Sy eerste spanningsroman, Klikbek, het gewys Sidney Gilroy is ’n skrywer in ’n uitdagende genre wat jy nie vlak moet vat nie. Skryf kan hy skryf. Sersant Sollie Mthembu met sy vasbythouding is ’n boeiende karakter. Jy wíl hê die speurder van Bloemfontein se Parkwegstasie moet suksesvol wees. Gilroy verweef die hoofstorielyn soomloos met Sollie se persoonlike verhaal.

In Klikbek  moet Sollie hom na die Vrystaatse dorp Rhynveld haas toe die ryk boer, Tillman Wagenaar, verdwyn en die helfte van sy gesin in ’n plaasmoord uitgewis word. Hy moet ondersoek instel wat op die plaas Onverwacht gebeur het, maar word gou deur verwikkelde familieverbintenisse gekniehalter. Boonop kry hy te doen met die onderliggende spanning van die dorp se inwoners, wat almal op die een of ander manier van Tillman se rykdom afhanklik is vir hul en die dorp se voortbestaan. Wie baat die meeste by Tillman se verdwyning, was geld die motief, of het Tillman se rokjagtery iets met die saak te make? Sollie moet fyn trap om agter die kap van die byl te kom.

Gilroy se skryfstyl is beskrywend en meelewend en jy kan nie anders as om empatie met Sollie te hê nie. Sy tweede verhaal oor dié bulhond-speurder, Middernag (Human & Rousseau, R300), het pas verskyn. Wanneer Sollie se bevelvoerder, kaptein Brummelsdeur ’n kollega gevra word om te help met die ondersoek na die moord op ’n vierjarige meisie van Harrismith, besluit hy Sollie moet hom bystaan. Daar aangekom, het Sollie ’n vreemde gewaarwording. Op die misdaadtoneel besef hy daar’s ooreenkomste met ’n onopgeloste saak meer as ’n dekade gelede in Bloemfontein. Die Slagter van Universitas was een van die redes waarom hy speurder wou word (bl. 54). Op Harrismith lê daar baie donkerte onder die oppervlak en Sollie krap ’n onheilige nes van gebeure oop. Hoe pas Die Slagter in by dié nuwe ondersoek? Met vele kinkels hou die verhaal jou aan die lees tot die onvoorspelbare einde.

 

Ek het per e-pos met Sidney Gilroy gesels.

Vertel my waar jou skryfdroom ontstaan het? Wou jy van kleins af skryf?

Ek sal jok as ek sê ek wou van kleins af reeds skryf. Was ek goed met woorde? Nie noemlik nie, nee. Ek was maar ’n middelmatige Afrikaansleerling op skool. Waarvoor ek wel baie lief was, was lees. Sommer vroeg al het ek deur die jeugverhale in die klein biblioteek op my tuisdorp gedraf en toe, skelm-skelm, grootmensboeke begin lees. En ’n hele nuwe wêreld het vir my ontsluit. Daar was vir my niks lekkerder as om in die tydmasjien van ’n boek te klim en na ander plekke te gaan om ander mense daar te ontmoet nie. In 2015 het ek kortverhale begin skryf en in my onkunde stuur ek dit heel entoesiasties aan vir een van ons land se mees gerekende skrywers. En vergeet daarvan. Wonder bo wonder arriveer ’n koevert ’n paar weke later met my einste kortverhaal daarin en baie, baie rooi merke oor die teks. En heel onder aan die bladsy: “Moenie ophou skryf nie. Daar is iets groots aan jou skryfwerk. Werk. Werk. Werk aan jou kuns.” En dit is toe wat ek gedoen het

Skryf jy voltyds of beoefen jy n ander beroep ook?

Ek beny mense wat kan bekostig om voltyds te skryf. Ek dink dit is my groot droom: ’n paar hoenders en ’n swetterjoel katte iewers op die platteland, ’n sinkdakhuisie en ek wat besig is om my hart uit te skryf. Ek kan nie. Ek het rekeninge om te betaal. Bedags werk ek as bedryfsbestuurder vir ’n telematikamaatskappy. Op sigself ’n baie stresvolle en beduidende loopbaan. Om die twee te balanseer, skryf en werk, is ’n oneindige toutrekkery. Ek sal egter nooit ophou met skryf nie. Dis in my bloed.

Wat trek jou aan na spanningsverhale en waarom juis in dié genre skryf?

