Vir die boek, 200 Women (Bookstorm, R640) is elkeen gevra om presies dieselfde vyf vrae te antwoord. In hierdie antwoorde skuil soveel lewenslesse waaruit elke leser iets sal kan haal om sy eie lewe te verryk. Vrae waarop hulle moes antwoord is: Wat maak werklik vir jou saak?, Wat maak jou gelukkig?, Wat sien jy as die laagste vlak van ellende?, Wat sal jy verander as jy kan?, en Met watter enkele woord identifiseer jy?

Onder die vroue is skrywers, kunstenaars, musici, sjefs, joernaliste, menseregte aktiviste, atlete, aktrises en akademici. Van die Suid-Afrikaanse vroue wat deel is van die boek, het heelparty ’n verbintenis met oudpresident Nelson Mandela. Daar is sy eerste vrou, Winnie Madikizela-Mandela, sy tweede vrou, Graça Machel, sy voormalige assistent, Zelda le Grange, sy kleindogter, Zoleka Mandela, en Sahm Venter wat ’n senior navorser is by die Nelson Mandela-stigting. Ander Suid-Afrikaners wat die boek gehaal het, is Caster Semenya, Mpho Tutu van Furth, Hlubi Mboya, Joanne Fedler, June Steenkamp en Gillian Slovo.

Ubuntu is Caster Semenya se woord, ’n woord met vele betekenisse. Vir haar gaan dit oor die erkenning van die menswaardigheid van elke enkele mens. Om mense met respek te behandel en om self respekvol behandel te word. Dit sluit so goed aan by Zelda le Grange, vir wie dit ook daaroor gaan dat mense mekaar wedersyds moet erken en respekteer. Dan, sê sy, sal ons sien dat ons meer in gemeen het met mekaar as dinge wat ons van mekaar laat verskil.

Die boek is volkleur geïllustreer met pragtige foto’s van die vroue. “You can’t empower women without listening to their stories”. Hierdie aanhaling van Gloria Steinem is so waar. Deur hierdie uitsonderlike vroue se stories te lees, bemagtig jy jouself. 200 Women is ’n boek waarin jy weer en weer sal wil delf. ’n Fantastiese geskenk vir ’n vrou in jou wêreld.

Nadia, Paaie van hoop, Nadia Beukes (Lux Verbi, R170)

Ons ken Nadia Beukes as aanbieder van Boer soek ’n vrou en aktrise in Getroud met Rugby.  So sê sy oor hierdie boek: “Dis nie ’n biografie nie, dis eerder ’n inspirasieverhaal.” Dit handel oor Nadia se lewe, van haar drome om eendag Mej. Suid-Afrika te wees tot by die hoogtepunte in haar loopbaan, haar verhouding met haar ouers, liefdes en liefdesteleurstellings, egskeiding, en haar verhouding met haar nuwe man, David de Villiers.

Ons leer ken die vrou weg van die kalklig, daar waar dinge nie altyd so glansryk is nie.  Sy skryf prontuit oor mens-wees, die kuns van lewe en hoe mense reageer op foute en teleurstellings. Uiteindelik wys sy ons dat ons almal se paaie nie dieselfde lyk nie, maar omdat myne anders lyk as joune, beteken dit nie dat daar nie ’n gelukkige einde op ons albei wag nie.  ’n Ware inspirasieverhaal! – Alma Liebenberg

Shéri, Shéri Brynard en Colleen Naude (Lux Verbi, R210)

Sheri Brynard is ’n pragtige, inspirerende jong vrou met Trisomie 21 Downsindroom. Haar verhaal gee lesers ’n blik in haar lewe, haar onwrikbare geloof, deursettingsvermoë, en die soet en suur van die dag toe sy gebore is tot nou in 2017.

Sy is die eerste mens met Downsindroom wat haar onderwysdiploma behaal het. Sy hou tans skool aan die Lettie Fouché Skool in Bloemfontein. Haar absolute deursettingsvermoë om haar diploma te behaal is indrukwekkend; tou op gooi bestaan nie in haar woordeskat nie.

Sy vertel van die mooi en hartseer oomblikke van haar gesin, haar verhouding met ma Susette, sussies Marisa en Suzette, oom Sam. Ook oor haar pa Jerry se tragiese dood wat ’n groot leemte in haar lewe gelaat het.

Sy is ook die ambassadeur vir alle Downsindroommense en sy spreek gehore plaaslik en internasionaal toe. Sy het al talle toekennings ontvang. Sy het in Binnelanders gespeel.

Haar ma en sussies gee so ’n mooi insig oor Shéri se lewe en as mens. Ek het behoorlik ’n  knop in my keel gehad toe ek die boek gelees het, ’n boek wat mens  by bly vir weke en laat dink oor die lewe. – Liesel Pienaar

Dwarsklap: Skakerings van Swart in die Nuwe Suid-Afrika, Piet Matipa (Penguin, R240)

Afrikaans loop dikwels deur onder kritiek as die taal wat aan die onderdrukker behoort, maar in Piet Matipa se boek maak hy dit duidelik: Afrikaans behoort aan almal. Sy passie vir die taal is byna tasbaar. Hierdie versameling van staaltjies oor sy lewe, sy kinderjare en die struikelblokke wat verskeie jong mense in Suid-Afrika ervaar, is eerlik en sonder enige opgesmuktheid geskryf. In die staaltjie, Die tong se dans in Afrikaans, vertel hy hoe die taal aan sy hartsnare pluk. Sy kleurryke uitdrukkings sal jou beslis oorreed, as jy nog nie seker is of jy reeds op Afrikaans verlief is nie. In die staaltjie oor sy kinderhuisouers, gee hy ’n blik op hoe dit is om in ’n kinderhuis groot te word, en die verskillende karakters wat hy daar ontmoet het. Daar is ook ’n brief aan alle kinderhuiskinders. Alhoewel hy nie konvensioneel grootgeword het nie, laat hy hom nie terughou nie. As ’n swart, gay man in die nuwe Suid-Afrika, raak hy ook aan kwessies soos “kuber-vryery” en die neem van kaal-kiekies. Dan verras hy met raad oor hoe om gewig te verloor en jou naaste te behandel. Matipa se vlymskerp humorsin en ongelooflike uitdrukkingsvermoë, gepaard met sy deernis en passie vir Afrikaans, lei daartoe dat Dwarsklap een van die mees genotvolle leeservarings is. Sy stem kom so helder deur, dit voel kompleet of hy langs jou op die bank sit. Met ’n koffie in die hand, gesels hy met jou tot die son opkom!   - Antoinique van Staden

Wilful Disregard, Lena Andersson (Picador, R213)

Ester is ’n selfstandige, onafhanklike digter en werkende vrou. Haar lewe is georganiseerd en alles verloop altyd soos wat sy dit beplan. Haar geroetineerde lewe word egter omver gewerp toe sy die dag ’n toespraak moes gee oor die bekende kunstenaar Hugo Rask. Hy self was in die gehoor en omdat sy ego gestreel is met Ester se pragtige woorde oor hom, is hy baie geïnteresseerd in haar. Ester raak onmiddellik smoorverlief en nie net haar lewe nie, maar ook wie sy is as persoon, begin te verander.

Dit is ’n verhaal van opoffering, afhanklikheid en hoe mens dikwels jouself verraai deur aan die liefde vas te klou. Nietemin is die storie propvol humor en alledaagse nuanses waarmee almal kan vergelyk. – Danica Steyn