Die gesig wat hulle aan die wêreld wys, is een wat hulle deeglik geredigeer het om die beeld voor te hou wat hulle pas. Maar toe kry hulle te doen met ’n groen notaboek. Hul storie word boeiend vertel in The Authenticity Project (Bantam Press, R290) deur Clare Pooley. Haar eie lewensverhaal kon maklik deel van hierdie boek gewees het. Pooley het ’n anonieme blog, Mummy Was a Secret Drinker, geskryf waarin sy bieg oor haar drankmisbruik. Die blog het gelei tot die publikasie van haar outobiografie, The Sober Diaries. Die vonk vir The Authenticity Project was die blik wat sy vanaf die boonste dek van haar bus gehad het op Chelsea Studios in Fulham Road, Londen, waar kunstenaars gewoon en gewerk het. Gebou in die 1930’s, het sy gewonder hoe iemand wat sedert die 50’s daar gewoon het, se lewe uitgedraai het en hoe die persoon die veranderinge rondom hom of haar sou ervaar. So is die hoofkarakter Julian, met wie die roman afgeskop word, gebore.

Julian, ’n boheemse kunstenaar wat altyd besoek aflê by The Library-koffiewinkel in Fulham, het ’n behoefte om vir ’n verandering eerlik te wees oor sy lewe. Hy vertel sy storie in dié notaboek en los dit in die koffiewinkel, waar die eienares Monica dit met toemaaktyd vind. Sy eerlikheid inspireer haar om haar eie storie in die notaboek te vertel. Uiteindelik vertel ’n hele paar uiteenlopende karakters hul storie. Hazard, verslaaf aan dwelms en drank, neem dit saam wanneer hy gaan uitdroog op ’n Thaise eiland. Op sy beurt druk hy die boek in die rugsak van Riley, ’n Aussie wat op pad is na sy maters in Fulham. So word die groen notaboek anoniem aangegee van mens na mens. Maar Monica se koffiewinkel bring uiteindelik die klomp bymekaar uit en onwaarskynlike vriendskappe gebou op die fondament van eerlikheid word gevorm.

In ’n era waar soveel mense hul lewe virtueel op sosiale media uitleef en dikwels spaarsamig met die waarheid omgaan, is die boek verfrissend. Mens word herinner aan watter waardes werklik saak maak en dat jy getrou aan jouself en jou wese moet bly.

Ek het per e-pos met Clare Pooley gesels oor The Authenticity Project.

 

Was jou anonieme blog, Mummy Was a Secret Drinker, die impetus wat jy nodig gehad het om ’n skrywer te word en het die blog ’n rol gespeel in die publikasie van jou memoires, The Sober Diaries?

Ek het altyd daarvan gedroom om ’n skrywer te word, maar vir jare was ek te besig én te bang om te begin. Toe ek vyf jaar gelede ophou drink het, het ek ’n oorweldigende behoefte gehad om te skryf. Sedertdien is skryf my terapie en my passie. Ná ’n jaar waartydens ek daagliks op die blog oor my verslawing geskryf het, het lesers my begin aanmoedig om my storie as memoires uit te gee sodat dit ander mense kan help wat met alkoholverslawing sukkel. Dis hoe The Sober Diaries ontstaan het. 

Om jou memoires en ’n blog te skryf is baie onthullend. Het jy weerloos gevoel om jou gevoelens so in die openbaar bloot te lê?

Ek het ongelooflik weerloos gevoel, en baie skaam oor my afhanklikheid van alkohol. Ek was bekommerd dat mense my sal veroordeel en my ’n onbevoegde ma noem. So vir die eerste jaar was my blog heeltemal anoniem. Ek het myself Sober Mummy genoem. Toe ek my lewensverhaal onder my eie naam gepubliseer en onderhoude op nasionale televisie, radio en in die media gedoen het, het ek ontdek dat wanneer jy jouself so blootstel en weerloos maak, is mense jou in die algemeen goedgesind. Dit maak mens ook sterk, want nou het jy niks meer om weg te steek nie.

