Die spreekwoord sê: Uit die mond van die suigeling sal jy die waarheid hoor. En in hierdie kinderboek is dit gewis so.

See You in the Cosmos, Jack Cheng (Puffin Books, R160) is ’n lieflike verhaal! Dit bestaan uit transkripsies van opnames wat elfjarige Alex Petroski maak op ’n iPod. Hy wil dié toestel die ruimte inskiet met die vuurpyl wat hy self gebou het en gaan lanseer by ’n byeenkoms vir amateur ruimte- en vuurpylgeesdriftiges. Maar eers moet Alex by die byeenkoms wat in ’n ander staat as sy tuisstaat gehou word, uitkom. Hy begin sy avontuur saam met sy hond Carl Sagan, wat vernoem is na sy groot held. Die reisgenote op sy reis van Colorado na Nieu-Meksiko, Las Vegas en Los Angeles is ongewoon en eksentriek, almal ook opsoek na sin in die lewe.

Alex se grootste worsteling draai om drie vrae: Waar kom ek vandaan? Wie is daar in die buitenste ruim? Hoe kan ek braaf wees? Alex neem al sy gesprekke op en vra vrae oor goed wat hy dink die ruimtewesens oor ons wêreld behoort te weet. Deur die gesprekke leer Alex om bietjie meer sin van die lewe te maak. (En hierdie leser ook!) Dit berei hom voor vir die groot geheim wat hy oor sy pa gaan ontbloot. Alex het gedink sy gesin bestaan net uit sy oorlede pa, sy gekwelde ma en sy afwesige ouer broer. Min het hy geweet deur sy pa het hy nog familie waarvan hy nie bewus was nie.

Jonger lesers sal Alex se avonture geniet, maar vir ouer lesers lê die waarde van die verhaal in die filosofiese kwessies wat aangeraak word. Mens het sommer hoop vir die mensdom nadat jy hierdie tydlose verhaal gelees het. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

Kroniek van turf, Dolf van Niekerk (Protea Boekhuis, R160)

“Wat volg is in die Kollektiewe geheue gebêre as deel van ’n familiegeskiedenis wat byna twee eeue gelede in die Roggeland begin het en wat telkens met nuwe energie versterk is.”- Bl.118

Die novelle speel af oor ’n periode van ongeveer 200 jaar en omvat die strewe en stryd om grond in Suid-Afrika. Dit is in prosavorm geskryf en begin so vroeg as die Grensboere en sluit in: die Groot Trek, die Anglo-Boereoorlog tot die onlangse Bosoorlog. Kroniek van Turf sluit af met heel onlangse grondeise en restitusie, waar nodig.

Die onderwerp is goed nagevors en die boek is baie goed geskryf. Feite en fiksie word vermeng tot ’n vloeiende geheel. Alhoewel hierdie boek nie in almal se smaak sal val nie, sal ek dit beslis aanbeveel vir lesers wat van geskiedenis en ernstiger boeke hou. – Karin Behrens

FOTO: verskaf

History of Wolves, Emily Fridlund (Orion UK, R275)

Om in te pas en te voel dat sy aan iemand behoort, is waarna Linda hunker. Sy is 14 jaar oud en sy het nie baie vriende nie. By haar skool word sy name genoem en alhoewel sy nie heeltemal geboelie word nie, is sy ’n buitestaander. Sy bly saam met haar ouers langs ’n meer in die Amerikaanse staat, Minnesota. Hier kry sy ’n kans om in die woud te leef en die geheime van die natuur te leer ken. Haar ouers was voorheen deel van ’n kommune, maar vandat die kommune opgebreek het, is Linda se ma ’n obsessiewe kerkganger. Hulle is nie ryk nie, en Linda se ma maak elke aand komberse vir mense in die tronk. Toe Paul en sy gesin aan die oorkant van die meer intrek, word Linda as kinderoppasser genader. Dit gee haar die geleentheid om bietjie uit die huis te kom, al is sy onseker of sy van Paul hou. Paul word ook eensaam groot, en al is daar vreemde dinge aan die gebeur met sy ouers, glo Linda dat sy by die familie inpas en dat hulle haar nodig het.

Fridlund doen ’n ongelooflike werk met haar ondersoek na die kerk wat Mary Eddy Baker begin het. Sonder om enige oordeel te fel, kry sy dit reg om die tema van Christelike geloof en die vele fasette daarvan deeglik oop te sprei vir die leser om te ondersoek. Hierdie donker verhaal spook lank na die laaste bladsy nog by jou! - Antoinique van Staden

FOTO: verskaf

Different Class, Joanne Harris (Penguin Random House, R305)

Elke werkplek het maar sy kantoorpolitiek, maar die politiek by die privaatskool vir seuns waaroor dié boek gaan, is in ’n klas van sy eie – verskoon tog die pun. Hier word daar nie net geskinder en gekonkel nie, daar word moord gepleeg en leuens word vertel wat onderwysers in die tronk laat beland!

