En as jy dom is oor die koue, sal jy doodgaan daarvan. So sê Wolf79, een van die hoofkarakters in Fransi Phillips se nuwe roman, Liefde in die tyd van die internet (Queillerie, R265). Hanna, die ander hoofkarakter, meen weer (bl. 144): “Daar’s iets oor Moskou, dink Hanna terwyl sy saam met die wilde honde in die strate na Kozhukhovskaya-metrostasie begin te hardloop, wat jou laat hardloop terwyl jy eintlik op jou bed wil lê en huil. ’n Soort polsende ritme wat effens vinniger is as die maatslag van Barok-musiek, gebaseer op die klop van perdehoewe wat ’n koets trek.”

Die karakters en die verhaal het my begogel. Dit het ’n eie ritme wat my as leser nie wou laat los nie. Ek wou ook net op my bed lê, maar om die verhaal weer en weer te lees.Hanna vlug uit Suid-Afrika, weg van die prokureur vir wie sy werk. Sy gaan na Rusland, waar sy as Engelsonderwyser in Moskou ’n bestaan moet voer. En waar sy verlief raak op ’n student, Wolf79. Phillips se verhaal is soos ’nmatriosjka-pop – ’n verhaal binne ’n verhaal, binne ’n verhaal, binne ’n verhaal … Die Russiese kultuur, kuns en kreatiwiteit, politiek, sosiale media, die internet, aardse lyflikheid, tydsgees en die aard van die skryfproses kom alles ter sprake soos die verhaal hom afspeel. Vir hierdie leser is dit moeilik om die boek kortliks op te som. Al wat ek weet, is dis een van my beste leeservarings van die jaar!  

Liefde in die tyd van die internet

Ek het per e-pos met Fransi Phillips gesels oor Liefde in die tyd van die internet.

Jy het al in omtrent elke moontlike genre geskryf. Het jy ’n voorkeur-genre, beplan jy om in ’n spesifieke genre te skryf, of skryf jy soos ’n storie homself aanmeld?

Ek skryf soos ’n storie, of gedagte, homself aanmeld. Ek weet daar bestaan so iets soos genres, maar ek twyfel of dit veel met my uit te waai het. My vroegste werke is soms prosagedigte genoem, wat beteken dit het tussen genres geval. Soms dink ek dit sal mooi wees as mens ’n roman uit prosagedigte kan opbou. So iets wil op die oomblik in my kop begin vorm. ’n Klomp klein verhale binne ’n groter verhaal, gegrond op die chaosteorie. Soms dink ek mens kan verduidelikings van die kwantumfisika in poësie omskep. Soms dink ek daar’s nie veel verskil tussen ’n gedig en ’n foto nie. Soms is dit moeilik om te onderskei tussen ’n liegstorie en ’n verhaal.

Wat was die vonk vir Liefde in die tyd van die internet ... ’n karakter of ’n gebeurtenis?

Miskien ’n skaduwee. Die storie het in die Kalahari begin, waar ek video’s gemaak het van veranderende skaduwees.

Hoe het dit gebeur dat jy self ’n karakter in die verhaal is? Het jy dit van die begin af so beplan

Eintlik het ek gewonder hoe ek gaan cope met al die moontlike kritiek. Dit lê mens aan bande om heeltyd te dink: hier gaan kritici oor dit kla, en daar oor dat. Toe sorteer ek hulle maar sommer binne-in die verhaal uit. As hulle my nou kritiseer vir dit of dat, beaam hulle maar net Hanna se kritiek op Phillips, wat beteken hulle word self deel van die spel wat hulle kritiseer.

Maar op ’n ernstiger vlak het die verhouding tussen karakters en skrywer geleidelik ontwikkel in ’n meer universele spel tussen vrye wil en uitgelewerdheid aan hoër magte en omstandigdhede buite hul beheer, met Phillips wat uiteindelik bieg: “Ek is nie God nie. God is God. Ek is net soos julle, deel van ’n verhaal.” Die kreatiewe proses, waarin karakters enersyds hul eie lewens moet leef en andersyds uitgelewer is aan ’n werklikheid buite hulleself, vorm ’n parallel met die menslike toestand.  

Op bl. 23 sê Phillips: “Ja, ek verkies ook feëverhale bo die werklikheid, maar ek is nou al bietjie te oud om die werklikheid te ignoreer.” Voor op die omslag van hierdie boek staan dis ’n stadsprokie. Is hierdie ’n sprokie/feëverhaal?

