In in sy jongste roman, Losprys (LAPA Uitgewers, R295), soek skrywer Martin Steyn na antwoorde vir waarom iemand ’n jong seun ontvoer, hoe die polisiespeurders so ’n saak ondersoek en wat die onderhandelaars moet doen om te sorg dat die slagoffer ongedeerd met sy familie herenig word.

Die verhaal draai om ’n Amerikaanse rykmanseun van Llandudno wat vermis raak. Wanneer die ouers ’n oproep kry waarin ’n losprys vir die seun se kop geëis word, kompliseer dit adjudant Enzo Ariefdien se ondersoek na die saak. Eintlik wil hy net ’n moordspeurder wees. Iemand wat soek na dooie slagoffers, wat die moordenaars jag en sorg dat hulle skuldig bevind word. Maar met hierdie hoëprofielsaak is daar ’n vermiste kind se lewe op die spel en die kleinste misstap kan die uitkoms beïnvloed. Adjudant Karla Blanckenberg van die Gyselaaronderhandelingseenheid se kontak met die ontvoerder bepaal elke volgende stap in die ondersoek. Deur haar en Enzo se oë sien jy treetjie vir treetjie hoe die drama uitspeel.

Die boeiende verhaal laat jou saam met die ondersoekspan asem ophou vir wat volgende kan gebeur. Steyn kyk na leidrade wat opgevolg moet word, die nitty-gritty van so ’n ondersoek. Maar wat fassineer, is die binnereis van die karakters, wat veel meer onthul oor wat hulle dryf en motiveer in hul beroep en hul persoonlike lewe. Die wending aan die einde van die verhaal is soos ’n vuishou in die maag, ’n realistiese weergawe van die harde werklikheid van misdaad.

 
Martin Steyn foto deur: Chantelle Visser


Ek het per e-pos met Martin Steyn gesels.


Was jy ’n goeie opstelskrywer op skool en wou jy toe al skryf? Was daar ’n boek wat jy gelees het wat jou skrywer wou laat word?

Ek het so halfpad deur hoërskool besluit ek wil skryf. In standerd sewe het ek Stephen King ontdek. Ek het The Dark Half gelees en daar en dan ’n dissipel geword en deur die dorpsbiblioteek se versameling begin werk. Toe lees ek It en dis toe ek begin dink het ek wil self skryf. In standerd nege het ek my eerste kortverhaal geskryf, oor duiwelsaanbidders en aliens, en teen die laaste bladsy, daar was 26, was ek hopeloos verlief. Die storie was ongelukkig net hopeloos.

My opstelle het aansienlik verbeter toe ek begin lees het en veral toe ek begin skryf het. Want ek het meer gedink oor die skryf self. Op ’n baie basiese vlak, maar ek het begin kyk wat Stephen King doen, hoe hy dit doen. Ek het nogal goeie punte gekry, maar ek vermoed juffrou Bella was net baie opgewonde om ’n storie te lees wat meer aandagstrepe en kommapunte as uitroeptekens bevat.

Waarom juis spanningsverhale skryf?

Dis wat ek lees. Ek dink die meeste fiksieskrywers skryf die boeke wat hulle self graag wil lees. Eers was dit gruwelverhale met bonatuurlike elemente, maar toe ek oor regte reeksmoordenaars en profielsamestelling begin lees, het ek al hoe meer in die misdaadrigting beweeg. En toe ek eers met speurders en forensiese deskundiges gaan praat ... die hele misdaadondersoek fassineer my. Ek het my gunsteling-fiksieskrywers soos Stephen King, Tana French, Karin Brynard en so, maar verder verkies ek om ware misdaad te lees. Ek skryf eintlik ’n soort “fiktiewe ware misdaad”, misdaadfiksie wat die werklikheid streng navolg. My speurders en misdadigers is almal gewone mense. Daar is nie ’n Sherlock Holmes of ’n Hannibal Lecter in my boeke nie.

Losprys is jou vierde boek. Watter lesse het jy met elk van jou boeke geleer?