Die skool is in die knyp met geldsake en ’n nuwe hoof vol moderne idees word aangestel. Hy wil selfs meisies toelaat! Die ou garde sluk swaar daaraan en kom in protes. Dis baie vermaaklik, maar dis net een deel van die storie. Daar is ook ’n groter boosheid wat agter die skerms aan die knoei is, met donker motiewe wat die hare laat rys.

Tot kort voor die einde van die boek glo jy jy weet wie die moeilikheidmaker uit die verlede is wat tot die skool se ondergang gelei het. Maar, soos dit ’n goeie sielkundige riller betaam, word alles wat jy gedink het jy weet in die laaste deel van die boek op sy kop gedraai. Lekker!

Harris se boek Chocolat was ’n blitsverkoper, maar hierdie boek het veel meer om die lyf. Skoolseuns is glad nie so onskuldig soos hulle lyk nie.  – Helen Schöer

FOTO: verskaf

A really good day, Ayelet Waldman (Little Brown, R295)

Die boek vertel die storie van die skrywer se maand lange avontuur waarin sy eksperimenteer met LSD by wyse van mikro-dosering (die inname van die dwelm in dosisse so laag dat dit nie hallusinasies veroorsaak nie) in ’n poging om verbetering te bring aan haar buie, haar huwelik en haar lewe.

Die skrywer vertel dat sy jare vroeër gediagnoseer is met ’n variasie van bipolêre steurnis en alles op die proef gestel het: medikasie, meditasie, joga, psigiaters en sielkundiges - met geen sukses.

Sy word geboei deur die werk van James Fadiman, ’n sielkundige en navorser wat die effek van mikro-dosering bestudeer.

A really good day vertel ’n regte goeie storie. Een wat lesers sal laat dink hoe dwelms geklassifiseer word en hoe chemie ons denke oor persoonlikheid kan verander. - Nadia de Jongh

FOTO: verskaf

The dream house, Craig Higginson (Picador, R220)

Patricia moet al die besluite neem wanneer hulle oppak om van hul plaas in Natal na Durban te trek, aangesien Richard seniele dementia het en opgepas moet word om te keer dat hy verdwyn.

Die verhaal speel af in ’n paar dae, met baie herinneringe en terugkyk oor ’n leeftyd wat weggepak moet word.

Die verhaal word deur verskeie karakters vertel. Dit laat die perspektief voortdurend skuif en skep nuwe insig. Looksmart is die interessantste karakter en kom ná baie jare terug na die plaas om Patricia te konfronteer. Vir haar was hy soos ’n eie kind, weens omstandighede. Beauty en Bheki is die enigste werkers wat op die plaas oorbly en blyk onbewus van hul regte te wees, anders as Looksmart. Die temas van rassisme en blinde geloof in die eie, koloniale regte word kundig uitgebeeld en sou lesers se sienswyses kon beïnvloed vanweë die transformerende krag van die teks. Die beste boek wat jy nou kan lees oor Suid-Afrika se unieke onlangse geskiedenis. – Mariette Postma

The Hundred-Year House, Rebecca Makkai (Jonathan Ball, R200)

Die jaar is 1999 - kort voor die draai van die eeu. Zee en Doug woon in die ou waenhuis op haar ma, Grace, se landgoed, Laurelfield. Zee is ’n literêre professor en Doug ’n sukkelende skrywer wat probeer om ’n boek te skryf oor ’n nie-so-bekende digter.  ’n Digter wat glo gedurende die afgelope 100 jaar meer as een keer Laurelfield besoek het, in die tydperk toe Laurelfield ’n kunstenaarskolonie was. As Doug maar net toegang tot die solder (en die dokumente wat daar gestoor word) kan kry, kan hy dalk meer te wete kom oor die Laurelfieldse besoekers. Maar Grace bly hardkoppig sy versoeke systap asook enige vrae rondom haar verlede. Watter geheime dra hierdie huis en is daar regtig spoke in die huis, of is dit die huis self wat besluit wie bly en wie gaan?

’n Baie slim geskryfde verhaal, wat begin by die hede en terugstap deur die afgelope 100 jaar tot die tyd wat die huis gebou is. Antwoorde waarvan jy nie die vrae ken nie, word duideliker soos wat die tyd terugdraai. Voorwaar baie interessant.- Alma Liebenberg