Boodskappe word sonder oorleg soos ’n weghol brand op sosiale media versprei. Mense waarsku almal oor iets wat gaan gebeur wat eintlik nooit gaan gebeur nie. Almal dra die storie oor asof dit die grootste waarheid is wat bestaan, voordat hulle enigsins gaan kyk het of daar enige waarheid in steek. Kyk maar na die stories oor die Covid-19-pandemie wat al die lig gesien het. Hoeveel paniek is hierdeur veroorsaak en mense ly aan onnodige angs oor iets waaraan hulle niks kan verander nie. Daaroor kan mens boeke vol skryf.

Maar wat is fopnuus regtig? Die woordeboek beskryf dit so:

fopnuuss.nw., 1. nuus wat versprei word met die doel om lesers te mislei; 2. nuus wat die spot dryf met werklike nuusgebeure; nuussatire.

Hoe weet jy wanneer is iets fopnuus? Die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) maan dat mense moet kyk na die bron waarin berigte verskyn om seker te maak dis betroubare publikasies en dat die berigte deur joernaliste geskryf is wat hulle van die feite vergewis het. In onseker tye, veral, is dit maklik om op loop te gaan met stories. Voordat jy iets aanstuur, maak seker dis die waarheid en dat jy nie met eier op jou gesig gaan sit nie.

Die Sweedse mediese professor, Hans Rosling se boek, Factfullness, (Hodder & Stoughton, R370) het my oor fopnuus laat dink en ook oor hoe maklik ons sekere inligting as ’n gegewe aanvaar en glo sonder dat ons seker maak die inligting is op feite gegrond. Hy het die insiggewende boek saam met sy seun, Ola Rosling en skoondogter, Anna Rosling Rönnlund geskryf. Hans was ook ’n raadgewer vir die Wêreldgesondheidorganisasie (WGO), sowel as die Verenigde Nasies se Kinderfonds. In sy TED Talks het hy gefokus op die onderwerp waaroor die boek gaan.

Dit gaan oor die wêreld gaan en hoe om sin daarvan te maak. Hy begin deur die leser ’n veelvuldige keuse toets te laat doen oor jou kennis oor geletterdheid en opvoedingspeil, lewensstandaarde, armoede, lewensverwagtinge en bevolkingsgroei in die wêreld. Interessant genoeg vaar selfs hoogs intelligente en belese mense nogal sleg in die toets, omdat die antwoorde berus op hul persepsie van inligting wat hulle as die waarheid aanvaar. Rosling gaan verder deur te verduidelik dat sou hy die toets deur sjimpansees laat doen het en hulle lukraak antwoorde kies, sou die primate beter vaar as mense! Nadat hy vir 10 jaar mense en hul kennis oor die wêreld bestudeer het, het hy besef mense se kennis is gegrond op hoe hulle inligting interpreteer. Die mens se brein is ook so bedraad dat hy aangetrek word deur drama. Daarom het mense ook’n natuurlike aanvoeling om gebeure te oordramatiseer, vandaar die oordrewe wêreldbeskouïng. Dit lei natuurlik ook tot ongegronde vrese en onnodige angs oor moontlike rampe wat vir die wêreld voorlê.

"Factfullness, like a healthy diet and regular excercise, can and should become part of your daily life. Start to practise it, and you will be able to replace your overdramatic worldview with a worldview based on facts." Vir hom is dit ’n leefwyse en een wat hy aktief nagejaag het. (Rosling is in 2017 oorlede kort voor die boek uitgegee is.) Die boek help jou om die gereedskap te ontwikkel wat jou sal help om jou dramatiese instinkte te beheer. Rosling leer jou ook hoe om oordrewe stories te herken. Hy skryf ook oor hoe jy jou vrese kan bekamp en dat dit energievermorsing is om jou te bekommerd oor sinnelose moontlike gebeure.

Hy eindig die boek met vyf dinge wat wel vir die wêreld groot risiko inhou. Volgens hom moet jy aan hierdie vyf moontlikhede wel energie spandeer. Ironies genoeg is ’n globale pandemie die eerste ding op sy lys, en hier sit ons nou met die Covid-19-pandemie. Die ander moontlikhede volgens hom is wêreldwye ineenstorting van die finansiële markte, ’n Derde Wêreldoorlog, klimaatsverandering en uiterste armoede.

