Eintlik is die belangrikste voorneme wat jy kan maak, die een om vir jou gees te sorg. As jou kop gesond is, is jou ingesteldheid teen die aanslagte van die lewe beter. Jy kyk met oë van waardering na vriende en familie en jy is dankbaar oor al die gawes wat jy het. Dis my voorneme: om vanjaar aan te pak met dankbaarheid en positiwiteit.


Bruistablette vir die lewe, Susan Coetzer (Lux Verbi, R240)

Almal van ons het soms net daardie bietjie ekstra vitamiene nodig om deur ’n uitdagende dag te kan kom. In hierdie dagstukkies kry jy jou bruistablet vir die dag. Met die nodige vitamiene - nederigheid, vergifnis, selfspot, dankbaarheid, aanvaarding ens. Susan Coetzer gebruik alledaagse situasies, soos ’n vrou se selfbeeldkwessies oor haar gewig of hoe sy lyk om ’n waarheid uit die Skrif aan jou voor te hou. Dis toeganklike Bybelstudie en relevant vir die tyd waarin ons leef. Sy laat jou ook besef hoe jou woorde en die woorde van ander ’n  mag het om seer te maak, maar dat jy woorde ook kan inspan om aan te moedig, te vertroos en te inspireer. Perfek vir die moderne vrou. - Phyllis Green


Vroue van die Woord, saamgestel deur Jannie Pelser (Christelike Uitgewersmaatskappy, R249,95)

Die oordenkings in die bundel is geskryf deur vroue vir vroue. Dit dek ’n verskeidenheid onderwerpe wat vroue raak. Daar is dagstukkies oor bv. die rol van die vrou in die 21ste eeu, verwerping, huil, objektiwiteit of obsessiwiteit, om vreugde te kies, vrees, watter nalatenskap laat jy agter.In ’n wêreld wat toenemend meer lawaaierig raak, is stiltetyd en tyd om net stil te sit en asem te skep al hoe beangriker. Dis belangrik om jou kop skoon te maak. Stiltetyd kan jou help om jou vrae oor jou geloof en vrese te beantwoord en om weer hoop te kry vir die dag wat voorlê. - Phyllis Green

 

Maak ’n kopskuif, dr. Caroline Leaf (Christelike Uitgewersmaatskappy, R229,95)

In hierdie dagstukkies gaan dit daaroor om beter denkpatrone te ontwikkel. Op die agterplat word gesê: “Navorsing toon ’n verbysterende 75-98% van alle siektes wat ons ervaar, is ’n direkte gevolg van wat ons dink. Waaroor ons dink, raak ons beide fisies en emosioneel.” Volgens die skrywer is die oordenkings in die gids geskryf om die leser te help om die krag van sy/haar verstand te verstaan en om te verstaan hoe keuses ’n impak op sy/haar verstand maak.Elke skrifgedeelte is ’n onderwerp vir die begin van ’n gesprek. Dit word opgevolg met ’n “breinwenk”. Baie van die konsepte word oor ’n paar dae bespreek. Na die Skrifgedeelte en breinwenk volg die dag se oordenking. Jy word ook aangemoedig om ’n joernaal te hou waarin jy dinge oor die dagstukkies kan neerskryf, jou vrae, jou antwoorde en jou eie bespreking van die konsepte. Die skrywer beklemtoon dat daar geen reg of verkeerd is nie, maar dat hierdie net ’n hulpmiddel is om jou te lei tot beter begrip. Dr. Caroline Leaf glo dit is moontlik om “elke dag ’n gelukkiger en gesonder lewe te lei.”- Phyllis Green



 ’n Tuin vir Tessa, Helena Hugo (Lux Verbi, R195)

In hierdie boeiende verhaal ondersoek Helena Hugo die dilemma van ’n gesin wanneer hulle al hul aardse besittings moet prysgee. Uit Tessa Heyns se oogpunt ervaar jy die wroeging waardeur elke gesinslid gaan as haar man, Altus, se besigheid ondergaan en hulle bankrot verklaar word. Haar tuin by haar huis in ’n spogbuurt is die een plek waar sy vertroosting vind teen die aanslae van die lewe. Sy besef dis net haar geloof wat haar deur die krisis gaan dra, maar sal haar gesin se geloof sterk genoeg wees om hul trots in hul sak te steek en hulp vanuit onverwagse oorde te aanvaar? Die situasie wat Helena Hugo skets is baie realisties en jy kan nie anders as om meegevoer te word daardeur nie. Verhale soos hierdie help lesers om insig te kry in die dilemmas van ons tyd. - Phyllis Green


’n Nuwe seisoen, Beverly Lewis (Christelike Uitgewersmaatskappy, R250)

Vir ’n Suid-Afrikaanse leser is dit moeilik om jou ’n lewe in Pennsilvanië in ’n Amish-gemeenskap voor te stel. Die vryheid wat veral ons vroue in ons land het, staan in sterk kontras met vroue in daardie gemeenskap. Wat Beverly Lewis in hierdie verhaal regkry, is om jou in Sallie Riehl se skoene te plaas. Deur haar oë leer ken jy die beperkinge van haar lewe, maar jy deel ook in haar vreugde van haar Amish-gesin. Sy is anders en het van kleins af gedroom om te kan reis en die wêreld buite haar gemeenskap te besoek. Maar dit word nie aangemoedig nie. Sy kry wel toestemming by haar pa om op ’n  toer te gaan. Sy maak ’n  groot opoffering deur haar toer te kanselleer en daardie geld te gebruik om vir haar broerskind se operasie te help betaal. Wanneer sy later ’n geleentheid kry om as kinderopasser vir met ’n welaf gesin in Cape May te gaan werk, is dit vir haar die antwoord op haar gebede en drome. Maar is dit? Jy kan nie anders as om empatie met Sallie en haar omstandighede te hê nie. Dis ’n boeiende en fassinerende verhaal wat die krag van geloof uitbeeld. - Phyllis Green


