Toe ek klein was het ek altyd in my ma se juwelekissie geloer en met haar juwele gespeel. Selfs die raas wat ek gekry het, kon my nie daaruit weghou nie! Daar was veral een hangertjie wat my gefassineer het. So 'n silwer hangertjie met pienkerige steentjies - waarvan die kleur verander het soos wat die lig daarop val. Die silwer was fyn blaartjies en dit het gelyk of die steentjies die blommetjies vorm.

Toe ek groter word, het my ma my vertel dat sy die hangertjie by haar ouma geërf het en dat dit vir haar baie sentimentele waarde het. Vir my het dit die mooiste hangertjie op aarde gebly! Soos alle dogtertjies, het ek sommer vroeg al oor my matriekafskeid begin droom. Ek het dan altyd gedroom hoe ek met daardie hangertjie om my nek by die afskeid opdaag. Toe die tyd uiteindelik aanbreek, het ek vir my ma gesê my matriekafskeidrok moet by daardie kosbare hangertjie pas. Ons het ons dood gesoek na die regter kleur materiaal. Uiteindelik het ons dit raakgeloop en tannie Julie het vir my die mooiste rok in die wêreld gemaak. 'n Rok wat perfek by die mooiste hangertjie in die wêreld pas!

Sien alle inskrywings