Soveel leeus is al uitgeskiet in die natuur, en dan is daar boonop die euwel van geblikte jag. Gelukkig is daar die stryders wat veg vir die voortbestaan van leeus. Meeste mense ken die naam, George Adamson. Hy was ’n bekende in natuurkringe, spesifiek vir die werk wat hy met leeus gedoen het. Die werk het hom selfs sy lewe gekos. Maar daarna het Gareth Patterson by hom oorgeneem om George se werk voort te sit.

Born to be free, Gareth Patterson (Jacana, R145)

Ek was gelukkig genoeg om Gareth persoonlik te ontmoet en saam hom te stap in die Knysnawoude.

Dit was met sy werk met olifante in die bos. Sy liefde vir diere en sy vasberadenheid om betrokke te wees by bewaring het my beïndruk. Gareth se boek, Born to be Free vertel die verhaal van drie leeuwelpies, Rafiki, Furaha en Batian wat wees gelaat is nadat hul ma doodgemaak is omdat sy ? koei aangeval het vir kos. Hulle is na George Adamson geneem sodat hy hulle kon leer om eendag in die natuur aan te pas. Maar nadat George deur wilddiewe vermoor is, was hul toekoms onseker. En net daar tree Gareth in die prentjie. Hy neem hulle na sy kamp waar hy saam met hulle leef en hulle vaardighede leer sodat hulle vry in die veld kan oorleef. Die roerende verhaal word vanuit Rafiki se oogpunt vertel. Dié storie plaas klem op hoe erg die bedreiging vir leeus deur die mens is. Vandag is daar net ongeveer 20 000 leeus in Afrika oor van die sowat 250 000 leeus van die verlede. Skokkend! Born to be Free is vir kinders geskryf. Tog sal enigeen emosioneel geraak word wanneer hulle die verhaal lees. - Phyllis Green


Cuddle Me, Kill Me, Richard Peirce (Struik Nature, R200)

Peirce het intensiewe navorsing gedoen oor die ware situasie in Suid-Afrika rakende die teel van leeus in gevangeskap en geblikte jag. Die ontstellende, maar broodnodige boek, verskaf duidelike argumente waarom hierdie praktyke beëindig moet word. Leeus word op groot skaal uitgebuit onder die dekmantel dat die bedryf leeus se voortbestaan in Suid-Afrika verseker. Die enigste mense wat voordeel daaruit put, is die plase wat toeriste honderde rande vra om ’n leeuwelpie te troetel, of die wat geblikte leeus vir jagters aanbied. Agter die skerms het Pierce gruwelike misbruik en verwaarlosing van leeus op die meerderheid plase gevind. Hy het met alle rolspelers gepraat om sodoende ’n gebalanseerde verslag te gee. Al die feite dui daarop dat dié leeubedryf in Suid-Afrika meer skade berokken vir die leeupopulasie wat reeds onder geweldige druk om oorlewing is. Mense soos Richard Pierce wat waagmoed aan die dag lê om feite rondom misbruik van diere vir eie gewin te ontbloot, is die ware helde in ons samelewing. - Phyllis Geen

  


Die seuns van Bird Island,
Mark Minnie & Chris Steyn (Tafelberg, R280)

Jare se ondersoekende joernalistiek, asook ’n ondersoek deur ’n voormalige polisieman het gelei tot hierdie boek waarin skokkende onthullings oor pedofilie en seksuele misbruik van drie NP-ministers gemaak word. Die gebeure het afgespeel in die laat 1980's kort voor ’n nasionale verkiesing waarin die NP om oorlewing geveg het. Die boek onthul hoe staatsbronne aangewend is vir die misdrywe en hoe daar van die hoogste gesag af gekonkel is om die smerige besigheid toe te smeer. Mark Minnie, ’n voormalige polisieman, het die aantygings aanvanklik ondersoek. Maar hy het homself die heeltyd teen ’n muur vasgeloop met die ondersoek. Dis ’n saak wat hom uiteindelik sy loopbaan in die polisie gekos het. Joernalis Chris Steyn het die fluisteringe van politieke vuilspel rondom dié gebeure ondersoek. Die twee het nou, 30 jaar later, hul kragte saamgespan om die volledige verhaal te ontsluit. Wat skokkend is, is hoe mense in magsposisies daardie mag misbruik vir persoonlike belang en hoe ver hulle sal gaan om hulself te beskerm.Die waarde van boeke soos hierdie lê daarin dat dit misdrywe en wangebruik van mag ontbloot. Iets wat noodsaaklik is in ’n demokratiese land.(Mark Minnie het selfdood gepleeg ná die verskyning van die boek)

- Phyllis Green

Steinhoff en die Stellenbosse Boys, James-Brent Styan (Lapa Uitgewers, R280)

