Sy loopbaan is gefokus op die bewaring van bedreigde kulture, juis omdat hy glo die gemeenskappe het ’n beduidende bydrae om te maak – ook in die tyd van die coronavirus. In ’n onderhoud sê hy hieroor: “Wanneer ons uit die pandemie kom, sal ons as mensdom sy aan sy moet soek vir oplossings vir die ontelbare uitdagings wat voorlê. Inheemse leiers moet saam met vandag se voorste denkers, filosowe en wetenskaplikes om ’n tafel byeenkom.” Sy asemrowende sesde koffietafelboek, Mask (Earth Aware, R1 050), het onlangs verskyn.

FOTO Chris Rainer

Hy reis na die uithoeke van die wêreld om inheemse en bedreigde kulturele rituele te fotografeer. Dertig jaar gelede het hy die eerste keer maskers in Nieu-Guinee afgeneem. Dit het sy belangstelling geprikkel om tradisionele maskers te soek en te dokumenteer voordat die kulture uitsterf. Van dié maskers is vandag nog net in museums in glaskaste te sien. In Mask vang hy die rituele en danse vas wat steeds deel van volkere se kulture is. Jy beleef saam met hom die misterieuse inisiasierites van Burkina Faso, die geheime gebedsrituele van die monnike verskuil in Nepalese kloosters diep in die Himalaja, die beer- en raafregalia wat in die feesseremonies van Noord-Amerika se eerste inwoners gebruik word, en die skrikwekkende krampusmaskers van die Oostenrykse Alpe. Baie van die foto’s is gehul in misterie en neem jou op ’n verbeeldingsvlug na die vroegste tye, toe die mens baie nader aan die aarde geleef het. Toe daar ’n spirituele konneksie met Moeder Natuur was en mense afhanklik was van die oordeelkundige bestuur van hulpbronne om onder primitiewe omstandighede te kon oorleef. Chris Rainier se dokumentêre reis van die afgelope 30 jaar is fassinerend.

Ek het per e-pos met Chris oor sy fotografie en loopbaan gesels.

Jy was die natuurfotograaf Ansel Adams se laaste fotografiese assistent. Het jou werk saam met hom jou ontwikkeling as fotograaf beïnvloed?

Om saam met Ansel te werk het my laat besef hoe fotografie, selfs kunsfotografie, as sosiale gereedskap gebruik kan word. Ansel het die veelseggendheid van sy kuns as landskapfotograaf gebruik om die Amerikaanse kongres te oortuig om talle wildernisgebiede in die VSA, soos die nasionale parke, te beskerm. Deur in my beroep as fotograaf saam met organisasies soos die National Geographic Society en Verenigde Nasies te werk het ek voortgegaan om te help om natuurgebiede reg oor die wêreld te beskerm en inheemse kennis, kulture en tale te bewaar.

Wat het jou daartoe aangetrek om ’n fotograaf te word?

As jong seun kon ek myself ure aaneen verloor in die rakke vol National Geographic-tydskrifte wat my ouers versamel het. Ek het daarvan gedroom om eendag ’n National Geographic-fotograaf te word sodat ek my kamera as ’n paspoort kon gebruik om die wêreld te sien en dit beter te verstaan.

Vertel my meer van jou beroep en lig ’n paar hoogtepunte uit.

Nadat ek in die vroeë 1980’s vir vyf jaar as Ansel se assistent gewerk het, het ek wêreldwyd begin reis vir werk vir die VN, IUCN (International Union for Conservation of Nature), Unesco (United Nations Educational, Scientific and Cultural Organisation) en ’n klompie noodlenigingsorganisasies om inheemse kwessies sowel as konflikgebiede te dek. Toe word ek ’n oorlogsfotograaf vir Time en dek oorloë reg oor die wêreld, van die beleg van Sarajevo in Bosnië tot die hongersnood in Somalië en die oorlog in Irak. Terselfdertyd het ek my persoonlike passie nagestreef om onder-verteenwoordigde tradisionele inheemse kulture te dokumenteer – van die stamme van Nieu-Guinee tot die Amasone en Afrika. Ek het uiteindelik ’n National Geographic-fotograaf geword en as genoot (fellow) meegewerk om internasionale programme te skep waardeur tradisionele gemeenskappe bemagtig word om hul kennis, taal en kultuur te bewaar.

Waarom voel jy so sterk oor die bewaring van bedreigde kulture en biodiversiteit reg oor die wêreld?

Wetenskap het duidelik bewys dat as ons die groot longe van die aarde wil bewaar, die plekke wat ons toerus met die nodige vars lug om te oorleef soos die reënwoude van die Amasone, Asië en Sentraal-Afrika, moet die inheemse volke wat daar woon aktief meedoen. Ons internasionale stigting, The Cultural Sanctuaries Foundation (www.culturalsanctuaries.org), fokus op die bewaring van biodiversiteit deur ondersteuning en bemagtiging van inheemse gemeenskappe. Ons bewaar dus die bewaarders van die grond. Hierdie kultuurgemeenskappe is verbind met die grond en deur vir hulle ekonomiese geleenthede te help skep verseker ons dat hulle kan aanhou om die beste toesighouers van die grond en biodiversiteit te bly.

