Kweek kinders met heel harte (Lux Verbi, R180) kyk indringend na kwessies soos die versorging van jou kind se liggaam, siel en gees, selfbeeldontwikkeling, die kweking van goeie karakter en die afleer van slegte gewoontes en die hantering van swak karaktereienskappe.

 

Lees ’n uittreksel hier.

Kwaliteittyd wat ’n kind se hart heel hou

Ek dink nie die woord kwaliteittyd het 30 jaar gelede bestaan nie. Dit sê nogal baie oor hoe ons samelewing die afgelope drie dekades verander het. Ouerskap het verander. Ons speel ’n baie kleiner rol in ons kinders se lewe, veral in terme van tyd.

Vandat hulle omtrent drie jaar oud is, is ons kinders vir ’n groot gedeelte van die dag (indien nie die heel grootste gedeelte nie) in iemand anders se sorg. Juis daarom wil ouers gereeld by my weet: As ek net vyf minute het, wat kan ek doen om ’n verskil te maak en kwaliteittyd saam met my kind te geniet?

Ek haat dit om hierdie vraag te beantwoord, want ek is so bang dit bied aan ouers ’n verskoning om net vyf minute per dag saam met hulle kinders te wees. Of dalk vyf minute op ’n Saterdag. Navorsing wys dat die gemiddelde pa net drie minute per week kwaliteittyd saam met sy kinders geniet. Deesdae is ek bekommerd dat ma’s nie juis beter vaar nie.

Voordat ons in meer besonderhede oor hierdie onderwerp gesels, kyk gerus na hierdie interessante feite oor kwaliteittyd wat na vore gekom het in ’n studie wat onder 3 000 ouers en hulle 1 000 kinders gedoen is:

Meer as twee derdes van die ouers (68%) wat te min tyd saam met hulle kinders deurbring, skryf dit aan finansiële druk toe.

Meer as twee derdes van die kinders sal eerder rustig tyd by die huis saam met hulle ouers deurbring as om op ’n duur uitstappie te gaan.

Ongeveer 50% van die ouers voel dis die ander ouer se skuld dat daar nie genoeg gesinstyd is nie. (’n Enkelouer met kinders is tog ook ’n gesin.)

Ouers dink gesinsvakansies en gesinsuitstappies is die heel beste gesinstyd en sport of lees is hulle laaste opsie vir kwaliteittyd saam met hulle kinders.

Driekwart van die kinders voel hulle wil met albei ouers kwaliteittyd deurbring, terwyl net die helfte van die ouers dink dit is nodig.

Ons dink so dikwels kwaliteittyd is om saam met ons kinders tafel te dek, om hulle te vat om te gaan inkopies doen of om met hulle te gesels terwyl ons skool toe ry, sommer met ons oë in die truspieëltjie op hulle gerig. Vir party kinders is dit dalk heerlik, maar dit voldoen nie naastenby in almal se behoeftes nie.

Kinders se behoeftes verskil op grond van hulle ouderdom en natuurlik ook op grond van hulle persoonlikheid. Kwaliteittyd is daarom nie wat óns dink ons kinders wil hê nie, maar wat ons kinders regtig nodig het. Of ons regtig kwaliteittyd saam met ons kinders deurbring, is daarom ’n vraag wat net ons kinders sou kon antwoord.

Kwaliteittyd kan nie sonder kwantiteittyd nie. Kwaliteittyd kan nie bestaan sonder ’n langdurige en intense belegging van kwantiteittyd nie. Kom ek sê dit op ’n ander manier. As jy nie al baie rustige en uitgerekte tye saam met jou kinders deurgebring het nie, is daar nie ’n kans dat jy kan weet watter aktiwiteite hulle as kwaliteittyd saam met jou gaan beskou nie.

As jy net vyf minute het om vis te vang, moet jy presies weet watter tyd van die dag die beste tyd is om by daardie spesifieke viswaters te gaan sit. En jy moet weet waaraan daardie visse gaan byt. Net so werk dit met kwaliteittyd.

