In Vital Remains vertelAmos van der Merwe (Naledi, R279) die emosionele lewensverhaal van Winston Wicomb. Lesers sal sy broer, Randall, herken as ? bekende sanger. Winston se gesin het as blankes geleef in die jare toe daar nog streng apartheid toegepas is en mense volgens ras geklassifiseer is. Ongelukkig vir Winston was hy nie lig van gelaat nie en elke keer as daar ? klop aan die deur was, moes hy agter ? groot hangkas gaan wegkruip, sodat die gesin nie uitgevang word nie. Die gesin het in vrees gelewe. Winston het grootgeword met die besef dat sy donker vel nie aanvaarbaar was nie. Dit het ernstige letsels op hom gelaat en het gemaak dat hy as ? verstoteling geleef het. Ten spyte hiervan het hy baie struikelblokke oorkom om uiteindelik saam met Chris Barnard te werk, waar hy ? merkwaardige bydrae gemaak het tot die sukses van orgaanoorplantings. Hy het ’n apparaat ontwikkel wat harte lewendig hou terwyl dit vervoer word vir oorplanting. Sy deursettingsvermoë is bewonderingswaardig. ? Lewensverhaal wat eenvoudig gelees moet word! - Phyllis Green

 

Jeremy vannie Elsies, Jeremy Veary (Tafelberg, R270)

Die persoonlike lewensreis oor Jeremy se ‘komvandaan’ vertel hy met brutale eerlikheid. Die lewe in Elsiesrivier was ongenaakbaar en jy moes sterk wees om te oorleef. Vandaar Jeremy se politieke bewuswording en aktivisme, en lidmaatskap van MK wat daartoe gelei het dat hy as bandiet op Robbeneiland beland het. Ná die politieke onderhandelinge en oorgang word hy as politieke gevangene vrygelaat. Hy word ’n lyfwag van Mandela en word later deel van die nuwe SAPD waar hy met gewese vyande moet saamwerk om terrorisme en geweld op die Kaapse vlaktes te beveg. Soos hy oor homself sê: “Ek bly ’n onvoltooide tapisserie waarin die goed, die sleg en die grys ewewigtig in my wording saamgevleg is.” Ek kon eenvoudig hierdie lewensverhaal nie neersit nie. Jeremy se lewensverhaal het soveel aaklige gebeure uit die verlede na vore gebring, maar wys dat dit wel oorkom kan word.  - Phyllis Green

 

Truitjie roer my nie, Scahlk Bezuidenhout (Queillerie, R220)

As jy Schalk Bezuidenhout nie ken nie, dan is dit tyd om hom te leer ken. Hy is daai 26-jarige outjie van Kemptonpark wat vreemde truitjies dra en wat stand-up-komedie doen by feeste, op klein dorpies en natuurlik in Kempton. Hy was die aanbieder van Die Kliek op Via en hy het die rol van Danny gespeel in die kykNet-reeks, Hotel. Hy het in 2015 die voorprogram gedoen vir Trevor Noah en het al ’n paar keer oorsee ook gaan optree. In hierdie baie eerlike boek vertel hy van sy grootwordjare, van hoe sy lewenspad geloop het tot waar hy nou is. Ernst Grundling werk al byna drie jaar saam met Schalk en deel ook van sy ervaringe saam met Schalk. Ná die lees van hierdie boek het ek besef ’n komediant moet hare op sy tande hê om voor ’n gehoor te gaan staan en hulle te probeer laat lag. Veral as daar ’n klomp dronk mense is wat probeer om self die vertoning te doen. Schalk beskryf skreeusnaakse gebeure, maar ook hartroerende gesprekke wat hy met mense gehad het. Een ding wat jy moet weet, is die naam Schalk Bezuidenhout gaan jy nog baie hoor en sien. – Phyllis Green

Stroomop, Harald Pakendorf (Penguin, R230)

Die boek het die subtitel “Herinneringe van ’n koerantman in die apartheidsera.”Vir my wat jare gelede self by die koerante gewerk het, was dit insiggewend.Pakendorf gee ’n boeiende persoonlike oorsig oor die gebeure in ’n onstuimige tydperk in Suid-Afrika se geskiedenis. Nie net vertel hy meer oor sy persoonlike lewe nie, maar ook oor sy loopbaan as koerantredakteur by Oggendblad (1972-1979) en Die Vaderland (1980-1986). Sy liberale seining het heelwat politici warm onder die kraag gehad en hy vertel van die kere toe hy deur John Vorster en PW Botha gebel is en versoek is om te kom verduidelik waarom daar in sy koerant geskryf is wat geskryf is! As leser kry mens ’n ander beeld van die binnewerking van die koerante van daardie tyd en die groot stories waaroor geskryf is. Wat my die meeste getref het, was die hoofstuk waarin Pakendorf onthul het watter interessante dinge agter die skerms gebeur het, goed wat nie die koerante gehaal het nie. Hierdie gesoute koerantman was ’n voorloper van sy tyd en behoort as voorbeeld te dien vir enige voornemende joernalis. – Phyllis Green

