So boek is Die Dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis (Tafelberg, R300) vir my. Daar is verskillende fasette van die verhaal waaroor mens kan praat. Die verhaal word afwisselend vertel deur die briewe wat Daan aan sy oorlede vrou skryf en die gesprekke wat hy met sy oorlede hond voer. Daar is Daan se verblyf in die klooster in China, die plek waar hy by ’n leermeester tai chi leer oms sy ewewig weer te herstel. Dan is daar Daan se gebrekkige verhouding met sy seun, die rede daarvoor heeltemal anders as hoe sy seun dit sien. ’n Insiggewende aspek van die verhaal word deur Daan onthul op p. 233 waar hy sê dat "ons geskiedenisse is die naelstring wat ons bind aan wat agter ons lê. Dit is waar van alle mense. Die verlede is nooit dood nie. Dit leef voort in ons almal. Die goeie en die slegte. Die waar en die onwaar. Sonder die verlede is ons soos rolbosse in ’n woestynwind." Dis vir my die essens van die verhaal. Deur sy geskiedenis te skryf, oftewel sy Historia, ondersoek Daan alles waaroor hy seker was in sy lewe. Hy bevraagteken sy begrip oor godsdiens, en sy heteroseksualiteit. Vir hom is die geskiedskrywery ’n terugstap op sy spore om sin te maak van sy lewe, ’n belydenis van sonde. Hy hoop dat daar insig en begrip sal kom ná die belydenis. Deur sy woorde op papier te sit, wil hy sy sondelas afwerp. En sy grootste versugting is dat wanneer hy alles begryp, wil hy vry wees. Hierdie boek gaan my lank bybly, omdat die vertwyfeling en wroeging van Daan van der Walt mens roer. Die mens is feilbaar en in die feilbaarheid lê daar dikwels die lesse vir begrip en insig. - Phyllis Green

Dear Mrs Bird, AJ Pearce (Picador, R240)

Hierdie debuut is een wat jy nie moet misloop nie. Emmy se ambisie is om ’n joernalis te word, om agter die frontlinie oor die oorlog te rapporteer. Terwyl sy wag vir hierdie droom om te realiseer, werk sy as sekretaresse vir ’n prokureur en doen sy diens as vrywilliger by die brandweer. Sy deel ’n woonstel met haar beste vriendin, Bunty, wat in die Oorlogkantoor werk met gebeure waaroor sy nie mag praat nie. Emmy sien ’n advertensie vir werk by ’n koerant en sy doen onmiddellik aansoek. Sy kry die pos. Maar die advertensie was misleidend, dis ’n administratiewe pos om die redakteur van die tydskrif, Woman’s Friend, by te staan. Emmy kry te skaam om almal te vertel dat sy die advertensie verkeerd verstaan het en besluit om deur te druk en te bly. Troostante Mrs Bird het geen simpatie met die lesers wat vir haar skryf vir raad met hul probleme nie. In teendeel, sy het ’n lang lys van onderwerpe wat taboe is, wat natuurlik die meeste lesers se klagtes insluit. Emmy se sagte hart noop haar om betrokke te raak en sy begin in die geheim om van die lesers se briewe te antwoord. Dit sit die bal aan die rol vir gebeure wat Emmy nie kon voorsien nie en wat baie drama in haar lewe veroorsaak. Hierdie roerende verhaal wat teen die agtergrond van die Tweede Wêreldoorlog afspeel, word met humor en patos vertel. – Phyllis Green

 

Ali, a Life, Jonathan Eig (Simon & Schuster, R330)

Die kampioen bokser is gebore as Cassius Clay en het ook aanvanklik so naam gemaak in die bokskryt. In 1954 is die jong Cassius se fiets gesteel. Hy het die diefstal aangemeld by die polisieman, Joe Elsby Martin, wat boksers afgerig het in ’n gimnasium. Dit was Cassius se eerste kennismaking met dié sportsoort en dit het hom onmiddellik aangetrek. Sy grootste wens was om bekend te wees en boks sou hom sy wens kon laat vervul. Hy het later ’n goue medalje by die Olimpiese Spele gewen. Maar dit het hom nie geld in die sak gebring nie en in 1960 klim hy in die kryt as ’n professionele bokser. In hierdie tyd word hy ’n aanhanger van Islam en verander hy ook sy naam na Muhammad Ali. Sy loopbaan het aangehou tot 1983, want Ali kon nie met geld werk nie. Boonop het hy vier vrouens gehad en ’n swetterjoel kinders wat binne die huwelike, sowel as buite die eg, gebore is. Vir Ali was boks die enigste manier waardeur hy iets kon bereik. Sy rykdom is uitgebuit deur vele geldsoekers rondom hom wat nie Ali se balnge op die hart gedra het nie. In 1986 is Parkinson se Siekte by hom gediagnoseer, moontlik veroorsaak deur die baie houe wat hy teen sy kop gekry het in die kryt. Hierdie flambojante bokser sal nie sommer vergeet word nie. “Float like a butterfly, sting like a bee” sal vir ewig met die groot bokser vereenselwig word. Phyllis Green