My grootste leerskool was Donker spoor (2014). Eerstens, omdat ek dit geskryf het as deel van die Skryf ’n roman-kursus onder leiding van Wilna Adriaanse. Haar terugvoer en advies was baie waardevol, en sy het my gekry om ’n karakter se storie te vertel eerder as net dié van ’n moordondersoek. Tweedens was dit die eerste keer wat ek aangehou het om aan ’n manuskrip te werk nadat dit afgekeur is en weer afgekeur is en toe nog ’n derde keer ook. Dit was ’n frustrerende tyd, maar ook die tyd wat ek die meeste as skrywer gegroei het. Ná die derde afkeur het ek Skuldig (2015) geskryf en toe teruggegaan na Donker spoor toe. Die nuwe weergawe is deur LAPA aanvaar.  

Swartval (2016) het twee groot uitdagings gehad: om die hele storie uit ’n vrou se perspektief te vertel en om ’n storie te skryf wat onderhoudend bly, al speel dit in ’n beperkte ruimte af met net ’n paar karakters, sonder opvolgslagoffers en misdaadtonele en verdagtes wat die verhaal vorentoe kan neem. Vir eersgenoemde het ek ’n vriendin gevra om die manuskrip hoofstuk vir hoofstuk te lees en terugvoer te gee. Vir laasgenoemde het ek Stephen King se Misery weer gelees om moed te kry dat dit gedoen kan word.

Ek dink ek leer met elke boek meer empatie, omdat ek daarvan hou om uit my gemaksone te beweeg en ander perspektiewe en agtergronde in my stories te “beleef”. In Swartval was dit ’n vrou wat ’n ontkleedanser word en dan bekruip, ontvoer en aangehou word. In Losprys is die een hoofkarakter ’n speurder van Mitchells Plain en dit het van die daaglikse probleme op die Kaapse Vlakte, soos dwelms, bendes en afwesige pa’s, by die storie ingesleep.

Losprys gaan oor ’n ontvoeringsdrama. Wat het die verhaal in jou gedagtes laat posvat, karakter of gebeurtenis?

Gebeurtenis. Die idee kom van ’n werklike geval in Kaapstad, die tienerseun van ’n ryk Nederlandse gesin wat vir ’n losprys ontvoer is, en veral die gyselaaronderhandelaars wat by die gesin ingetrek het. Ek het toevallig ’n regte polisieonderhandelaar ontmoet en dit het my aan daardie ou saak laat dink. Die geleentheid om oor onderhandeling te skryf, die proses, die sielkunde daaragter, was onweerstaanbaar. En die ander elemente van die storie, die karakters en hul motiewe, het mooi in plek geval.

Hoe skep jy jou karakters?

Hulle het nogal ’n manier om net te arriveer. Mags van Donker spoor en Enzo van Losprys het net “gekom”. Soms wil ek iets spesifieks doen. Menck van Donker spoor en Skuldig is doelbewus ’n baie gewone mens, ’n gesinsman sonder huis-, drank-, geweld- of persoonlikheidsprobleme, want dit voel soms in misdaadfiksie asof ’n goeie speurder altyd chaos in die res van sy lewe het en my ondervinding met regte speurders is dat dit nie noodwendig so is nie. Met Menck wou ek van daardie stereotipe wegbreek.

 My karakters word ook beïnvloed deur regte mense, lede van die polisie met wie ek praat, misdadigers oor wie ek lees, my agtergrond in sielkunde. Dis allerhande stukkies en brokkies wat bymekaar kom.

My proses met karakterskepping het heelwat ontwikkel. Ek doen altyd baie moeite met die misdadiger, veral wanneer dit ’n reeksmoordenaar is, maar destyds met Mags het ek geweet hy is naby aan aftree, sy vrou is onlangs dood ná ’n kankerstryd, sy verhouding met sy seun is nie lekker nie, hy is in rou en nukkerig. Dit was dit, en ook een van die probleme met die manuskrip. Ek moes Mags leer ken terwyl ek geskryf het. Deesdae bestee ek meer tyd om die hoofkarakters se persoonlikheid deur te dink sodat ek hulle beter ken voordat ek ’n woord van die storie geskryf het. So, ek en veral Enzo en Karla het eers saam gesit voordat ek aan Losprys begin skryf het.

Plot jy jou verhaal vooruit of is dit ’n organiese skryfproses?

