Die Remembering-reeks boeke en uitstallings is die geesteskind van die fotograaf Margot Raggett. In 2014 het die toneel van ’n gestroopte olifant haar soos ’n weerligstraal getref en die idee vir ’n boek oor olifante is gebore. Sy het wildlewefotograwe van oor die wêreld genader om deel te wees van die projek en so het Wildlife Photographers United tot stand gekom. Wanneer jy die name sien van die fotograwe wat deel is van die projek, is dit amper soos om ’n lys te lees van die wie-is-wie natuurfotograwe in die wêreld. Daar is Brent Stirton, Ian Wood, Frans Lanting, Daryl Balfour, James Suter, Kyle de Nobrega, Peter Delaney, Roger Hooper, Jonathan en Angela Scott en nog heelparty ander.

Suid-Afrikaner Stirton is wêreldbekend vir sy foto’s en is in 2017 aangewys as Wildlewefotograaf van die Jaar in die jaarlikse kompetisie geborg deur die Natural History Museum, Londen, vir sy foto van ’n gestroopte renoster. In die voorwoord van Remembering Great Apes (Remembering Wildlife, R980) loof Raggett die dapper keuse van die beoordelaars van die Wildlife of the Year-kompetisie. In die boek pryk daar weer ’n skokkende foto deur Stirton. Dit wys die dooie gorillamannetjie Senkwekwe uitgestrek op sy rug met sy arms vasgebind aan ’n houtpaal, met mense rondom hom. Amper soos ’n kruisigingstoneel. Jy kan nie onaangeraak staan deur dié beeld nie. Dis tonele soos dié wat Raggett aanvuur om bewustheid te kweek rondom bedreigde spesies.

Elke boek fokus op ’n ander bedreigde diersoort. Die hoop is dat die boeke wêreldwyd aandag op die bewaring van ons bedreigde natuurlewe sal vestig. Dié derde boek in die Remembering Wildlife-reeks fokus op die groot ape van die wêreld. Die ander is Remembering Elephants, Remembering Rhinos en Remembering Lions. Met die verkope van die reeks is reeds meer as R13 miljoen ingesamel vir bewaringsprojekte in Afrika en Asië. Sy sê verder in die voorwoord van Remembering Great Apes: “What is crystal clear to me now is that we can no longer look away and not see the connection between how shockingly familiar that funeral-like scene is and our role in creating it.” Dis na aanleiding van hoe die mens die natuurlike habitat van diere vernietig om plek te maak vir plantasies vir gewasse wat hulle kontant in die sak sal bring. Mynbou, die jag van diere en selfs die maak van houtskool is alles bydraende faktore wat die natuur vernietig. Die top-natuurlewefotograwe van die wêreld het hul werk geskenk as hul bydrae tot die bewusmaking en bewaring van die benarde posisie van die diere wat op hul foto’s verewig is. Wanneer ek deur die foto’s van die ape in die boek blaai, word ek weggevoer daardeur. Dis asemrowend mooi en gevoelvol. Tog is ek bewoë terwyl ek na die portrette van die gorillas, orangoetangs, sjimpanees en bonobo’s kyk. Die emosies op hul gesigte is so naby aan die van mense. Jy kan soveel in hul gevoelvolle oë lees. Woorde kan nie beskryf hoe diep die foto’s my ontroer nie. Om te besef dat dit moontlik die laaste keer sal wees dat een van die diere afgeneem is, is ’n skrikwekkende gedagte wat in my onderbewuste sluimer. Dat my nageslag dalk nooit die voorreg sal hê om hierdie diere in hul natuurlike habitat te beleef nie, maar net tussen die glanspapier van boeke waarin hulle verewig is . . .

Onlangs is aangekondig dat ’n vyfde boek die lig gaan sien, een wat fokus op jagluiperds. Dis slegs moontlik nadat ’n Kickstarter-veldtog aan die begin van die Covid-pandemie geslaag het om 129 060 Britse pond in te samel om die drukkoste van die boek te dek.

(Die reeks boeke word in Suid-Afrika deur HPH Publishing versprei.)

Ek het per e-pos met ’n paar van die fotograwe gepraat wat deel is van die projek.

Kyle de Nobrega

Suid-Afrikaner Kyle de Nobrega is die afgelope 12 jaar ’n natuurgids. Deur sy werk het hy van die mees afgeleë plekke in Afrika gesien en kon hy die wildlewe daar waarneem en afneem. Om foto’s te neem is vir hom ’n groot kreatiewe uitlaatklep.  

Waarom wildlewe afneem?

My werk skep die geleentheid en met my passie vir bewaring en die wildlewe het alles net mooi in plek geval. Fotografie kom vir my baie natuurlik.

Hoe het jy by die projek betrokke geraak?

