Hoe meer mens vir jou kinders voorlees, hoe meer voel hulle betrokke by boeke. Hopelik sal dit omsit in ’n liefde wat vir ewig deel van hul lewens gaan wees.Elke keer as ek ’n Dr. Seuss boek sien, dan word ek sommer so warm om my hart. Dis van die eerste boeke wat ek self as kind by die biblioteek uitgeneem het. Ja, daar was baie ander boekies wat my ma vir my voorgelees het en waaruit ek leer tel en lees het. Ek is haar ewig dankbaar dat sy my ’n liefde vir lees geleer het. Ek kan eerlik sê dat ek nooit verveeld is of ledig rondsit nie. Daar is altyd nog ’n boek wat wag om sy geheime met my te deel.  

Liewe Heksie en die sterretjieskombuis, Verna Vels (Human & Rousseau, R125)

Die hele Blommeland is in rep en roer vir die Feëkoningin se kuier. Liewe Heksie wil ook haar huisie nuut oorverf vir die groot okkasie, maar in die proses verloor sy per ongeluk ’n deel van haar dak! Daardie aand klop ’n vreemde besoeker aan haar deur. Heksie gee vir haar verblyf en saam kyk hulle na die sterretjies deur die gat in die kombuis. Die volgende oggend is die besoeker skoonveld, maar daar wag vir Heksie ’n heerlike verrassing.
Hierdie tydlose storie van Verna Vels is herdruk en word oorvertel in ’n pragtige, kleurvolle, sagteband boek. Dit bly maar ’n gunsteling vir die kleinspan. – Danica Gouws

 
An extraordinary egg, Leo Lionni (Jacana, R110)

Dié verhaal van misplaaste identiteit sal voorskoolse lesers fassineer en amuseer. Dis die storie van drie paddas wat ’n eier ontdek, en wanneer die dop kraak, glo hulle dat hulle ’n verlore jong hoendertjie raakgeloop het. Hulle help die groen, skubberige hoendertjie om sy ma te soek, en net wanneer hulle moedeloos raak, kry hulle ’n ma. Die vraag is, kan dit sy eie ma wees of moet hulle verder soek?
Hierdie vermaaklike boek is deur die skrywer Leonini geïllustreer. Sy tekenstyl herinner gepas aan vetkryttekeninge, wat die teks pragtig ondersteun. ’n Onvergeetlike vertelling vanweë die dieper betekenisvlak oor identiteit en vooropgestelde idees waarna met sulke fyn humor verwys word. - Mariette Postma

Rympies vir kleintjies en kleuters, Riana Scheepers, Suzette Kotze-Myburgh enGertie Smit (Tafelberg, R295)

’n Bundel propvol nuwe rympies in hedendaagse Afrikaans. Dit raak verskeie temas, wat in speelskole geleer word, aan. Die temas sluit in liggaamsbeeld, optrede teenoor maats, veiligheid, emosies, die weer en natuur, om net ’n paar te noem. Die inhoud is modern en relevant en elke rympie is van so aard dat kinders dit maklik en met gevoel sal kan opsê. Rympies vir Kleintjies en Kleuters, die opgvolg van Rympies vir Pikkies en Peuters, is gemik op drie- tot vyfjariges. Dit is ’n juweel van ’n boek wat kinders sal geniet in die klas èn by die huis. - Danica Gouws

Plaasdiere, Rachel Elliot (Lapa Uitgewers, R80)

Kleingoed wat nog tande sny, kan hierdie sterk boekies skadeloos bydam – wat natuurlik ’n groot vertroosting is. In hierdie boekie word die jongspan voorgestel aan die belangrikste diere wat op ’n plaas aangetref sal word.Die grootste pret van hierdie boeke wat deur Lapa uitgegee word, is egter die dubbele uittreksisteem. Elke bladsy het ’n uittrekstrokie, wat baie stewig gemaak is. Maar dan is daar ’n verdere verrassing: ’n volgende uittrekstrokie sal verseker dat die voorlees vreugevol is, met die interaktiewe strokies. ’n Verdere boekie in hierdie reeks, is Wilde diere, wat weer kyk na diere wat kinders nie aldag te sien kry nie. Die sketse deur Clare Fennell is baie skattig en sal bydra tot die saamleesgenot.  - Mariette Postma

 
Wat maak so?Wilde diere,(Human & Rousseau, R125)

Weet jy watter geluid ’n krokodil maak? Trek die kartonbladsy uit om die antwoord te ontdek! Hierdie oulike reeks boekies is propvol prettige illustrasies van diere; elk met hul eie geluid op kartonbladsye wat kinders self kan in- en uittrek. Dit is perfek vir kinders wat net begin praat en diere se name leer ken en hul geluide wil naboots. Die helder kleure maak dat selfs klein babas ook daarby sal baat! Diss immers nooit te vroeg om vir ’n kind voor te lees nie. Daar is vier boekies beskikbaar in die reeks: Plaas-, Woud-, Troetel- en Wilde diere.

Danica Gouws

Die apies se dieretuin, Rosamund Haden en Tony Pinchuck (Human & Rousseau, R190)

Wat ’n vrolik-geïllustreerde boek is dié een van die dieretuin van die apies nie! Gegewe die gewone dun bladsye, is dit bedoel vir ouer kleuters en baie geskik vir voorlees, vanweë die gedetailleerde prentjies op elke bladsy. Haden en Pinchuck het ’n boek daargestel wat maklik aanklank sal vind onder kinders én ouers. Kleuters geniet aapstreke besonder baie, en die apies se manewales in hierdie vrolike verhaal sal sorg vir baie leespret. - Mariette Postma

100 Eerste Woorde, (Human & Rousseau, R115)

Hierdie helderkleurige hardeband boekies verskaf groot pret aan die kleinspan. Die eerste boekie bevat ’n honderd woorde van verskeie prentjies wat jou kleinding sal herken onder temas soos speelgoed, kos en badtyd. Op elke bladsy is ’n loergaatjie waar ’n gedeelte van ’n prentjie uitsteek wat haar sal leer om items te herken. Dan is daar ’n flappie wat oplig om die items op te spoor.100 Eerste Woorde oor diere is net so bekoorlik. Verskeie plaasdiere, wilde diere, seediere en troeteldiere is te sien met dieselfde aanbieding van loergaatjies en flappe.Op die agterkant van elke boekie is die 100 woorde in ’n helder geel tabel gelys. ’n Oulike versameling vir nuuskierige kleintjies van 0 tot 3. - Danica Gouws