Hierin beskryf hy die aantrekkingskrag van dié dorre landstreek, die plantegroei, die diere, die uitgestrektheid en “die grootse gees”. Dis juis al hierdie aspekte van die Karoo wat Louis Botha mesmeraais en inspireer om sy kamera op te tel. Dis in die Karoo waar hy sy foto’s wil neem. In sy jongste koffietafelboek, Karoo (selfuitgegee, R690), neem hy jou op reis saam met hom en sy kamera en ervaar jy ook die magiese aantrekkingskrag van Karoo deur sy foto’s. Dit het hom 15 jaar geneem om die foto’s te neem. Kruis en dwars het hy gery om sy unieke versameling werk bymekaar te maak, meestal vergesel van sy staffie, Raphael. ’n Paar keer het die twee sommer in die bakkie geslaap, wagtend vir die oggendstond met sy goud in die mond. Dikwels was sy vrou, Marianne, aan sy sy wanneer hy iewers vertoef het om te wag vir die lig om die landskap perfek te beskilder sodat hy dit op ’n foto kon vasvang. Sy foto’s betower jou en maak dat jy self na die Karoo wil reis om die wêreld daar te gaan aanskou. Dis sy hartsplek, vertel Louis waar ons by die bekendstelling van Karoo staan en gesels. “Vir my gaan dit oor die ruimte, die eenvoud, ’n plek waar jou siel waarlik kan rus,” sluit hy ons gesprek af. 

Gee my die krag van die Karoo – die forse lyn

van ysterklip en kaal kareedoringstam,

die wynlug wat oor die wye vlaktes waai

met allerhande kruie-geure belaai.

uit I.D. du Plessis se gedig “Gee my”

Louis se hond, Raphael.

Besoek www.louisbothaphotography.co.za vir meer oor Louis se kunsfoto’s en om sy twee boeke, Karoo en Slow down, look again, te bestel.


 


Jou agtergrond is in die finansiële sektor. Waar kom jou liefde vir fotografie vandaan?

Ek het in ’n huis grootgeword waar almal kunstig was. My ma was musikaal en my een broer ’n kunstenaar en akteur. Vandag skilder hy voltyds. So kuns in my ouerhuis was baie algemeen. Ek het nou wel in ’n finansiële rigting studeer en toe in die korporatiewe wêreld gewerk. Maar ek het altyd gehou van foto’s neem. Ek het eers later, toe ek 40 was, meer begin belangstel en toe kursusse bygewoon en by ’n klub aangesluit. Ek het baie selfstudie gedoen en my hele lewe begin aanpas rondom fotografiegeleenthede.

 

Die Karoo is jou hartsplek. Wat van die Karoo trek jou so aan?

Soos ek ouer word, dink ek baie terug aan my kinderdae. Ek het in Pretoria buite die stad op ’n kleinhoewe grootgeword. Ek is heelwat jonger as my twee broers. Daarom het ek baie alleentyd gehad. Dit was mos voor die tyd van televisie, internet en rekenaarspeletjies. Al was ek nie naby maatjies nie, was daar een groot voordeel. Maar die kwaliteite wat ek gehad het wat waarskynlik my mensvorming bewerkstellig het, was stilte en spasie om my. Ek kon so ver kyk soos my oë kon sien, want ons huis was hoog op ’n koppie en ek het baie tyd gehad. Ek het nie speelgoed en ander goed gehad nie. Ek moes myself vermaak, en my vermaak was baie middae om in die mik van ’n boom te klim en te kyk hoe die son ondergaan en die maan opkom.

Dis die beste leerskool vir fotografie, want fotografie gaan oor lig en die speling daarvan.

My pa was baie oplettend. Hy was ’n onderwyser, maar hy was ’n verskriklik oplettende ou en miskien het ek ’n bietjie van dit geërf. Hy het ons geleer om te kyk. Jy moes kon sê wat jy gesien het as jy na iets gekyk het.

In die voorwoord van jou eerste boek lees ek dat jy nog film gebruik. Het jy jou medium verander na digitaal vir die tweede boek?