Factfullness smokkel met jou kop en laat jou besef hoe maklik jy jouself skuldig maak aan oordramatisering van gebeure en die verspreiding van fopnuus. Al dink jy nie dat jy dit doen nie! Die boek is beslis die lees werd. - Phyllis Green

 

Miracle Men, Lloyd Burnard (Jonathan Ball, R280)

Hoe gou vergeet mens nie? Hoe vinnig word mens weer negatief in hierdie siek land waarin ons woon. Dit voel op die oomblik soos lank gelede dat die Springbokke die Wêreldbeker gewen het, en dit was maar net verlede jaar. Intussen het daar soveel dramatiese dinge gebeur. Soos die Covid-19-pandemie. En die Black Lives Matters-beweging. En die likwidasie van die Southern Kings.

’n Negatiewe wolk hang wéér oor ons land. In die sosiale media gons dit – stoere rugbyliefhebbers wil nie eers meer rugby kyk nie! Daarom was dit so, kom ons gebruik nou maar die woord ligweg roekeloos, wonderbaarlik, om hierdie sportboek te lees.

Lloyd Burnard het goeie werk gedoen deur die afgelope paar seisoene van Springbokrugby, en veral verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan, neer te pen. Hier en daar raak hy so ’n bietjie meegevoer. Dalk is hy nog nie heeltemal so sinies en hardgebak soos baie van ons nie. Maar hierdie boek hoort in rugbyliefhebbers, ware rugbyliefhebbers, se boekrak. Ek praat nou van diegene wie, nes ek, ’n dronkerige traantjie gestort het toe Cheslin Kolbe daardie laaste drie teen die sogenaamde magtige Engelse in die Wêreldbekereindstryd gedruk het. Ek praat nie noodwendig van diegene wat so vieslik op sosiale media tekere gegaan het voor die eindstryd en Faf de Klerk en Willie le Roux so sleggesê het nie. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek het ook gedink hulle was nie op hulle beste nie, maar daar is darem ’n manier om ’n ding te sê. Ons weet mos nou al, in ons land is ons almal Oubaas Markotters en dr. Danie Cravens.

Alle geval . . . Miracle Men vertel ook die verhaal van die afrigter Rassie Erasmus en sy spelers. Vir die leek, wat dink om beroepsrugby te speel is sommer net speletjies, kan die boek insiggewend wees en dalk die WB-oorwinning selfs meer laat waardeer.

En dalk, net dalk, vang meer mense weer ’n bietjie rugbygees, al kan hulle nog nie self weer by die stadions uitkom nie en net wedstryde op televisie volg.  - Michael Green

  

Unf*ck Yourself, Kagiso Msimango (Melinda Ferguson Books, R260)

Msimango is van mening dat ons almal altyd deesdae “siek en moeg” is. Ons staar ’n onsekere toekoms in die gesig.

Ons fisiese, geestelike, emosionele en spirituele ongesteldhede is alles gewoonlik verbind aanmekaar – en jy moet self daarvan probeer sin maak. Om alles te kroon word in 2020 ook nog ’n globale pandemie bygevoeg. Dis hoe alles begin ineenstort.

Die menslike liggaam is ontwerp om soos in die verlede te jag en is nie gemaak vir verkeer en aanlynbedrog nie. Ons spanning skiet die hoogtes in!

Sy beveel die volgende aan: Leer om “net te wees”, wees sterk maar nie ongenadig nie.  Hou op om ander mense ten koste van jouself gelukkig te maak en toon respek vir geld vir nét wat dit is, niks meer nie. Baie belangrik, distansieer jouself van sosiale media. En om jou spanning te verlig … There is nothing wrong with having a tree as a friend – Bob Ross.

Haar boodskap: Ruk jouself reg, dan kom die hele wêreld ook vanselfsprekend reg. - Linda Volschenk

 

Sasol Voëls van Suider-Afrika, Ian Sinclair, Phil Hockey, Warwick Tarboton, Niall Perrins, Dominic Rollinson en Peter Ryan(Struik Nature, R370)

Die pragtige vyfde opgedateerde uitgawe van dié gewilde voëlgids bevat sowat 800 nuwe illustrasies. Die gids het twee nuwe eienskappe: ’n Kalenderbalk vir elke spesie wat die voorkoms en broeipatrone aandui; en streepkodes onder elke verspreidingskaart vir die voëlroep van die betrokke spesie. Die voëlroep-toep kan gratis afgelaai word.Wees gewaarsku, ek het’n paar probleme met die toep ondervind. Maak seker dat jy die strepieskode presies skandeer met jou slimfoon in die korrekte regop posisie. As jy dit nie doen nie, crash die toep en hou op werk. Ek het baie gesukkel om die strepieskode reg te skandeer vir die toep. Ek weet nie of die fout by my foon wat moontlik nie slim genoeg is nie of by die toep lê nie.Nieteenstaande die probleem wat ek met die toep ervaar het, bly dit steeds’n uitstekende voëlgids. Dis natuurlik ook die perfekte geskenk vir voëlkykers. Jy kan ook ’n meegaande Sasol Oorsiglys van Voëls in Suider-Afrika (Struik Nature, R50) aanskaf waarop jy al die voëls wat jy sien, kan afmerk.   – Karien Labuschagne