Being Kari, Qarnita Loxton (Kwela, R240)

Op Valentynsdag vind Kari du Toit uit dat haar man, Dirk, haar verkul het. Haar Moslem-familie ken haar as Karima, maar hulle is vervreemd sedert haar huwelik met ’n Afrikaanse man wat nie deel is van hul kultuur nie. Om alles te kroon, sterf Kari se geliefde ouma op dieselfde dag, en sy moet weer kontak maak met haar familie om simpatie te betuig en haar ouma se lewe te vier. Die verhaal van Kari, haar vriende en familie en haar soeke na ’n eie identiteit trek lesers sonder hul medewete in. Dis baie moeilik om op te hou lees, veral wanneer die hegtheid van haar familie met hul eie kulturele gebruike oopgemaak word vir diegene wat vanuit ’n ander agtergrond hierna kyk. Ondanks die erns van Kari se probleme, is daar meer as genoeg lagwekkende, ligte oomblikke in hierdie pretensielose boek. – Mariette Postma

Courage to lead: leadership lessons from Kilimanjaro, Daphna Horowitz (Jacana, R265)

’n Inspirerende werk wat deur alle soorte leiers benut kan word, met kort hoofstukke wat vinnig gelees kan word.Elke hoofstuk begin met ’n begeesterende gedagte, en eindig met ’n leierskapuitdaging. Die skryfstyl is sonder fieterjasies en duidelik, en die vrae in die uitdagings sal tot elkeen in die groep spreek.Die boek het foto’s van Kilimanjaro asook duidelike diagramme wat deelnemers bewus sal laat bly van hul einddoel.Elkeen van die 24 lesse is duidelik onderskeibaar van die ander en het ’n eie fokus, soos die eerste drie wat onderskeidelik handel oor ’n groot uitkoms wat ook deur moeilike tye nagestreef kan word; alles moet bevraagteken word, en Les 3 gee die opdrag dat tyd spandeer moet word aan nadenke en dat ’n mens jou intuïsie moet nastreef.Vir diegene wat die boek wil aanskaf ter voorbereiding van ’n Kilimanjaro-tog, word ’n tydlyn verskaf wat entoesiaste lei vanaf die voorbereiding voor die eerste dag en deur die Umbwe-grot. Twee dae word by die hoogte van Barranca deurgebring, en Barafu word uiteindelik op die vyfde dag bereik. Leiding word gegee om die terugtog oor dae ses en sewe aan te pak. – Mariette Postma

Edith and Oliver, Michèle Forbes (Orion UK, R295)

’n Historiese roman vir kieskeurige lesers. Dit speel in Ierland af en handel grotendeels oor die gedoemde liefdesverhouding tussen Edith en Oliver. Hy is ’n kulkunstenaar of goëlaar, terwyl Edith hom op die klavier begelei. Edith en Oliver ontmoet in Belfast in 1906, trou en hul tweeling, Agna en Archie, verskyn. Die romantiese begin van hul lewens saam word getoets deur die werklikheid wanneer Oliver al minder tyd met sy nuwe gesin kan deurbring en sy moontlikhede vir optredes al minder begin raak in die harde vermaaklikheidswêreld. Die skryfstyl van hierdie boeiende verhaal is poëties en gelaai met metafore, soos Oliver wat ’n slegte tand uit Edith se mond trek. Die gelade betekenisse laat lesers nadink oor die uitwerking van kinderdae op die res van ons lewens.  ’n Heerlike lees met ’n baie interessante storielyn waarvoor jy jou snesies moet gereedhou.  - Mariette Postma

Selling Lipservice, Tammy Baikie (Jacana, R260)