Wat was die vonk vir The Authenticity Project?

Die publikasie van my memoires het my hele lewe getransformeer, asook die lewe van duisende mense wat dit gelees het. Dit het my laat dink: Wat sal gebeur as ander mense die waarheid oor hul eie lewe deel? Nie op die internet soos ek nie, maar in ’n ouskool-notaboek wat van een mens na die volgende aangegee word . . .

Is die karakters fiktief of het jy hulle gegrond op mense wat jy ken?

Ek het gedink hulle is almal fiktief. Totdat my sestienjarige dogter die manuskrip gelees en gesê het: “Mammie, jy besef elkeen van hierdie karakters het iets gemeen met jou. Jy weet dit, nè?” Ek dink sy is reg. Elkeen van die karakters het ’n sentrale gebrek en dis al die gebreke wat ek met hulle deel, in ’n mindere of meerdere mate.

Met watter karakter vind jy die meeste aansluiting?

Om die vraag te antwoord is soos om ’n gunstelingkind te kies! As ek moet besluit, dink ek dis Hazard, want hy is verslaaf aan alkohol en kokaïen. Aan die begin van die verhaal is hy nie juis ’n beminlike karakter nie, maar sy reis om ’n beter mens te word is een waarmee ek sterk assosieer.

Die meeste karakters in die boek sukkel met iets in hul lewe, buiten Riley. Hy lyk so ongekompliseerd. Was dit maklik om hom te skryf?

Hy was die moeilikste karakter, want hy is die minste soos ek! Ek is gefassineer deur mense se gebreke, so ’n karakter wat eintlik in alle opsigte perfek is, was baie moeilik om te skep.

Waarom wou jy oor outensiteit skryf?

Dit fassineer my om te sien hoe min ons aan mense rondom ons verklap. Ons sosialemedia-plasings laat ons leuens so glinsterend en ons lewe so gelukkig as moontlik lyk, ten spyte daarvan dat ons almal met iets sukkel. Wanneer ons na ons vriende en familie se Facebookblaaie kyk, voel ons ontoereikend. Ek dink ons sal almal gelukkiger wees as ons meer geloofwaardig is.

Ons leef in ongewone tye en vir my is dit nou meer as ooit belangrik om geloofwaardig te wees. Wat het jy van jouself en die mensdom geleer en het die pandemie jou uitkyk op die lewe verander?

So baie mense het gesê dat hulle ná die lees van The Authenticity Project die temas van gemeenskap en welwillendheid in hierdie dae as noodsaaklik ervaar, en ek voel ook so. Die pandemie herinner ons almal aan wat regtig belangrik is, hoe ons onderling verbonde aan mekaar is en hoe nodig ons mekaar het. Ek mis drukkies die meeste van alles.

Vertel my van jou skryfroetine.

Die waarheid is dat ek net vroegoggende kan skryf, voordat my brein volgeprop is met alles anders wat gebeur. Ek staan vyfuur op en skryf vir drie uur voordat die res van die gesin wakker word. Ek gebruik die middae om alles oor te lees en te redigeer.

Wat skryf jy nou en beïnvloed wat nou in die wêreld gebeur jou skryfwerk?

Ek het pas die eerste weergawe voltooi van my volgende boek, waaraan ek reeds ’n jaar werk. Dit speel af in 2020, maar my karakters vlieg die wêreld vol en gaan na allerhande partytjies! Ek het dit nou teruggeskuif na 2019 en ek noem glad nie die pandemie nie. Ek vermoed die meeste van ons sal fiksie wil lees wat ons laat ontsnap van die ware werklikheid, nie stories wat ons daaraan herinner nie – ten minste vir die volgende ruk.

Wat lees jy vir inspirasie?

Alles! Ek lees so drie boeke per week, oor alle genres. Ek moet bieg dat ek vir die eerste keer in my lewe gesukkel het om te konsentreer om te lees en oorgeslaan het na oudioboeke. Nou luister ek na stories.