River of Gold, Narratives and Exploration of The Great Limpopo, Peter Norton, Michael Gardner en Clive Walker (Jacana, R280)

Die Limpoporivier vloei 1 750 km van sy oorsprong in die Witwatersrand tot waar hy uitmond aan die Mosambiekse kus naby Xai-Xai. Tydens die somer, afhangende van die hoeveelheid water wat invloei uit die opvanggebiede in Botswana, Zimbabwe, Suid-Afrika en Mosambiek, bied die Limpopo ’n formidable gesig wat verwoesting kan saai in veral Mosambiek voordat dit uitmond in die see. Die onderskeie hoofstukke gee agtergrond oor die rivier en waar die naam vandaan kom en waarom die rivier belangrik is. Daar is verskeie vertellings van historiese mense se ervaring op die rivier, asook meer detail oor die verskillende seksies van die rivier. Meer inligting word oor die oorsprong van die rivier, watter ander riviere in die Limpopo invloei, geskiedenis oor die damme wat daarin gebou is en algemene geskiedenis wat bygedra het in die vorming van die Limpopo soos dit vandag is, word ook gegee. Die boek is pragtig geïllustreer met sketse en kleurfoto’s. Die omvattende boek is ’n ware aanwins vir enige liefhebber van die natuur en algemene geskiedenis. – Karien Labuschagne

 

Catching The Thunder, Eskil Engdal & Kjetil Sæter (Tafelberg, R285)

Die bewaring van ons oseane word al hoe belangriker vir ons eie oorlewing. In die boek vertel Eskil Engdal en Kjetil Sæter van kaptein Hammarstedt se stryd om die Thunder vas te trek. Die Thunder is ’n berugte onwettige visserskip wat oor etlike jare al miljoene se winste opgehoop het, op bedreigde spesies jag maak en die oseaan vernietig. Die skrywers volg hierdie ongelooflike jaagtog van 111 dae, die langste in die maritieme geskiedenis, van die begin af. Daar word vertel van onwettige visserskepe se onreëlmatige registrasie, die onbillike behandeling van vissermanne, probleme met internasionale visvang- en mariene regulasies en die korrupsie in verskeie hawens in Asië, Afrika en Europa.Die verhaal is egter meer as net ’n dolle jaagtog, dit versinnebeeld ’n strewe na die waarheid en ’n simboliese wedloop om die planeet te bewaar. Die Skandinawiese topverkoper is ’n ware verhaal wat getuig van moed en deursettingsvermoë en dien as ’n wekroep om op te tree teen die vernietiging van ons omgewing. Eskil Engdal en Kjetil Sæter is bekroonde Noorweegse joernaliste. Die boek is in Engels deur Diane Oatley vertaal. – Gert Venter

 

Die Bybel (Jonathan Ball, R144)

Hierdie Afrikaanse weergawe van die Nuwe Testament is uitgegee in ’n moderne tydskrifformaat. Die 1983-vertaling van die Bybel is gebruik. Dit is ’n pragtige sagtebandboek, maklik om te hanteer en lekker om deur te blaai. ’n Mens kan hier en daar ’n paragraaf lees en elke keer as jy die boek optel, is daar iets spesiaal wat die oog en hart tref. Daar is talle kleurfoto’s van asemrowende Suid-Afrikaanse landskappe en ons land se mense. Bekende en geliefde Bybelversies is op die pragfoto’s gedruk. Die boek is ideaal vir ’n studie- of selgroep, maar dit sal ook mooi lyk op ’n koffietafel. - Danica Gouws 

 


My eerste Bybel, Wendy Maartens (Lux Verbi, R200)

Die mees geliefde verhale uit die Ou- en Nuwe Testament word eenvoudig oorvertel deur Wendy Maartens. Kinders sal van die Skepping en die lewens van Noag, Josef, Daniël en Elia leer. Jesus se geboorte, sy wonderwerke en van sy gelykenisse word vertel. Op elke dubbelbladsy van die hardeband boek is ’n nuwe storie en pragtige kleurvolle illustrasies. Skrifverwysings word ook gegee, sou die ouers die stories verder wou voorlees uit ’n groot Bybel. Dit is die perfekte boekie om elke aand met slaaptyd saam jou kinders te geniet. - Danica Gouws

 

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.