Gedurende Desember 2016 was die Steinhoff-maatskappy  op Bloomberg se gesogte lys van dié Top-50 aandele om in 2017 dop te hou; die enigste maatskappy uit Afrika op dié lys. Op Maandag 4 Desember  2017 was ’n aandeel in die Steinhoff-groep R50.25 werd. Op Vrydag 8 Desember 2017 het dieselfde aandeel  se prys geval na R6.00.  In Steinhoff en die Stellenbosse Boys probeer James-Brent Styan agter die kap van die byl van hierdie insinking kom.
Styan begin by  die maatskappy se nederige ontstaan in Westerstede, Duitsland en hoe Markus Jooste se pad met die van Christo Wiese gekruis en die magtige Steinhoff gevorm het. Die vraag of daar niemand was wat onraad vermoed het nie, word beantwoord. Die gevolge van die insinking word ook bespreek aangesien min mense daarvan bewus is dat óók hulle deur die Steinhoff-debakel geraak word: “Hoe raak  dit jou? Die meeste batebestuurders het belange in Steinhoff gehad. Die grootste belegger was die Regeringspensioenfonds  (die GEPF) wie se bates bestuur word deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK). Dié fonds het R14 miljard verloor”. P139.
James Styan se skryfstyl en maklik verstaanbare taalgebruik, asook ’n diagram van die groepoorsig, die sleutelrolspelers en ’n afkortingslys maak die boek selfs vir leke toeganklik.
Daar is in Suid-Afrika alléén meer as 50 000 mense in diens van Steinhoff. Dis veral om hulle onthalwe dat ’n oplossing spoedig gevind moet word, alhoewel die prentjie vorentoe donker lyk. Ek moet die skrywer en uitgewers gelukwens met ’n boek wat inlig en nie op sensasie fokus nie. – Karin Behrens

How to Steal a Country, Robin Renwick (Jacana, R280)

Robin Renwick, Britse ambassadeur in Suid-Afrika gedurende die negentigerjare, beskryf hoe die politieke leierskap vanaf Mandela tot Zuma versleg het.
In die laaste nege jaar is daar geen werksgeleenthede geskep nie, amper geen ekonomiese groei nie en almal het armer geword behalwe dié aan bewind, hulle het multimiljoenêrs  geword. Zuma en die Guptas het ongeveer R200 biljoen uit die staatskas gesteel. Die boek is op Renwick se persoonlike kontak met die protagoniste en buitengewone invloed wat die Guptas verkry het, gegrond. Byna alle staatsbeheerde ondernemings, asook multinasionale maatskappye het deurgeloop.
Maar ten spyte van alles, het onafhanklike joernaliste, swart én wit, regters wat geregtigheid laat geskied, daarin geslaag  om ’n nie-rassige samelewing op te bou. Die boek word aan húlle, Madonsela en Gordhan, opgedra.
Renwick het volle vertroue in Ramaphosa om ons land weer hoop te gee, maar bevestig dat verandering wel sal kom óf deur na die waardes van Mandela en Tutu terug te keer óf die gevolge van die wanbestuur te dra. -    Linda Volschenk

HEIST, Anneliese Burgess (Penguin, R230)

Transito-rooftogte het in Suid-Afrika ’n daaglikse verskynsel geword en in die laaste maande het dit die land soos ’n vloedgolf getref. Die rowers is aan die wenkant, want die kriminele regstelsel is tot op die hoogste vlak deur korrupsie verlam. Anneliese Burgess neem die leser op ’n skokkende reis na ’n onderwêreld waar bendes tot R40 miljoen vir omkoopgeld begroot, sou hulle gevang word. Hulle vrees niks en niemand nie en word deur gierigheid gedryf om een ná die ander rooftog uit te voer, selfs terwyl hulle vir ’n soortgelyke oortreding op borgtog vrygelaat is. Die leser leer die bendelede by name ken, die wat skiet, die wat die motors bestuur, die beplanners en die plofstofmanne. Die miljoene wat daagliks geroof word, is egter in die meeste gevalle vir altyd raaiselagtig weg. Die storie beweeg vinnig, die navorsing is uitstekend en die spanningslyn laat jou by tye na jou asem snak. – Susan Purén

Ystervuis Uit Die See, Arnè Soderlund & Douw Steyn, (Jonathan Ball, R295)

