Kate Mosse se verhaal van Minou Joubert en Piet Reydon sou ’n trilogie wees. Maar daar was soveel wat die Britse skrywer oor die twee wou sê dat dit vier boeke geword het. Alles het begin met ’n besoek aan Franschhoek ’n paar jaar gelede toe die stemme uit die dorp se verlede met Kate begin “praat” het. Die vierluik skop af met The Burning Chambers (Mantle, R330). Minou Joubert, dogter van ’n Katolieke boekhandelaar op Carcassonne, Frankryk, ontvang ’n anonieme brief. Voordat sy die betekenis van die vyf woorde daarin kan ontsyfer, word haar lewe omvergewerp wanneer sy toevallig die ondergrondse Hugenote-leier Piet Reydon ontmoet. Minou help Piet wegkom van sy vervolgers en volg hom dan self na Toulouse. Wat volg is ’n aksiebelaaide verhaal wat hom tydens die bloedige Franse Godsdiensoorloë uitwoed. Die intrige is boeiend en hou jou aan die lees tot die laaste bladsy.  

Ek het met Kate Mosse gesels oor haar inspirasie vir die verhaal.

Waarom het jy Minou se van Joubert gemaak?

Dit het nogal dinkwerk gekos. Joubert is ’n baie algemene van in die suide van Frankryk, en ek wou een kies wat baie in Languedoc [’n distrik in die suidweste van die land] voorkom. My karakters is egter nie die ware nasate van die Joubert-familie nie.

Hoe begin ’n verhaal in jou kop vorm?

Eerste kom die plek waar my verhale afspeel. Dis in daardie landskap waar ek die fluisteringe van ’n storie hoor. Baie plekke hou ek van, maar hulle praat nie met my nie. Toe ek die eerste keer op Franschhoek aankom, was dit soos die skok van herkenning. Ek skryf dikwels oor Languedoc, waar ons ’n huis op Carcassonne [’n  dorp en voorheen ’n heuwelvesting] het. Dit was die eerste plek weg van my huis in Sussex [’n graafskap in Engeland], waar ek hierdie roering langs my rug af gevoel en besef het ek verstaan die plek en hoort hier.

Is dit ’n emosionele konneksie?

Beslis. Ek weet nie wat dit is nie, maar Carcassonne het my diep getref. Ek het absoluut niks van die plek en sy geskiedenis geweet toe ek die eerste keer soontoe is nie. Ek het net gevoel ek hoort daar. Ek het nie gedink ek sal ooit weer so oor ’n plek voel nie, totdat ek in 2013 die eerste keer op Franschhoek aangekom het. Dit was asof die inspirasie net oor my gespoel het. Toe ons daar inry, sien ek ’n bord langs die pad: Languedoq, gespel met ’n “q” en nie ’n “c” nie. Ek sien al die restaurante het Franse name en die straat waarin ons ry is Hugenootstraat. Iemand verduidelik toe vir my dat Franschhoek letterlik Franse hoek beteken. Ek het dit nie geweet nie. Met my besoek aan die Hugenote-gedenkmuseum was daar ’n koue gevoel om my hart toe ek die name lees. Jy voel die voetspore uit die verlede. Die stemme het onmiddellik met my begin praat. Ek het myself gemaan moenie luister nie, jy weet niks van die 17de eeu of die Kaap nie! Maar hulle wou my nie uitlos nie.

Dit fassineer my dat die proloog in Suid-Afrika afspeel, maar dat Frankryk die agtergrond vir die res van die verhaal is. Bring die trilogie ons terug na Suid-Afrika?

