Ná sy loopbaan in die Suid-Afrikaanse Weermag kon hy sy soldaatdrome verder in Irak gaan uitleef waar hy as private militêre kontrakteur gaan werk het. In sy boek, Blood Money (Delta Publishers, R260) vertel hy ’n fassinerende verhaal van hoe sy loopbaan as private militêre kontrakteur in Irak verloop het.

 

Sy skryfstyl is gemaklik en toeganklik en selfs vroue sal dit interessant vind om te lees waarmee hy en sy kollegas te kampe gehad het. Om in so ’n vyandelike omgewing te werk, is nie maklik nie. Hy en sy span moes permanent op hul hoede wees, want die plaaslike inwoners was buitelanders nie juis goedgesind nie. Raath was ’n opgeleide recce wat in Irak gaan werk het met sekuriteitmaatreëls vir buitelandse kontrakwerkers wat infrastruktuurprojekte in die land ontwikkel het. Kontrakteurs wat onder hierdie gevaarlike omstandighede werk, verdien gewoonlik baie geld. Maar die inkomste moet gesien word teen die persoonlike probleme wat daarmee saam kom. Dié mans is baie lank van hul huise af weg en dit lei dikwels tot probleme in hul verhoudings. Die egskeidingsyfer onder die mans is daarom buitensporig hoog. Dikwels leef hul huweliksmaats baie van die geld uit om hul verveeldheid met ’n eensame lewe teen te werk en dan kry die eggenoot ’n onaangename verrassing wanneer hy by die huis aankom. Raath skryf nie uitgebreid oor hierdie probleme nie, maar dit laat wel die vraag by die leser ontstaan: hoe verseker jy ’n gesonde gesinslewe en hoe sterk is jou verhouding met jou kinders uiteindelik? Dit kan nie maklik wees nie. Ek wonder of die geld werklik alles die moeite werd maak, want die verdienste kom met groot opofferings. Dis ’n boeiende boek wat beslis meer in die smaak van manlike lesers sal val. – Phyllis Green

Bare Ground, Peter Harris (Picador, R260)

Die kern van die verhaal gaan oor ’n bemagtigingstransaksie van die mynmagnaat, Max Sinclair, se maatskappy. Sy regterhand wat hom moet help om die konsortium saam te stel, is die geoloog Sifiso Lesibe. Max se vrou, Julia, het ’n hegte vriendskap met Sifiso se vrou, Lerato. Julia weet hoe gewetenloos Max is wanneer dit by besigheid kom en sy is bekommerd oor hoe die transaksie Sifiso gaan affekteer. Sifiso vra raad by ’n ou studentevriend van hom wat bande met die regering het. Die komplekse verhaal het heelwat drade wat Harris vernuftig saamtrek om ’n boeiende prentjie te teken van die binnewerking van ’n mynmaatskappy. Hy skets ’n geloofwaardige verhaal van konkelary en korrupsie in die manier waarop groot besighede te werk gaan en lig die wêreld van die tenderpreneur uit. Fiksie? Ja, maar lees maar enige koerant vandag en jy sal op baie voorbeelde afkom van dit wat Harris in sy verhaal boekstaaf. Die wat het, sal meer kry en die wat nie het nie, sal ook nie meer kry nie.Phyllis Green

A Book of American Martyrs, Joyce Carol Oates (4th Estate HarperCollins, R353)

Ek was onlangs bevoorreg genoeg om ’n praatjie van die bekende TV-joernalis Ruda Landman by te woon. Landman het gesê as jy stories vertel is die kans veel beter dat jy mense se insigte oor ‘n saak sal kan verander as wanneer jy hulle bloot die feite gee. Dis stories wat mense help verstaan hoe ander se koppe werk. Dis waarskynlik hoekom ek so baie van fiksie hou, al werk ek elke dag met feite.

