Weke lank woeker die duinemol van tuin tot tuin en saai verwoesting – wortels, aartappels, selfs die Jerusalem-artisjokke in Pastoor Abel se groentebedding. Alles word omgedolwe en vir wind en weer gelos op die dierasie se slingerpad. Die ontstoke dorpsmense soek raad om die mol uit te wis – rookbomme, slagysters, doodslaat met die graaf.

Dáárvan wil Pastoor Abel niks hoor nie – sy nekhare rys en hy kry nagmerries. Soggens drink hy sy  koffie swart en bitter. Hy staar na die vars molshope wat lyk soos hopies grafte, of soos die opgefrommelde velle papier in sy snippermandjie. Sy preke wil nie vlot nie, sy woorde verdor. Hy tob oor sy gemeentelede. Oom Herklaas met die pynlike been, Annie van Piet Sieraad al weer teen haar sin in die andertyd, Saul Hopkins betrap met perlemoen, en Blinde Bettie wat met halleluja-sange tydig en ontydig die kerkdiens ontstig!

Die kinders terg haar, hulle speel blindemol en as sy iemand vang, karnuffel sy hom tot hy soebat en vir haar lekkergoed koop wat sy saamvat rivier toe. Daar klim sy in ’n roeibootjie en sing hallelujas terwyl die water skommel. Die saligheid vanself.

Pastoor Abel sug. Vandat die duinemol (Bathyergus suillus, volgens die Groot Woordeboek) in sý paradys gekom het, voel hy sy eie gebrek aan saligheid ten seerste. Wat moet hy doen? In sy tuin stoot die duinemol juis weer ’n vars hoop sanderige grond boontoe. Eers die ligte krakies bogrond, dan hup-huphup, en woeps ómgekeer! Maar van die kalant self g’n teken, nie ’n snoet of kloutjie nie.

O, die verpesting! Pastoor Abel loop staan teen die muur, sy hande jeuk om die graaf te gryp, maar hy hou hom in. Nee, die Woord sê jy mag nie doodslaan nie, ook nie doodwens nie. Maar deesdae oorval dinge hom en verwens hy sommer alles. Ná sy dierbare vrou se dood is hy nie dieselfde sagsinnige Abel van eertyds nie. Allenigheid maak hom wankelmoedig. Hy vrees dat sy gemeentelede sy swakheid aanvoel, hulle is ook tastende . . . 

Terwyl Pastoor Abel staan en tob, kom Blinde Bettie juis straataf, op pad rivier toe. Krom, kop onderstebo, arms oor die bors gevou. 

Oorkant die water, blinkend en bly . . . sing sy. Pastoor Abel hou asem op, druk sy rug styf teen die muur al weet hy sy kan hom nie sien nie. By die tuinhekkie bly sy skielik staan, lig haar kop asof sy seine opvang, soek-soek die hek se knip. 

Pastoor Abel knyp oë tóé, hy hoor: . . . sien ek bemindes, wagtend op my . . . en hier gaat sy skaars drie tree van hom verby, reguit na die groentebedding, tot by die vars molshoop, ’n mens sou sweer sy kán sien! Sy buk, snuif die reuk van die vars grond op, skop driftig teen die molshoop.

“Bokker se ding!” mompel sy, draai om en slof terug, uit by die hekkie, riviermond toe, met . . . skoon soos die môre, vry van verdriet . . . om die draai, en weg. Pastoor Abel se knieë knak, hy sien hy’t die hele tyd met die graaf in sy hand gestaan, reg om te slaat. Hy skrik homself yskoud.

Abel, Abel . . .!” verbeel hy hom ’n vermanende stem van Bo.

Maar nee, dis die soete klanke van die gemeente se traporrel, dit kom uit die kerksaaltjie. Hy herken die lied: As die lewenstorme woedend om jou slaan . . . Dis Suster Driekie wat soggens oefen vir Sondag se diens. Soms stap Pastoor Abel soontoe om te luister, maar Suster Driekie sê dit maak haar deurmekaar as iemand luister, dan mis sy ’n paar note.

Laas keer het haar musiekboek per ongeluk van die orrel se rakkie geval omdat Pastoor Abel vir haar die noteblad wou omblaai. Hy’t agterna skoon bewerasie gehad, oor en oor ekskuus gevra. Hulle het darem albei lekker gelag. Vandag bly hy liewer weg. Hy sit die graaf terug, genoeg stormagtigheid vir een dag! Voortaan los hy die duinemol uit, laat die dierasie alles na hartelus opdolwe! Dit skeel hom min!

Min weet Pastoor Abel wat op hom wag. Daardie einste nag delf die duinemol ’n twaksakkie met drie kleinerige ongeslypte diamante na bo. Hulle lê vuil en dof in Pastoor Abel se handpalm toe hy vroegoggend die twaksakkie tussen die molshope optel, oopryg en uitskud. Hy kyk verskrik rond, spoeg bietjie op die klippies, vryf die stowwerigheid af, rol hulle alkante toe. 

