Kate Moss is al jare lank invloedryk in die modewêreld. Vandat sy in 1988, op die ouderdom van 14, by die JFK Lughawe in Amerika ontdek is deur Sarah Doukas, het haar loopbaan elke teenstaander verkeerd bewys. Nou, op die ouderdom van 38 (op 16 Januarie word sy 39) is sy besiger as ooit.
Kate Moss vir Givenchy. Hier ook te sien saam met Mariacarla Boscono vir die modehuis se Lente/Somer 2013 advertensieveldtog.

Hierdie Lente/Somer-seisoen sal jy haar gesig in drie verskillende advertensieveldtogte sien: Givenchy, Stuart Weitzman en ook Versace. 'n Verrassende feit is dat sy nooit nie vantevore vir Givenchy gewerk het nie. Wêreldoorheersing is dalk net Moss se volgende plan – Forbes berig dat sy die model is wat tot dusver die tweede meeste geld verdien het ($9,2 miljoen of kort duskant R80 miljoen om presies te wees) in die finansiële jaar 1 Mei 2011 tot die 1 Mei 2012.
Hier is Kate Moss te sien in Stuart Weitzman se skoene vir sy Lente/Somer 2013- reeks.

In die drie modeveldtogte sien ons hoe Moss die voortou neem met haar sterk blik en geaksentueerde wangbene. Versace se veldtog het hul modelle gestileer as Romeinse vegters: sterk manlike modelle smeul aan Moss se voete waar sy geklee is in 'n oranje rokkie met gladiator-sandale. Verder word die skoene in die voorgrond geplaas in die Stuart Weitzman-advertensieveldtogte. Die wit-en-swart foto's is geneem deur die bekroonde fotograaf en 'n vriend van Moss, Mario Testino. Givenchy is word geken aan hul star uitdrukkings en minimalistiese foto's, maar slaan met hierdie veldtog ook 'n nuwe rigting in. Dié keer verskyn die Italiaanse model Mariacarla Boscono met haar babadogtertjie en Moss op die foto’s. Die fokus op die familie en die band tussen ma en dogter.

Ons kan nie wag om te sien wat lê nog vir die onvoorspelbare Kate Moss voor nie. Al wat ons wel weet, is dat ouderdom maar net 'n nommer is. En vir Kate Moss, is dit nogal 'n hewige sommetjie.