Op die flapteks van Vandag wil ek my blou skoene dra (Naledi, R175) skryf hy dis sy ryp-word-bundel, sy geskenk aan homself. Hy het dit vir sy eie plesier geskryf.

In die gedigte skryf hy oor gewone goed soos dat hy eendag wil “aftree in ’n huis vol kitare met ’n uitsig oor die see”, hy wil “weer sonopkomste brei soos ’n nuwe trui”, en “vandag wil [hy sy] blou skoene dra, want vandag is ’n blou dag”. Hy bepeins sy lewe wat was en hy kyk vorentoe met die versugting van hoe hy graag sy lewe sal wil hê.

Dis ’n intens persoonlike bundel wat insig gee in die lewe van iemand wat vir jare al in die openbare oog is; wie se lewe in die verlede in koerantopskrifte uitgebasuin is. Die Koos in hierdie bundel is heeltemal in teenstelling met die Koos wat baie mense in hul kop het – die wilde musikant met sy drugs, drank en rock and roll. In dié blaaie vind jy ’n rustige Koos, ’n voorstedelike man, gemaklik in sy vel. Hy het vrede gemaak met wie hy is. Soos hy self skryf: 

ek is ’n oorgewig sekslose reggemaakte huisman. dis wat ek is en dis al wat ek wil wees.

– die reggemaakte huisman

Ek het per e-pos met Koos gesels oor die tydsverloop tussen bundels en waarom daar blou skoene op die voorblad van hierdie bundel pryk.

Jou jongste digbundel het maklik 20 jaar ná jou laaste een verskyn. Waarom so ’n groot gaping tussen die twee bundels?

In die jare tussenin het ek merendeels my dig-lus gekanaliseer in die skryf van liedjies in. Dit was deels omdat ek besef het uitgewers gee nie meer sommer ’n digbundel uit nie. Die klompie gedigte in hierdie bundel het ek oor die afgelope paar jaar vir my eie plesier geskryf toe ek ná ’n klompie donker jare weer in ’n baie goeie bui was en gelukkig met die plek waar ek beland het in my geestelike lewe. Ek het dit op die ingewing van die oomblik aan Naledi gestuur. Hulle het dit vir Daniel Hugo gewys en dit is tot my verbasing ’n week later net so aanvaar vir publikasie.

Skryf jy nou anders as toe?

My laaste gedrukte bundel, 20 jaar gelede, was Die tweede reën, uitgegee deur Bitterkomix. Ek raak sommer depressief as ek deur daardie boekie blaai. Daardie gedigte dateer uit die ergste fase van my afhanklikheid van dwelmmiddels. Die gedigte was vol desperate versugtinge, angs en wrokke. Baie dinge het gebeur in 20 jaar: ek is nou ouer, maar ek sien die lewe eenvoudiger en ek dra baie minder bagasie. My vrou en kinders het dalk baie daarmee te doen.

Wat was jou grootste les die afgelope 20 jaar?

Hierdie bundel is deur ’n resensent bestempel as “’n beskrywing van ’n godlose wêreld”. Dit is na aanleiding van ’n gedig met die titel “die dood van god”. Wat ek eintlik daarmee bedoel het, is dat ek God eers kon ontdek nadat ek mensgemaakte idees oor “god” ontgroei het. Mense wat slimmighede soek, wees gewaarsku: dis nie ’n intellektuele bundel of groot literêre kragtoer nie; maar eerder ’n eenvoudige tydsdokument van waar ek nou staan, in my lewe, in my geloof, en in my nuwe skoene.

Op die voorblad van Vandag wil ek my blou skoene dra pryk ’n paar Crocs. Watter tipe skoene het jy 20 jaar gelede gedra?

My gunstelingpaar skoene 20 jaar gelede was so ’n aaklige stink paar cowboy-boots wat ek vreeslik skeef uitgetrap het. Ek het hulle weggegooi toe ek vir Kannetjie ontmoet het, want hulle het my toonnaelswamme gegee! Ek hou van Crocs want mens se voete kan asemhaal deur hulle. Ek weet mense dink dis kommin, maar ek dra niks anders as Crocs nie. Ek het omtrent twaalf pare, maar hierdie bloues is die lekkerste van almal. Ek dra hulle veral by die strand.

Wat lees jy? Het jy ’n gunstelingskrywer of -boek?

Ek het baie gehou van Erns Grundling se reisboek, Elders. Dan is daar Maryna Blomerus se Meer as ’n metafoor wat my heeltemal omgeboul het. Onlangs het ek ook die werk van Adam Small weer ontdek. Vir ontspanning lees ek slapband-wetenskapfiksieboeke uit die vyftig- en sestigerjare; ek het ’n versameling van honderde van daardie stories! 

Bestel Koos se digbundel Vandag wil ek my blou skoene dra deur die woord “blou” te SMS na 41199.