Ek was reg van die begin af betrokke en het bygedra tot drie van die vier boeke. Dis ’n groot eer om deel van die ongelooflike reeks bewaringsboeke te wees. Dit is so ’n inspirerende projek. Ek het nog altyd bewaring eerste gestel en my verbintenis daartoe is my lewenspassie. Juis daarom is dit vir my so ’n voorreg dat my foto’s in die boeke opgeneem is.

FOTO: Kyle de Nobrega

Vertel meer oor jou foto in Remembering Great Apes.

Ek het die foto van die groot silwerrugberggorilla-mannetjie in die Virunga Nasionale Park in die Demokratiese Republiek van die Kongo geneem. Daar word belangrike bewaringswerk in die park gedoen. En die Nyiragongo-vulkaan is ’n belewenis wat jy nie sommer vergeet nie. My beste ervarings is om gaste te begelei om die gorillas in Virunga te beleef.

Die Suid-Afrikaanse natuurbewaarder en fotograaf James Suter se liefde vir die buitelewe het reeds as kind ontwikkel, iets wat hy van sy pa gekry het. Dit is dus geen verrassing dat dit tot ’n beroep gelei het waar hy sy passie kan uitleef nie.

Vertel my meer oor jou liefde vir fotografie.

My loopbaan as natuurbewaarder het in Singita in die Groter Kruger Nasionale Park afgeskop. Dit is’n ongelooflike omgewing waar jy jouself letterlik en figuurlik in die bos kan verloor. Tydens die toppunt van die renosterstroping in die Krugerwildtuin was ek daar en het die verwoesting eerstehands beleef. Ek was nog altyd gemaklik agter die kamera en neem graag wilde diere in hul natuurlike omgewing af. Maar om die gevolge van die stropingskrisis te sien, het my gedryf om my loopbaan as wildfotograaf en filmmaker aktief na te jaag. Film en foto’s het ’n ongelooflike impak om bewustheid aan te wakker en om steun te werf vir organisasies en individue wat onverpoos werk om die wildlewe en natuurgebiede te bewaar. Ek wil films maak en foto’s neem wat verandering kan aanvoor. My uitgebreide agtergrond as professionele gids en my reise in Afrika skep geleenthede waar ek die projekte van belangrike organisasies op ’n intieme en eerlike manier kan vasvang. Dis vir my belangrik dat mense deur my films en foto’s met plekke, mense en die natuurlewe moet konnekteer.

Hoe het jy by die projek betrokke geraak?

Die organiseerders het my genader en gevra om by te dra tot die Remembering-projek. Dis vir my ’n eer om deel te wees van hierdie inisiatief wat so ’n positiewe impak op bewaring en die wildlewe het. Ek is gelukkig dat ek vir al vier boek kon bydra, en ek voel so nederig dat ek ingesluit is in die geselskap van soveel fenomenale fotograwe wat deur hul werk nie net die skoonheid van die natuur deel nie, maar ook ’n bewustheid vir bewaring skep.

Vertel meer oor jou foto in Remembering Great Apes.

Die foto is in die Volcanoes Nasionale Park in Rwanda op een van my heel eerste gorilla-ekspedisies geneem. Die ontmoeting met die berggorilla het my weggeblaas.

Dis ’n lewensveranderende ervaring om tyd saam met gorillas in die natuur deur te bring, daar waar jy hul natuurlike leefwyse kan dophou. Die eerste oomblik wat ek ’n glimps van ’n gorilla kry ná ’n stimulerende trek deur die reënwoud, laat my altyd sprakeloos. Die gedeelde oomblik van stilte met die uitsonderlike ape is onbeskryflik. Hierdie merkwaardige ape deel 98,4% van hul DNS met ons en is ongelooflik mensagtig.

Ons konneksie met die spesie is onteenseglik, iets wat ek gelukkig direk kon ervaar. Dis hierdie ervarings wat maak dat ek die werk doen wat ek doen, dis die dryfveer wat maak dat ek wíl help om die diere te beskerm.

Waarom is die projek vir jou belangrik?

Dis wonderlik om te sien hoe die projek gegroei het en watter impak dit het, maar meer nog om deel te wees van iets wat fotografie op so ’n betekenisvolle manier deel. Die projek fokus op verskeie spesies en dis vir my ’n voorreg om tot elke boek te kan bydra. Die impak wat foto’s het, is magtig en help om steun te werf vir die mense wat met die bewaring van al die uitsonderlike spesies werk. Dis hoekom die projek so belangrik is. Deur by te dra en die projek te ondersteun, kry ons almal die geleentheid om deel te wees van iets groter en meer betekenisvol.

Peter Delaney

Driemalige BBC Wildlife Photographer of the Year Peter Delaney het ’n beroep in finansies vaarwel geroep om gehoor te gee aan sy droom om in Afrika te reis. Die afgelope 15 jaar, sê hy, is Afrika die nuwe hoofstuk in sy lewe en wei hy homself aan die afneem van die natuurlewe op dié diverse vasteland.

