The Great Alone
,
Kristin Hannah (Macmillan, R295) vertel ’n gesin se traumatiese verhaal. Ernt Allbright is gebroke ná die Viëtnam-oorlog en pas nie aan in die samelewing nie. Hy kom nie met sy skoonouers oor die weg nie, kan nie sy werk hou nie en voel almal kritiseer hom. Dan laat ’n oorlogsmakker ’n lappie grond in Alaska aan hom na ... die uitkoms waarop hy gewag het. Terstond besluit hy om sy vrou, Cora, en hul dertienjarige dogter, Leni, daarheen te neem en ’n nuwe lewe in die wildernis te begin. Ma en dogter is nie voorbereid op die eise wat die ongenaakbare wêreld stel nie en moet vinnig leer oorleef. Ernt leer hulle hoe om warm te bly, uit bere en ander ongediertes se pad te bly, te jag vir kos en te sorg dat daar altyd water in die huis is. Maar vir Leni is elke dag ’n stryd. Sy vrees die onvoorspelbare weer, die gevare om elke draai, dit wat sy nie kan sien of hoor nie. Gou besef sy egter die grootste gevaar is in hul eie huis – haar pa met sy woede en frustrasie wat hy op haar ma uithaal. Sy was nog altyd alleen, maar nou kry sy te make met die groot alleen van Alaska.

Hannah skryf aandoenlik oor hierdie disfunksionele gesin en hul probleme. Sy skets ’n dodelike scenario van hoe ’n mishandelde vrou altyd ’n verskoning vir haar man uitdink omdat sy hom liefhet. Die skryfstyl is boeiend en jy wil nie die boek neersit nie. Meesterlik! Phyllis Green

 

100 Nasty Women of History, Hannah Jewel (Hodder UK, R315)
"Nasty woman" is ’n frase wat Donald Trump tydens die Amerikaanse presidensiële verkiesingsveldtog gebruik het om Hilary Clinton te beskryf. Sedertdien het die ’n soort eretitel vir vroue wêreldwyd geword. In haar kenmerkend pront taal skryf die outeur van hierdie ongewone boek, geensins self ’n historikus nie, hoe dokumente uit die geskiedenis vroue altyd beskryf as gaaf en heroïes. Háár heldinne is egter dapper, onkonvensioneel, té polities, te arm en nie dame genoeg om erkenning te geniet nie. Jewel skryf met die tong stewig in die kies oor die lewe van vreeslose vroue sedert antieke tye. Een van hulle is Sappho, die eerste digter wat die term bittersoet gebruik het om haar liefde te beskryf. Jewel het kategorieë soos bonatuurlike vroue, aardiges uit die antieke tye, dié wat merkwaardig baie mense vermoor het, die geniales, vroue wat eerste langbroeke gedra en vreesaanjaende stokperdjies gehad het, en ander dinamiese divas.

’n Hoog vermaaklike eietydse gids wat inspireer. Mariette Postma

Apprentice in DeathJD Robb (Little Brown, R285) 
Luitenant Eve Dallas word uitgeroep na Central Park, waar drie mense in ’n skietery by die ysskaatsbaan dood is. Al die leidrade dui daarop dat dit die werk van ’n skerpskutter was. Eve en haar span probeer vasstel wie van die drie slagoffers die teiken was. Sy spook met die vraag of dit ’n kontrakmoord was of nie. Indien nié, wat was die skerpskutter se motief? En was dit nié ’n professionele huurmoordenaar nie, laat dit haar met net ’n handvol mense wat die skoot sou kon vuur - en die meeste van hulle is betrokke in wetstoepassing! Dan vind Eve-hulle die plek van waar die skote afgevuur is en besef daar was twee skerpskutters. Hulle het hier te doen met ’n meester en sy leerling.

