Altans, so glo ek! Vir my is dit ’n voorreg om my kruisie te trek en op so manier deel te voel van ons demokratiese bestel. Maar vir wie stem mens, want die een politieke party lyk meer vrotsig as die ander? En sal die party die job kan doen, wonder mens?

Ek dink dis die vraag in meeste mense se gemoed en juis daarom behoort alle kiesers Wie gaan in 2019 regeer? deur Jan-Jan Joubert (Jonathan Ball, R245) te lees. Joubert verduidelik op ’n eenvoudige manier wie al die belangrike rolspelers in die politiek is. Elke politieke party word bespreek aan die hand van hul beleidsdoelstellings (of die gebrek daaraan!) en wat die party in ’n koalisie kan bied.

Verder bekyk hy pres. Cyril Ramaphosa se rol. Wat is sy invloed op die politiek van die opposisiepartye en hoe hulle kwessies benader? Het hy die vermoë om ’n verdeelde ANC weer tot ’n eenheid saam te bind?

Een van die interessantste hoofstukke in die boek handel oor die ekonomie en wat die klem van die verskillende politieke partye se beleidsrigtings is. Dis insiggewend om te sien watter raakpunte tussen sommige opposisiepartye soos die EFF en die DA is, maar dat die dinge waaroor hulle verskil so groot is dat dit hulle onmoontlike bedmaats in ’n koalisie sal maak ná 2019.

Ná die lees van die boek voel ek effens wyser. Die politieke situasie in Suid-Afrika is kompleks en as kieser moet elkeen baie mooi opweeg watter beleidsrigtings die beste by sy eie siening pas, voordat hy uit blote lojaliteit vir ’n party stem. Die ou spreekwoord, kennis is mag, geld nou meer as ooit. Die verkiesing van 2019 lê om die draai en dit gaan heel moontlik een van die belangrikstes in die geskiedenis van Suid-Afrika wees.

Hierdie toeganklike boek is ’n sleutel wat die politiek van die dag vir jou kan ontsluit. Beslis die lees werd. - Phyllis Green

 

Bloedbande, Wilhelm Verwoerd (Tafelberg, R290)

Tussen die bladsye van hierdie boek maak jy eerstehands kennis met Wilhelm Verwoerd se worsteling om vrede te maak met sy herkoms, sy befaamde oupa Hendrik Verwoerd en dié se politieke nalatenskap. Wilhelm was maar twee jaar oud toe sy oupa in die parlement vermoor is. Hy het grootgeword in ’n tipiese wit, Afrikaanse middelklasgesin op Stellenbosch met sterk Christelike oortuigings. Verwoerd-wees het hom gevorm en bloedbande het dit vir hom moeilik gemaak om krities na apartheid te kyk.

Dis eers in sy later jare dat hy begin vrae vra het, nadat hy deur mense gekonfronteer is oor sy vormingsjare. Met sy terugkeer na Suid-Afrika uit Ierland, waar hy jare lank as bemiddelaar tussen eertydse vyande opgetree het, wou hy sin maak van die gepolariseerde opinies van verskillende bevolkingsgroepe oor sy oupa. Vir een groep was Hendrik Verwoerd se dood ’n dag van rou, vir die ander ’n dag om te juig omdat die vader van apartheid gesterf het.

Hoe versoen hy sy beeld van ’n menslike oupa met die van ’n gehate onderdrukker? Vir hom was dit ’n uitdaging om antwoorde te kry. Sy binnereis ontroer en werp lig op die komplekse aard van sy herkoms. Maar ook die van alle Suid-Afrikaners. - Phyllis Green

Brugbouers: Die Reitz-video en die pad na versoening, Rudi Buys (Penguin, R250)

Toe die Reitz-video in 2008 die media getref het, was Suid-Afrika in skok. In die video word swart werkers deur wit studente aan die Universiteit van die Vrystaat "ontgroen". Rassespanning het ’n hoogtepunt bereik en die universiteit het Rudi Buys aangestel om die saak te probeer beredder. Buys het begin deur met die studente te gesels.

In sy boek gee hy weer hoe die gebeure vier studente geaffekteer het. Deur die stories van Thabelo, Dawid, Aletta en Lerato kry die leser begrip vir die verskillende agtergronde waaruit die studente kom, die struikelblokke wat hulle moes deurmaak voordat hulle op die kampus beland het. Die rassespanning wat hulle deurgemaak het, het ’n blywende indruk op hulle gelaat, maar tog die weg gebaan vir die verandering wat so nodig is op kampusse reg oor Suid-Afrika.

Buys vertel ook sy eie verhaal, hoe hy op die pad van versoening beland het en sy stryd met ’n Afrikaner-identiteit wat gekoppel is aan rassisme, haat en vrees. En hoe hy al die stereotipes eers moes oorkom voordat daar ware kommunikasie tussen die verskeie partye kon plaasvind.

Alhoewel die teks baie akademies voorkom, is die stories met soveel respek hanteer dat jy nie kan help om positief te wees oor die nuwe generasie se potensiaal en die vermoë wat hulle het om van Suid-Afrika ’n ware reënboognasie te maak nie. ’n Moet-lees vir almal wat positief oor transformasie en ware versoening is. - Antoinique van Staden

WTF: Capturing Zuma, Zapiro saam met Mike Wills (Jacana, R295)

Zapiro is bekend vir sy spotprente, maar ook omdat hy twee keer deur Jacob Zuma gedagvaar is vir ’n allemintige R22 miljoen. Omdat Zapiro se spotprente glo Zuma se waardigeid aangetas het … Die 400 spotprente in hierdie boek fokus uitsluitlik op Zuma en sy doen en late die afgelope 20 jaar. Die bygaande teks gee ’n kykie agter die skerms van hoe Zapiro te werk gaan en wat hom gemotiveer het om spesifieke situasies in spotprente vas te vang. Ek kon nie help om vir baie van die uitbeeldings te lag nie, maar terselfdertyd was dit met ’n wrang gevoel en ’n jammerte vir die skade wat ons demokrasie deur Zuma berokken is.