Ek doen albei. Dit hang af hoe ek voel oor die onderwerp en wat prakties is. Met Slow down, look again, met daai hele tema oor die Karoo-mense in tyd wat lyk of dit stilstaan, het ek gevoel dit kan nie anders as film, en swart-wit daarby, wees nie. Dit raak net prakties al hoe moeiliker om film in die hande te kry. Maar ek doen nog steeds film. Ek bied ook fotografiewerkswinkels aan en het besef as ek net by film bly, gaan ek dit nie langer kan doen nie. Ek moet bybly met die digitale ontwikkeling, want almal wat die kursusse bywoon, doen net digitaal. Dus moet ek ook af en toe ’n nuwe kamera koop om te sien wat die ding kan doen. Wanneer ek foto’s neem, gebruik ek die ingesteldheid dat ek op film werk. Dit verander nooit.

Waar het jy die foto’s vir jou nuwe boek geneem? In en rondom Prins Albert waar jy woon?

Nee. Ek het bewus geword van hoe groot die Karoo is. Dis groter as Duitsland en meer as 400 000 vierkante kilometer groot. Dan het ek ook begin bewus raak van hoe divers die Karoo is. Almal praat net van die Karoo, maar elke streek in die wye gebied is anders. Die plantegroei is anders, die reënval is anders, die landskap lyk anders. Selfs die mense praat ’n ander dialek. Dit het my aangemoedig om al hoe wyer in die Karoo te ry. Ek het probeer om foto’s in die boek te kry wat dwarsdeur die Karoo tonele op beeld vasvang. Ek het in die suide afgegaan tot McGregor, in die ooste het ek ’n draai gemaak by Steytlerville en al daai plekke. Ek het in die Vrystaat ingegaan, by Hofmeyr en Steynsburg in die Oos-Kaap en in die Noord-Kaap het ek opgegaan tot by Verneukpan. Aan die ander kant in die weste deur die Tankwa-Karoo af tot onder uit en dan baie rondom die Prins Albert-omgewing en so ’n bietjie in die Klein-Karoo.

Daar is minder portrette in die boek en meer landskappe. Het jou fokus opsetlik verskuif?

My eerste boek het hoofsaaklik oor die mense gegaan wat hul lewe in die Karoo spandeer. Ek het net gevoel hierdie keer wil ek meer die Karoo waarin die mense hul lewe lank bly, uitbeeld.

Kyk jy anders as gewone stedelinge na die magiese van die Karoo?

Ek kan nie sê hoe ek anders kyk as ander mense nie, maar ek kan sê dat die manier hoe ek vandag kyk, baie anders is as wat dit 24 jaar gelede was. Mens se hele reis met fotografie en jou reis deur die Karoo gaan hand aan hand met ’n reis binne jouself. Soos jy meer van die Karoo verstaan, verstaan jy meer van jouself. Dit word eintlik al hoe dieper en jy besef hierdie reis het nie ’n einde nie.

Wat is die grootste les wat die Karoo jou geleer het?

Iewers in die boek haal ek mense aan, want ek het hulle sulke vrae gevra, mense wat hul lewe lank daar bly, hoe hulle die Karoo vir iemand anders sal beskryf. Een man het gesê dat die Karoo ’n plek is vir moeg mense, want in die Karoo kan jy diep rus. Maar oom Pat Marikowitz, een van die oudstes op Prins Albert, hy is in die distrik gebore, het daar skoolgegaan en daar geboer, hy het gesê die Karoo is ’n plek wat vir die meeste mense dood lyk, maar wat vol lewe is. Dis daai vol lewe . . . Baie mense vra vir my waarom het ek besluit om daar te gaan bly, want daar’s niks. Dan sê ek: “Presies daaroor. Dis die eenvoudigheid, die simplistiese karakter van die Karoo.”

Werk jy reeds aan ’n volgende boek?

Ek het ek ’n moontlikheid van ’n volgende projek, maar ek kan nog nie regtig sê nie. Ek sal binnekort weet of dit gaan gebeur of nie. Ek het twee of drie konsepte in my kop, dinge wat my na aan die hart lê. Dit vat tyd. Ek is nie sommer iemand wat commission kan word om iets te doen wat nie met my hart praat nie. Ek kan nie ’n studio hê net om mense af te neem nie, want party mense wat daar inloop, wil ek glad nie afneem nie. En ’n ander ou sien ek in die straat loop en dan wil ek agter hom aanhol en op die skouer klop en vra of ek hom asseblief kan afneem.

 Doen jy dit?

Ek doen dit. Maar ek hou daarvan om eers met mense te gesels voor ek die kamera optel. Die mense in my Slow down-boek het ek sonder ’n kamera besoek, keer op keer totdat ek hulle eers leer ken het en ek gevoel het ons het ’n lekker vertrouensverhouding. Toe het ek eers begin foto’s neem.