Almal weet van die Grensoorlog waarby Suid-Afrika betrokke was en die meeste mense is bewus van die bestaan van die Spesiale Magte Eenheid in die Suid-Afrikaanse Weermag. Wat minder bekend is, is die rol wat die Spesiale Magte se 4 Verkenningsregiment in die Grensoorlog gespeel het. Hul taak was om geheime seewaartse operasies uit te voer. Die eenheid het strategiese teikens, soos oliefasiliteite, vervoerinfrastruktuur en selfs Russiese skepe vanuit die see, oor ’n gebied wat van Cabinda in Angola tot Dar es Salaam in Tanzanië gestrek het, aangeval. Met toegang tot voorheen uiters geheime dokumentasie beskryf Soderlund en Steyn sowat 50 van die operasies, die suksesse sowel as die mislukkings. Soms het dinge skeefgeloop, soos in Operasie Argon (1985) toe kaptein Wynand du Toit gevange geneem was.Die boek is ’n verkorte en bygewerkte weergawe van Iron Fist from the Sea: South Africa’s Seaborne Raiders 1978-1988 wat in 2014 verskyn het. Beide Soderlund en Steyn was voorheen betrokke by die Suid-Afrikaanse Weermag. Soderlund het 40 jaar in die SA Vloot gedien en Steyn was vir 19 jaar ’n Spesmagte-operateur. – Gert Venter


The Camp Whore
, Francois Smith (Tafelberg, R260)

Hierdie roman van Smith is op ’n ware verhaal geskoei en is uit Afrikaans vertaal deur Dominique Botha. Susan Nell word gedurende die Anglo-Boereoorlog in ’n konsentrasiekamp gewelddadig en wreed verkrag deur twee Britse offisiers en ’n Afrikaanse man wat by die Britte aangesluit het tydens die oorlog.
Susan se gebroke, vernielde liggaam is in die veld buite die kamp gelaat en ’n graf is vir haar voorberei. Sy herwin haar bewussyn in ’n grot nadat die Sotho’s, Tiisetso en Mamello, haar opgetel en gered het. Hulle versorg haar in die grot en help Susan om haar kragte te herwin.
Sy kwalifiseer later as ’n psigiatriese verpleegster en werk in Nederland. Vyftien jaar later herken sy een van haar verkragters en konfronteer hom oor wat aan haar gedoen is.
Susan tree af op 70 en reis na die konsentrasiekamp by Winburg. Die skrywer verduidelik in ’n naskrif dat hy Susan Nell se innerlike wou verbeeld, asook haar finale ontmoeting met haar verkragter. ’n Sterk verhaallyn met ’n spannende storie waarmee baie lesers hulle sal kan vereenselwig. – Mariette Postma

Sê my, is julle twee susters?, Hester van der Walt (Modjaji Books, R190)

Hierdie is die ware verhaal van Hester van der Walt en haar lewensmaat, Lies Hoogendoorn, wat mekaar in die 1960’s as jong verpleegsters ontmoet het. Hulle was albei idealisties. Altwee het ’n sterk wil om te leer gehad en was diep gelowig. Dit het hulle aangetrek na mekaar. Vyf jaar ná hul ontmoeting kom daar ’n verandering in hul vriendskap. Maar die vraag was: “Kan en mag twee vroue mekaar liefhê?”  Dit was die jaar 1967 en hulle het besluit om nie langer hul gevoelens vir mekaar te onderdruk nie. Vandag is hulle steeds saam.
Die verhaal sentreer ook rondom die verdrukking onder die regering van die tyd, en hoe Hester dit as gemeenskapswerker beleef het.  In haar eie woorde: “Ek skryf sodat almal wat wil weet, vandag en ook in die toekoms, kan sien hoe belaglik en kleinlik verdrukking is, hoeveel lae van verdrukking daar was”.   Hierdie verhaal is eenvoudig roerend! – Alma Liebenberg


Rapid Fire: Remarkable Miscellany, John Maytham (Tafelberg, R250)

Maytham is die aanbieder van ’n baie gewilde middagprogram, Rapid Fire, op 567 Cape Talk. Volgens dié skrywer met ’n merkwaardige algemene kennis, skakel luisteraars met ’n interessante vraag aan Maytham en sy span. Indien hulle nie die vraag kan beantwoord nie, kan die luisteraar ’n prys wen. Hy haal Sokrates aan wat gesê het dat die enigste ware wysheid geleë is in die besef dat mens niks weet nie.
Een van die vrae is waarom ’n trouring in Westerse kulture tradisioneel aan die vierde vinger gedra word. Daar is verkeerdelik geglo dat die aar van liefde of venus amoris, direk van die trouvinger na die hart loop.
Die oorsprong van die interessante naam van die sanggroep UB40 is dat die groeplede werkloos was. Die voordelevorm vir werkloses is afgekort as UB (unemployment benefit), en die nommer daarvan is 40.
Al gewonder waar die woord Lego vandaan kom? Dis ’n afkorting van die Deense uitdrukking, leg godt, oftewel lekker speel. Ole Kirk Christiansen, stigter van die maatskappy, het in 1932 houtspeelgoed begin maak. Die naam Lego is vanaf 1934 gebruik, en die plastiekboustene wat in mekaar pas, word sedert 1949 vervaardig. – Mariette Postma