In die inleiding skryf Zapiro oor sy reaksie elke keer wanneer hy deur Zuma gedagvaar is, hoe hy werklik sy dag in die hof wou hê, in teenstelling met Zuma wat nie regtig in die hof wou verskyn nie. Hy wou Zapiro net intimideer. Uiteindelik het daar niks van die dagvaardings gekom nie. En Zapiro het aangehou om sy spotprente te teken. ’n Lieflike boek wat met humor na die Zuma-jare kyk. – Phyllis Green

If this be treason, Helen Joseph (Kwela, R190)

Helen Joseph was ’n vryheidsaktivis tydens die apartheidsjare. In hierdie boek vertel sy haar lewensverhaal. Tussen 1956 en 1961 het sy haar dae geslyt tussen die tronk en koue howe. Saam met Nelson Mandela, Ahmed Kathrada en nog vele ander is sy van hoogverraad aangekla. Al was dit taai tye, het sy nooit moed verloor nie; haar onwrikbare geloof in wat reg en verkeerd was, het haar staande gehou.

Die uitgerekte hofsaak, een van die langstes in die geskiedenis van Suid-Afrika, was opspraakwekkend. Lang ritte na die hof en terug tronk toe was uitputtend, maar tog het sy en haar mede-gevangenes humor in elke situasie gesien. Sang het hulle deur die moeilike dae gedra en was ’n ligpunt in hul lewens.

Mens lees ook van Nelson Mandela wat aangestel is as hoofspreker as daar situasies opgeduik het in die tronk, die vernedering wat hy en sy mede-gevangenes moes verduur aan die hande van tronkbewaarders en die haglike omstandighede wat hulle op ’n daaglikse basis moes oorleef.

Interessant ook is die rigting wat elke gevangene se lewe ingeslaan het ná hul vrylating. Ander kon ongelukkig nie vryheid smaak nie, hulle is oorlede tydens die hofsaak. Dis nie ’n maklike boek om te lees nie, die vernedering, ongeregtigheid en onmenslikheid ruk jou en bly jou vir lank by. – Liesel Pienaar

 

Becoming Iman, Iman Rapetti (Macmillan, R290)

Soos die titel aandui, handel hierdie boek oor die lewe van die bekroonde Rapetti, wat die gedrukte media, asook radio en televisie ewe suksesvol bemeester het. Sy werk as ’n jong joernalis in Suid-Afrika tot sy haar aardse besittings en beroep hier prysgee om ’n Moslem in Iran te word. Hier werk Iman twee jaar lank op ’n aktuele TV-program vir die staat voordat sy terugkeer na Suid-Afrika en haar lewe in haar geboorteland hervat.Sy skryf dat sy die jongste van vyf sibbe is, met ’n suster wat ’n tuisteskepper en ma is vir wie sy duidelik bewonder. Haar drie broers is ’n Rastafariër wat oorlede is, ’n broer met ’n aweregse humorsin en ’n swakheid vir vroue wat al ’n draai in die gevangenis gemaak het, en laastens die ingenieur wat suksesvol is in die marienebedryf.

Iman se slag met woorde en haar sin vir humor getuig van ’n interessante, opwindende lewe. ’n Boeiende memoir wat deur ’n topverteller geskets word. - Mariette Postma

 

Period Pain, Kopano Matlwa (Jacana, R195)

Suid-Afrika is nou al 23 jaar lank ’n demokrasie, nadat apartheid die land se sosiale ordes vir ewig verander het. Masechaba is ’n hardwerkende jong vrou wat met goeie punte op skool uiteindelik haar droom bewaarheid om ’n dokter te word. ’n Beroep waarin sy voel sy die meeste impak sal hê. Maar terwyl sy haar gemeenskapsdiens by die hospitaal doen, besef sy dat die reënboog-nasie waarvan oud-president Mandela gedroom het, steeds net ’n droom vir die grootste deel van Suid-Afrika se bevolking is. Die hospitaal het nie genoeg voorrade en personeel nie. Mense gaan dood omdat daar nie behoorlik na hulle gekyk kan word nie en Masechaba voel geweldige druk onder hierdie omstandighede. Sy maak vriende met ’n ander dokter uit Zimbabwe, wat persoonlik die gevolge van xenofobie ervaar. Masechaba voel dat sy deur ’n petisie vir hierdie slagoffers van xenofobie iets kan doen. Sy voel dat die waardes wat tydens die anti-apartheid veldtog voorgelê is nog steeds van toepassing is, maar om ’n verskil te maak kom gewoonlik teen ’n verskriklike persoonlike opoffering. En partykeer kan die wonderlikste veranderinge uit wanhoop voortgebring word.
Die verhaal is in die vorm van dagboekinskrywings en alhoewel dit die storie ’n persoonlike aanslag gee, is dit partykeer moeilik om te volg omdat ons net die hoofkarakter se oogpunt kry. Die dialoog is ook plek-plek ongeloofwaardig. Tog is die boodskap inspirerend ten spyte van die prekerige stemtoon. - Antoinique van Staden