"My oë en my kurwes is beslis my beste bates," vertel Corlea. Sy hou daarvan om met kleur en grimeermetodes te eksperimenteer, veral grimering wat haar oë laat uitstaan. Corlea is geseën met lang wimpers, maar met die regte maskara kan elkeen van ons mooier wimpers hê.

Corlea en ons modedirekteur, Chris Viljoen, stem saam dat die meeste mense dink dat as jy kurwes het, jy lospassende klere of "veiliger" snitte moet dra. Dit is egter nie die geval nie – jou klere moet jou steeds mooi pas, en nie aan jou hang nie.

"Ek het die afgelope paar maande begin eksperimenteer met potloodrompe (wonderlik vir kurwes!), sowel as oorvourokke (soos die een wat ek op die SARIE-voorblad van April 2011 – sien foto bo – aangehad het – dankie Fanie!)" sê sy.

Sy waarsku dat mens die regte onderklere en bykomstighede moet dra, maar wanneer jy verstandig kies, kan jy net so mooi soos Jennifer Lopez of Kim Kardashian lyk. "Dra dit met selfvertroue," is Corlea se raad.

Elke vrou het haar uitdagings, en volgens Corlea is sy maar aan die kort kant. Daarom maak sy altyd seker dat sy hakke dra, maar gelukkig is sy "baie mal" oor skoene.

* Corlea is dié jaar in twee opwindende SARIE-produksies betrokke: Die SARIE KOS Extravaganza (11 Augustus en 15 September) saam met Nataniël, Barbara Joubert, Herman Lensing en meer, asook die Afrikaans is Groot-konserte (11 tot 13 Oktober) met die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf. Moet nie een van hierdie misloop nie!

KYK WAT KIES CORLEA VIR HAARSELF UIT DIE SARIE.COM-WINKEL:

Corlea se keuse uit die sarie.com-winkel

1. Nicole-top van Michelle Ludek

Chris sê: "Klere wat mooi drapeer, is ’n vrou se beste mode-oplossing."

2. Flashdance-rok van Christopher Strong

Chris sê: "Gemaklik, en steek ’n duisend en een figuurfoute weg."

3. Willow-wighak van Errol Arendz

Chris sê: "Dis geen geheim dat 'n wighak die gemaklikste hoëhakskoen is nie, maar dié een het 'n kussinkie onder die voet wat sorg vir ekstra gemak. Dit, saam met Errol se kenmerkende flambojante styl, sal maak dat jy enige partytjie op horings kan neem."

4. Va-Va-Voom-hakke van Errol Arendz ("Ek gaan dié vir seker vir my aanskaf!")

Chris sê: "Die ding van hierdie skoene is: nie net gaan jy fantasties lyk nie, jy gaan dit ook voel!"

5. SARIE-bessiepienk lipstiffie

Skoonheidsredakteur Mariska van Rooyen sê: "Bessiepienk is een van my gunstelingklere vir lippe en boonop ’n kleur wat almal kan dra. Dit lig jou gesig en laat jou oë en tande witter lyk."