Omdat lees deel van my werk is, is my prioriteit altyd om eerste die boeke wat ek daarvoor moet lees, aan te pak. Tydens grendeltyd het ek meer tyd op hande en kon ek vir ’n slag titels kies sommer net vir die lekker. Ek wou ontsnap van die werklikheid en ligter leesstof het my gelok. ek het ’n paar liefdesromans, selfhelpgidse en selfs spanningsverhale gelees. Dit was asof ek weggeskram het van boeke met gewigtige onderwerpe. En dis seker te verstane, dis ’n manier om myself emosioneel te beskerm. Glo my, gewigtige titels vind altyd hul pad na my inboks.

Een van die wat ek summier geïgnoreer het, was Lockdown Extended wat saamgestel is deur Melinda Ferguson van Melinda Ferguson Books. Die boek is slegs as ’n e-boek beskikbaar en is die voortsetting van haar eerste e-boek oor grendeltyd, Lockdown - The Corona Chronicles. Ek was regtig halstarrig om ’n hele boek oor grendeltyd te lees, ’n ontkenning van die werklikheid waarin ons onsself bevind.

Maar teen hierdie tyd is ek so oor grendeltyd dat ek my eie geselskap nie meer geniet nie. Boonop het plig geroep en ek kon Lockdown Extended nie langer ignoreer nie.

Groot was my verrassing! Toe ek eers begin lees het, was ek vasgenael. Die 30 bydraes is deur ’n uiteenlopende groep skrywers geskryf, onder meer Rachelle Greeff, Ferial Haffajee, Rahla Xenopolous, Dave Muller, Chris Roper, Steven Boykie Sidley en Tracy Going. Melinda Ferguson het self ook ’n stuk geskryf, A Cursory look at Hoarding, Huxley, Freedom, Starvation & Sheep waarin sy vrae vra oor Bill Gates se entstofprogram. Die stukke is net so uiteenlopend soos die skrywers. Sommige is bepeinsend oor wat dit is om in afsondering te wees, ander skryf oor die onregverdigheid teenoor mense wat nie middelklas is en kan bekostig om in afsondering te wees sonder enige inkomste om kos te kan koop nie. Dan is daar stukke oor verlies, rou, geweld teen vroue, selfs een in die vorm van liefdesbriewe tydens inperking. ’n Paar skrywers het my weggeblaas met wat hulle geskryf het. Ek was diep ontroer deur Khaya Dlanga wat oor sy broer se selfdood tydens grendeltyd geskryf het in Loss in the time of Coronavirus. Hy skets ’n prentjie van die desperaatheid van die magteloosheid wanneer iemand na aan jou selfdood pleeg, die verraad wat jy in jou hart voel al wil jy nie. Hoe dit is om afskeid te te probeer neem onder social distancing voorskrifte by die gedenkdiens. Jou hart breek vir daai sielsontstellende prentjie wat hy skets. Marianne Thamm het in haar stuk, Room Travel, my skuldig laat voel omdat ek ongeduldig raak met inperking. Hoe moes dit vir Nelson Mandela gewees het in sy sel op Robbeneiland, vra sy. Waar hy ingeperk was vir jare ... En gebruik die tyd positief om te reis, motiveer sy. Al kan jy nie regtig na jou bestemming reis nie, jy kan tog in jou kop op daardie reis gaan. En, sê sy, luister na mekaar, vra jou huisgenote waarheen hulle wil reis en reis saam met hulle op daai kopreis. Dié inspirerende stuk laat my nadink oor my bevoorregte posisie en hoe maklik dit is om met die witbrood onder die arm te kla.

Let's run the Voodoo Down!, basuin Fred Khumalo uit in sy stuk. Hy het my die hardste getref, want hy deel ’n klomp waarhede, soos dat hierdie Covid-19-ding ons nog lank gaan ontgogel en van balans af gaan gooi, want die ding is so groot dat dit moeilik is om jou kop behoorlik daarom te kry. Hy skryf hoe belangrik dit is om nou oor hierdie ervarings te skryf, omdat dit eerstens ’n dokumentasie van die geskiedkundige periode is, maar meer omdat dit lei tot refleksie waaruit daar dikwels kreatiwiteit spruit.

