In sy bundel, Dik Dun Thick Thin (Human & Rousseau, R250) is dit die terloopse sinne wat jou tref en jou ernstig laat besin oor die aard van die mens en sy gewoontes, goed en sleg. Die storie, ’n Teken, is oënskynlik eenvoudig, maar lees jy die stewige sosiale kommentaar raak, bly die lewenswysheid daarvan jou by. Jy kan jou vereenselwig met hoe elke mens op aarde na ’n betekenisvolle teken soek, iets wat hulle sal aanvuur tot aksie.Die stories speel voor jou af soos klein verhoogoptredes, so beskrywend word die karakters en dit waarmee hulle besig is, geteken. Dié visuele aantrekkingskrag versterk die impak van die stories en jy word weggevoer van jou eie werklikheid na die magiese wêreld waar karakters soos Quacalene, Hoekman, Mannion en Thank You die rolverdeling vervul. Hierdie stories is vir lees en herlees, omdat jy elke keer meer daaruit put.

 Phyllis Green het per e-pos met Nataniël gesels oor Dik Dun Thick Thin.

 

Waarom is jou bundel stories in Afrikaans en Engels?

Die meerderheid inwoners van die land is Engels magtig en in sommige plekke is my gehoor grotendeels Engels. Ek kan nie eksklusief net in Afrikaans of net in Engels werk nie. Wanneer ’n boek tweetalig is, koop almal hom. Selfs dié wat net een taal verstaan, koop die boek ter wille van ’n paar stories. Ek besluit ook nie hoeveel van watter taal nie, ’n storie kies sy eie taal en dit wat uiteindelik gereed is, verskyn.

Waar begin ’n storie vir jou?

Gewoonlik visueel. Ek sien ’n persoon of uitrusting of onderonsie of gebou of enigiets wat ’n indruk maak. Dit bly in my gedagts en uiteindelik verskyn ’n storie. Ek beleef alles visueel, al is dit nie hoe ek skryf nie, Ek verskaf net beskrywing of detail wanneer dit absoluut nodig is. Dis fantasties wanneer D.H. Lawrence die namiddagson vir vier bladsye beskryf, ek kan nie, my lewe is te vol en te kort.

Hoe kies jy die titels van jou verhale?

Ek het geen behoefte aan slim of intellektuele titels nie. Soos met ’n liedjie of vertoning moet die titel eenvoudig en musikaal wees, gewoonlik baie kort en maklik om te onthou. ’n Lekker titel gee my plesier.

En wat is belangrik by die kies van name vir die karakters waaroor jy skryf?

Om nie tipiese name te kies nie. Baiekeer word wonderlike stories, stukke of rolprente bederf deur te geykte name. Mense dink té vinnig só ’n karakter moet só ’n naam kry; my stories is dikwels klaar, of amper klaar voordat die naam homself aankondig. Dis tragies wanneer ’n naam (ook met babas!) te gou gekies word voordat die persoon homself openbaar het.

Jy skop die verhaal, Twee verskriklike nagte af, so af: "Hierdie is nie n verhaal wat ek wou skryf of vertel nie, so hartseer en so tragies is dit. Maar wanneer n storie in my kop verskyn, kan ek aan niks anders dink nie, hy moet eers uit voordat n ander een kan begin." Is dit hoe jou skryfproses werk?

’n Storie vorm in my kop en ek kan weke met hom rondloop. Hy moet ten minste meer as halfpad ontwikkel het voor ek gaan sit. Ek skryf soggens baie vroeg. Sodra iemand my pla of iets gebeur, is alles verby vir daai dag.

 

Jy is uitgesproke en is nie bang om te sê wat jy wil sê nie. Is dit waarom jy nie skroom om sosiale kommentaar in jou stories te lewer nie?

Ek weet nie of ek juis soveel kommentaar lewer nie, ek is meestal bloot verstom oor sosiale gedrag. Ek vergaap my aan die mensdom. Dinge wat volgens my logika totaal gek of feitlik onmoontlik is, is aan die orde van die dag. Kyk na wie die aarde regeer, kyk na hoe mense ly, kyk na die gekheid van politiek, die wreedheid van mag, die mishandeling van die planeet, die gebrek aan maniere, die gif wat as kos verkoop word, sosiale media, die behoefte aan roem en mag, die goddeloosheid, die onvermoë om aan te pas en die leegheid van popkultuur. My uitgesprokenheid is eintlik net ek wat kliphard verkondig hoe benoud ek is.

 

Lê een van die stories in die bundel jou nader aan die hart as die ander?

Daar is altyd gunstelinge, sekere goed lê net eenvoudig nader aan my hart, of dit ’n storie of ’n lied of ’n uitrusting is. Gewoonlik dié wat nie die langste applous kry nie, al het ek gehoop dit word ’n treffer. Elke boek, CD of produksie bevat ’n paar weeskinders. Hulle is my gunstelinge.

 

2020 is ’n ongewone jaar, die pandemie het die lewe soos mense gewoond is daaraan, op sy kop gekeer. Hoe het die jaar jou geraak?

Dis ’n unieke jaar. Ek het nog nooit so hard gewerk, soveel projekte begin, soveel gewig verloor, soveel getwyfel, soveel besluite geneem en soveel tyd alleen deurgebring nie. (Dit was en is steeds heerlik, ek is nie ’n kuddelid nie.) Aan die een kant was dit die verhoog-sabbatical wat ek lankal moes hê, aan die anderkant is dit ongekende spanning wanneer ek dink aan al die swaarkry om my en hoeveel herstel moet plaasvind. Maar die feit dat ons nie kan terugkeer na dieselfde werklikheid nie en dat ons volgens ’n nuwe kode sal moet leef, dít is fantasties.

19 Albums, meer as 80 teaterproduksies, 21 boeke en jou eie reeks produkte - raak jou inspirasie om te skep nooit op nie?

Inspirasie raak nooit op nie, dis die minste van my probleme. Energie raak soms min, selfvertroue ontbreek gereeld, tyd hardloop vinnig weg; daar is nie gereelde beloning of die regte erkenning nie, maar om nuwe goed te doen is my suurstof. Ek raak nooit daarvoor moeg nie.

 

Grootste les die afgelope jaar?

Vertrou jou instink in dit wat jy wil bereik. Bly ver weg van populêre opinie en oningeligdes.

Moenie terughou nie, die lewe kan in ’n oomblik verdwyn. Maak die regte keuses, al maak dit jou ongewild.