Op skreeusnaakse wyse vertel hy in Amper Frans (Jonathan Ball, R240) hoe hy alles wat Frans is ontdek en beproef het, van neusoptrekkerige kelners, statige hertoginne, etlike botsings met die berugte Franse burokrasie en natuurlike talle faux pas in sy gebrekkige Frans. Toe hy 21 jaar gelede vir die eerste keer in Parys aankom, het hy nooit gedink dat hy eendag ’n château in die Franse platteland sou besit nie.

Om die vervalle château saam met sy lewensmaat, Hardy Olivier, in ’n boetiekhotel te omskep het groot geduld en uithouvermoë geverg. Talle lesse is op die harde manier geleer. Een daarvan is dat vier verwarmers geensins genoeg is om ’n hele château te verhit nie en dit sal jou dae lank sonder elektrisiteit laat. Louis vertel ook van kaskenades met hulle gaste en hul eie avonture soos hulle die land platry agter vlooimarkte en avontuur aan. Hy vermeng stories oor hul lewe in Frankryk met brokkies geskiedenis en fassinerende inligting oor eg Franse tradisies.

Die bekende kunstenaar het al meer as 50 uitstalling in Suid-Afrika en oorsee gehou. Hy was ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch en die Michaelis-kunsskool in Kaapstad voordat hy hom in die laat 1990’s in Frankryk gevestig het. Louis en Hardy Olivier het lank die La Creuzette-boetiekhotel in Boussac besit. In 2009 het hulle die boek Feestelike Frankryk/Festive France saam met Anet Pienaar-Vosloo uitgegee. Louis en Hardy het intussen ’n geboutjie op Boussac se kerkplein gekoop waar Louis sy galery en ’n winkeltjie met die naam le Store bedryf.

Van Rensburg voer jou mee met sy vermaaklike herinneringe en die staaltjies laat jou dikwels hardop lag. ’n Heerlike lekkerlees boek.

Lees hieronder’n uittreksel uit Amper Frans, Louis Jansen van Vuuren

 

Tydens ons huiwerige toetrede tot formele Franse onthale wil ek heel partykeer amper die hasepad kies, omdat ’n mens soms hare op jou tande moet hê om nie aanstoot te gee nie.

“Non! Non! Non, mon che´ri,” blaas my vriendin Françoise uit die sykant van haar mooi geverfde mondhoek. “Sit julle twee eers en dan volg ons almal julle voorbeeld,” glimlag sy vir my, nadat sy vir die ander gaste haar donker oë plafonwaarts gerol het.

Dis ons eerste dinner paartie met ne´t Franse gaste en ek en Hardy bly beleef staan sodat die gaste by die formeel gedekte tafel kan gaan sit. Ek probeer ewe galant om die stoel vir Françoise aan my regterkant uit te trek en Hardy probeer dieselfde doen vir Margot aan sy regterkant.

Hm-hm. Hierso doen jy dit anders.

Jy knik hoflik na jou gade, gaan sit dan mooi op jou plek en glimlag vir jou Franse gaste, waarna hulle dan statig in hul aangewese stoele gaan sit. Lapservette word oor skote oopgevou en dan kan jou paartie begin. Sommige Franse gewoontes is nogal aardig en anders as wat ons in Oranjezicht en Waterkloof sou doen. Ander maniertjies is weer vir ons oulik en te lekker om na te volg.

Wanneer jy byvoorbeeld deur jou Franse vriende genooi word om by hulle aan huis te gaan eet, neem jy nooit as te nimmer ’n bottel wyn of ’n bos blomme saam nie. Jy laat die blomme of die kis wyn (ja, ’n kis – hier kom dit goddank in bokse van drie, ses of 12) die oggend van die ete by jou gasvrou of -heer aflewer. Dis wragtie sjiek. Dink nou maar net aan hoeveel kere jy moes rondtrippel, met ses mense op jou drumpel wat jy moet verwelkom, terwyl jy nog drie of vier bosse blomme in jou arms probeer vashou. En jou laaste blompot is hoeka gebruik. Nee wat, volgens die Franse is dit sommer slordig. Stuur dit vooraf sodat die gasvrou rustig die blomme kan rangskik en dit met jou mooi handgeskrewe kaartjie in een van die onthaalvertrekke kan ten toon stel. Maak sin, nè?

Sjokolade is die enigste geskenk wat ’n mens durf saamneem. Maar pasop! Die dosie sjokolade wat jy saamneem, sal saam met die gasvrou (en ander gaste) se sjokolade saam met die koffie bedien word. Dis tradisie. Wat jy saambring, word dieselfde aand ten aanskoue van alle gaste aangebied. Vergeet dus van laas Kersfees se Whispers. As jy voel dat jy ’n sjokolade-ietsie wil saamneem, doen dit dus met styl. ’n Ou Franse spreekwoord se^: geld praat, maar sjokolade sing. Die laaste deuntjie wat jy jou beteuterde dosie sjokolade op die gasvrou se silwer skinkbord wil hoor sing is die Briels se “Een aand op die trein na Pretoria”.

Franse etiket is anders as Amerikaanse of Engelse etiket. Hier gaan dit vir hulle nie net oor wat jy doen nie, maar meer oor hoe jy dit doen. Le savoir-faire. Die kennis om te weet hoe.