Die Ier het sy lewe in Ierland vir George aan die Suid-Kaapse kus verruil en reis kruis en dwars oor Afrika. “Die kontinent fassineer my soos geen ander nie. Dis moeilik om ’n eweknie te kry, nie net vir Afrika se ryk wildlewe nie, maar ook die uitsonderlike landskap en passievolle mense. Dit mag ’n cliché wees, maar dis waar – fotografie het my lewe geword. Dit maak nie saak waar ek my bevind nie, in my kop is ek heeltyd besig om prentjies te maak. Dit het my geleer om die wêreld in ’n ander lig te aanskou en daarvoor is ek ewig dankbaar,” sê hy.

Hoe het jy by die projek betrokke geraak?

Die stigter, Margot Raggett, het my voor die eerste boek saamgestel is, gekontak en gevra of ek belangstel om van my foto’s beskikbaar te stel. Ek het bygedra tot die renoster-, olifant- en aap-boeke en sal ook deel wees van die jongste een oor jagluiperds.

Vertel meer oor jou foto in Remembering Great Apes.

Ek het dit geneem toe ek ’n kliënt gevat het om die sjimpansees en berggorillas in Uganda af te neem. Ons sewe dae in Uganda het hoofsaaklik daaruit bestaan om tot by ons bestemming te reis. Skielik wou die kliënt ook die Kibale Nasionale Park besoek om die sjimpansees daar te sien. Ons het die hele oggend getrek om by hulle te kom en het ongeveer ’n uur gehad om hulle af te neem en tyd daar deur te bring. Dit was taf, maar belonend.

“Totti is hierdie wannabe-alfamannetjie. Hy het met een doel voor oë van die boomtoppe na die grond gekom: begeerte! Bokant hom in die bome is ’n jong wyfie. Totti doen sy bes om haar op die mees onweerstaanbare wyse weg te lok van die ander mannetjies. Hy pose, wink vir haar en roep op sy begeerlikste manier. Maar helaas . . . Sy ignoreer hom! Totti gaan lê met sy hande agter sy kop en droom van wat kon gewees het!”

This adult male Chimpanzee lies on the forest floo
FOTO: Peter Delaney

Wat maak foto’s in die reënwoud so moeilik?

Dis moeilik om foto’s in die reënwoud te neem met beperkte lig en net spatsels van die son wat deur die blare skyn. Jy moet heeltyd jou beligting aanpas. Driepote of monopote word nie toegelaat nie en om my kamera met die hand bestendig te hou, sonder enige camera shake, vir ’n skerp foto was ’n uitdaging. Dis baie bedompig en nat op die grond. Dis ook nie maklik om die sjimpansees in die digte bosse te vind nie. Die eerste ruk is dit geweldig frustrerend as jy net vlietende beelde sien van hoe hulle hoog bo jou van boom tot boom swaai. Soos die tyd aanstap, sal hulle uiteindelik afkom na die woudvloer toe. Dis nogal intimiderend om van aangesig tot aangesig te kom met ’n chimp. Hulle is intelligent en sterker as mense. As jy dit te naby waag, sal hulle reageer, vlug of veg. Dis wanneer jou ervaring as fotograaf en adrenalien inskop om te help dat jy foto’s van jou onderwerp neem sonder om jouself of jou onderwerp te bedreig.

Wildlewefotografie is een van die mees uitdagende genres in fotografie. Al die elemente van ’n goeie foto is buite die beheer van die fotograaf, die beligting, die onderwerp en die plek waar die onderwerp hom bevind. Ek is ’n emosionele fotograaf en neem dinge af wat my hart roer. Dit was hoe dit was met die foto van Totti. Ek het 10 tot 15 minute gehad om hom af te neem. Die meeste van die tyd het hy net gesit en wink vir die wyfie bokant hom. Hy het letterlik net vir ’n oogwink teruggelê met sy hande onder sy kop. Dit was so ’n menslike aksie . . . peinsend, in gedagte, dromend – ’n oomblik waar menslikheid deur die oë en lyflikheid van ’n ander wese skyn.

Waarom is jou foto in die boek in swart en wit, veral as die natuur eintlik so kleurvol is?

Swart-en-wit fotografie laat my toe om my visie en kreatiwiteit uit te druk deur visuele diepte en die speling tussen skadu en lig. Die kamera is net ’n stuk gereedskap, sonder bewussyn of emosie. Dis waar die vaardigheid van die fotograaf inkom, om die beeld van die gewone te omvorm na die gebied van die kuns.

Wat maak die Remembering-projek so belangrik?

Alle bewaringsprojekte is noodsaaklik en ek ondersteun ’n hele klomp. As ’n wildlewefotograaf is ek passievol oor die wildernis en wildlewe. Die oorlewing van die wêreld se fauna en flora is noodsaaklik vir die oorlewing van die mensdom. In vandag se lewe is dit ’n simbiotiese verwantskap. Die natuurlewe het ons bewaring nodig, en in die wêreld waar digitale geraas al hoe meer word, het ons nodig om ons siel weer met die natuur te konnekteer.