Sy het mos die familiename gekry en dis juis hierdie familiename wat die vloek oor almal wat dit dra, bring. Blinde sambok deur Riana Scheepers (Tafelberg, R120) vertel die boeiende verhaal van die De la Rey’s soos vertel deur Gideonette.

Toe die kind te vroeg in die lewe gekom het, moes sy eers lank in die hospitaal vertoef voordat sy saam met haar ma en pa plaas toe kon gaan. Die kind word Gideonette Diederika Marthina de la Rey gedoop. Al is sy nie die seuntjie waarop haar pa gehoop het nie, kry sy name, die familiename. Tog het hy haar eindeloos lief en leer hy vir haar woorde soos “blitsvinnigafstert, donkerskaduweekol, kromwingerdtakkie, katjiepieringmajol en wildebeeskastaiing.” Gideonette is ’n uitsonderlike kind, want sy kan selfs onthou wat gesê is toe sy nog in haar ma se maag was! Sy onthou alles wat in haar lewe gebeur het in die fynste besonderhede. Haar beste maat is Bhubesi en hulle speel saam op die plaas. Vang kattekwaad aan en leer saam meer oor die lewe. Agter die grootmense se hande word gepraat oor die vloek wat die familienaam oor die De la Rey’s gebring het. Wanneer Gideonette se pa in ’n fratsongeluk sterf, begin sy glo dat sy die vloek nie gaan vryspring nie. Maar oupa Lewies is die stem van redelikheid en hy verduidelik dat die vloek sommer ’n klomp twak is. Bowendien het sy meisiename, verduidelik hy. ’n Uitsonderlike verhaal wat jou van die eerste bladsy af meesleur op Gideonette se lewensreis. Riana Scheepers weet hoe om ’n storie te vertel wat lank in jou kop ronddwarrel. – Phyllis Green

Die vloek van Vreesbaai, De Wet Hugo (Human & Rousseau, R140)

Dis die eerste aflewering in die heerlike nuwe reeks, Grilgrypers. Dis gemik op lesers tussen 9-12 jaar. Miek het saam met sy ouers na Vreesbaai getrek. Dis ’n vreemde dorpie waar daar nie moderne stadsgeriewe is waar kinders afleiding kan gaan soek nie. Hulle is aangewese op hul maats vir geselskap en vermaak. Daar hang elke dag ’n grillerige miskombers oor die dorp. Miek sien ’n monsteragtige hond in die mis, een met woedende rooi oë en die hond teister hom. Hoeka is Miek se grootste vrees honde en nou het hy geen ander keuse as om sy vrees in die gesig te staar nie. Hy kom agter dat sy maats ook deur monsters geteister word. Waar kom die monsters vandaan en hoe weet die monsters waarvoor elkeen van hulle bang is? In die grilstorie moet Miek en sy maats die tergende raaisel oplos. Dis ’n heerlike grilstorie, een wat selfs ek geniet het, al is ek nie meer ’n kind nie.Phyllis Green

Harry Griesel 2: Die spookplaag, Sonja Kaibliner (Human & Rousseau, R170)

Otto woon saam met sy tante in ’n huis waar daar ’n hele paar spoke ook woon. Sy vriend is Harry Griesel, die Grieselgryper wie se werk dit is om dooies se siele na die Oorkant te neem. In hierdie verhaal wil daar ’n nuwe Spaanse spook sy intrek by Otto-hulle neem, maar dit kan nie gebeur nie want hy onstel die ander spoke. Skielik is die hele dorp onder spoke en Harry het net verdwyn. Otto wil hierdie vreemde raaisel oplos, want waarom doen Harry nie sy werk nie? Natuurlik moet hy ondersoek instel en so beland hy ook aan die Oorkant! In die proses vind Otto baie meer uit oor sy oom Archibald se verdwyning. Hy leer ook meer oor sy oom se uitvindings wat verband hou met spoke. Die avontuurlike verhaal is humoristies geïllustreer deur Fréderic Bertrand. Dit sal in die smaak van seuns en dogters val. – Phyllis Green

Lees en luister: Eerste lesse klankboek (Human & Rousseau, R235)

Ek is gek oor hierdie oulike boek waarvan die prentjies klanke maak. Hier word die kind geleer oor getalle, kleure, vorms en teenoorgesteldes. Die diere word in drie verskillende omgewings geplaas, soos byvoorbeeld in die supermark. Dan leer die kind wat is een, twee, drie en vier. In die volgende prentjie word die kind voorgestel aan verskillende kleure en in die laaste prentjie leer die kind van vinnig en stadig, warm en koud, klein en groot en so meer. Al is ek nie meer ’n kind nie, kan ek my ure lank vermaak met hierdie boekie met sy oulike, kleurvolle illustrasies en natuurlik die klanke! Daar is ’n tweede boekie oor diere en hul geluide in die reeks beskikbaar. Die hardeband boekie het reeds die batterye ingesluit. Kleurvol en duursaam en ’n hulpmiddel vir ouers wat hul klein kindertjies aan nuwe begrippe wil blootstel. – Phyllis Green