Stel jou dié wêreld voor: Taal bestaan nog, maar dit word beheer deur bose medici en bemarkers. Alle mense verloor op min of meer 18 jaar oud weens’n beroerte hul vermoë om self taal voort te bring. Dit word as ’n soort mondigwording beskou, waar die mond gesnoer word. Ná die beroerte kan volwassenes net praat met die aanwending van ’n plakpleister. Die pleister word vooraf gelaai met taal wat te doen het met ’n spesifieke handelsmerk, en die mens wat die plakker dra kan net taal uiter wat in lyn is met die handelsboodskappe van die produk wat bemark word. Totaal gek! Mense kan dus praat, maar van ware gesprekke is daar nie sprake nie. Almal klink soos ‘n lopende advertensie.Dís die wêreld wat Tammy Baikie in haar debuutboek vir lesers skep – kompleks, slim en vol meesterlike woordspeling. Die dialoog tussen karakters is vlymskerp en soms histeries soos hulle sukkel om te sê wat hulle wil, met die beperkte frases en woorde wat tot hul beskikking gestel is. Almal hanteer dit anders. Daar is ’n groep rebelle wat besluit om eerder plakkerloos te gaan en nooit weer te praat nie, wat ook beteken dat hulle geen burgerlike voordele geniet nie en soos uitgewekenes moet lewe. En dan is daar weer dié wat hul gegewe handelsmerk totaal en al omarm en hul lewe daarop toespits om vir die handelsmerk te werk. Hulle word as suksesvolle burgers beskou. Ons ontmoet Baikie se hoofkarakter op die aand van haar beroerte, en sy is in opstand. Frith is nie soos die ander mense wat gedwee hul lot aanvaar nie. Frith is anders – in denke en in’n vreemde vaardigheid wat sy het dat sy met haar tassin kan proe. Vir hoe lank kan sy dit wegsteek?Ondersteun gerus ons plaaslike talent en koop dié boek. Dis een van die slimste boeke wat ek nog gelees het en as jy hou van woorde gaan jy tot in jou tone lekker kry vir hoe Baikie woorde skep, kombineer, afbreek en verdraai in die nagmerriewêreld van Selling Lipservice. Baikie werk as vertaler, meestal in die advertensiewese en het nou interessant genoeg ’n boek geskryf wat totaal en al onvertaalbaar sou wees.  - Helen Schöer

Everest Untold, Patrick J Conroy (Jacana, R250)

Die skrywer was in 1996 ’n jong radio-joernalis wat uit Nepal verslag moes lewer oor die eerste Suid-Afrikaanse span wat die berg Everest aangedurf het. Dit was die jaar nà die land se Rugbywêreldbeker oorwinning en daar was met groot afwagting uitgesien na die klimmers se poging. Wanneer Nelson Mandela op die span se satellietfoon bel om hulle voorspoed toe te wens, is dit Conroy wat die oproep antwoord.

Met min werksondervinding en feitlik geen ondersteuning van sy werkgewer nie, bevind hy hom kort nà sy aankoms in die middel van dramatiese gebeure. Gedurende die maand wat hy in die basis teen die hange van Everest deurbring, sterf verskeie klimmers. Maar twee Suid-Afrikaners bereik wel die spits en keer veilig terug. Een lid van die span verdwyn op Everest en dis Conroy wat die nuus van sy vermeende dood aan Suid-Afrika moet oordra. Teen daardie tyd het hy reeds in so ’n mate met die span geassosieer dat hy nie langer die onpartydige joernalis is nie. Twintig jaar later is dit iets waaroor hy steeds tob. Selfs al het die leser die storie destyds gevolg, is die boek ’n onvergeetlike vertelling. Die storie word gedra deur transkripsies van die radiogesprekke van die spanlede. Die spanning is voelbaar en die emosie rou. – Susan Purèn

I am Pandarus, Michiel Heyns (Jonathan Ball Publishers, R250)

In ’n gay bar in Londen sit ’n vreemdeling met ’n redigeerder en gesels. Die redigeerder luister met ’n halwe oor, want hy probeer om sy onlangse liefdesteleurstelling in ’n glas wyn te verdrink. Die vreemdeling beweer dat hy Pandarus is. Pandarus, bekend in die antieke geskiedenis as die beste boogskutter en goeie vriend van prins Hector van Troje. Die redigeerder dink dat hierdie vreemdeling dalk net van lotjie getik is, maar toe Pandarus ’n manuskrip voor hom neersit, is sy belangstelling genoeg geprikkel dat hy tog die manuskrip lees. Die twee mans stem ooreen om die volgende Vrydag weer te ontmoet.Die manuskrip vertel die verhaal van Troilus wat hopeloos verlief raak op die beeldskone Criseyde. Criseyde se pa is ’n verraaier wat Troje vir Griekeland verlaat het. Omdat sy die dogter van ’n verraaier is, is haar eer op die spel as sy openlik met ’n koning se seun ’n verhouding het. Troilus vra vir Pandarus om hom te help om vir Criseyde te sien. Pandarus is haar oom en kan help om haar eer te beskerm. Maar dit gaan nie so maklik wees nie en dan is daar ook nog die oorlog tussen Troje en Griekeland oor Helene wat deur Paris weggerompel is.Heyns vertel hierdie bekende verhaal vanuit Pandarus se oogpunt en al is die geskiedenis aan jou bekend, is die skryfstyl verfrissend en die humor plek-plek onverwags. Die temas van liefde, vriendskap en lojaliteit bly van die antieke tye tot nou, tydloos. -  Antoinique van Staden