Nou gaan hulle Afrika in September vanjaar by die New York Modeweek verteenwoordig, saam met vier ander ontwerpers uit ons vasteland. 
Malcolm het in Londen by die Central Saint Martins studeer en het daar geleer by John Galliano, wat tot onlangs die hoof-ontwerper van Dior was. In 2003 het hy en Christiaan KLûK CGDT begin. Sterre soos Beyoncé, Charlize Theron en Rachel Weisz het al in hul ontwerpe op die rooi tapyt geskitter. Malcom het aan sarie.com vertel hoe die Lagos Modeweek verloop het: “Ons het by die Lagos Modeweek opgedaag sonder om regtig te weet wat om te verwag. Almal was Afrika-ontwerpers, maar die meeste van hulle is in wêreldstede soos Parys, New York, en Berlyn gebaseer. Ons was absoluut oorweldig deur die goeie reaksie wat ons gekry het! By die gala-geleentheid was ons geskok en sprakeloos oor die toekenning. En toe ons hoor ons gaan New York Modeweek toe, was ons in ekstase!” Hulle is geweldig opgewonde om Afrika in New York te gaan verteenwoordig. “Dit gaan baie interessant wees. Ons was in 2003 daar toe ons modehuis maar ’n paar maande oud was, en ons het sedertdien ongelooflik baie ontwikkel. Die blootstelling is ook van onskatbare waarde,” vertel Malcom opgewonde verder. Die ander Afrika-ontwerpers wat in September na New York gaan, is Bunmi Koko, Tsemaye Binitie, Jewel by Lisa en Pierre-Antoine Veterello. Die gala-aand was die grootste geleentheid van sy soort wat nog in Afrika gehou is.