FOTO: Retha Ferguson



Vir skrywer, joernalis en akademikus Annie Klopper was dit ’n natuurlike keuse om musiek ’n hoofbestanddeel van haar nuwe roman, Die tragiese saak van Pamina Vermaak (Kwela, R245), te maak. In 2011 het haar Biografie van ’n bende (Protea Boekhuis) oor die rockgroep Fokofolisiekar verskyn. In haar jongste roman speel die rock-ster Wolf de Jager en joernalis Pamina Vermaak die hoofrolle.

Toe Pamina op ’n dag haar kop by die werk verloor en haar redakteur ’n vieslike sin met ’n vloekwoord in toesnou, word sy summier die deur gewys. Boonop is haar lamsakkige kêrel van geen hulp nie. Haar verhouding is van die baan en sy het geen blyplek meer nie. Haar enigste uitweg is om druipstert terug te keer na haar ouerhuis op Witwaterbaai aan die Weskus waar sy onder ’n wolk van skande weg is. Daar sal sy die kleindorpse inwoners in die oë moet kyk. Intussen is Wolf de Jager se verlowing ook van die baan en om van die media weg te kom, verkas hy uit die Kaap. Toevallig lei Google Maps hom na Witwaterbaai. Nou toe nou! Hier kruis sy paaie met die van Pamina en die res soos hulle sê, is geskiedenis.

As jy hou van ’n fyn dame wat haar pinkie lig wanneer sy haar teekoppie vashou, hou verby. Pamina rook, drink baie en vloek soos ’n matroos. Dikwels is die woorde wat uit haar mond kom, banaal en kru (en snaaks). Tog kon ek nie anders as om van haar te hou nie en het ek empatie gehad met haar verknorsing. Klopper se karakters, hoe ongewoon ook al, is verteenwoordigend van die milieu waarin die verhaal afspeel. Die taalgebruik sal puriste heel moontlik affronteer, maar dis hoe hierdie generasie praat en Klopper forseer dit nie. ’n Hele paar verhoudingstemas word aangeraak en is gepas vir die kwessies waarmee Pamina en haar generasie worstel. Die ongewone liefdesverhaal is geen hogere literêre skryfsel nie en dis nie bedoel om te wees nie. Dis chic-lit gemik op vroue wat daarvan hou om in musiekklubs rond te hang en vermaak wil word in die taal wat hulle praat. En wat hou van ’n gelukkige einde waar die prins, lees rock-ster, en die prinses, lees musiekjoernalis, weggevoer word na ’n idilliese lewe ... êrens waar die paparazzi hulle nie kan opspoor nie.

Ek het per e-pos met Annie gesels oor Die tragiese saak van Pamina Vermaak.


 

Wat was die vonk vir die roman?

 

Ek wou ’n boek skryf wat ek self sal wil lees. ’n Verhaal wat gemik is op my en my portuurgroep, wat kom uit ons milieu, waar die karakters praat soos ons praat, worstel met die kwessies waarmee ons in ons laat-twintigs geworstel het, selfs na die musiek luister waarna ons luister ... ook lag vir die dinge waaroor ons lag.


Hoe het jy Pamina Vermaak se karakter geskep?

 

Ek het Pamina in die eerste plek gebou rondom haar ongemaklike naam, wat haar ongemak met haarself en die wêreld om haar weerspieël. Dit was vir my baie belangrik om ’n vroulike hoofkarakter te skep wat nie perfek is nie, wie se krisisse nie slegs deur mans bepaal word nie, maar wat verantwoordelikheid moet dra vir haar eie besluite. Sy moes ook allesbehalwe tipies, voorspelbaar en vervelig wees, daarom kan Pamina byvoorbeeld ewe sexy wees as wat sy haar naam lekker kan krater maak.

 

En die ander karakters, is hulle suiwer fiktief of gegrond op ware mense?

 

Hoewel die meeste karakters en al die gebeure fiktief is, is daar ook ware mense wat hier en daar ’n verskyning in die boek kom maak, spesifiek bestaande Afrikaanse musikante wat kamma beweeg in die wêreld van die fiktiewe manlike hoofkarakter Wolf de Jager, ’n rockmusikant. Ek het met hierdie bekendes se samewerking hul dialoog en handelinge geskryf – byna soos wanneer ’n bekende as hom- of haarself ’n gasverskyning in ’n fliek maak. Verder het ek die Weskus-karakters losweg geskoei op my familie, nie noodwendig suiwer biografies nie, maar in die manier waarop hulle praat en doen.

 

Het Pamina altyd gedoen wat jy vir haar beplan het, of het sy ’n wil van haar eie gehad?