Oates se fantastiese boek is vol feite, duidelik gegrond op deeglike navorsing en geïnspireer deur ware gebeure, oor die Amerikaanse samelewing en oor die moeilike temas wat sy aanraak, waarvan aborsie en fundamentalisme die grootstes is. Maar soos Landman gesê het, dis nie die feite wat my laat dink het nie; dit was die emosie van die karakters en hul tragiese stories wat my tot dieper insigte gebring het.

Oates skryf oor twee teenpole in die Amerikaanse samelewing. ’n Briljante dokter word vermoor deur ’n fundamentalistiese Christen wat glo dat hy deur die moord ongebore babas van aborsie gaan red. Daar is talle parallelle tussen die twee mans en hul gesinne (asook skreiende verskille) en die verhaal loop dan later oor na hul twee dogters, wat as tieners deur die moord en verhoor en uiteindelike teregstelling van die moordenaar gaan. Intens? Ja! En Oates hou dit vol vir die hele 735 blaaie en bou op na ’n einde wat jou na jou asem laat snak. 

Vir enige skrywer sou die aborsie-tema op sy eie seker genoeg gewees het vir ’n hele boek, maar Oates het op byna 80-jarige ouderdom die selfvertroue en stamina om sommer ’n hele paar ander taai temas ook deeglik te ondersoek. Die doodstraf, vroueregte, rou, die spanning tussen geloof en wetenskap, en vroueboks is maar ’n paar daarvan. Maak jou dus maar reg om iewers ’n mening te hoor waarmee jy nie saamstem nie … Maar maak jou ook reg vir ’n leeservaring uit die boonste rakke. Uitmergelend, maar uitstekend!  - Helen Schöer

 KREJCIR, Angelique Serrao (Jonathan Ball, R250)

Vir jare was Radovan Krejcir se naam sinoniem met korrupsie en omkopery. Hoewel die polisie skynbaar van sy onderwêreldse bedrywighede geweet het, kon hy daagliks steeds vry van enige vervolging in een van Gauteng se bekendste winkelsentrums uithang. Om alles te kroon was dit polisiemanne en berugte karakters wat saam met die Tjeggies gebore rampokker by die Hawe Kafee om die tafel gesit het.

Die wiel het stadig gedraai of dalk het Krejcir net te mak geraak. Hy was onmiddellik een van die verdagtes ná die roekelose moord op Lolly Jackson, die flambojante eienaar van die strip club Teazers. Binne die volgende drie jaar is hy aan verskeie ander moorde verbind, maar kon Krejcir keer op keer daarin slaag om weereens vry uit die hof te stap.

Elkeen van die sake kon maklik ’n draaiboek vir ’n top-Hollywood fliek gewees het en joernaliste wat oor die drama verslag gedoen het, moes kophou. Een van hulle was Angelique Serrao wat hier die Krejcir verhaal meesterlik in haar boek vertel.  As die onderwêreld jou bekoor, sal jy sukkel om dit neer te sit. – Susan Puren

Are you sleeping, Kathleen Barber (PanMacmillan, R260)

Dis ’n lekker-lees-boek wat vinnig vloei. Interessante karakters sorg dat dit boeiend is en só bly tot aan die einde. Die hoofkarakter, Josie Boden, of Josephine Buhrman soos sy vroeër in haar lewe geheet het, het haar van verander om van aaklige gebeurtenisse in haar verlede ontslae te raak.

Josie en haar maat, Caleb, woon in New York en het jare gelede ontmoet toe Josie die wêreld deur gereis het. Caleb is salig onbewus van Josie se verlede, omdat sy doelbewus daaroor gejok het. Josie se pa, Chuck Buhrman, is geskiet en haar ma, Erin, het Josie en haar tweelingsuster, Lanie, verlaat om by ’n kultus aan te sluit. Josie en Lanie se pa se moordenaar, die bure se seun, is jare gelede deur ’n jong Lanie gesien en geïdentifiseer die aand van Chuck se moord en dien sy vonnis vir die afgelope 13 jaar uit.