The Book of Dust: Volume one La Belle Sauvage, Phillip Pullman (David Fickling Books, R245)

Malcolm is ’n slim, sensitiewe jong seun en in sy geliefde skuit, die La Belle Sauvage, is hy ’n bekende gesig rondom sy ouers se herberg en die klooster waar hy die nonne met verskeie take uithelp. Alice help in die kombuis van die herberg en sy en Malcolm hou nie baie van mekaar nie. Malcolm se lewe is redelik eenvoudig totdat daar ’n klomp vreemde mans by die herberg opdaag en alles verander. Daar daag ’n babadogtertjie by die klooster op en toe Malcolm haar vir die eerste keer sien, weet hy dat hy enigiets sal doen om haar veilig te hou. Haar naam is Lyra en alhoewel niemand regtig weet hoe sy by die klooster uitgekom het nie, is daar gerugte dat sy die dogter van twee prominente politieke figure is. En as die heer Asriel regtig Lyra se vader is, is haar lewe in ernstige gevaar.

’n Onverwagse vloed veroorsaak dat die klooster, sowel as al die omliggende areas rondom Londen, heeltemal onder water is. Gelukkig is Malcolm naby met sy skuit en kan hy vir Lyra red. Omstandighede dwing Malcolm en Alice om saam te werk om Lyra veilig te hou. Maar dit voel asof hulle net nooit weer veilig gaan wees nie.

Phillip Pullman is die skrywer van die gewilde Dark Materials-reeks en met die eerste aflewering in sy nuwe trilogie kry die leser ’n kykie in hoe Lyra se lewe verloop het totdat sy by die Oxford College opgedaag het.  - Antoinique van Staden

 

Kop in die wolke in Kromkieriefontein, Milan Murray (Murray & Me, R150)

Hierdie kinderboek, gemik op beginnerlesertjies, is interessant sommer van die begin af. Die vreemde dorpie en sy inwoners word so mooi beskryf in die eerste paar bladsye. Die pragtige illustrasies help natuurlik hiermee. Aanvanklik is die illustrasies ook meestal swart en wit met min kleur. Die hoofkarakters, die vier lede van die Hoepelkrombende, is interessante kinders — elkeen sy eie klein mensie met karakter, en met talent en persoonlikheid eie aan hom en haar. Elke karakter se naam en van laat jou giggel, en die besondere illustrasies deur Marisa du Toit gee lewe aan hierdie karakters. Die Hoepelkrombende raak nuuskierig oor ’n juffrou wat reeds twee jaar in die dorp Kromkieriefontein woon, maar steeds nie krom soos die res van die dorp se inwoners loop nie. Die nuuskierige bendelede voel dis hul plig om ondersoek in te stel. Hulle weet sommer hul wegspringplek is die vreemde vrou wat in die huis op die bult (wat niemand ooit sien nie) woon en waar juffrou Kiertsregop gereeld gaan kuier. 

Die bendelede spreek ’n dag af en volg juffrou Kiertsregop tot by die sewe-verdiepinghuis op die bult met die geel deur. Wat die vier talentvolle kinders daar sien, kan hulle self nie glo nie. Dis so onwaarskynlik dat hulle tot by die boonste verdieping klim — waar dit koud is en hulle hul tussen die wolke bevind. Daar sien hulle ’n ander wêreld wat hulle nie gedink het bestaan nie. Van daardie dag en elke dag daarna het al die lede van die Hoepelkrombende ’n bietjie meer regop gestap en dus buite die norm van die dorp en sy mense begin optree.
Ek hou van die motivering wat hierdie boek kinders bied om hulself te wees en ’n ander wêreld te ontdek waar jou drome kan waar word. Dit spoor kinders aan om ’n bietjie meer en beter te wees as wat die samelewing, of selfs die mense om jou van jou verwag om te wees. Hierdie boek is een van vier in ’n boekreeks wat Afrikaanse idiome aan kinders blootstel. Dié verduideliking van die idioom in hierdie boek gee werklik ’n positiewe siening op iets wat soms as negatief afgemaak word.  - Yolandi Jordaan

 

Blits Perlemoendiewe, Nadine en Adriaan Blom (Tafelberg, R150)

Hannes en Zander is twee avontuurlustige, dertienjarige seuns wat op Melkbosstrand woon.  Dis vir hulle die lekkerste om in die middag ná skool strand toe te gaan en die branders te ry totdat die dag om is. Behalwe branderry, geniet die twee dit ook om Melkbos se strate te deurkruis op hul “longboards”.  Dis juis tydens een van die ritte dat ’n paneelwa hulle twee amper disnis ry. En dit is agterdogtig, want die twee ken alles en almal en dié paneelwa is onbekend. Wanneer hulle dus ’n paar aande later weer in die strate rondry en die paneelwa gewaar, besluit hulle om dit te volg. Wat volg is ’n ware avontuur van perlemoenstropers, ontvoering en polisiejaagtogte en hoe die twee die polisie help om geregtigheid te laat geskied. Die storie beweeg vinnig en laat jou goed voel wanneer jy met die boek klaar is. - Dian Liebenberg

Pleisters vir die dooies, Fanie Viljoen (Lapa Uitgewers, R140)

Pleisters vir die dooies word nie deur ’n waarskuwing ingelei nie. Dis die leser se eie verantwoordelikheid om raak te sien dat dit nie vir sensitiewe lesers is nie.

