Dis ’n geldige debat, maar een waaroor ek gemengde gevoelens het. Wanneer ek ’n boek lees, wil ek meegevoer word deur die verhaal. In die geval van nie-fiksie wil ek slimmer en meer ingelig voel as ek die boek toemaak. Mense fassineer my en daarom inspireer memoires en biografieë my. Maar terug by die vraag oor wie mag wie se stories vertel. 

Ek het Jeanine Cummins se boek, American Dirt(Tinder Press, R300) gelees, juis omdat die verhaal in die spervuur is oor kulturele toe-eiening en wyd deur resensente en lesers bespreek is. Dit gaan daaroor of Jeanine Cummins hierdie verhaal mog skryf of nie, want sy verteenwoordig nie die minderheidsgemeenskap waaroor die verhaal gaan nie. Dis seker ’n geldige vraag, veral in die hiper-sensitiewe wêreld waarin ons onsself bevind. Minderheidsgroepe spreek hulself al hoe meer uit oor skrywers wat verhale skryf oor gebeure wat nie eie is die skrywer se ras of identiteit nie. In Suid-Afrika met so wye spektrum van bevolkingsgroepe en tale is die debat seker nog meer netelig en moet skrywers met sensitiwiteit omgaan met die stories wat hulle vertel. In Die Biblioteek aan die Einde van die Wêreld, (Tafelberg) het Etienne van Heerden baie temas aangeroer, waarvan toe-eiening maar een was. Ek is nie ongevoelig vir mense se opinie oor  kulturele toe-einening nie, maar dit laat my wonder hoeveel goeie boeke nooit die lig sou sien as skrywers nie toegelaat word om hul verbeeldings vrye teuels te gee nie.  Vir my is die belangrikste dat stories vertel moet word, ongeag wie dit skryf. Solank die verhaal geloofwaardig, boeiend en goed geskryf is. Deur verhale in die openbare domein te plaas, word daar tog ’n lig op spesifieke kwessies geskyn, in Cummins se geval die gevolg van bendegeweld en ontheemdheid.

Kortliks gaan American Dirt hieroor: Lydia besit ’n boekwinkel in Acapulco waar sy bevriend raak met ’n sensitiewe, filosofiese leser wat vinnig haar gunsteling-kliënt word. Haar man is ’n ondersoekende joernalis wat oor dwelmkartels, bendegeweld en kartelleiers in Meksiko skryf. Wanneer hy onthul wie die gesig agter “The Owl”, die leier van die moorddadigste en magtigste dwelmkartel in Acapulco is, word hy en sy gesin by ’n familiesaamkoms deur die kartel aangeval. 16 gesinslede word genadeloos uitgemoor. Net Lydia en haar agtjarige seun Luca spring die moorde vry. Vir haar is die moorde wat in opdrag van The Owl gepleeg is onversoenbaar met die man wat sy in haar boekwinkel leer ken het. Maar sy weet sy moet op die vlug slaan om buite bereik van die kartel te bly. Niemand gaan haar beskerm nie, want selfs die polisie is in die sakke van die kartels. Sy besluit om noord te vlug in ’n poging om die Amerikaanse grens te bereik; haar hoop op uitkoms, ’n neef in Colorado. Dié vlugtog, die ontbering om ’n smokkelaar om te koop om haar en Luca te help om deur die woestyn te kom tot by die grens en die emosies waardeur Lydia en Luca daartydens gaan, beslaan die grootste deel van die verhaal.

Ek kon nie anders as om emosioneel in te koop in Lydia se storie nie, ’n ma wat alles moontlik sal doen om haar enigste kind te red.Dis duidelik dat Cummins die onderwerp deeglik nagevors het en vir my is die verhaal geloofwaardig. Dit het my beslis laat nadink oor hoe die lewe vir mens moet wees wat gebuk gaan onder matelose geweld in die gemeenskap waarin hulle woon. En hoe iemand wat jy ontmoet (en baie van hou) karaktereienskappe het wat hulle nie aan jou ontbloot nie. - Phyllis Green

Skag, Jaco Wolmarans (Tafelberg, R310)

Suid-Afrika in 1987 gaan gebuk onder internasionale sanksies. Wapenaankope moes in die geheim en uiters diskreet gedoen word. Sersant Jos Fourie van die Spesmagte word gevra om ’n missie onder groot geheimhouding te onderneem. Hy moet ’n vrag missiele wat uit Oos-Duitsland verskeep word, begelei tot in Walvisbaai en seker maak die vrag kom niks oor nie. Vroeg reeds kom hy agter alles is nie wat dit moet wees met dié missie nie, nadat hy ontdek hy word reeds in Duitsland dopgehou deur  ’n groep Navy Seals. Aanboord is daar ’n passasier wat saamreis na Suid-Afrika, ene Ashley Ramirez wat glo in die Kaap gaan studeer. Tot sy skok ontdek Jos in sy vrag missiele is wapengehalte uraan-235 versteek. Boonop lei die mooi student, Ashley, sy aandag af.  Jos se missie ontwikkel in ’n stryd om oorlewing wanneer die skip deur Nigeriese seerowers en later die Angolese vloot aangeval word. Hy kom agter dat Ashley ook nie ’n onskuldige student is nie en moet haar vertrou sodat hulle die aanslagte kan afweer.