“Wat de drommel . . .?” vra hy hardop, maar hy kry g’n antwoord nie. Wat nou? Ná ’n ruk drafstap hy na Oom Herklaas, sy enigste vertroueling. Hy vee sweet af, wys sy vonds. “Ai, dit verbaas my nie, Pastoor,” sê Oom Herklaas, “daardie stuk grond het vanmelewe behoort aan Oubaas Struwig, hy was ’n bobaasdelwer – en nie bang vir die lang arm van die gereg nie, hy’t vernuftige wegsteekplekke geken. As ek in Pastoor se plek was, sou ek goed dink voordat ek besluit. Ek sal ook daai mol vir eers in vrede los – mens weet nooit wat hy alles . . . e . . . optower nie . . .” en Oom Herklaas maak veelseggend keel skoon.

Donkeraand loop Pastoor Abel met die twaksakkie na die riviermond, waar die oudste roeibootjie, die Albatros, eenkant teen die skuinste van die rivierbedding lê. Daar druk hy die twaksakkie stewig onder die sitplek in, lê die twee roeispane netjies oorkruis. Hy spoel sy hande in die rivierwater af om ontslae te raak van die twaksakkie se vuilheid, maar sy hande voel nie skoon nie. By die huis skrop hy deeglik. Slaaptyd bid hy lank en ernstig. Maar hy slaap sleg. Hy droom van vagevure en ’n vlammende swaard.

Genadiglik reën dit Sondagoggend driftig, die see is rof, die gety stoot diep in by die mond. Tóg sit die gemeente bankvas vir die kerkdiens en sing met innige dankbaarheid vir die seëninge van Bo. Dit was lank droog, nou bring die reën uitkoms.

Ook Pastoor Abel voel asof die woorde uit sy mond gerol kom nes die soet klanke van Suster Driekie se orrelmusiek. Hy voel aangedaan oor die onverwagte krag in hom. Hoe is dit moontlik? Hý, ’n swakke sondaar! Hy wéét nou wat hy moet doen. Môre sal hy met Sersant Plessis gaan praat . . .

Ná die diens talm Suster Driekie by die orrel met haar stapel musiekboeke. Sy laat val een, ook haar sakdoekie, juis toe Pastoor Abel verbykom en groet. Hy help haar, tel rats op. “D-d-dankie,” stamel sy en vra sommer of hy dalk teen twaalfuur wil oorkom vir ietsie te ete, sy’t ’n braaihoendertjie gaargemaak, te veel vir één, en sy weet hoe lief hy is vir sagopoeding, dis te sê, as hy wil . . . Hy wil, gráág. En hulle maak so.

Namiddag breek die son deur, die lug word helderblou, alles skitter, skoongewas. Pastoor Abel en Driekie sit op haar stoepie, gesels land en sand. Totdat ’n lawaai hulle skielik stilmaak van skrik.

Die dorpsmense kom verbygehardloop, waai met die hande na alle kante, kinders storm verby en skree verskriklik: “Blindemol! Blindemol! Die see sal haar vat, kom, kom!” Selfs Oom Herklaas kom verbygesukkel op sy seer been. Hy sien vir Pastoor Abel op Driekie se stoep. “Jy moet kom help, Pastoor! Dis Blinde Bettie in die Albatros, die gety gaat hulle vat, kom!”

Almal weet Pastoor Abel is die sterkste swemmer, hy’t die driekamp gedoen, destyds voor sy vrou se dood, toe hy nog vonk in hom gehad het. Vandag sal hy moet red wat te redde is! 

Sommerso in die hardloop stroop hy sy oortollige klere af, baadjie, hemp, skoene, sokkies. Sy broek waai laaste, net voordat hy met sy wit onderbroekie sierlik die rivierwater induik. Driekie druk haar hand voor haar mond, haar wange vlam, sy spring op en af nes ’n jong meisie. 

Agterna vertel Oom Herklaas vir die buurdorp se koerantverslaggewertjie hoe Bettie Steenhuis houtgerus in die Albatros gesit het, toetentaal onbewus van die sterk gety wat seewaarts trek. Eers toe die kinders op die rivierwal rondhol en skree: “Spring, Bettie, spring!” kom sy agter daar’s fout. Later skree en bid almal, alles sommer tesame! verduidelik Oom Herklaas. 

“En die pastoor, die pastoor? Wat van hom?” vra die verslaggewer, skryfpen gereed. “Nee, hy’s toe ook al in die water en swem asof sy lewe daarvan afhang. Ons moes net keer of Suster Driekie spring agterna, dan sit ons met twéé drenkelinge! Gelukkig haal Pastoor Abel betyds die Albatros in, maar net toe hy so vat-vat aan die skuit se kant, toe skreeu ou Bettie hard: Hal-le-lu-ja! en daar spring sy met ’n boog, reg in Pastoor Abel se arms in! Prys die Heer!” Die Albatros kon hulle nie red nie. Hy’s diepsee toe, net die twee roeispane het later uitgespoel.

Met die koms van die lente raak Pastoor Abel en Suster Driekie verloof. Hy koop vir haar ’n mooi ringetjie wat sy self uitsoek by die buurdorp se juwelierswinkel, niks uitspattigs nie sodat hy dit in net ses maande kan afbetaal. 

Van die duinemol is daar nooit weer ’n spoor nie. Hy’t oornag verdwyn, nugter weet waarheen. Nou groei wortels en aartappels weer ongestoord, en in Pastoor Abel se tuin is daar selfs weer Jerusalemartisjokke.