Hoe verklaar jy dit? #2, saamgestel deur Danny Fourie (Penguin Books, R230)

Al vir bykans 40 jaar beantwoord ’n span kundiges luisteraars se vrae oor die natuur, die wetenskap en die ruimte in RSG se weeklikse radioprogram, Hoe verklaar jy dit? Deur die jare is ’n magdom vrae oor vele aspekte van die wetenskap beantwoord. In 2016 is daar besluit om van die vrae en antwoorde in boekvorm uit te gee. Die sukses van die eerste boek het gelei tot die uitgawe van hierdie tweede bundel. In die waardige opvolger word amper ’n honderd van die vrae wat oor die jare deur kundiges beantwoord is, geboekstaaf. Die antwoorde word in kort, eenvoudige terme gegee en talle lyntekeninge help met die uitleg. Van al die diere is mense seker die enigste wat lewenslank nuuskierig bly en om dié rede sal die boek jou boei en jou help om die wêreld om jou beter te verstaan. Lees die boek, en jy kan dalk antwoorde kry oor dinge waaroor jy ook al gewonder het. Byvoorbeeld, bly peper regtig vir sewe jaar in jou spysverteringskanaal? – Gert Venter

Superma (en ander mites), Chantelle de Wet (Lapa Uitgewers, R160)

As jy weer ’n babatee moet bywoon, is hierdie boek die perfekte geskenk vir die nuwe mamma! Die skrywer takel ouerskap en die uitdagings van ma wees op ’n ligte en humoristiese manier. Sy deel haar eie ondervindings oor kinders grootmaak, maar ook die van haar vriendinne. Dis ’n eerlike kykie na die wêreld van ma’s wat dikwels minder romanties is. Dink maar aan babadoeke en ander aspekte van kinders wat ’n ma kan laat gril! - Nadia de Jongh


Ek & Jy, Verhoudings wat werk,Louis Awerbuck en Lise Swart (Human & Rousseau, R280)

Louis Awerbuck en Lise Swart het bekendheid verwerf vir Wie is ek, die RSG-program. Met Ek & Jy, Verhoudings wat werk poog die verhoudingkundiges om riglyne  te gee met oog op die  suksesvolle kies van verhoudingsmaats en fokus  hoofsaaklik op  langtermynverhoudings.  In die omvattende gids word aandag geskenk aan die volgende:

•     die spektrum van liefdesverhoudings

•     keuring vir maats/kandidate vir langtermynverhoudings

•     die belang van nie-onderhandelbare voorwaardes

•     konflikhantering

•     hoe om jou verhoudingsmaat se onlogiese en sielkundige indrukke en oortuigings te verstaan

•     die identifisering en suksesvolle hantering van probleemareas.

•     Effektiewe kommunikasie

•     Spesifieke probleemareas
Die vier temperamentstipes met elkeen se eienskappe word in diepte bespreek. Die praktiese gids se teorie word aangevul met vraelyste, riglyne vir gesprekke en bevat ook ’n aantal gevallestudies. Die boek se waarde lê in die vroegtydige identifisering van probleemareas. Die beginsels is ook relevant vir die bestuur van verhoudings in familie-, gesins- of werkverband.  - Karin Behrens


In search of an Equatorial Water Highway, Lynne Ras, (Leach Printers, R200)

In die boek gee Ras verslag van die eerste poging om Afrika van oos na wes op water te deurkruis. Onder leiding van Daan Marais het ’n span van 12 op 1 Junie 1958 vanaf Chinde, by die Zambezi-riviermonding aan die Indiese Oseaan, vertrek. Hulle het Banana Point by die mond van die Kongo-rivier aan die Atlantiese Oseaan 84 dae later bereik. Die doel was om die ekonomiese vatbaarheid vir die ontwikkeling van so ’n roete te bepaal, asook om soveel as moontlike biologiese materiaal te versamel en te bestudeer. Ras vertel van die moeilike reis en die span se vasberadenheid om sukses te bereik, hul teenspoed en vrese, asook van die improvisasie wat nodig was om terugslae te oorkom. Dit beskryf die menslike natuur en vertel van kameraadskap, hoe konflikte oorkom is en van die humoristiese insidente tydens die reis. Die Eugène Nielen Marais-gedenkmedalje is in 1995 aan Daan toegeken. Ras dra die boek ook op aan Daan, haar vader. Talle foto’s, kaarte, lyntekeninge en faksimilees van briewe dra by tot die genotvolle en leersame lees ervaring.

Bestel die boek by Lynne by info@ftawe.co.za – Gert Venter