Tell me your story, Ruda Landman (Tafelberg, R285)

Die boek bestaan uit negentien onderhoude wat Ruda Landman met ’n verskeidenheid mense uit verskillende agtergronde gedoen het om te gesels oor hul lewens en hoe verandering hulle geaffekteer het.  Daar is gesprekke met onder meer John Kani, Gugu Zulu, Arno Carstens, Jonathan Shapiro, Ferial Haffajee en Wouter Kellerman. Die laaste onderhoud in die boek is een wat sy met haarself gedoen het en waarin sy verduidelik hoe die joernalistiek haar uit haar gemaksone geneem het en uiteindelik gemaak het dat sy haar horisonne verbreed het oor mense vanuit ander rassegroepe en agtergronde as die een waaruit sy kom.Mense se stories is fassinerend en hier is nie ’n tekort aan inspirasie om jou te laat dink nie. Party van die mense laat jou skuldig voel oor jou eie lewenskeuses wat jy vanuit ’n bevoorregte posisie kon maak. Ander onderhoude laat jou in bewondering vir mense se deursettingsvermoë om teen alle verwagtinge in ’n sukses van hul lewens te maak. Die diversiteit van die mense met wie onderhoude gevoer is, verskaf intense leesgenot. Hierdie boek bly op my bedkassie, want ek wil weer en weer in van die onderhoude delf. - Phyllis Green

 

Yes, Really!, Kate Turkington (Tafelberg, R265)

In hierdie dertiende boek van Kate Turkington skryf sy oor haar vroeë kinderjare, haar twee huwelike, haar vele buite-egtelike verhoudings en haar loopbaan. Sy lê haar lewe nie in ’n chronologiese tydlyn uit nie, maar skryf eerder soos wat die herinneringe haar op haar terugreis in die verlede neem. Sy het baie beleef en het groot waagmoed aan die dag gelê om geleenthede aan te gryp, sonder om te lank daaroor te tob. Sy skryf uitgebreid oor haar twee stormagtige huwelike, haar twee eggenote se verhoudings met ander vroue, haar liefde vir die twee weerbarstige mans, haar reise heen en weer na Afrika vir haar werk en oor haar kinders.Dis ’n lewe vol avontuur, drama en dikwels omstredenheid. Tog kan jy nie anders as om haar te bewonder vir met hoeveel geesdrif sy die lewe aanpak nie. Wat jou bybly ná die lees van haar verhaal is haar optimisme en positiwiteit -’n indrukwekkende lewe van ’n lewenslustige vrou. - Phyllis Green

  

On Leopard Rock, Wilbur Smith (Bonnier Zaffre, R295)

Meer as 130 miljoen eksemplare van hierdie skrywer se boeke is wêreldwyd verkoop. Wanneer jy Smith se memoires lees, verstaan jy waarom lesers so gek oor sy boeke is. Hy is ’n storieverteller uit die boonste rakke, ’n raconteur van vergange jare toe jag en ’n avontuurlike lewe nog aan die orde van die dag was. Smith skryf al vir 50 jaar en dis insiggewend om ’n kykie in sy lewe te kry, asook die gebeure wat aanleiding tot sy verhale gegee het. Hy het ’n heldeverering vir sy pa en gebruik baie van sy pa se eienskappe en ervarings om sy karakters te skep. Smith se liefde vir lees kom van sy ma en mens kan maar net dankbaar wees daarvoor. Dit het gemaak dat hy besluit het om ’n skrywer te word. ’n Kykie in die lewe van iemand wat weet hoe om jou aan sy lippe te laat hang! - Phyllis Green

  

My Lewensreis: Springbok, Politikus, Diplomaat, Dawie de Villiers met Chris Schoeman (Zebra Press, R300)

Wanneer mens oor iemand se lewe lees, kry jy nie net insig in die persoon nie, maar in die gebeure van die tyd waarin die spesifieke persoon se lewe afspeel. So is dit ook met Dawie de Villiers. Predikant, Springbokkaptein, filosoof, kabinetsminister, ambassadeur, wêreldreisiger en gesinsman is van die hoede wat hy dra. Tussen 1962 en 1970 het hy in 25 toetse vir die Springbokke uitgedraf, 22 keer as kaptein van die span. Hy beskryf hoe hy van vroeg in sy lewe reeds ’n belangstelling in die politiek gehad het en hoe hy in 1971 in die kabinet beland het. Hy was tot 1997 ’n minister, waarna hy as ambassadeur in Londen gedien het tot 1980. Terug in Suid-Afrika het hy weer in die kabinet gedien as minister en ook in die ministersraad van die volksraad. Hy was nou betrokke by die Kodesa-onderhandelinge en die oorgang na demokrasie. Toe neem sy loopbaan hom na Spanje as adjunk-sekretaris-generaal van die World Tourism Organisation. Hy gee mens ’n interessante kykie na die binnekring van die politiek waarby hy betrokke was. Maar wat tref, is sy menslikheid en sy hegte gesinsbande, sy lewenslus om te reis. Voorwaar die lees werd. - Phyllis Green