Dit is onmoontlik om kwaliteittyd saam met jou kinders te geniet as jy nie weet wanneer hulle die behoefte daaraan het nie. As jy nie weet watter tekens by jou kinders daarop dui dat hulle ’n behoefte aan tyd saam met jou het nie, as jy nie weet wat jou kinders se belangstellings is nie, kan jy iets saam met hulle doen wat jy baie geniet, maar wat hulle nie geniet nie. Terwyl jy ’n fantastiese dag beleef, dink jou kinders dalk: Wat is vir haar so lekker hieraan? Ek verstaan dit nie en geniet dit nie.

Dít is ons uitdaging as ons kwaliteittyd saam met ons kinders wil deurbring: Ons moet hulle goed ken en ons moet hulle behoeftes verstaan. En dan moet ons al ons kreatiwiteit inspan om iets saam met hulle te doen wat in hulle behoeftes sal voorsien én waarvoor ons kans sien.

Baie van ons is bang om na ons kinders toe te stap en te sê: “Hier is ek nou. Wat wil jy hê moet ons saam doen?” Ons weet nie wat om te verwag nie en ons is baie bang hulle vra van ons iets waarvoor ons nie regtig eintlik kans sien nie.

Dit is baie bevrydend wanneer jy eendag ontdek jou kinders se behoeftes is minder intens en neem baie minder tyd in beslag om te bevredig as wat jy vermoed het. Ek dink ouers wat met gesinstyd sê: “Hier is ek. Ek is tot jou beskikking. Ek gaan nou al my aandag aan jou gee,” maak reeds ’n kind se emosionele tenk halfvol. En dan het jy net nog ’n paar minute nodig om sy of haar tenk heeltemal vol te maak.

Kom ons gesels nou oor hoe jy kwaliteittyd met kinders van verskillende ouderdomme kan deurbring.

Kwaliteittyd met jou baba

Selfs al is ’n baba nog so klein dat jy onseker is oor sy of haar temperament, weet jy ’n hele paar dinge wat waar is vir alle babas.

Alle babas het geweldig baie aanraking nodig. Hulle hele wêreld is sensories. Hulle kan nog nie dink nie. Hulle kan nog nie redeneer nie. Hulle kan net voel, ruik, hoor, proe en sien. Dit is waarop hulle hele leefwêreld gegrond is. Daarom moet ’n baba van baie sensoriese ervarings voorsien.

Dit is hulle totale emosionele ervaring van hulle ouers. Ons kan vir ons babas sing, met hulle praat en hulle masseer. Ons kan saam met hulle op die gras gaan lê en saam met hulle in die water plas. Ons kan saam met hulle oor gruisklippies loop en in die sand speel. Ons kan vir hulle snaakse geluide maak en vir hulle snaakse gesigte trek. Ons hulle oor die bed rol en met hulle op ons arms dans. Ons kan hulle soveel moontlik laat beweeg en soveel moontlik dinge laat sien, hoor en aanraak.

Deel gerus ons wêreld en al die interessante dinge daarin met jou baba. Dit is nie net goed vir hulle emosionele ontwikkeling nie, maar ook vir hulle intellektuele ontwikkeling.

Elke ervaring lei tot die vorming van nuwe sinapse en nuwe assosiasies in die brein en dit lê die grondslag vir jou kind se uiteindelike volledige ontwikkeling.

Kwaliteittyd met ’n kleuter

Kwaliteittyd met kleuters is ’n groot uitdaging. Hulle kan nog nie Monopoly speel of intellektuele gesprekke met jou voer nie. Kleuters sukkel nog om legkaarte te bou, kan nie krieket speel of swem nie en as jy met hulle stoei, kry hulle gou seer. Wat kan jy dan met jou kleuter doen om sy of haar emosionele tenk vol te maak?