Dis nou in die vierde boek. Daar is so baie wat ek wil vertel dat ek dit nie in drie boeke kan doen nie. Aan die einde van The Burning Chambers begin die proloog vir boek 2. Ek doen dit opsetlik so, sodat lesers kan verstaan die verhaal strek oor 300 jaar. Dis ’n Romeo-en-Juliet-verhaal, daar is ’n testament wat twee families betrek, die een Protestant en die ander Katoliek. Die vete tussen hulle strek oor 300 jaar, reg oor die wêreld. Dis ’n diaspora-verhaal met fiktiewe karakters, teen die milieu van die ware geskiedenis. Boek 1 begin in 1862 op Franschhoek omdat die inspirasie daarvandaan kom, maar die eintlike verhaal begin in 1562. Die proloog in boek 2 en 3 keer terug na Franschhoek, ook 1862, maar die verhaal gaan dan na ander wêrelddele en begin by 1572. Die laaste boek keer weer terug na Franschhoek, waar die res van die storie dan uitspeel. Die proloog maak dat jy heeltyd wonder of die mense wat jy daarin leer ken die afstammelinge van Minou en haar tydgenote is. In my kop het ek hierdie verhaal gehad wat strek van geslag tot geslag tot geslag, maar wat ook gaan oor ontheemdheid. Wat beteken dit as jy die plek waar jy jou hele lewe gewoon het en waar jy gedink het jy gaan sterf, skielik moet verlaat? Dit het my laat wonder hoe die nasate van die Jouberts moes gevoel het toe hulle daar in Franschhoek se kerkhof staan, of hulle gevoel het hulle kan ’n lewe hê in die nuwe land.My verhale gaan oor gewone vroue in ongewone omstandighede; daardie stories wat nooit in die geskiedenisboeke vertel word nie. Elke land waarheen die Hugenote gevlug het, was daarna beter daaraan toe.

Waar kom jou liefde vir geskiedenis vandaan?

Ek het grootgeword in Chichester in Wes-Sussex en net soos met Carcassonne is dit die verhale van die verlede wat die plek definieer. In Chichester is daar nog oorblyfsels van die Romeinse Muur en ons het ook die katedraal wat in die 1100’s gebou is toe die biskop se setel daarheen verskuif is. Ek het altyd gevoel ek stap in die voetspore van mense voor my. Ek het nog altyd belanggestel in die volksverhale. Wanneer ek die koppie uitklim, besef ek die nedersetting kom uit die Ystertydperk. Van daar bo af kan jy 360° sien, die toring van die katedraal, asook die oudste taksusboomwoud in Europa, sowat 1 000 jaar oud. Ek het grootgeword op ’n plek waar die foute van die verlede altyd teenwoordig was, maar gelukkig in ’n stabiele gesin. My predikant-oupa het die Mosse-familie se stamboom nagevors tot by die Normandiese verowering in 1066. Ons was nie ’n belangrike familie nie, maar het altyd gevoel ons is deel van iets. Dis ook hoekom ek graag gewone mense se ervarings in my verhale beskryf.

Geskiedkundige stories gee my insig in eras waarvan ek andersins niks sou weet nie.

Dis reg. Maar wat ek myself altyd oor die geskiedenis vra, is waar is die vroue? Dikwels het hulle minder mag en daarom haal hul stories nie die geskiedenisboeke nie. En tog is daar sonder vroue geen geskiedenis nie. Ek wonder ook altyd wie is die “ons” van die verlede; as ons toe daar sou wees, sou ons hierdie mense wees? Geskiedenis is grootliks die storie van groot manne, wat nie verkeerd is nie, maar dis ’n swart-en-wit prentjie, nie een in kleur nie. Ek is ’n storieverteller en wil hê mense moet sê my boeke is fantasties om te lees. Geskiedenis in my boeke is net deel van die tekstuur van die verhaal.

Jy moes seker baie navorsing gedoen het? Hoe het jy dit aangepak?

Ek het nooit voorheen in my skryfloopbaan die kans gehad om self ’n reeks boeke te beplan nie. Ek het nog altyd individuele boeke geskryf en dan het die uitgewer dit gekombineer. Ek het ’n ruk lank ophou voltyds skryf om my ouers te versorg. Omdat ek nie toe kon reis nie, het ek kleiner stories geskryf wat in Sussex afspeel. Die nuwe reeks is dus my terugkeer na geskiedkundige fiksie.