In die opdrag van jou boek praat jy oor jou pa, Peter. Was hy die oorsprong van jou liefde vir reis?

Ja, absoluut. My pa én my oupa was ware reisigers. Al twee Suid-Afrikaners wat hul inkomste verdien het uit die verkenning van die wêreld. My oupa was ’n avontuurskrywer. Kort ná die laaste Zoeloe-oorlog in die vroeë 20ste eeu het hy vir vyf jaar deur Suider-Afrika gestap, waarna hy ’n myningenieur in die oerwoud van Colombia, Suid-Amerika, geword het. Dis waar my pa grootgeword het, kaalvoet op ’n perd in die Colombiaanse oerwoud, en hy het die plaaslike taal gepraat. Ek het grootgeword met stories van avontuurtogte ver verwyder van my bekende horisonne, altyd soekend na wat aan die ander kant van die oseane lê.

Ek weet dis moeilik om een foto uit te sonder in jou boek, maar as jy ’n gunsteling moet kies, watter een is dit?

Moontlik die foto van Gene, die Raven Dancer (die foto agter op die boek). Gene is ’n merkwaardige man, ’n danser in die Klingitstam in Alaska. Ons het een namiddag op ’n strand wat uitkyk op die Stille Oseaan, ’n merkwaardige fotografiese oomblik beleef, ’n samekoms van die oseaan, die wolke met sonsondergang en Gene se ongelooflike uitvoering van die raafmaskerdans. Hy tree gereeld by inheemse skole op om die jongmense by te staan om weer in verbinding te kom met hul kultuur en taal. Ná elke optrede vertel hy hulle as ons die verwoestende aanslag van klimaatsverandering wil oorleef, soos wat ons inderdaad nou sien met die coronavirus, moet ons as een menslike spesie ons weer verinheems (re-indigenise). Wat hy hiermee bedoel, is dat ons weer in verbinding moet kom met die planeet en die verweefde, komplekse sisteme verstaan wat ons sal help om te oorleef. Ons moet nie méér neem as wat ons nodig het nie. Vir duisende jare het tradisionele inheemse gemeenskappe verstaan hoe om die balans te behou, ’n respek vir Moeder Natuur gehad en die dissipline om nie die hulpbronne uit te buit nie. Deur onsself te re-indigenise kan ons weer in balans kom met die planeet om te oorleef en te gedy in die toekoms.

Die bestemmings waarheen jy reis, lê nie op toeganklike toeristeroetes nie.

Baie van die laaste van die wêreld se tradisionele gemeenskappe en wildernisgebiede is op die rand van die wêreldkaart, plekke ver weg van die pols van moderniteit. Ek reis na die laaste plekke op aarde waar mense van die woud en die woestyn leef. Ek moet daarheen gaan, saam met die mense leef en die tyd neem om hul vertroue en vriendskap te wen. Eers as daar ’n wedersydse respek is, kan ek begin dokumenteer. Dit neem dikwels maande of selfs jare.

Gaan ontwikkeling in die wêreld mense verder verwyder van ou tradisies en kulture, veral in die lig van jonger generasie se blootstelling aan tegnologie en sosiale media, of dink jy die twee wêrelde kan in harmonie saamleef?

Ek glo die twee kan in harmonie bestaan. Tegnologie en tradisionele kultuur is nie binêr nie; ons hoef nie te kies tussen die een of die ander nie. Baie tradisionele gemeenskappe gebruik sosiale media en tegnologie juis om tradisionele taal en kultuur te versterk, te bewaar en in stand te hou. Baie gemeenskappe sê selfs tegnologie, die internet en sosiale media is deurslaggewend vir hul oorlewing en om die jonger generasie te betrek sodat hulle deel kan wees van sowel hul tradisionele agtergrond as die moderne wêreld. Die twee is nie onverenigbaar nie.

Ons leef in ongewone tye en ek moet vra hoe die Covid-19-pandemie jou werk beïnvloed.

Ek dink dis ’n kritieke tyd vir die mensdom, modern sowel as tradisioneel, om ons deel te doen om te oorleef sodat ons kan floreer in die toekoms. Ek is bekommerd oor die toename in vrees vir “die ander”, die kulture wat in die ontwikkelende dele van die wêreld woon. In tye van wêreldwye stres veroorsaak dié vrees allerlei soorte isolasie en konflik. Wanneer ons uit die pandemie kom, sal ons as mensdom sy aan sy moet soek vir oplossings vir die ontelbare uitdagings wat voorlê. Inheemse leiers moet saam met vandag se voorste denkers, filosowe en wetenskaplikes om ’n tafel byeenkom. Ons moet as een menseras saamwerk om oplossings te vind. Inheemse kennis is al vir duisende jare deel van die mens se bestaan en die wysheid wat veranker is in hul stories en tradisionele kennis, is deel van die oplossing van hoe ons gaan oorleef verder as die 21ste eeu.