Die naamlose hoofkarakter neem die besluit om hom die volgende dag op die wêreld te wreek deur middel van ’n skoolskietery. Intussen vertrek hy op ’n nagtelike staptog deur die strate, iets om vir oulaas te doen, ’n knipmes en pistool in sy rugsak en ’n groot hoop wrokkigheid in sy siel. Ons maak die aand met hom mee, waar hy die stad invaar en verskeie interessante karakters leer ken. Ons ervaar saam met hom sy innerlike worsteling met sy donker self.

Hierdie storie is dramaties, skokkend, ontstellend en insiggewend en laat jou wonder of skoolskieters regoor die wêreld deur dieselfde emosies gaan. ’n Baie vreemde, maar interessante lees! - Dian Liebenberg

Nina en die crazy klere, Elizbè van der Colff, illustrasies Chris Venter (Tafelberg, R155)

In hierdie derde boek in die gewilde Nina-reeks woon Nina en haar beste vriendin, Jessie, die Eksotiese Eksperimente Ekspo by. Nina wil haar pet met spesiale kragte vir professor Crower wys, sodat hy dit kan ondersoek vir ’n wetenskaplike verklaring. Toe hulle by die Ekspo aanland, word die sak met die pet in gesteel. Daar gebeur ’n paar vreemde goed by die Ekspo en Nina en Jessie besluit om agter die kap van die byl te kom. Hulle moet ’n nare skurk trotseer en moet agterkom wie saam met die skurk al die skelmstreke uitvoer. Nina en Jessie red in die proses vir professor Crower, en hulle kry ook antwoorde oor Nina se spesiale pet. Dis ’n vermaaklike storie vol avontuur wat jou tot die laaste bladsy aan die lees hou.Phyllis Green

Hartbreker, Cecilia Steyn (Human & Rousseau, R140)

Stephan Bruwer raak nie verlief nie, of dis wat hy sê! Maar vandat Ciska, sy suster se beste vriendin, in sy lewe ingestap het, kry hy ’n snaakse pyn in sy hart wat hy graag wil afskryf as sooibrand. Met verloop van tyd moet hy egter erken dat hy verlief is. Ciska is ’n rebel wat nooit van ’n man afhanklik wil wees nie. Sy het ’n doelgerigte 7-jaar plan wat geen mans insluit nie.  Met die aankoms van Stephan in haar lewe word dit ’n groot oorweging om daardie plan te verander. Hierdie liefdesverhaal beeld emosies mooi uit. Hou maar ’n dag oop op jou kalender, want hierdie boek is onmoontlik om neer te sit. – Cailin Spickett

 

Hartedief, Cecilia Steyn (Human & Rousseau, R140)

Lisa het genoeg gehad van haar kêrel (of eerder ekskêrel) se leuens. Sy was vir drie jaar smoorverlief op hom voordat hy begin het om met die verkeerde mense en dwelms deurmekaar te raak. Sy het in Stellenbosch by haar broer ’n nuwe lewe probeer begin. Sy vind dit uiters moeilik met so ’n swaar las van ’n donker geheim wat oor haar hang. Sy ontmoet vir Estian wat dinge net nog meer kompliseer. Estian weet Lisa is beslis die een vir hom. Hy probeer haar heeltyd oortuig, maar sy stoot hom weg totdat sy uiteindelik op ’n dag ingee. Hierdie liefdesverhaal is gevul met ’n warboel emosies wat deurentyd met jou gevoelens speel. Definitief  ’n ‘begin en klaar lees’ boek. Maak dus maar ’n koppie koffie en wees gereed vir ’n lekker avontuur oor tienerliefde.Cailin Spickett

   

Vingerpaadjie: In die tuin  (Human & Rousseau, R135)

Op ’n prettige manier kan peuters hul fyn motoriese vaardighede en oogspiere ontwikkel met hierdie kleurvolle boek van karton. Daar is ’n vingerpaadjie op elke bladsy waarlangs figuurtjies kan gly. Kinders moet byvoorbeeld ’n mol al langs die grondtonneltjie skuif om by sy mamma uit te kom. Soos hul vinger die figuur oor die blad beweeg, leer hul oë om saam te volg van een punt tot ’n ander. Boonop is daar ook soekbladsye met klein prentjies en vrae wat sorg vir ’n lekker aktiwiteit vir ouer en kind saam. Vingerpaadjie is beskikbaar in ‘Op die Plaas’ en ‘In die Tuin’ weergawes. - Danica Gouws