Kleuters is baie ingestel op die hier en nou en hulle onmiddellike ervarings, amper soos ’n baba. Hier is ’n paar dinge wat jy en jou kleuter saam kan doen om kwaliteittyd deel van julle lewe te maak:

  • Gaan plant iets in die tuin, selfs al is dit iets wat dalk nie sal groei nie.
  • Versamel iets soos blomblare of skoenlappers.
  • Verf iets. Die grootste pret wat ek nog ooit met verf gehad het, was toe ek en my kinders prente met natuurlike dinge geverf het. Ons het met blomblare en koskleursel geverf. Ons het beetsap in die kombuis gaan haal en ook daarmee geverf. Dit is groot pret, kos min geld en ’n mens leer baie in die proses.
  • Gaan skuif iets rond. Dit klink soos ’n simpel aktiwiteit, maar dit kan vir kleuters groot opwinding bring om die meubels in hulle slaapkamers te verskuif.
  • Bel iemand. Dit is een van die lekkerste dinge vir ’n kleuter om oor ’n telefoon te kan praat. Of “bel” mekaar as julle twee landlynfone in die huis het.
  • Skryf ’n briefie vir julleself en gaan pos dit. Min mense kry vandag nog briewe in die pos en dit is opwindend vir kinders om pos uit te haal en daar is ’n briefie vir hulle.
  • Bak iets. Kry ’n eenvoudige resep en laat jou kind self alles meng.
  • Vir kleuters wat soms aggressief raak weens opgekropte energie, is daar heerlike aktiwiteite om uit te kies. Laat sit hulle in die badkamer en gee vir hulle koerante om op te skeur en die hele vertrek vol te strooi. Dit is baie maklik om die badkamer later op te ruim.
  • Eet of drink iets op ’n snaakse plek. Waar in julle erf het julle nog nie piekniek gehou nie? Vandag is die dag!

As jy voel jy is nie baie kreatief nie en kan nie aan oulike aktiwiteite dink om met jou kind te doen nie, benader dit dan op ’n ander manier. Kies ’n spesiale stoel waarop julle kan gaan sit wanneer julle tyd saam deurbring. Of koop vir julle ’n mat waarop julle gaan sit om kwaliteittyd by mekaar deur te bring. Julle kan op die mat gaan sit om ’n storie te lees, piekniek te hou of speletjies te speel. As jou kind ’n gunstelingstorie het, kan julle kwaliteittyd altyd met daardie storie begin.

Kwaliteittyd met ’n laerskoolkind

Wanneer jou kinders ouer word en op laerskool is, word die uitdaging van kwaliteittyd uniek. Jou kinders sal dan soms self na jou toe kom en ’n voorstel maak oor wat julle saam kan doen. Hulle sal nie net sê: “Ek wil by jou wees” of ’n emosionele sein uitstuur dat hulle behoefte aan jou tyd het nie. Nee, hulle sal reguit na jou toe loop en sê: “Kom speel saam met my kaart,” of: “Kom ons gaan speel krieket.”

Hoe hanteer jy hierdie aanspraak op jou aandag en tyd, veral wanneer jy nie die tyd of energie het nie of wanneer daar ’n taak is wat jy dadelik moet afhandel? Ek het byvoorbeeld een aand laat by die huis gekom ná ’n praatjie by ’n gemeente. Net ’n paar minute voor my seun se slaaptyd het ek kombuis toe gestap om vir my kos warm te maak. Ek was stokflou van die honger, maar wat sou my seun doen? Hy wou ’n teddiebeer in die gang skepskop en was baie ongelukkig omdat ek nie saam met hom wou speel nie. Wat moes ek dan doen? Die waarheid is, om ’n teddiebeer ’n paar keer heen en weer in die gang te skepskop kos jou omtrent twee minute. Net twee minute. En in daardie twee minute kan julle elkeen tien skoppe inkry. Ek het dit gedoen en my seun was tevrede. Boonop was my kos intussen besig om warm te word in die mikrogolfoond. Ons al twee het gewen en ons al twee was tevrede.