Josie en Lanie het by hul ma se suster, Amelia gaan woon. Lanie, wat nog altyd die meer rebelse een van die tweeling was, het haar tannie se huis ’n ruk daarna verlaat. Sy was op daardie stadium met verkeerde vriende, dwelms en drank deurmekaar en het skool skaars bygewoon. Josie is keer op keer deur Lanie se gedrag verneder. Ná skool het Josie haar geliefde tannie se huis verlaat om van haar pa se dood, haar ma se verwerping en haar suster te vlug.  

Tien jaar later krap ’n joernalis, Poppy Parnell, dié saak oop en laai uitsendings op die internet vir die wêreld om te volg. Josie voel dat haar anonimiteit in die groot stad bedreig word. Josie se ma pleeg dan selfdood en Josie moet na Elm Park, waar sy grootgeword het, terugkeer.

By Erin se roudiens loop Josie haar vas in Lanie – ná baie jare van geen kontak tussen hulle nie. Lanie lyk glad nie na dieselfde mens wat Josie onthou nie: geen swart besmeerde en bedwelmde oë en vuil hare meer nie. Lanie lyk gesond en agtermekaar. Sy verras Josie met ’n agtjarige dogter en ’n huweliksmaat, Adam – Adam wat Josie se eerste liefde en ondersteuningspilaar op hoërskool was.

Hierdie boek raak net meer ingewikkeld hoe langer Josie in Elm Park bly en soos wat Lanie se karakter ontbloot word. Dít, tesame met Josie se ma se geheime wat na vore kom, laat jou jammer voel vir Josie. Poppy wat die saak “herondersoek”, voer ’n onderhoud met die Warren Cave, die tiener wat Chuck vermoor het. Poppy praat ook met Warren se ma, Melanie Cave, wat glo ’n verhouding met Josie en Lanie se pa gehad het.

Soos wat hierdie boek einde toe staan, spring jou agterdog oor wie die moordenaar kan wees van karakter na karakter – ’n vreemde tiener wat uitgevind het sy ma het ’n verhouding, ’n minnares wat wraak wou neem, ’n huweliksmaat wat uitgevind het van jare se verhoudings, of ’n dogtertjie wat weet van haar pa se ontrouheid en wil wraak neem vir al haar ma se hartseer. Heerlik spanningsvol! – Yolandi Jordaan

Submerged, Louis Wiid (Staging Post, R220)

Leon Jacobs is ’n duikinstrukteur by ’n vakansieoord, maar sy probleem met alkohol veroorsaak dat hy amper altyd sonder geld is. Op ’n duikuitstappie by die Rooi See red hy Sophia Popova se lewe, ’n Russiese skoonheid wat self veg teen haar donker demone van alkohol en dwelms. Hy begin ’n verhouding met haar, maar wanneer sy die verhouding verbreek, verander sy hele lewe. As een laaste guns belowe sy om hom te help met ’n werk by haar pa se bank in Londen. Maar as jy eers in Bogdan Popov se kriminele web vasgevang is, kom jy nie maklik los nie. Hierdie internasionale riller speel af in Afrika, Londen en kom tot ’n einde in Kaapstad. Die spanning loop hoog en dis nie moeilik om tot aan die einde vasgenael te bly nie. Die skryfstyl is baie oortuigend en die kennis van die skrywer kom tot reg in die beskrywings van die hoë-risiko finansiële wêreld. – Antoinique van Staden

The praying nun: A slave ship saga, Michael Smorenburg (House of Qunard Publishing)

Die verhaal wat in Clifton, Kaapstad, afspeel, word in twee dele vertel, waarvan die eerste deel handel oor Michael en sy vriend Jacques se soektog na oorblyfsels van ’n ongekarteerde skipwrak. Michael se pa het graag stories vertel wat hy weer van sy pa gehoor het, van die skip São José de Afrika. Dit het 400 slawe vervoer van Mosambiek na Brasilië en was die eiendom van ’n Portugese familie.

Michael en Jacques is in die vloot en duik in Clifton by die wrak waar hulle oorblyfsels kry van bomme wat hulle uit jeugdige onkunde verwyder. Die tweede gedeelte is ’n gedramatiseerde vertelling van die lewe op ’n skip vol slawe. As die enigste oorblywende skip wat slawe vervoer het, het hierdie wrak nuwe betekenis gekry.

