FOTO: Joanne Olivier

Skrywer Maya Fowler se karakter, Alta, beskryf hom in haar jongste roman, Patagonië (Umuzi, R220), as ’n “ou fool” (bl. 45) en ’n “verdomde lafaard” (bl. 94) “wat so vaskleef aan die alledaagse dat hy nie eens sy verpestelike verslete baadjie vir ’n nuwe een kan verruil nie” (bl. 98). Tertius is Alta se man. Hy is ’n geskiedenisprofessor en het pas gehoor dat hy nie bevorder word nie. Hy probeer sy sorge vergeet deur saam met van sy studente te fuif. In sy dronkenskap kan hy nie juis onthou wat gebeur het nie. Toe sy eskapades op sosiale media uitgebasuin word, konfronteer hy die student en daar is ’n nare ongeluk. Onmiddellik maak Tertius soos sy oupagrootjie Basjan wat toenterjare na Patagonië gevlug het toe die wêreld vir hom tydens die Anglo-Boereoorlog te warm geword het. Alta moet die kastaiings uit die vuur krap. Maar sy laat haar nie so maklik agterlaat nie en volg hom na Patagonië.  

Die vier hoofkarakters, Tertius, Alta, Basjan en Salome (Tertius se oumagrootjie), vertel afwisselend vanuit hul oogpunt hoe die gebeure ontvou het. Die verhaal spring naatloos tussen 1902 en 2015. Ek het niks van die karakter Tertius gehou nie, want hy is inderdaad ’n lamsak. Tog kon ek nie ophou lees om te sien of hy wel tot verantwoording geroep gaan word nie. Die twee vrouekarakters het veel meer in die broek en is vurig en vasberade. Salome het, nes Alta, onder moeilike omstandighede die man in haar lewe gevolg om te sorg dat hy pa staan vir die kind wat hy by haar verwek het. Soos wat die verhaal ontvou, reis jy saam met die karakters deur die dorre landskap van Patagonië. Daar waar hulle ’n heenkome probeer vind, ’n plek waar hulle ’n nuwe tuiste probeer skep. Dis ’n roerende verhaal wat deur boeiende karakters met humor en patos vertel word. Dit gee ’n mens ook insig in die dryfveer van die honderde Boere wat ná die Anglo-Boereoorlog na Patagonië is om hulle op plase in die onherbergsame gebied te gaan vestig.

Ek het per e-pos met Maya Fowler gesels.

 

Waarom woon jy in Kanada en wat doen jy daar?

Ek en my man was lus vir ’n avontuur, en Noord-Amerika is ’n allemintige kontinent met ongelooflike variasie in landskap en mense. Dis maklik om hierdie plekke vanaf Kanada te verken. Ons is ook besonder lief vir sneeu. Wat werk betref, doen ek dieselfde as in SA: behalwe dat ek skryf, is ek ’n vryskut-vertaler, -redigeerder en -proefleser, en ek help ontluikende skrywers met manuskrip-ontwikkeling. Sommige van my kliënte is in Suid-Afrika, sommige in Kanada. 

Mis jy Suid-Afrika?

Ja, beslis. 

Jou vorige boeke was vir jonger en ouer kinders. Het jy jou skryfstyl aangepas vir Patagonië, want dis ’nroman vir volwassenes?

In ’n mate, natuurlik, want die inhoud is beslis van ’n volwasse aard. Die aanpassing was maklik, want vir my kom ’n spesifieke styl van nature na vore met ’n spesifieke storiegegewe of stel karakters.

In jou jeugboeke raak jy altyd sosiale kwessies aan. Is dit weer so in Patagonië?

Ek probeer nie aspris sosiale kwessies raakskryf nie, maar sekere temas steek vanself kop uit na gelang van wie die karakters is, of die ruimte. In Patagonië kom daar wel sosiale kwessies uit: identiteit, die voortleef van Afrikaans (waaroor ek baie positief voel), die rol van die Afrikaner in sy samelewing (hetsy SA of Argentinië). Maar daar is ook ander menslike temas ter sprake, soos verraad, trots, wraaklus en liefde. 