Ek werk nie die storie uit nie. My idees kom altyd van ’n soort misdadiger of ’n spesifieke misdaad af. Ek moet van die begin af weet wie die misdadiger is, wat hy doen, hoekom hy dit doen, wat hy probeer bereik. Ek doen karakterwerk vir die belangrike karakters. En dan begin ek op die misdaadtoneel, sit die speurders daar neer en volg hulle tot by die einde. Ek laat my deur my navorsing lei, deur my gesprekke met speurders en forensiese deskundiges, die prosedures wat hulle volg in ’n ondersoek. Byvoorbeeld, vir Losprys ek het met iemand oor selfoonnasporing gaan praat en toe vertel hy my van die LPR-kamerastelsel, wat toe deel van die storie geword het. Verder skryf ek baie op instink, wat vir my reg voel.

Hoe doen jy die navorsing vir jou verhale?

Leeswerk, onderhoude en voetwerk. Vir Losprys het ek onder andere met die speurder gepraat wat die ou ontvoersaak ondersoek het wat my storie geïnspireer het. Ek het met gyselaaronderhandelaars gepraat en twee handboeke oor onderhandeling bestudeer. En ek het gaan loop waar my storie afspeel, in Llandudno, Houtbaai, Imizamo Yethu, Mitchells Plain. Soms is daar interessante eksperimente, soos om vals naels te dra of my kop kaal te skeer (vir Swartval). En soms laat my oordeel my in die steek, soos toe ek wou beskryf hoe dit regtig voel om met pepersproei gespuit te word.

Was daar iets waarmee jy gesukkel het in Losprys?

Losprys was ’n nukkerige boek van begin tot einde. Die karakters was soos tieners wat net agter ’n toe deur in hul kamer wil sit. En wanneer hulle by die res van die gesin is, moet jy alles uit hulle trek. (Behalwe Losper, wat klaarblyklik sy tonele as ’n oudisie vir sy eie boek beskou het.) Maar ek is gelukkig met die resultaat en dis uiteindelik al wat regtig saak maak.

Wie is jou gunsteling-karakter, of dra hulle almal vir jou ewe veel gewig?

Ek het Losper vreeslik geniet, danksy sy persoonlikheid en die manier hoe hy praat. Newton, en veral Enzo se interaksie met hom, was ook ’n ligpunt. En dan Enzo self. Nie altyd maklik om te skryf nie, maar hy is vir my interessant en beslis ’n karakter saam met wie ek graag nog tyd wil bestee. Ek hou van sy siniese lewensbeskouing en dat hy net ’n moordspeurder wil wees. Hy soek dooie slagoffers en hy wil die moordenaars jag en sorg dat hulle skuldig bevind word. Dit gaan nie soseer vir hom daaroor om die morele orde te herstel of die gemeenskap te dien nie; hy wil die skuldige identifiseer en hom toesluit, soos iemand wat ’n Rubik cube wil oplos.

Is skryf jou voltydse loopbaan, of doen jy ook nog iets anders?

Ek skryf voltyds, want dis my droom en ek glo nie aan reïnkarnasie nie, so ek wil nie my een lewe op ander dinge mors nie. Veral nie noudat ek die voorreg het om ’n publiserende skrywer te wees nie. Dit bring natuurlik finansiële uitdagings mee, maar hoeveel mense kan sê hulle doen die een ding wat hulle die graagste in die lewe wil doen?

Wat is jou grootste skryfdroom?

Om te skryf en gepubliseer te word. Ek is baie dankbaar dat ek dit kan doen en dat ek kan skryf wat ek wil skryf, dat mense daarvan hou. Maar ek sal baie graag wil hê genoeg lesers moet my boeke lees sodat ek regtig ’n lewe daaruit kan maak.

Watter drie boeke het ’n belangrike rol in jou lewe gespeel en waarom?

The Dark Half en It van Stephen King, want eersgenoemde het my tot leser bekeer en laasgenoemde het my oortuig om self te skryf. En Donker spoor, omdat ek soveel uit die skryf en herskryf van daardie manuskrip geleer het en dit my van ’n hoopvolle skrywer in ’n publiserende skrywer verander het.