Ek kon uit boeke navorsing doen oor die Godsdiensoorloë. My verhaal begin in 1562, toe die oorlog in Frankryk begin het, en eindig op Franschhoek in 1862, nadat die Hugenote hierheen gekom het. Ek het heel eerste daardie 300 jaar se geskiedenis nagevors en soos wat ek skryf, doen ek die individuele navorsing vir elke boek. Ek is besig met die tweede boek, The City of Tears, wat afskop in Parys in 1572 op die aand van die ergste slagting in die Godsdiensoorloë, Bartholomeus-nag. Ek gaan binnekort vir ’n paar maande na Amsterdam waar die grootste deel van dié boek afspeel. Dis om die detail na te vors, spesifiek oor die vroue. Byvoorbeeld, watter tipe skoene het Minou gedra? Dit sou tog nie klompe gewees het nie, want hoe sou sy vir die soldate kon weghardloop? Dié tipe navorsing maak die storie geloofwaardig en gee kleur aan die karakters en gebeure. Ek spandeer baie tyd op die plekke waar die storie afspeel om die regte atmosfeer oor te dra.

Interessant van die boek is die dele oor Blanche de la Bruyère wat apart tussen die ander hoofstukke staan. Het jy dit van die begin af so beplan?

Toe ek haar begin skryf het, het ek besef sy is die verpersoonliking van al die teëspoed wat die Joubert-familie gaan tref. Toe ek die woorde “She knows that you live” in die brief geskryf het, het ek nie geweet wie die “sy” is nie. Ek het net geweet dis ’n vrou en dat sy wag om in te kom. Al is sy nie die hoofkarakter nie, moes ek in haar kop kom. Ek wou hê sy moet mense ontstel, maar hulle moes ook empatie met haar hê. Haar keuses is genoodsaak deur haar agtergrond. In daardie tyd was bloedskande en kinders wat daaruit gebore word, aan die orde van die dag. Blanche het bloedskande oorleef en was ’n mishandelde vrou. Daar is redes waarom sy is soos sy is. En die stemme in haar kop was van die begin af daar. Wanneer jy Blanche se dele lees, klink dit soos ’n dagboek, totdat jy nader na die einde toe besef dis die stemme in haar kop wat sy hoor.

Daar is intrige binne intrige in die verhaal. Hoe behou jy daai cliffhangers regdeur die boek?

Die stories binne die stories gee verskillende lae en tekstuur, maar dit moet nooit afbreuk doen aan die hoofstorielyn nie. Alles moet ’n plek hê. Wanneer ek die verhaal die eerste keer neerskryf, is dit soos ’n naelloop. Ek skryf agt uur ’n dag, sewe dae ’n week, net om alles op papier te kry. Ek maak dit nie mooi of beter nie, ek kry dit net uit. Die werklike skrywery begin met die redigering. Dan besluit ek wat moet in en wat moet uit.

Verras jou karakters jou soms of doen hulle altyd wat jy beplan?

Wanneer ek begin skryf, weet ek watter tipe karakter ek nodig het om die storie te vertel. Ek het die skelet van die karakter en soos ek skryf, ontwikkel die vleis, totdat dit ’n vol karakter is. Minou en Piet het vir my mens geword soos wat ek geskryf het. Piet het homself aangemeld met rooi hare. Ek het besef dis omdat hy wou uitstaan, want in daardie era is rooi hare as skelm en geslepe gesien. Eers nadat koningin Elizabeth I die troon [in 1558] bestyg het, het hulle meer aandag gekry. In Toulouse het ek ’n ouer, ligsinnige karakter gekort, anders kon ek Minou nie soontoe laat gaan nie. Maar terwyl ek madame Boussy, Minou se tante, geskryf het, het sy haar rol self herdefinieer. Ek wou hê sy moet die nouveau riche verteenwoordig, iemand sonder geloof wat net ingestel is op geld. Dit was haar doel, maar tydens die begrafnistoneel, toe Minou aan haar tante se arm vat, het sy teruggedeins. Toe besef ek sy word deur haar man geslaan. Dis glad nie hoe ek haar beplan het nie. Sy het oorgeneem en ek moes aanpas by die rol wat sy wou speel.

Waarom is al jou vroulike karakters so sterk?

Dis my ervaring van vroue. Mense vergeet dat geskiedenis nie net deur die oorwinnaars geskryf word nie, maar ook deur dié wat penne besit. So, al daai stories word deur mans geskryf. Vroue word glad nie verteenwoordig nie. Die maatstaf vir my vroulike karakters is of hulle relevant is vir die tyd waarin hulle verskyn. En hulle is. Die meeste mans was toe op die slagveld. Op dorpe, op plase is die werk deur vroue gedoen. Minou is beslis die soort meisie wat in daardie tyd kon bestaan.