Wat was die vonk vir die verhaal?

Toe ek baie klein was, het ons by ’n goeie familievriend van my pa in die Vrystaat gekuier. Daar het my pa vertel die oom se vrou, haar naam was Annette, is in Argentinië gebore, en dat sy Afrikaans was maar Spaans kon praat en alles. My mond het oopgehang, en die vonk het my al die jare bygebly.

Was jy in Patagonië om navorsing vir die verhaal te doen?

Ek was, ja. Dis ’n ongenaakbare stuk aarde daar. Baie soos die Karoo, waarvoor ek so lief is, maar droër, en die wind tier byna onophoudelik. Die foto van my op die agterflap  is in dié wind geneem; daarom is my oë toe! Interessant genoeg is Patagonië ’n enorme streek. Byna ’n derde van die oppervlak van Argentinië (wat ’n groot land is) tel as Patagonië, en die streek strek tot in die buurland Chili. Dis nie die hele Patagonië wat so droog is nie: daar is ook mere en pragtige berge, maar waar die Boere heen is, daar is dit droog.

FOTO: Maya Fowler


Jy dui op die titelblad aan dat die verhaal ’n fuga is. Waarom juis ’n fuga?

Die fuga is ’n meerstemmige musiekvorm, waarin een stem begin met ’n kort stukkie melodie, die tema. Dan verskaf ’n tweede stem ’n “antwoord”. ’n Derde stem herhaal die tema, en dan val nog ’n ander stem in met die antwoord. En so word die musiek vervleg. Al ken ’n mens nie noodwendig die naam nie, het amper almal al ’n fuga of twee gehoor. (J.S. Bach s’n hoor ’n mens baie.) Die musikale term kom van die Latynse woord fugare, wat sowel om te vlug as te jaag beteken, en dis presies wat in hierdie boek gebeur. Die vier stemme is natuurlik Salome, Alta, Tertius en Basjan: SATB, soos in sopraan, alt, tenoor en bas. Maar ’n mens hoef glad niks van musiek te weet om die boek te lees nie! Dis maar ’n speletjie wat ek speel – ’n ekstra laag.  

Is jy musikaal en bespeel jy ’n instrument?

Ek speel klarinet in ’n klarinetkwartet asook in ’n big band-orkes.

Jy skryf afwisselend uit die oogpunt van twee manlike en twee vroulike karakters. Was dit vir jou moeilik om vanuit ’n manlike oogpunt te skryf?

Nee, want enige karakter wat ’n mens skep, is ’n stap buite jouself. Ek is ’n vrou in my dertigs. Gestel ek skryf uit die oogpunt van ’n tienjarige meisie, of ’n vrou van 75. Ja, die geslag is dieselfde, maar dis darem ’n groot skuif. Dis nie so dramaties om uit ’n man se oogpunt te skryf nie. In elk geval, húlle [mans] doen dit al baie lank! Kyk byvoorbeeld na Flaubert se Madame Bovary.

Hoe het jy die karakters geskep?

Ek het geweet daar moet twee mans en twee vroue wees, en twee tydvakke. Ek het geweet die man in die vroeë tydvak, dus Basjan in 1902, moet ’n bliksem wees. En ek het geweet, omdat ek die fuga-struktuur wou volg en omdat ek glo die geskiedenis herhaal homself, daar moet eggo’s wees, parallelle gebeure.

Het jy die verhaal eers uitgeplot of het jy organies geskryf?

Dit was meer organies.

Tertius en Basjan het albei weggehardloop van hul omstandighede. Tog kon ek nie anders as om empatie met hulle te hê nie, al hou ek nie van hulle nie. Hou jy inherent van die twee?

Ja, ek hou van hulle, alhoewel ek natuurlik sterk bedenkinge het oor Basjan!

Wat wil jy hê moet lesers uit die verhaal put?

Ek wil graag hê hulle moet hulle in die storie verlekker, die tekstuur van Patagonië-Afrikaans geniet, die speletjies wat ek met volksliedjies speel. Hopelik sal hulle die reis- en avontuuraspekte geniet.