword in Worcester, waar ek my ma se klere aangetrek het en rondgeloop het in haar reuse- hoë hakke! Ek wou ook 'n ballerina en Mej. Wêreld wees. Ek is mal oor dans, hardloop, lees, vreemde flieks kyk. En ek is mal daaroor om te reis.

Op watter projek is jy die trotsste?
My reeks wat ek moes doen om my graad te verwerf in 2008. Dit het verder as die loopplank gegaan en is op die ou einde by 'n konferensie oor menseregte ''aangebied''. En die kondoom-rok. Laasgenoemde was baie arbeidsintensief. Ek het nie geweet of ek dit ooit sou kon voltooi nie.

Hoe sien jy jou lewe vorentoe?
Dit sal vir my lekker wees om my eie handelsmerk (brand) te vestig - die mees uitsonderlike handelsmerk ooit, van Suid-Afrika. Ek sou ook graag my eie winkel wil hê wat aan winkels regoor die wêreld voorsien. En ek sou graag wil hê dat my skeppings op modeskoue regoor die wêreld vertoon word. En dan wil ek soveel as moontlik reis.

Wat is jou ''wildste'' mode-fantasie?
Om tee te drink saam met Vivienne Westwood.

Wie is jou mode-mentors?
My gunsteling-ontwerper is Viktor & Rolf en ek is mal oor die etiket Rodarte, wat ontwerp word deur Kate en Laura Mulleavy. Hul idees is verstommend.

Baie mense sê mode is vir loskoppe en is ''sommer bog''. Tog lyk dit asof jy sosiale kommentaar wil lewer met jou modes.
Ja, en ek streef daarna om ''doelgerigte'' modes te ontwerp. Dit moet méér wees as mooi rokke, hoewel ek mal is oor mooi rokke.

Ontwerp jy ook ander prettige dinge-handsakke, skoene, trourokke - en wat is jou gunsteling-item om te ontwerp?
Toe ek gestudeer het, het ek 'n reeks handsakke ontwerp wat deur Portfolio New Designer's Platform verkoop is. Ek was mál daaroor. Toe ek gestudeer het, het ek ook ingeskryf vir 'n deeltydse skoenmaak en skoen-ontwerp-kursus en ek gaan dít beslis vorentoe deel van my repertoire maak. Ek is ook mal daaroor om mans- en swemklere te ontwerp.

Trek Suid-Afrikaanse vroue goed aan?
Ja, en ek is altyd op die uitkyk na individue wat stylvol en ongewoon aantrek.

Wat is die belangrikste styl-wenk vir vroue wat goed wil lyk?
Geniet dit om jouself soggens aan te trek. Dit is my gunsteling-deel van die dag.

Wat het mode jou omtrent die mensdom en oor jouself geleer?
Alle mense wil geïnspireer word. En ek het geleer om my instink te volg.

Watter klere dra jý graag?
Laag op laag met bybehore wat mense laat dink. Ek hou daarvan om klere te dra soos dit nié bedoel is om gedra te word nie. Soos om 'n baadjie as 'n broek te dra.

Hoe sal jy jou ontwerpe/styl beskryf?
Aspirerende high fashion.

Wat is die belangrikste neigings vir die res van die somer en vir die winter?
Vir die somer: roomys-kleure, geometriese en kuns-geïnspireerde drukmotiewe. Vir die winter: bonkige truie met baie tekstuur.