"So, we sharpen our pencils, switch on our cameras, set up our easels, reach for our microphones and saxophones. To arms, to arms, let’s wrestle this shit to the ground. Let’s run the voodoo down." - bl. 76. Sela, Fred Khumalo, sela! Die boek het my nuwe energie gegee om weer meer divers te lees. Hierdie skrywers kan almal woorde vernuftig inspan en dis ’n boek wat ek met geesdrif kan aanbeveel. Ná die lees daarvan het ek weer meer geduld met my eie ongeduld. - Phyllis Green

Calm the F**k down Journal, Sarah Knight (Quercus, R290)

Hierdie dagboek bied lesers praktiese maniere waarop hulle kan ophou kwel en hul lewens by die spreekwoordelike horings beetkry. ’n Hele paar selfhelpboeke het onlangs verskyn met titels wat die aandag sal trek danksy die gebruik van ’n skokwoord. Die outeur verduidelik dat sy ’n prettige diagnostiese vraelys opgestel het, asook ’n paar splinternuwe oefeninge wat angstiges sal help om rustig te raak. Sy verduidelik verskeie tegnieke wat mense gebruik om hulle eie swakhede te vermy of ontken. Die joernaal bied ook rigtinggewende vrae wat lesers lei om te verstaan hoekom sekere optredes aangeleer word om hulleself te beskerm. Sy verduidelik byvoorbeeld dat kontrole ’n wanopvatting is waardeur mense die wêreld probeer beheer. Knight skryf dat probleme erken, aanvaar en dan aangespreek moet word voordat algemene angstigheid jou toelaat om ’n slaaf van jou eie vrese te word. Sy beveel aan dat ons ’n lys van teoretiese wraakplanne moet opstel, en dat dit kreatiewe idees moet bevat. Sommige van haar idees in ligte luim is so verspot dat lesers hardop sal lag. - Mariette Postma

50 Blertse Blou, Blouwillem (Protea Boekhuis, R180)

Dag 50 van die grendeltyd. Al my biblioteekboeke is lankal gelees. Dit wat ek by my gawe, leesgierige bure geleen het, ook. Normaalweg hou ek daarvan om met ’n goeie “speurder” bed toe te gaan, maar weens ’n gebrek aan moordverhale was dit tyd vir Blertse Blou.

Dié rubriekskrywer van Beeld, Die Burger en Volksblad hou sy rubrieke lig, met ’n skoot feite daarin en ’n flerts filosofie. Heelwat van dit wat hy vertel kon ek met ’n glimlag in die tye van inperking geniet. Jag- en visvangaktiwiteite, troues en manne wie se pakke nie meer pas of troues wanneer belangrike rugbywedstryde gespeel word, word kostelik vertel. Gebeurtenisse uit sy verlede of selfs sy eie tuin wanneer sy vrou bome laat afsaag, kry ’n plek tot groot plesier vir die leser in ’n korona-gemoedstoestand.

Lank nog sal ek die volgende onthou: ’n Playboy is soos Weg of Getaway. Jy weet jy kan nooit al die plekke besoek wat jy daar te siene kry nie, maar die prentjies bly steeds mooi (Playboy van Maart 1967).

Willem as die grendeltyd nog langer aanhou, beter jy vinnig ’n e-boek klaarmaak. Ons het dit nodig. – Alida Vos.

The book of gifts, Craig Higginson (Picador, R290)

Higginson verdien sy bekendheid omdat hy ’n skrywer is wie se werk mens net nie kan neersit nie. Op ’n skynbaar eenvoudige wyse vertel hy die verhaal wat ondersoek instel en lesers laat nadink oor onder meer skuld en onskuld, lojaliteit en verraad, waarheid en narratief, asook aanspreeklikheid.

’n Mens se hart voel warm om te weet die skrywer is internasionaal bekend en woon in Johannesburg. Die storie speel af in Umhlanga, Johannesburg en Mauritius.

Die elfjarige Julian Flint is een van die hoofkarakters, en hy is dankbaar om die enigste kind te wees in die geselskap van sy ma Emma, ’n befaamde kunstenaar en sy oom Andrew en tante, Jennifer, ’n kettingroker.

Gedurende hul see-vakansie in Umhlanga ontmoet hy die onnutsige en onbevreesde Clare wat al sy aanvaarde idees bevraagteken en uitdaag. Vir die skugter, teruggetrokke Julian is sy ’n fenomeen wanneer sy hom eerste begin bevriend en hy skaam antwoord.