Die verhaal word afwisselend deur Jos en kolonel Swartjan Beetge van Teenintelligensie vertel. Jy moet enduit lees om te sien hoe die uraan verband hou met ’n geheimsinnige Weermagskag in die verlate duine van die Kalahari. Wie sit agter die kerntoets en wat wil hulle daardeur bereik?

In die bedankings skryf Wolmarans dat“werklike gebeure van die betrokke tyd by Skag ingeweef is, maar die karakters is nie op historiese figure gegrond nie.”  Lesers wat hou van aksie en conspiracy teorieë wat steun op duistere politieke motiewe sal die verhaal geniet. - Phyllis Green

 
 

The Senior Adviser, ­Edmund-George King (Porcupine Press, R299)

Lord Willingdon en ’n groep van sy vriende onderneem ’n soektog na seerowerskatte in die Bahamas. Die Britse Geheime Diens bekom inligting wat dui op ’n moontlik terreuraanval op die groep. Kaptein John Fletcher van MI6 oorreed Lord Willingdon dat hy hulle op hul seiljagvaart vergesel. Fletcher vermoed dat die groep, bekend as die Internasionale Konsultasie, agter die moontlike terreuraanval sit. Hy is egter een van die min mense wat glo dat die Internasionale Konsultasie wel bestaan, selfs sy base by MI6 twyfel dat die terreurgroep werklik bestaan. Lord Willingdon se ekspedisie neem die groep na die Bahamas, Suid-Afrika en Mosambiek. Die Suid-Afrikaanse konneksie gaan oor monsters senugas wat uit Pelindaba gesmokkel word. 

Die aksiebelaaide verhaal speel in 1970’s af. Dis ’n boeiende verhaal van verraad, spioene en dubbelagente, chemiese wapenhandel en daar is selfs ’n affair of twee. – Karien Labuschagne

 

Endgame, Daniel Cole (Trapeze, R190)

Afgetrede polisie offisier Finlay Shaw sterf aan ’n skietwond in ’n toegesluite vertrek in sy huis. In die oorspronklike ondersoek word bevind dis selfdood. Maar die voormalige speurder William ‘Wolf’ Fawkes glo dit nie. Hy besoek Maggie, Finlay se vrou, om meer inligting te kry en om die toneel self te besigtig. Toe hy by die huis uitstap, word hy gearresteer. Hy is in onguns by die polisie omdat hy wegbly van die kantoor sonder toestemming. Wolf oorreed kommissaris Christian Bellamy en bevelvoerder Geena Vanita dat hy Leo Dubois wat vir moord, mensehandel en dwelms gesoek word aan hulle sal uitlewer as hy kan werk aan Finlay se dood. Tot sy verbasing stem hulle in. Saam met sy voormalige kollega Emily Baxter en privaatspeurder Alex Edmonds ondersoek hy die saak. Hulle gaan al die sake waarby Finley deur die jare betrokke was weer in oënskou neem. In die proses vlek hulle ’n saak van korrupsie op hoë vlak oop wat hul lewens in gevaar stel.

Cole skryf vloeiend en uiters boeiend. Die verhaal is vol intrige en hou jou tot reg aan die einde in spanning oor wie agter die misdade sit, asook die verrassende elemente rondom Finlay se dood. – Karien Labuschagne

 

Devil’s Day,Andrew Michael Hurley(John Murray, R260)

Die lewe in ‘Endlands’ in die heidevelde van Engeland is nie maklik nie. Die storie skop af met die gebeure meer as ’n eeu gelede tydens ’n sneeustorm wat die vallei vir weke afsny van die omliggende gebiede. Stelselmatig begin die mense op die plase en dorp om siek te word en te sterf. Hulle glo dis die werk van die duiwel.In die hede keer John en sy vrou Kat terug na die plaas ná sy oupa Gaffer se dood om sy pa te help. Die verhaal word deur John aan sy seun Adam vertel. Hy vertel hom al die verhale wat Gaffer hom vertel het, van sy jeug op die plaas, hul ervaringe en stryd om weer aan te pas in die onherbergsame Endlands.

Dis ’n interessante verhaal maar dis soms moeilik om die verhaal te volg. Dit spring tussen die hede en die verlede en jy moet kophou met die tydlyn. Dit is egter baie goed geskryf. – Karien Labuschagne

 

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.