As ons bloot haastig is of voel ons kan nie nou tyd afknyp om aan ons kinders aandag te gee nie, kan ons ’n eenvoudige oplossing soos hierbo gebruik. Dit is daardie amper geïrriteerde weerstand in ons lyftaal wanneer ons sê: “Nee, ek kan nie nou nie. Ek is besig,” wat vir ons kinders die boodskap gee dat ons eintlik nie by hulle wil wees nie. Dit is wat hulle kwaad of hartseer maak, en dit lei gewoonlik na ’n woedeuitbarsting, manipulerende gedrag of ’n gesoebat.

Wanneer jy egter jou kinders verseker dat jy op daardie oomblik ook eerder saam met hulle sou wou speel, maar dat dit net nie moontlik is nie, sal dit hulle troos. En hulle het die belofte dat ons later aan hulle ons aandag en tyd sal gee.

Kwaliteittyd met ’n tiener

Ironies genoeg het ons soms meer tyd wanneer ons kinders tieners is. Skielik besef ons hulle is amper onder ons oë en uit ons huis uit. Dan wil ons vergoed vir die verlore ure en kanse van hulle jonger jare en dinge saam met hulle doen. Dit is die stadium in ons kinders se lewe dat ons verhouding met hulle amper oorvloei in ’n vriendskap.

Die dilemma is dat sommige tieners tyd met hulle ouers probeer vermy as daar nie voor hulle tienerjare reeds ’n goeie en spontane verhouding gevestig is nie. Inkopies saam met hulle ma of ’n uitstappie gholfbaan toe saam met hulle pa klink vir baie tieners erg vervelend. Hulle raak al meer sensitief vir ons agendas. Wil ons tyd saam met hulle deurbring om hulle te ondervra, vir hulle te preek, hulle te probeer motiveer om harder te leer of met hulle oor ongemaklike temas soos seks te gesels? As hulle vermoed hierdie dinge is op die spyskaart, gaan dit dalk hulle beurt wees om te sê: “Ek is ongelukkig nou besig. Kan ons later gesels?”

Hier is ’n paar wenke vir kwaliteittyd met jou agterdogtige tiener wat dalk nie in hierdie stadium dink jy is baie oulik of opwindend nie:

• Respekteer dit as jou tiener nie in ’n bui is om saam met jou iets te doen nie.

• Vermy vrae. Gebruik stellings soos: “Dit lyk my jou dag was rof en lank,” in plaas van opmerkings soos: “Ag nee, jy lyk sleg. Wat het gebeur?”

• Lees jou kind se gemoedstemming en nieverbale seine sodat jou tydsberekening goed is. As jou tiener so pas kamer toe gestorm en die deur ekstra hard toegemaak het, is dit nie ’n goeie tyd vir ’n gesprek nie.

• Laat minstens tien dae tussen ernstige gesprekke verloop sodat jou kinders nie dink hier kom al weer ’n preek wanneer jy na hulle toe stap nie. Wees tussen sulke gesprekke minder ernstig, want tieners het nog kinderlike vryheid nodig al wag die grootmenswêreld om die volgende draai.

• Leer ken jou tieners se belangstellings en ontwikkel ’n vaardigheid wat jou in staat sal stel om iets in hulle wêreld saam met hulle te doen. Daag byvoorbeeld jou kind wat met rekenaarspeletjies behep is uit om teen jou te speel. As jou seun goed kan boul, vra of jy een van sy balle kan probeer terugslaan.

• Benut kort tydjies soos aandete, tyd in die motor of minute langs die sportveld voor of na ’n wedstryd om julle verhouding te bou.

• Kies ’n oomblik wanneer julle verhouding baie goed en die lug tussen julle skoon is. Vra jou tieners om ’n lysie op te stel van dinge wat hulle graag saam met jou sal wil doen voordat hulle die huis verlaat.

’n Paar voorstelle sal jou dalk verbaas. Hou hierdie lys as ’n riglyn. Julle kan hierdie dinge ook saam

doen wanneer jou kinders eendag studeer of werk en naweke by die huis kom kuier.