In SARIE se Desember-uitgawe verklap die skrywers watter boeke hulle vir Kersfees wil gee.
Deon Meyer

Deon Meyer:

Vir my lewensmaat Marianne wil ek Evelyn Marais se drieluik gee — Huis van Herinnering, Huis onder die Bessieboom en Huis tussen die Rante. Sodat dit vir Marianne kan inspireer om aan die skryf te kom.

Vir die kinders, omdat elkeen deur dié skrywer en boek verryk en verruim sal word:

Vir Lida, Paul Gallico se Flowers for Mrs. Harris. 

Vir Johan, Fletch van Gregory McDonald.

Vir Mart-Marie, David Walker se beeldskone Geordie.

Vir Marette, The Prince of Tides van Pat Conroy.

Vir Hannes, Jack: Straight from the Gut, die biografie van sakeman Jack Welch.

Vir Bekker, J.G. Ballard se Empire of the Sun.

Martin Steyn

Martin Steyn:

Ek wil graag ’n eksemplaar van Swartval vir Sandra Prinsloo gee. Want ek dink sy sal fantasties wees as die ma. Sy het die talent en die ervaring om jou te laat glo hierdie karakter is alles wat sleg is en dan, op ’n subtiele manier, jou ’n skrefie insig te gee oor waar die karakter vandaan kom, dat daar binne-in die monster eintlik net ’n mens is. Dis onthutsend wanneer dit gebeur en benodig ’n spesiale talent om reg te doen. Natuurlik is my motief vir die geskenk heeltemal onsuiwer, maar dink net vir ’n oomblik aan Kathy Bates in Misery. En sê vir my dit sal nie wonderlik wees om te aanskou hoe Sandra Prinsloo so iets doen nie.

 

Annelie Botes

Annelie Botes:

Ek sal graag vir elke vrou in die land ’n eksemplaar van Women who run with the wolves van Clarissa Pinkola Estés wil gee. Dis ’n boek van onskatbare emosionele waarde vir ons as vrouens wat so halsoorkop lewe, en dikwels kompleet vergeet wie ons is en waarheen ons op pad is. Ons trap net water, en trap nogmaals water. Veral omdat die boek gegrond is op die uitleg van sprokies, betower dit my. Ek het die boek seker stuk-stuk al twintig keer gelees, en vir my is dit bykans soos ’n heilige Bybel. My eie boek is stukkend gelees, met honderde kruisverwysings in die kantlyne. As my huis vandag moet afbrand en ek het die kans om nét een boek te gryp, sal dit hierdie boek wees.

Sophia Kapp
 

Sophia Kapp:

’n Boek oor die bome in die Krugerwildtuin. Vir my pa. Hy het hierdie jaar 82 geword, en sy droom is om nog een keer soontoe te gaan. As ek baie geld gehad het, het ek vir hom en sy liewe vrou elkeen ’n kaartjie voor ingesit sodat hulle dit saam kan beleef.   

 
Elsa Winckler

Elsa Winckler:

Ons oudste kleinseun, Lian, is 8 jaar oud en hy is mal oor lees. Hy het die Wimpy Kid-reeks verslind en is mal oor Roald Dahl se stories. Sy nuutste ontdekking is die Treehouse-reeks van Andy Griffiths en Terry Denton. Ek het gesien daar is ’n nuwe reeks wat Protea Boekhuis in Afrikaans vertaal het van David Walliams - dit lyk vir my soos iets waarvan hy ook sal hou. Hy kan so in die middel van ’n geselskap heeltemal wegraak in die storie - te wonderlik vir die ouma!

Santie van der Merwe

Santie van der Merwe:

Ek sal graag vir my liefste moeder Kristin Lavransdatter van Sigrid Undset wil gee. Die boek volg passievolle, koppige, toegewyde Kristin se lewenspad en belig die daaglikse lewe, geskiedenis, sosiale gebruike en politieke en godsdienstige onderstrominge van Noorweë in die veertiende eeu. Dit ontgin ook Kristin se innerlike konflik. In haar eie woorde: “All my days I have longed equally to travel the right road and to take my own errant path.” Dis nie ’n boek om sommer gou gou op ’n Sondagmiddag te lees nie. Behalwe dat die boek uit drie dele en 1 144 bladsye bestaan, is daar baie stof tot nadenke. Ek het dit proe-proe gelees, en dit bly my steeds by, ek blaai steeds terug na die vele vlaggies wat ek geplak het om dele te herkou. My ma is net so ’n ywerige leser soos ek, en ek is seker sy sal net soveel ontvlugting en bevrediging daarin vind.