My top 4 by die Sanlam SA Modeweek Donderdag 2 April en Vrydag 3 April 2009. Die week skop af met Amanda Laird Cherry en Lunar wat die opening deel. Vir beter kon ons nie vra nie. Amanda Laird Cherry se versameling het interessante plooi- en voudetail, en van vroue- tot mansklere het dit weerspieël. Veral die afronding van die reeks was ongelooflik – van plat sandale tot die halssnoere. Die kleure in hierdie reeks is swart, wit, steenkleurig, "pebble"-grys en grysbruin.  Lunar se somerreeks  het eenvoudige vorms vir mans en vroue. Kleure is in 'n neutrale palet van wit, grys en grysbruin. Karen Ter Morshuizen, die ontwerper van Lunar, werk net met natuurlike stowwe. Vir die somerreeks maak sy gebruik van gaas-linne, sy-organza en fyn katoen-breistowwe. Die aand is afgesluit met 'n asemrowende reeks van Abigail Betz  – ook my gunsteling vir die aand. Die hele reeks bestaan slegs uit rokke – 50’s-styl, empire-styl, slooprokke, nagrokke en skederokke. Wat die reeks so ongelooflik maak, is dat al is die basiese silhouette dieselfde, lyk nie een rok dieselfde nie. Die kleurskakering is ook engelagtig – van "blush tones" tot 'n ligte "pebble"-grys. Materiale het ‘n vroulike aanslag, soos sy-chiffon, kant en maasstof. Die groot gunsteling Vrydag was Tiaan Nagel. Die interessante manier hoe hy kleur inspan, is asemrowend – swart, ligte pers, wynrooi, naaswit en oranje. Ritssluiters wat kenmerkend van sy somer 2008-'09-reeks was, is weer merkbaar. Klere was óf styf aan die lyf óf die heupe is meer beklemtoon deur interessante styllyne. 'n Oosterse gevoel het ook deurgeskemer in die blompatroon-kralewerk op van die kledingstukke, asook die origami-gevoel wat geskep is met die vou-detail in sekere ontwerpe. Hierdie is talent wat dopgehou kan word. Ek het ongelukkig ander groot gunstelinge soos Story, Stoned Cherrie & Colleen Eitzen gemis wat Saterdagaand hul somerreekse gewys het, maar ek het Johannesburg steeds opgewonde verlaat oor wat die somer gaan bring.

Gunstelinge by die Sanlam SA Modeweek

Amanda Laird Cherry @ SANLAN SA Modeweek Amanda Laird Cherry @ SANLAN SA Modeweek Lunar @ SANLAN SA Modeweek Lunar @ SANLAN SA Modeweek
Amanda Laird Cherry Amanda Laird Cherry Lunar Lunar
Abigail Betz @ SANLAN SA Modeweek Tiaan Nagel tydens SANLAM SA Modeweek Tiaan Nagel tydens SANLAM SA Modeweek
Abigail Betz Abigail Betz Tiaan Nagel Tiaan Nagel