’n Sprokie is die manier waarop mens jou aan die werklikheid verwonder. Oersprokies is uit die werklikheid gebore. Ek dink selfs in sy nugterder oomblikke is hierdie storie net ’n haarbreedte verwyder van ’n sprokie. Phillips maak ook geen geheim van die feit dat Hanna en Wolf79 net twee karakters in ’n verhaal is nie, maar dan relativeer sy weer die betekenis van fantasie wanneer sy sê: “Ek is net soos julle, deel van ’n verhaal.” Wat die verhouding tussen werklikheid en fantasie betref, gryp Liefde in die tyd van die internet in ’n groot mate terug na my eerste twee bundels prosagedigte, Die horlosie se wysers val af en Sewe-en-sewentig stories oor ’n clown.

Hoe skep jy jou karakters? Meld die fisieke eienskappe eerste aan of kry jy ’n gevoel van die tipe persoonlikheid voordat jy weet hoe hulle lyk?

Almal verskil. Wolf79 se voorkoms was maklik: hy was ’n straight Nureyev wat ’n vloot skepe besit. Hanna was eers net ’n arty, verlore klein hoer, wat geleidelik ontwikkel het. Haar voorkoms is ’n mengsel tussen La Ghirlandata van Dante Gabriel Rossetti en prinses Charlotte van Monaco.

Baie van die karakters wat in jou verhaal genoem word, is regte mense, soos kunstenaars Liekie Fouché en Diek Grobler, galery-eienaar Thea Nigrini, ens. Waarom gee jy regte mense ’n rol in die verhaal?

Kreatiwiteit is ’n spel tussen werklikheid en verbeelding, en wie maak die reëls? As ek ’n regte stad soos Moskou of Pretoria as agtergrond mag gebruik, kan ek maar net sowel regte mense ook gebruik. Ek vra egter altyd die mense se toestemming. Ek het vir Diek Grobler gevra: “Gee jy om dat Hanna jou skilderye wat haar lover by jou gekoop het, steel om saam met haar Moskou toe te vat?” Toe sê hy: “Nee, net solank iemand daarvoor betaal het.”

Doen jou karakters altyd wat jy vir hulle beplan of neem hulle soms die storie op ’n ander loop?

Ek beplan nie veel nie. Ek het ’n begin en ’n einde. Die karakters moet, binne die beperkings wat die storie stel, self van die begin af hul pad na die einde baan. Onthou dat Wolf79 in ’n stadium vir Phillips gaan wurg het om die verhaal in die rigting van ’n gelukkige einde te dwing. :-)

Jy lewer baie sosiale kommentaar in hierdie boek. Is jy ’n betrokke mens met definitiewe opinies?

Ek is betrokke by alles wat my verbeelding aangryp, en ek haat skynheiligheid.

Ek het in Rusland geleidelik bewus geraak van die geweldige wanopvattings oor die land, wat op sy beurt weer die gevolg is van ’n ongekende propagandaveldtog. Hoe meer ek bewus raak van die redes vir hierdie propagandaveldtog, hoe groter is die afgryse waarmee dit my vervul.

Hoe het die internet kuns en kreatiwiteit beïnvloed?

Wat die invloed van die internet op beeldende kuns betref, sal mens seker ’n doktorsgraad in kunsgeskiedenis kan skryf. Mens sal byvoorbeeld kan kyk hoe ’n rigting soos Appropriation Art in die beeldende kunste teer op die beelde wat die internet aan die kunstenaar beskikbaar stel, met inagneming van die feit dat die tweedehandsheid van hierdie beelde enersyds die oorspronklikheid van werke gaan bedreig in ’n middelmatige kunstenaar se werk, en andersyds nuwe wêrelde gaan oopmaak in ’n sterker kunstenaar se werk sonder dat die vindingrykheid van die sterker kunstenaar deur die toeëiening van beelde uit ’n oorversadigde Westerse tradisie verswelg gaan word.

Op bl. 48 in die boek maak Phillips die stelling dat kuns ’n geykte kategorie is, en dat die werklike kreatiewe mense dié is wat buite die kuns vir hulleself ’n wêreld op die internet kan skep, soos Elsibe Loubser McGuffog wat ’n hele leefruimte op Facebook maak, en Rebekka van Rebekka’s Antiques wat ’n pragtige winkel van antieke juwele op Facebook begin het.

As ek die antwoord op jou vraag beperk tot Liefde in die tyd van die internet, sal ek sê: As daar nie ’n internet was nie, sou Hanna, in plaas van om Rusland toe te gaan waar sy vir Wolf79 ontmoet het, nou nog in die prokureur se kantoor “gewerk” het. Die storie sou eenvoudig nie gebeur het nie.

Ek self gebruik Facebook dikwels doelbewus om te sien op watter maniere ek myself moet uitdruk om tot lesers deur te dring: met watter soort formulerings skiet jy reguit in ’n leser se hart in. Dis ’n soort oefening ter verfyning van die skryfproses.