Hierdie boeiende speurverhaal skok en verras met elke nuwe kinkel in die ondersoek. ’n Fassinerende futuristiese wêreld word geskep waarin Eve en haar medekarakters rondbeweeg. Een ding wat soos ’n paal bo water staan, is dat misdaad misdaad bly, maak nie saak in watter era nie. – Karien Labuschagne

Brush of Wings, Karen Kingsbury (Simon & Schuster, R240)

Brush of Wings is die laaste boek in die Angels Walking-reeks. Ek twyfel geen oomblik dat daar engele om ons is wat ons elke dag beskerm nie. Sommige mense laat hul engele net harder werk as ander. Mary-Catherine is een van daardie mense. Haar gesondheid verswak al hoe meer en steeds weier sy om iemand daarvan te vertel. Sy fokus slegs op haar begeerte om terug te keer Afrika toe. As sy moet sterf, sal dit op haar eie terme wees – tussen die weeskinders vir wie sy so lief is en aan wie sy die woord van God versprei. Sy neem haar voor indien haar gesondheid verder agteruitgaan, sal sy terugkeer na haar familie. Maar alles werk nie altyd uit soos ons wil hê dit moet nie. Soms mis ons om waarlik te sien wat God se planne vir ons is. Dis waarlik ’n ongelooflike verhaal wat jou herinner dat die mens wik, maar God beskik. – Alma Liebenberg

 

Disclaimer, Renee Wright (Penguin Books, R285)

’n Ongewone, spannende storielyn met soveel fasette wat selfs ’n vaak leser se oë laataand sal oophou. Catherine, een van die hoofkarakters, tel ook ’n boek van haar bedkassie op, maar hoe verder sy lees, hoe meer paniekerig voel sy. Die eerste dramatiese gebeure laat mens verbysterd wonder of jy reg gelees het. Wat gebeur, is dat ’n ma se affair met ’n jong man abrup eindig nadat hy haar jong seun uit die see red. Die omstandighede en detail oor presies wat gebeur, is buitengewoon donker. Lesers moet dit self gaan nalees.Die misterie verdiep wanneer Catherine later in haar lewe besef dat iemand weet wat gebeur het. Sy raak paniekerig hieroor, maar kan niemand in haar vertroue neem nie.Een van die tegnieke wat die outeur inspan om lesers te boei, is die vertelling wat rondspring in verskillende tye en jare. ’n Mens wonder voortdurend wat gebeur het en watter ander onthullings nog vorentoe wag. Disclaimer sal boei tot die laaste woord. Mariette Postma

Find HerLisa Gardner (Headline, R150)

Speurder D.D. Warren ondersoek die saak waar ’n naakte, vasgebinde vrou haarself verdedig het en haar aanvaller doodgemaak het. Warren is verbaas dat die vrou daarin kon slaag, maar dan vind sy uit dat dat die vrou Flora Dane is. Sewe jaar gelede is Flora ontvoer en aangehou vir 472 dae voordat sy gered is. Aanvanklik vermoed Warren dat Flora net op die verkeerde plek en tyd was. Flora vra om dr. Samuel Keynes van die FBI te kontak. Keynes was haar slagofferspesialis nadat sy oorspronklik gered is. Keynes vertel Warren dat Flora al drie keer vantevore betrokke was in aanrandingsake. Om die saak verder te kompliseer, het die pa van die ontvoerde Stacey Summers vir Flora genader om hulp. Dit was waarmee sy besig was toe sy hierdie keer ontvoer is. Wanneer Warren na Flora se woonstel gaan om met haar te praat, ontdek sy dat Flora verdwyn het. Flora se ma en Keynes is oortuig dat iets met Flora gebeur het. Dan kom dit aan die lig dat Flora weer ontvoer is, maar deur wie en gaan sy dit dié keer oorleef? ’n Verhaal wat jou van begin tot einde aan die raai hou. Hierdie uitstekende sielkundige riller boei tot die laaste bladsy. – Karien Labuschagne

How to be happy, Eva Woods (Little Brown, R295)