’n Verdere les wat ons moes leer, was oor stiptelikheid. As goeie Calvinis draai ek altyd my horlosie vyf minute terug sodat ek altyd, of liewer naastenby, betyds kan wees. So gebeur dit toe dat ons vir aandete by die plaaslike notaris en sy sjiek Paryse vrou in Lapeyrouse genooi word. Ons is presies twee minute voor agt voor die deur. Ek weet toe nog nie van die blomme nie en staan daar met ’n arm vol sint josefslelies. Ná ’n vreeslike geklop aan die antieke houtdeur maak Paulette, ons gasvrou, die deur oop met ’n ligte fronsie tussen haar pragtige wenkbroue. Ons word vriendelik maar ferm na die salon gelei, waar ons gevra word om te sit. Paulette verdwyn weer vinnig die huis in. Ek steeds met die stoet lelies in my arms.

Les nommer een: In Frankryk kom ’n mens nié op die minuut by jou gasvrou of -heer aan nie. Kom verkieslik 15 of 20 minute laat. Vyftig minute of ’n uur laat sou wel onbeskof wees. Op ’n sytafeltjie in die salon is 12 sjampanjeglase uitgesit. Paulette kom ná so 15 minute terug en gesels vreeslik vriendelik en neem die lelies by my om dit in die kombuis te gaan sit. Jean- Pierre, ons gasheer, sluit stellig ná nog sowat vyf minute by ons aan, al geselsend. Die sjampanje bly onoopgemaak in die ysbak en ons sit bykans nog ’n halfuur droe¨bek totdat die laaste van die ander agt gaste opdaag. Toe eers word die prop uit die bottel gewikkel.

Les nommer twee: As jy dors is, drink eers ’n dop by die huis. So van drankies gepraat. Dames is veronderstel om slegs een aperitief voor die ete te geniet. Nie twee of drie nie! Jamais! (Nooit.) Anders word daar stellig na jou verwys as une femme anglaise – ’n Engelse vrou. By die tafel is daar darem verlossing. Wel, soort van. Dikwels word daar eers van die hoofgereg af wyn bedien. Dit gebeur selde, of ooit, saam met die voorgereg. Toe ons enkele jare later die Château de la Creuzette in ’n gastehuis omskep waar ons Suid-Afrikaners ontvang, moes ons die kelner met moeite oortuig ons doen ’n “le service sud-Africain”, om hom sover te kry om die wyn te skink vandat die gaste aan die tafel kom sit.

Les nommer drie: ’n Mens skink nooit-ooit jou eie wyn nie. Die gasheer, gasvrou of kelner skink dit. Al vergaan jy van die dors. Drink maar jou Evian. Of as jy wil spog, jou Chateldon. En onthou: Die groot glas is vir water en die kleiner glasie vir die wyn. Helaas! Jou snytjie brood of die rolletjie word links bo jou plek op die tafel geplaas en nie in of op jou bord nie, tensy daar ’n broodbordjie gedek is. Dit sal ook bo links van die vurke geplaas word, eerder as links van die bord. En voordat ek vergeet, slaaiblare word gevou en op jou vurk gestapel, anders as die Suid-Afrikaanse gebruik om dit in repies te sny. Non!

Kaas is ’n ander storie. In Frankryk sal jy in die meeste huise en goeie restaurante vind dat ’n mes en ’n vurk vir die kaasgang gedek word. As jy by mense aan huis eet, sal dit meestal reeds gedek wees en by restaurante sal die kelner dit tafel toe bring na´ die hoofgereg. Kies met die eerste slag wat jy alles wil hê, want dis taboe dat die kaasbord twee keer verbykom. (Twee porsies kaas stuur die boodskap aan die gasvrou dat jy die kaas – die enigste gereg wat sy nie self gemaak het nie – meer geniet as die geregte wat sy wel voorberei het óf dat die hoofgereg so karig was dat jy die laaste hol kol op jou maag met kaas moet vul.) Die kaas word dan met ’n mes en vurk geëet. Begin met die sagste, gegeurde kaas en eindig met die skerpste. Ja, jy word fyn dopgehou! As jy lus het vir ’n stukkie brood (nooit beskuitjies nie), sit jy jou mes en vurk netjies neer, breek ’n stukkie brood met die hand af en eet dit so. Nooit, nooit, nooit mag jy ’n toebroodjie maak of die brood as implement inspan terwyl jy die kaasgang eet nie!

Tandestokkies kan ook groot blapse meebring. Soos jou lipstiffie of aansteker, dra ’n goeie gas syne of hare saam in hul handsak of baadjiesak. ’n Bedagsame gasvrou mag dalk ’n flessie tandestokkies in die gastetoilet los. In ’n goeie restaurant of Franse huis sal jy nooit as te nimmer die houertjie tandestokkies saam met die sout, peper en mosterd op die tafel vind nie. Sou jy dit daar sien, moet jy weet jy is in ’n toeristevilla. Moet asseblief nooit probeer om die stukkie slaai of vleis aan tafel met ’n tandestokkie, hand voor die mond, te probeer uitgrawe nie. It’s just not done. Geen mens wil in jou waterige oë kyk terwyl jy tussen jou krone krap nie. Verskoon jouself en gaan doen dit iewers privaat. Asseblief. Sou jy die tafel moet verlaat om die tandestokkieritueel te gaan doen, moet jy jou pragtige antieke linneservet op die sitplek van jou effens uitgetrekte stoel los en nie op die tafel waar die ander gaste die smeermerke daarop moet aanskou nie. As jy jou stoel heeltemal terugstoot, beteken dit jy verlaat die tafel permanent. Dit kan nogal konsternasie uitlok, veral as jy nie lekker kan Frans praat nie. Been there, done that!

Oor die algemeen is Franse reëls, tradisies en maniertjies om die tafel ’n bietjie anders as wat tant Emsie en Nataniël ons leer. Maar soos al twee hierdie stylmakers sê, basiese beleefdheid is reeds ’n goeie begin.