Ek is versot op die wisselwerking tussen leser en skrywer. Dit is iets wat hier teen woord 15 000 van ’n manuskrip spontaan gebeur – wanneer ek ook weet of die verhaal gaan werk of nie. Ek vermoed dit is dieselfde vir akteurs op ’n verhoog of dalk ’n sanger voor ’n gehoor. Iets kliek en jy raak bewus van die “ander” wat jou dophou. In my geval word my karakters en wat hulle doen en oorkom, dopgehou. Die leser is so deel van die spanning soos die gebeure en verhale in die boek. Dit is tog húl oordeel wat bepaal of hulle wel van ’n hoofstuk of karakter of verhaallyn gaan hou. Kat en muis. Dit is wat dit is. Die skrywer en die leser is in die mooiste tango vasgevang tussen paragrawe en hoofstukke en hoe die dans eindig is eintlik maar in albei se hande. Met spanningsverhale is die snaar, om ’n cliché te gebruik, stywer gespan as in byvoorbeeld romanses. En die karakters kan volksvreemd of doodnormaal wees. Die aksie. Die drama. Die intrige is wat die enjin dryf. Die ongeloofbare gee die toon aan. Die ontvlugting in die wete dat dit wat die leser so pas ingeneem het, wel tóg kon gebeur het.

Watter karakter in Klikbek het hom eerste by jou kom aanmeld en hoe het dit gebeur? 

Ek skryf agter karakters aan. Ek wens ek was een van daardie skrywers wat alles in gelid en gevlek in kolomme of op notaboeke kon beplan. Ek kan nie. Ek het al probeer. My skryfproses begin waar die flanse van ’n karakter begin vorm kry in my onderbewussyn en dan op die ingewing van die oomblik uit die waas stap om voor my te staan met ’n storie wat vertel moet word. Dis soos asemhaal vir my as dit by skryf kom. In Klikbek was Sias du Toit die eerste karakter wat met my begin “praat” het. En hoe langer ek geluister het, hoe meer karakters het by sy verhaal aangesluit. 

Wat was die aanvanklike vonk vir die verhaal?

Ek het ’n kleintjie dood aan toksiese manlikheid. Ons is so ’n gebroke samelewing. Hoe ons ons seuns grootmaak is ’n direkte oorsaak daarvan. Of eerder. Hoe ons nié ons seuns grootmaak nie. Afwesige vaders. Verwronge ideale van manlikheid. Toksiese nalatenskappe van wat veronderstel is om rolmodelle te wees. ’n Verlede wat swaar steun op die idee dat dit “maar altyd so” was en sal wees. Met Klikbek was die tema juis hierdie murmurering van manlikheid onder die oppervlak wat steeds in ons Suid-Afrikaanse samelewing spook. Die afwesigheid daarvan ook. Veral waar dit juis die seunkind faal. In Middernag verstel die fokus na die breër vraag: In watter tipe samelewing aanvaar ons ons lewe en wat laat ons vir ons kinders agter? Ons steek dinge in die nag weg, ja, maar eintlik is die donkerte reg voor ons oë, die heeltyd, so duidelik soos daglig.

Het jy van die begin af beplan dat daar meer as een verhaal oor Sollie Mthembu gaan wees?

Glad nie. Dit was ’n skoot in die donker en onbeplan. Sollie is ’n verskriklik moeilike karakter om te skryf. Deels oor sy inherente geaardheid en eienskappe waarmee ek hom geskep het en deels omdat ek en hy in vlees en gees so baie verskil. Ek gaan met verskriklike respek met hom om en juig saam met hom wanneer hy oorwin. En ek is teleurgesteld as hy wankel. Om hom te ken moes ek redelik baie navorsing doen. Hy is in werklikheid dele van vier of vyf mense met wie ek bevriend is. Ek het notaboeke oor hom. En dít op sigself is ’n truuk, want die man is ook maar stil en bedonnerd op sy manier. Ek sou graag wou hê dat sy verhaal tot die uiteinde vertel word. Dat mense sal kan terugkyk en sê: Daai outjie het ’n lewe gehad. Hy’s orraait. Al is hulle, soos ek, pole verwyder van wie en wat Sollie Mthembu is. Ek is baie bevoorreg om die speelruimte te hê om ’n karakter só te ontgin. Dit was nie beplan nie, nee, maar solank mense van hom wil lees, sal hy terugkeer. Tot sy verhaal natuurlik eindig.   

Hoe het Middernag begin – met die titel of met iets wat die gebeure in jou kop afgeskop het?