  

Rocket Man, Jessica Easto (Agate Publishing, R230)

Suid-Afrikaans gebore Elon Musk is een van die bekendste entrepeneurs ter wêreld. Sy eerste fortuin het hy gemaak met internet maatskappye soos Paypal. Sy grootste ambisie is om die wêreld te verander. Dit wil hy doen deur sy twee maatskappye, Tesla Motors en SpaceX. Hy wil hê dat vervoer ekonomies volhoubaar en eko-vriendelik moet wees, daarom glo hy in elektriese motors wat se batterye met sonkrag gelaai kan word. In die voorwoord sê die skrywer oor Musk: “The truth is that even if all of his ventures folded today, Musk’s efforts have already accelerated humanity’s progress toward sustainable energy and multiplanetary civilization.” Die boek bestaan uit aanhalings van Musk uit toesprake, tydskrifartikels, vergaderings en konferensies. Een van Musk se mantra’s is dat hy ander mense nie sal vra om in sy maatskappye te belê as hy nie sy eie geld daarin belê nie. Hierdie een bly my by: “If something’s important enough, you should try. Even if the probable outcome is failure.”

Phyllis Green

 

The way I see it, Jürgen Schadeberg (Picador, R300)

As ’n fotograaf was dit nog altyd vir my ’n openbaring om ander fotograwe se memoires te lees. Fotograwe werk in ’n visuele medium en het ’n ander manier van hoe hulle na die wêreld kyk. Toe ek hierdie boek deur Jürgen Schadeberg ontdek, kon ek nie wag om te sien hoe hy sy ervarings boekstaaf nie. En ek was nie teleurgesteld nie. Dis ’n aangrypende lewensverhaal waarin hy vertel hoe hy die Tweede Wêreldoorlog in Duitsland as kind moes oorleef. Ná die oorlog het sy ma saam met haar nuwe man na Suid-Afrika geëmigreer en Jürgen het fotografiese opleiding as onbetaalde vrywilliger in Hamburg gekry. Ná twee jaar van harde bene kou, het hy besluit om sy ma na Suid-Afrika te volg. Wat volg is die verhaal van iemand wat met toewyding en inisiatief vir homself ’n lewe as fotograaf uitgekerf het. Maklik was dit nie! Uiteindelik het hy as fotograaf by Drum gewerk en deur sy oë sien jy die geskiedenis van Suid-Afrika deur die jare deur die stories waarby hy betrokke was. Dit gee ’n baie persoonlike beskouing van die gebeure in die land vanuit ’n ander perspektief as die een wat die koerante van die dag voorgehou het. Mense is mense en hul stories bly interessant, maak nie saak wie hulle is en waar hulle vandaan kom nie. Ek is dankbaar vir iemand soos Schadeberg en sy toewyding om die vele fasette van die lewe te dokumenteer. ’n Boek wat ek ten sterkste kan aanbeveel. Hy het ’n gemaklike en boeiende skryfstyl en ek het gevoel ek het meer van my eie land geleer tussen hierdie blaaie waar ek deur iemand anders se oë daarna kon kyk. – Phyllis Green

Things even González can’t fix, Christy Chilimgras (MF Books, R225)

Christy Chilimgras se lewensverhaal is hartroerend. Al is sy net 24 jaar oud. In haar leeftyd het sy euwels ervaar wat geen kind ooit mee te doene moet kry nie. Haar ouers is dwelmveslaafdes wat  geen geheim daarvan voor Christy en haar suster gemaak het nie. Nadat haar ma dit nie meer met haar man kon uithou nie, trek sy en haar twee dogters by ’n ander man in – een waar die kinders blootgestel word aan mense wat hulle vergryp aan drank en die terloopse dwelm om mee te ontspan. Van ’n vroeë ouderdom af raak die kinders bewus van seks en weet hulle veel meer as wat goed is vir hulle. Was dit nie vir die twee susters se sterk band nie, sou hulle baie erger emosioneel daaraan toe gewees het.Dis skokkend om te dink dat iemand so disfunksionele kinderlewe het. Tog kom Christy aan die anderkant uit met ’n wysheid wat haar deur die jare help oorleef het. Dis ’n debuut wat gelees moet word! Vir die skokkende storie, maar vir die wonderlike woordgebruik en manier waarop die memoires geskryf is. – Phyllis Green