Izak Hugo is ’n tandarts met selektiewe geheueverlies. Boonop hou hy nie van poedels nie. In Jo Nel se debuutroman, Die hond wat ophou blaf het (Penguin, R250), speel honde ’n belangrike rol. Die gebeure skop af met die vonds van ’n verwurgde poedel, die einste Monet wat sy been teen Hugo se been gelig het. Wanneer Hugo die hond in ’n swart sak agterop sy bakkie ontdek, is die tergende vraag: Wie het Monet verwurg? Hugo met sy selektiewe geheueverlies weet self nie of hy betrokke was nie. Hy kry nagmerries waarin hy sy pasiënte in die tandartsstoel martel, want hy haat sy werk met ’n passie. Sy bloederige drome neem sy lewe oor en hy kan naderhand nie meer onderskei tussen wat werklik gebeur het en wat verbeel is nie. Tussendeur word hy gedreig deur naamloses en iemand wat ’n Madiba-mombakkies dra, en dan is daar nog die bendelede ook. Sy paniek maak dat hy op vlug slaan deur die Oos-Kaap en Transkei. Drie besorgde vriende staan hom by. Maar hy wonder of hulle hom werklik help en of hulle nie dalk deel is van die komplot teen hom nie.Die gebeure is spanningsvol, die tipe stof wat jou wakker hou in die nag, en tot aan die verhaal se verrassende einde bly jy aan die raai. Die humor is sinies en swart, die beskrywings van die omgewing soms poëties mooi. Om te dink dit het alles begin met ’n wit Franse poedel en ’n tandarts ...

Ek het per e-pos met Jo Nel gesels.

 

Vertel my so bietjie meer oor jouself? Waar het jy grootgeword, waar woon jy nou, wat doen jy?

Ek is op Swellendam gebore, maar my ouers het Mosselbaai toe getrek toe ek een was. Ek was in die Laerskool Park en Hoërskool Punt. Ek het tandheelkunde op Stellenbosch begin swot, maar aan die UWK voltooi (die US se tandheelkundedepartement het in 2006 met die UWK s’n saamgesmelt).

In 2007 het ek my gemeenskapsdiensjaar in Grahamstad gedoen en toe vir ’n jaar op Burgersdorp gaan werk vir die staat. Toe vir twee en ’n half jaar by ’n privaatpraktyk in Port Elizabeth. PE is ’n lekker plek. Daarna het ek ’n jaar by die Zithulele-hospitaal in die Transkei gaan werk. Wat ’n wonderlike wêreld. In 2013 is ek terug Suid-Kaap toe, maar ek het in 2015 vir so vyf maande op Jacobsbaai gaan bly en net geskryf.

September 2016 tot Oktober 2017 het ek in Suid-Korea Engels gegee. Die kinders in die weste van Suid-Korea brei nou glo liggies en gebruik die woord “bliksem” as hulle opgewonde is.

Ek bly nou op Mosselbaai, werk twee dae ’n week by die een kliniek en werk aan my tweede storie. Ek probeer taamlik tyd in en om die see deurbring. 

Wou jy nog altyd skryf?

Ek het van kleins af van stories en lees en woorde gehou. My oupa het ook geskryf. Om te torring aan gedagtes kom redelik natuurlik vir my. Ek was rondom 2013 baie ongelukkig by my werk en het besef dat ek iets sal moet verander. Toe besluit ek ek sal probeer skryf. Ek vermoed daar is min beroepe waarvan ek baie sal hou. Skryf is wat ek regtig wil doen. 

Wat was die vonk vir Die hond wat ophou blaf het?

My en die hoofkarakter se verwante frustrasie op die eerste bladsy. Ek het die eerste bladsy by die werk geskryf.

Het jy uit jou eie lewe geput om dit te skryf?

Ja, maar ek sal liewer nie sê wat alles nie. Ek het ruimtes gebruik wat ek goed ken. Ek is baie lief vir die Oos-Kaap.

Hoe skep jy jou karakters?

Ek is self nie seker nie. Van die karakters is in ’n mindere of meerdere mate deur mense geïnspireer, party deur meer as een mens. Ek kry gewoonlik redelik vinnig ’n idee van hoe ’n karakter lyk en praat. Dis asof die karakters, veral die hoofkarakters, regte mense is wat ek vinnig ontmoet en net beter moet leer ken. Van die “kleiner” karakters het meer saam met die plot ontwikkel. 

Plot jy jou verhaal eers uit of skryf jy net?

Ek het baie min geplot. Ek het wel van die begin af ’n gevoel gehad van die rigting waarheen die storie op pad is. Voor ek ’n toneel skryf, dink ek dikwels die toneel of stukkie van ’n toneel deur. Dan vat ek maar weer die volgende toneel.

Elke nou en dan sal ek dink waarheen die storie op pad is, maar ek plot dit nie in detail uit nie. Dikwels dink ek net, sonder om enigiets neer te skryf. Die idee dat enigiets kan gebeur, is vir my opwindend.

Wat was die moeilikste van die skryfproses?

Om die woorde op die skerm te sien soos die leser dit sal sien, sonder om beïnvloed te word deur die prentjie wat reeds duidelik in my kop is.

Waarom ’n riller skryf?


Ek het nie vooraf ’n genre gekies nie. Dis maar die storie wat in my kop ontwikkel het. Ek lees wel graag rillers.

Moes jy baie navorsing doen vir die verhaal?

Meer as wat ek aanvanklik gedink het ek sou. Ek het byvoorbeeld al die plekke in die boek, wat regtig bestaan, redelik naby aan die publikasiedatum weer besoek.

Werk jy aan ’n volgende boek?

Ja. Nog ’n riller.

Vertel my van drie boeke wat ’n indruk op jou gemaak het.

Al die The Three Investigators- en Hardy Boys-boeke. Dit het my as kind lief gemaak vir lees.

Raka (weet nie of dit tel as ’n boek nie). Dit was ’n voorgeskrewe werk op skool. Dit het gemaak dat ek nog van N.P. van Wyk Louw se werk lees. Hy het Afrikaans vir my baie sterk, maar tog mooi laat klink.

The Catcher in the Rye van J.D. Salinger. Holden, die hoofkarakter, se stem is vir my baie oortuigend. Dit het my ook weer gewys dat selfs uitstekende boeke (volgens my) nie onder almal gewild is nie. Party mense hou glo nie van die boek nie. As iemand nie hou van my boeke nie, kan ek altyd vir myself sê dat beter skrywers as ek al slegte kommentaar gekry het.

Jammer, dis meer as drie.