Die gelowige Chikunda en sy eggenote bevind hulle saam in gevangeskap, maar hy beraam planne om hulle te probeer bevry. Soos enige boeiende roman is hier intrige, drama, avontuur en romanse om jou te boei. - Mariette Postma

Student Comrade Prisoner Spy, Bridget Hilton-Barber (Zebra Press, R230)

Die boek is ’n eerlike, kleurvolle, en soms skokkende beskrywing van die skrywer se studentejare aan Rhodes Universiteit in die Oos-Kaap. In die tagtigerjare is Bridget Hilton-Barber ’n rebel uit ’n liberale huishouding wat diep betrokke raak by politieke aktivisme op die kampus. Dit lei daartoe dat die apartheidsregering se veiligheidspolisie Bridget en haar vriende agtervolg, teister, sonder verhoor aanhou en selfs van hulle vermoor. ’n Paar jaar later vind sy uit haar vriendin, Olivia Forsyth, was al die tyd ’n polisie-spioen wat haar en ander verraai het. Toe Olivia dertig jaar later haar memoires in boekvorm publiseer, is Bridget nogmaals geskok en sy besluit om weer die reis na die Oos-Kaap aan te pak. Kan sy haar verraaier vergewe en kan sy haarself bevry van haar  eie gewelddadige  herinneringe? Dié aangrypende verhaal handel oor ’n era waaroor veral jonger lesers dalk nie veel weet nie, maar dit voel alles behalwe soos ’n geskiedenisles. Die hoofstukke is kort en kragtig en lees maklik. Ek kon die boek eenvoudig nie neersit nie. – Susan Purèn

 The three day affair,  Michael Kardos (Head of Zeus, R95 e-boek)

Will, ’n New Yorkse musikant beweeg uit na ’n voorstad op soek na ’n rustiger lewe. Sy kollege-vriende Jeffrey en Nolan kom kuier vir ’n paar dae en hulle beplan om bietjie gholf te speel, te drink en saam te lag oor die goeie ou dae.Aangesien hierdie ’n riller is, gebeur iets vreemd toe hulle stilhou by ’n algemene winkel sodat Jeffrey vir hulle voorraad gaan kry. Hy kom uit die winkel gestorm en sleep die verkoopsmeisie aan die hand saam. Sy geskokte vriende moet hoor dat hy die winkel beroof het en die meisie ontvoer het. Vanweë ’n onbesonne oomblik en ondeurdagte optrede toe hulle wild wegjaag, bevind die ou vriende hulself midde-in ’n volslae nagmerrie.Die drie word saam toegesluit en terwyl hulle planne beraam om die tronk vry te spring, leer ons hulle beter ken en vind meer uit oor hul vriendskap as jonger mense. Die verhaal word besonders en bedrewe vertel en sal jou aan die lees hou tot by die einde, wat dalk nie so onverwags kom nie. – Mariette Postma

NEW YORK 2140, Kim Stanley Robinson (Little Brown, R315)     

Die verhaal speel af die toekoms waar klimaatsverandering nie net ’n werklikheid is nie, maar drastiese veranderinge aan die wêreld meegebring het. Soos die ys by die pole gesmelt het, het die seevlakke gestyg. In New York alleen het die seevlak met sowat 15 meter gestyg. Elke straat het in ’n kanaal en elke gebou in ’n eiland verander. Die mense beweeg tussen geboue met lugbrûe of met boottaxi’s. Die verhaal word uit agt verskillende perspektiewe vertel met verskeie storielyne wat ontvoering, politiek, ’n polisie-ondersoek en selfs ’n skattejag insluit. ’n Komplekse en fassinerende verhaal. Maar aanvanklik is dit moeilik om die verskeie storielyne bymekaar te bring. – Karien Labuschagne



· Pryse is voorgestelde pryse en kan verskil van winkel tot winkel