Higginson se The book of gifts is wonderlike leesstof in ons grendeltyd, want dit neem lesers saam na twee uitsonderlike vakansieplekke. Sonder enige gevaar dat jy siek sal word. - Mariette Postma

Suurlemoenseisoen, Amanda de Lange (Lux Verbi, R165)

Lewensafrigter en joernalis Amanda de Lange, verskaf ’n handleiding om jou deur die hartseer en teleurstelling van doodloopstrate in die lewe te help. Sy noem tye van rou en wanhoop ’n suurlemoenseisoen. Hierdie boek bevat twee-en-vyftig werkstukke (een vir elke week van die jaar), met opdragte wat jou laat dink en aanmoedig om deur die bitter en suur van jou seisoen te werk. Elke hoofstuk begin met ’n Bybelvers en rig jou fokus op God. Die leser raak diep bewus van God se omgee vir ons. Daar is ook verskillende resepte van kreatiewe gebruike van suurlemoene, wat ’n lekker praktiese element aan hierdie proses van ‘deurwerk’ verleen. Dit laat mens besef dat God jou suurlemoenseisoen op wonderlike maniere ten goede kan meewerk. Hierdie boek is oorspronklik en eg. Die skrywer deel met ons waarhede wat sy saam met die Here tydens haar eie suurlemoenseisoen ontdek het. Dit is opbouend en bemoedigend en ’n boek wat mens beslis nie net een keer sal lees nie. - Danica Gouws

Die braambos bly brand, saamgestel deur Pieter Malan en Chris Jones (Naledi, R240)

Wat het wyle Pik Botha, Nathan Trantraal, Valiant Swart en Christi van der Westhuizen in gemeen? Hul bydraes in hierdie bundel essays deur nie-teoloë wat skryf na aanleiding van Bybelverse is die faktor wat dié persone van uiteenlopende beroepe en ervaringswêrelde saamsnoer. Die perspektiewe is versamel om enersyds te wys hoe groot die invloed van die Bybel steeds in die 21ste eeu is, en andersyds die ‘soekende stemme’ aan te hoor, hulle wat ‘op die buitekring staan’ toe te laat om hul oortuigings te deel.

Die samestellers waarsku lesers dat nie alle deelnemers aan hierdie oop gesprek noodwendig ‘gelowiges’ of uit die ‘institusionele’ kerk is nie. Juis hierdie faset van die bydraers behoort te resoneer met vrae wat gestel word op ’n onafhanklike refleksie op kerk en godsdiens wat op gedeeltes uit die Bybel gebaseer word. Verskillende invalshoeke lei tot die deel van persoonlike ondervindinge, ander skryf oor sosiale kwessies, terwyl gedagtes op ’n meer abstrakte vlak die mensdom onder die loep neem. - Mariette Postma

Not Child’s Play, Dave Muller (MF Books, R250)

Vir tien jaar het Dave Muller gebou aan sy seiljag sodat hy sy kinderdroom om op dié jag na die trope te vaar, kon vervul. Die droom word in 1990 waar toe hy, sy vrou en twee kinders van Port Elizabeth op vaar na Bazaruto-eiland aan die Mosambiekse kus. Wat ’n idilliese vakansie moes wees, ontaard in ’n nagmerrie toe die Arwen nà ’n geweldige storm op ’n sandbank van ’n verlate strand beland naby hul bestemming.

Op die horison gewaar Dave besoekers en hy hoop hulle sal kan help om die jag weer in die dieper water te kry. Groot is sy skok toe hy besef dis ’n patrollie van vyf kindersoldate van Renamo met twee volwasse gevangenes. Nadat hulle die Arwen stroop, neem hulle die Mullers gevange. Die neteligheid van hul posisie is duidelik toe die soldate die ander gevangenes met bajonette doodsteek omdat hulle nie kon byhou op die uitmergelende tog deur die bosse op pad na die Renamokamp nie. Tog was daar oomblikke van menslikheid toe een van die soldate die jong Seth opgetel en gedra het, omdat die seuntjie nie meer kon stap en sy ouers bloot te uitgeput was om hom verder te dra nie. Dan was daar die tye wat die tienersoldate met Seth gespeel het in die kamp omdat daar geen ander afleiding was nie. Die teenstrydighede spook vandag nog by Dave, want hoe aaklig hul omstandighede was, het hulle op ’n vreemde manier verbintenisse met die soldate gevorm. Uiteindelik sou die Mullers 49 dae gyselaar gehou word deur Renamo, voordat hulle deur ’n koverte operasie van die SA Vloot en Navy Seals gered is. Die boek is gegrond op Muller se dagboeke wat hy tydens hul gevangeskap gehou het.

Die gebeure klink of dit uit ’n loktreffer in die rolprentteaters kom en jy is geboei en gefassineer met elke verwikkeling waardeur die gesin geleef het. Dis ongelooflik dat die Mullers relatief ongeskonde uit die situasie gekom het. Alhoewel die gebeure beslis ’n emosionele impak op elkeen van hulle sal hê vir solank as wat hulle leef. * In Lockdown Extended verwys Muller in sy essay na hierdie traumatiese ervaring waardeur hy en sy gesin gegaan het tydens hul gevangeskap. - Phyllis Green

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.