Sielskos: Stories oor verlange en hoop
(Lux Verbi, R195) bevat hoogtepunte van die laaste 15 jaar se rubrieke wat in SARIE gepubliseer is.  Hy vertel van gewone mense en hul soeke na hoop, maar ook ons almal se verlange na die Een wat ons nooit sal laat gaan nie. Lees hier sy rubriek, Spaartyd.

Spaartyd

Jare gelede het ek besluit om te eksperimenteer met wat ek noem spaartyd. Spaartyd is nie vrye tyd nie. Spaartyd is daardie halfuur wat jy in die dokter se spreekkamer wag, of op die lughawe, of vir die mooier een in jou lewe om die laaste lipsel die derde keer aan te sit. Die kinders draai as hulle in die middag ná skool kar toe moet kom, of die wiskundeles hou tien minute langer aan. Daar is wag by die lisensiekantoor. Die wag vir iets wat die moeite werd is op die honderd en hoeveel TV-kanale. Wag dat motorbande vervang word. Kan nie slaap nie. Hierdie tye is spaartyd.’n Mens moet mooi werk met jou spaartyd. Spaartyd mag nie niksdoentyd word nie, want enige verantwoordelike mens behoort in elk geval genoeg niksdoentyd in sy week te skeduleer. My eksperiment was om in my spaartyd daardie boeke te takel wat reeds jare lank op my rak gebêre word vir eendag wanneer ek tyd het. Ek het agtergekom dat daardie eendag net nie nader wil kom nie. Sommige boeke staan al byna twintig jaar en het al ophou smeek om aandag te kry. Ek het somme begin maak. Net tien bladsye per dag (buiten my gewone leeswerk vir my soort werk) en ek kan in een jaar aan drieduisend seshonderd en vyftig bladsye van die verwaarloosde boeke aandag gee.En so het ’n wêreld vir my begin oopgaan. Onkundig maar vasberade en stukkie vir stukkie het ek groot name getakel, name waarvoor ek half bang was. Name wat letterkundestudente met vrees en bewing vul voor eksamentyd. Dostojefski, Tolstoi, Dickens. Ek het Chris Barnard herontdek en Jane Austen. En my gedagtes het vol geword van nuwe dinge. Die mooiste taal, die diepste lewenslesse. Ander lande en ander eeue het in my wêreld inbeweeg. Nie net lewenslesse nie, maar ook die doodgewone genot van verlore raak in ’n storie. Flieks en TV kan dit net nie doen nie. In ’n fliek sien jy vir ’n vlietende oomblik dat mense eet; met ’n boek proe en sien jy die gereg, weet jy wat in die gedagtewêreld aangaan, hoor jy die siel. ’n Boek vat jou dieper en verder, jy skep self prentjies, jy word regisseur in die fliek van jou verbeelding.Die betowering van die boeke van my spaartyd het my net weer bewus gemaak van hoe dikwels ander voornemens in my lewe soos ongeleesde boeke op ’n rak staan. Dit het my laat besef hoe maklik dit is om met klein, gereelde doen van regte dinge groot uitdagings te bemeester. Ek het gesien dat die dikste boek uiteindelik moet swig onder ’n paar bladsye per dag. En ek het geleer om nie die krag van aanhoudendheid te onderskat nie. Een gebed op ’n dag, een vriendelike oproep, een e-pos, maar aanhoudend, en die wêreld word ’n beter plek.