Die Voortvlugtige, Terri Blackstock (Christelike Uitgewersmaatskappy, R229,95)

Casey Cox slaan op vlug wanneer sy op die lyk van haar vriend afkom. Sy wil nie met die polisie praat nie, al is sy onskuldig. In die verlede het hulle haar en haar familie lelik in die steek gelaat. Toe die polisie haar nie kan opspoor nie, huur die vermoorde se ouers vir Dylan Roberts, ’n oorlogsmoeë veteraan-soldaat, om haar te soek. Hy glo nie die gevolgtrekking waartoe die polisie se ondersoekspan gekom het dat Casey die skuldige is nie. Die misdaadtoneel maak nie heeltemal vir hom sin nie en boonop lyk Casey nie soos ’n tipiese moordenaar nie. Die verhaal word onderskeidelik vanuit Casey en Dylan se perspektiewe vertel. Soos die gebeure uitspeel, leer ken jy die omstandighede in Casey se verlede wat haar ’n noodgedwonge voortvlugtige gemaak het. Dylan maak staat op sy geloof om hom geestelik sterkter te maak en om logies en objektief na die gebeure te kyk. Sal hy Casey se onskuld kan bewys? Die verhaal is boeiend, maar ongelukkig het die einde hierdie leser met baie meer vrae gelaat as antwoorde. - Phyllis Green

’n Liedjie vir Anine, Elsa Winckler (Lux Verbi, R180)

’n Liedjie vir Anine is deel van Elsa Winckler se aangrypende reeks oor die Breedt- en Vos-gesinne se lief en leed. Ware Noord en Om weer te droom was die voorlopers.

Die Vos- en Breedt-gesinne het reeds twee getroude pare in gemeen. Nou kry joernalis Anine Vos en Zander Breedt mekaar weer ná maande te sien, en nie een van die twee is gereed vir die gevoelens wat dit ontketen nie. Anine moet ’n artikel oor Zander skryf, maar was nog nooit mal oor die “verwaande” sanger nie. Boonop sukkel sy om oor haar eie hartseer en onverwerkte trauma te kom en het nie lus vir die hele storie nie. Zander is self vol frustrasies en vrae – wat is die Here se plan met sy lewe?

Die geestelike verhaal herinner jou opnuut daaraan dat wanneer jy nie meer kan nie, die Here kan! – Alma Liebenberg

 


’n Brief vir Reina, Elsa Winckler (Lux Verbi, R180)

Hierdie ervare skrywer van romanses se  gemaklike skryfstyl trek mens in. Die verhaal is meer kompleks as ’n romanse en die karakters se dilemmas is werklik. Reina Sauer is pas geskei, haar ouers is dood en haar ouma sterf. Tydens die opruiming van haar ouma se huis, ontdek sy briewe wat ’n ander lig op haar ouma se lewe werp – en ook op hare. Sy ontmoet ’n ontwikkelaar, Derek Retief, wat Reina se handtekening soek omdat hy haar ouma se huis deel van ’n sekuriteitskompleks wil maak. Hy is sinies en bang vir verhoudings. Te midde van Reina se pyn en seer, vergeet sy dat God goed is. Sy leer hierdie waarheid weer ontdek.Dis ’nroman wat mens beslis raak weens die gewigtigheid van die probleme waarmee die karakters worstel. Die skrywer kon moontlik dieper hierop ingegaan het  aangesien die uitdagings waarmee die karakters te doen het, so groot is. - Sylvia de Kock

Mispa, Elim en Bet-El,  Helena Hugo (Lux Verbi, R200)

Helena Hugo praat uiters roerend met ’n mens se hart in haar historiese romans, ‘Mispa’, ‘Elim’ en ‘Bet-El’. Die wel en weë van die Bassons en ander families in hierdie trilogie, asook die plekke waar dit afspeel, word boeiend uitgebeeld. Hugo het ’n unieke manier om mens se aandag van meet af te hou. Die titels van dié trilogie word aan die hand van teksverse voor in die boeke verklaar. Die tydgees van die era 1891 tot 1899 word besonder goed vasgevang in hierdie sage. Die rigiditeit, die soms kleinlike siening van God en mens wat toe geheers het, en tog ook die diepe aanbidding wat van die karakters uitgaan ten spyte van hul swakke menslikheid en hul sondigheid, word aangrypend geopenbaar. Dit was ’n tyd waar daar definitiewe grense en eindelose styfheid in die samelewing was. Hugo het in diepte navorsing gedoen wat daarop dui dat sy die leser juis ’n kykie binne die ouer, meer rigiede wêreld wil gee. Die karakters is werklik fassinerend. Die menslike aspek van die karakters, veral hul tekortkominge, word besonder goed aan die leser oorgedra. Hierdie reeks romans gaan nog baie gelees word. – Sylvia de Kock