Partykeer wens Annie dat alles anders kon wees. Haar lewe val uitmekaar en haar kinderdrome het nie haar aaklige werk, piepklein woonstel en geen vriende ingesluit nie. Haar ma ly aan demensie. Om haar elke dag in die hospitaal te besoek, is vir Annie moeilik, want sy moet gaan werk, saam met mense wat sy haat. In ’n vuil kantoor, waar elke dag soos ’n tronkstraf voel. Boonop het sy saans net haar neulende woonstelmaat om na uit te sien, omdat sy twee jaar laas met enige van haar vriendinne gesels het.Net toe dinge by die hospitaal nie erger kan raak nie, ontmoet sy vir Polly. Polly met die flambojante klere en ’n borrelende persoonlikheid wat Annie sommer naar maak. Polly bring selfs vir Annie ’n kolwyntjie omdat koek alles beter maak. Net om Annie nog slegter te laat voel, stel Polly haar aan Ben voor, asook dr. McGrumpy met sy gekreukelde klere. As Polly die volgende dag by Annie se woonstel opdaag, wonder sy paniekerig hoe sy weer van Polly ontslae gaan raak.’n Humoristiese kykie na vriendskap en hoe een mens ’n impak op jou lewe kan hê sonder dat jy dit verwag. Polly laat jou net soveel huil as lag. En sy laat jou die laag van bitterheid rondom Annie beter verstaan. Dit laat ’n knop in jou keel. Maak gereed vir ’n avontuur waar Polly nie nee as ’n antwoord sal aanvaar nie. 

Antoinique van Staden


Keeper of the Stars, Robin Lee Hatcher (Struik Christelike Uitgewers, R240)

In die sneeubedekte dorpie van Kings Meadow is dit byna Kersfees. Penny deel egter nie in die opwinding wat diè seisoen gewoonlik meebring nie. Haar broer is onlangs oorlede en sy en haar pa bly alleen agter op die plaas. Boonop het Trevor, die man wat sy vir haar broer se dood blameer, ook sy opwagtig in die dorpie gemaak. Min weet sy dat God ’n groter plan het. Tevor dra swaar aan sy eie skuldgevoelens en het ’n hunkering na ’n lewe met dieper betekenis.Dit is ’n pragtige verhaal van vergifnis en liefde en die pad wat God met mense stap. – Danica Gouws

Now is the Time, Melvyn Bragg (Hodder UK, R360)

Dis 1381 en die veertienjarige Richard sit op die troon onder die leiding van sy korrupte en geldgierige raadgewers. Die Engelse volk kreun onder die swaar belasting wat hulle moet betaal om die koning se mislukte oorloë te finansier. Boonop het hulle geen vryheid nie en moet hulle soos slawe op die adellikes se plase werk, sonder enige regte van hul eie. Onder leiding van Walter Tyler, ’n eks-soldaat, en John Ball, ’n radikale prediker, organiseer hulle ’n optog. Binne twee weke het ’n massa betogers kastele aangeval en afgebrand, amptenare teregestel en na Londen marsjeer. Hulle dring aan op gelykheid en geregtigheid en om hul eise persoonlik aan die koning te stel. Vir ’n kort tydjie het dit gelyk of hulle dalk in hul poging sou slaag, maar niemand het verwag hoe die koning sou optree nie. Dit is ’n verhaal van hoe die onderdruktes opstaan vir hulself teen die magtige minderheid. Die storie lees maklik en vinnig en dit beskryf ’n interessante gedeelte van Engeland se geskiedenis waarmee elke land kan vereenselwig. – Danica Steyn

The war on women and the brave ones who fight back, Sue Lloyd-Roberts (Simon & Schuster, R290)

’n Besonderse boek deur ’n baie besonderse skrywer. Elke hoofstuk handel oor ’n ander vorm van onnadenkende, soms beplande ontmensing wat teen vroue gepleeg word. Dis moeilik om elke faset waarvan Sue Lloyd-Roberts skryf, in te neem. Dis besonder moeilik om hierdie ontstellende boek aaneen te lees.
Sy het letterlik oor die aardbol gereis om haar inligting eerstehands te bekom – sy was byvoorbeeld in Indië, Argentinië, Letland en Ierland. Elk van hierdie lande het hul eie vorm van vrouehaat wat gepleeg is/word.
Lloyd-Roberts het verskeie manifestasies van vrouehaat eerstehands gesien, en haar kennis van ongeregtighede benut as ’n bekende joernalis om hieroor verslag te doen in ’n boek wat die leser vasgryp en boei tot die einde.
Tragies het sy aan bloedkanker gesterf voordat die laaste hoofstuk geskryf is, maar haar dogter en seun het die boek meesterlik namens haar voltooi.
Die outeur takel selfs haar geboorteland, Engeland, deur kritiese skrywe oor salarisongelykheid, en ander vorme van diskriminasie jeens vroue.
As jy vanjaar een boek gaan lees, sou hierdie een die moeite werd wees. – Mariette Postma