Twee jaar gelede, kort voordat Klikbek drukkers toe moes gaan, het ek gaan wegkruip in ’n wildreservaat aan die voet van die Outeniquaberge. Dit was ’n afgeleë plekkie en dig omring deur dennebos en peperbome. Ek was alleen daar en dit was vreeslik warm in die dag, maar as die wolke van die ooste af oor die rivier inwaai, bitter koud in die nag. So word ek een oggend wakker met ’n baie warm gewig wat op my bene rus. Toe ek afkyk, lê daar ’n lywige, gestreepte kat ewige rustig en slaap. Hy het kom skuil teen die bliksems wat buite woed. Die kat was half-wild, half-mak en moes deur ’n oop ruit ingekom het, besef ek slaperig en maak my oë toe. Toe die son die oggend opkom, verdwyn hy weer net so vinnig. Ek het as ’n nagedagte ’n piering kos vir hom voor die ruit gelos. En teen die aand het dit steeds net so gestaan. Die volgende oggend was dit egter leeg. Dit word toe ’n ritueel. Ek los kos wat hy ongesiens vreet en as die wolke saampak, sluip hy deur die oop ruit in. Die res van die tyd verdwyn hy in die ruigtes in. Met tyd het ons bevriend geraak en ek het begin wonder oor waarheen hy bedags gaan of wat hy doen voordat hy kort voor middernag soos ’n geruislose skaduwee op die rand van my bed verskyn. Dit is waar Middernag begin het. By die kat.

Waarom die Vrystaat as agtergrond vir die verhale gebruik?

Die Vrystaat is doodgewoon in my DNS. Ek is daar gebore, het daar grootgeword en dit is wat ek ken. Ek is ook verskriklik lief vir die vlaktes en die kranse en die mielielande en die grasvelde en die blou lug en die mense. Dit is waar ek tuis voel. Ek weet resensente praat van Vrystaat-noir en die feit dat dié milieu kwalik onlangs in die Afrikaanse letterkunde ontgin is, maar ek kan jou verseker – ek skryf daaroor omdat dit vir my mooi en kosbaar is en ek dit graag met lesers wil deel.

Wat verras jou die meeste van Sollie?

Sy weerbaarheid. Hy is so hardekoejawel as dit by sy werk kom, maar die rustigheid van self as die druk hoog is. Binne hom, weet ek, woed daar baie storms wat hy goed onder klep hou ter wille van die groter prentjie. Hy is ’n inherente goeie mens. Hy werk as ’n speurder, ’n taak wat op sigself onmenslike eise stel, watwou die mankerige toestand waarin staatsinstellings hulself bevind. Steeds is Sollie ’n goeie ou in murg en been. Hy glo werklik in ’n beter samelewing en hy streef daarna om op sy beskeie manier sy deel te doen om die vloedgolf van geweld en misdaad te keer. Hy het baie om oor te kla, maar hy doen dit so min. Ek dink dit is wat hom so diep onder my vel laat inkruip het, aanvanklik. Sollie se bereidwilligheid ten spyte van sy eie tekortkominge of die struikelblokke in sy eie lewe. Sy drif om nie op te gee nie ten spyte daarvan dat die positiewe uitkomste nie werklik vir homself gaan wees nie.

Plot jy die verhaal of skryf jy meer organies?

Ek wens ek kon volgens ’n resep skryf. Ek kan doodeenvoudig nie. Dalk is dit my Achilleshiel, die feit dat ek oor hoegenaamd geen formele opleiding in kreatiewe skryfkuns beskik nie. Ek skryf agter die karakters en hul verhale aan. Ja, ek sal rofweg beplan, maar wanneer ek my weer kry, het ’n karakter met die paragraaf, hoofstuk of boek weggehol! Dis eintlik lekker. Die kreatiewe keuse bly myne en deur die karakters is ek werklik vry tussen die letters en lyne. Ook vandaar seker die kritiek teen my skryfwerk. Te veel stories. Maar werklik, wie het dan nie ’n storie of ses om te vertel nie?

Waaroor moes jy spesifiek navorsing doen vir Middernag?

 Ek het heelwat navorsing oor psigopate en hul motivering en beweegredes gedoen. Veral hoe hulle dan funksioneer as klaarblyklike gewone mense sonder dat iemand werklik agterkom wie en wat hulle is. Ek het baie vrae gehad. Waarvandaan kom dié donker saad in hul are en wanneer presies word dit aangeskakel. Ook rondom wat hulle laat moor of ophou en of hulle ooit sal ophou. Dit was grusame werk. Ek het altyd gedink ek verstaan misdadigers. Ek was nie voorbereid op die ontdekking dat sommige sal moor sonder gewin nie. Baie van wat ek geskryf het, is op die ou einde uit die manuskrip gelaat. Die psige van die sielsieke was wat ek werklik wou vasvang. En dit was ’n moeilike taak om die antagonis aan die leser voor te stel en in hul agterkop te hou terwyl die verhaal ontvou. Die kruks was juis in die wete dat die onsienbare en die ongeloofbare dikwels die absolute boosheid tussen ons versluier.

Wat lê nou vir jou voor?

Ek het vier, vyf manuskripte waaraan ek werk. Sollie is twee daarvan. Sy volgende avontuur sal eersdaags na my uitgewer aangestuur word. Die ander manuskripte is glad nie spanningsverhale of krimi’s nie. Iets heeltemal buite my beginpunt as skrywer. En daaroor is ek baie opgewonde.