 
Moskou. FOTO: Fransi Phillips

Wolf79 sê op bl. 162 vir Hanna “koue in Rusland is soos misdaad in Suid-Afrika. Dis gevaarlik, en as mens dom is, sal mens doodgaan.” Vir iemand soos ek wat nog nooit in Rusland was nie, klink dit nogal vergesog. Is die koue werklik so erg?

Een ding van die Russiese winter wat lekker is, is dat dit onmoontlik is om te oordryf. Hoe vergesog ’n mens se storie ook al is, die werklikheid is altyd erger. Daar is aspekte van die koue wat ek ná ses jaar in Rusland nog nie werklik begryp nie. Een voorbeeld is die sogenaamde permafrost wat nooit smelt nie, wat uit die fondasies optrek in die mure en vloere van geboue, en wat maak dat ’n mens selfs in die somer ’n verskriklike keelseer kan kry as jy net vir een aand binne die woonstel kaalvoet loop op die houtvloere. Blykbaar kry mens ook chroniese rugpyn daarvan. Daar’s ook iets wat hulle “swartys” noem. Dis onsigbare, dun lae ys wat op sypaadjies vorm en waarop mens jou rug of nek kan breek. En as jy val en ’n been breek op die gladde ys, en daar is niemand wat jou help nie, is jy binne ’n kwartier verkluim. Daarom sien mens nogal baie ambulanse in die winter. By -35 grade Celsius verander die lug wat jy inasem in ys en jou oë vries vas in jou kop as jy vergeet om hulle gereeld te knip. Aan die ander kant is die Russe baie bewus van die gevare, en sal hulle iemand in nood altyd help. Hulle is ook heel geduldig as jy in hulle vasloop omdat jy met vyf musse oormekaar sukkel om hul teenwoordigheid te hoor of aan te voel terwyl jy dronk van die koue voortstrompel.

Was daar iets waarmee jy gesukkel het in hierdie boek, of was dit ’n relatief moeitelose skryfproses?

Hierdie een was baie maklik, ten spyte van die feit dat ek van tienuur die oggend tot tienuur die aand klasgegee het. Behalwe vir die stukkies in die Kalahari is die boek hoofsaaklik op die lawaaierige metrostasie tussen klasse geskryf.

Hanna en Wolf79 kom tog uiteindelik by mekaar uit en die leser kan die afleiding maak dat hulle happy ever after gaan wees. Glo jy nog in die liefde?

Ja, veral liefde in stories, en ek leef vir die grootste deel van my lewe in ’n storie.

Jy gee nes jou karakter Hanna Engelsklasse in Rusland. Is haar ervarings met haar studente op jou eie lewe gegrond?

Half en half. Ek het byvoorbeeld wel ’n skeepsmagnaat as student gehad. ’n Baie fassinerende man by wie ek geleer het hoe hierdie soort mense se koppe werk. Maar Wolf79 berus ook baie op fantasie, en die fassinasie wat ek van jongs af met Nureyev gehad het.

Waar woon jy in Rusland en is dit lekker om daar te woon?

Ek bly gewoonlik waar die skole vir my blyplek gee. Hierdie jaar was dit in Zheleznodorozhny, die dorp buite Moskou waar Tolstoi se Anna Karenina voor die trein ingespring het. Mens kon haar spook in die nagte op die dorpsplein sien dwaal, soms alleen en soms tussen die mense. Ek het haar ook eenkeer in die ysige wind hoor huil.

Twee jaar terug was my woonstel naby die middestad op die Moskourivier. In die somer het die son eers teen elfuur in die aande heeltemal ondergegaan, en teen twee- uur se kant weer opgekom, en tussen daardie tye het die mense op die bote en in Gorky Park so hard gesing dat mens in elk geval niks kon slaap nie.

En voor dit was ek in Peredelkino, naby die woud waarheen Boris Pasternak en ander skrywers in die vorige eeu vir die destydse Sowjetregering gevlug het. Aan die een kant van daardie woud is daar ’n klein kapel, waar Hanna en Wolf79 haar kat gaan begrawe het, en aan die ander kant ’n Kremlin van kerke.

Partymaal is die mense met wie mens ’n woonstel moet deel, ’n bietjie minder lekker: ’n baasspelerige Tunisiër met die naam Sondes in Peredelkino en ’n bulimiese Indiaan in Zheleznodorozhny.

Ek is die hele tyd in Rusland in ekstase oor alles wat ek om my sien gebeur, maar my lyf sukkel om aan te pas: ek is die hele winter deur siek van die kinders se verkoues in bedompige klaskamers, en as ek dan uitgaan voel dit of ek gaan vrek van die ysige lug wat ek moet inasem.

Eenkeer het ek op Facebook geskryf: as mens genoeg van ’n dromer is om in Rusland te wil bly, is jy te veel van ’n dromer om hier te kan oorleef.

Franis Phillips in Rusland