 

Sy het gou ’n lewe van haar eie aangeneem en my soms onkant gevang met haar belaglike besluite of lagwekkende aksies. Soos ek sê: Sy is allesbehalwe perfek. Maar ek kon haar ook sien groei tussen haar gewaarwordings deur, wat die skryfproses vir my byna terapeuties gemaak het.

 

Pamina probeer hardgebak wees, maar in haar hart is sy ’n romantikus. Is jy ’n romantikus en glo jy in die liefde?

 

Ek is skaamteloos ’n sucker vir die liefde, maar ek haat vlak romantiese clichés.

 

Het jy uit jou eie lewe geput vir die verhaal?

 

My studentejare op Stellenbosch, my werk as musiekjoernalis in my twintigs en ervarings in Kaapstad het definitief inslag gevind in die boek. Pamina het ook my musieksmaak geërf. Maar ek dink die belangrikste ding wat ek uit my eie lewe in die boek oorgedra het, is verweef in Pamina se selfverwesenlikingsproses: die besef van watter bevryding dit bring as jy kan leer om eerlik te wees met jouself, en wanneer jy jouself en jou verlede aanvaar en omarm. Dít het ek, soos Pamina, genadiglik hier rondom die ouderdom van dertig geleer.

 

Jy was ’n musiekjoernalis en musiek speel ’n groot rol in die verhaal. Wou jy musiek van die begin af deel maak van die verhaal?

Die boek sou ondenkbaar gewees het sonder ’n klankbaan! Musiek is nog altyd soos vonkproppe in my skryfproses, of dit nou as joernalis, akademikus of digter is. Dit was ook nie anders met hierdie roman nie – soms sou die luister van ’n liedjie ’n hele toneel bepaal. Dit was ook ’n redelike voor die hand liggende besluit om een van die hoofkarakters ’n musikant te maak, Wolf de Jager kom uit ’n wêreld wat ek ken. Dalk is dit bloot luiheid – dit sou van my baie meer inspanning verg om die wêreld van byvoorbeeld ’n politikus of ’n skoenmaker oortuigend te skets.


Pamina is sinies oor die media en kritiseer hoe hulle sekere stories hanteer. Wou jy sosiale kommentaar lewer oor die media in hierdie verhaal?


Toe ek besluit het om Pamina in die mediawêreld te laat werk en die spot te dryf met die media, moes ek seker voorbereid gewees het daarop dat dit juis die media is wat my hieroor gaan uitvra! Daardie kritiek is eintlik gemik op die breër samelewing, die verwysings na die media (die tradisionele én sosiale media) in hierdie spesifieke verhaal is bedoel om hedendaagse sosiale euwels aan die kaak te stel, want die media is so dikwels ’n spieël vir hierdie euwels.


Jou vorige boeke was baie meer akademies van aard. Hoe het jou skryfproses hierdie keer verskil, of was dit maar dieselfde?


Die goue draad in al my werk tot dusver is ’n fassinasie met musiek en die mense wat dit skep. Maar die skryf van hierdie roman was definitief ’n afwisseling van my meer ernstige akademiese werk oor rock- en rap-musiek. Ek het die afwisseling tussen erns en pret nodig om beide aan die lewe te kan hou, ofskoon ek ewe veel vervulling daaruit put.


Is jy ’n gedissiplineerde skrywer wat elke dag volgens ’n roetine werk?


Toe ek my doktorale proefskrif geskryf het, het ek hier teen die einde elke oggend drieuur opgestaan, koffie gemaak en geskryf. Daardie roetine het herhaal met die skryf van hierdie roman, maar ek het ook besef mens moet kan skryf net waar jy jouself bevind, net wanneer jy tyd kry. Dus het ek tussendeur op lukrake tye en plekke, by kroegtoonbanke en op die strand gesit en skryf. Soms is dit egter noodsaaklik om afstand te kry eerder as om teen ’n wit skerm vas te staar. Dan help dit ook om goeie klankborde te hê in vriende en familie.


Agterin die boek staan dat jy grootgeword het “langs die viswaters van die Weskus en midde-in die punk rock-rewolusie in Kaapstad se noordelike voorstede.” Het dit ’n rol gespeel in waar jy Pamina se verhaal laat afspeel?


My familie is van die Weskus en ek het groot gedeeltes van die verhaal daar op ons familieplaas geskryf. Ek wou met hierdie boek graag die gees van die Weskus in ’n ongewone huwelik verbind met Kaapstad se musiek- en sosiale wêreld. Daarom gaan kruip Wolf, ’n bedonderde rockmusikant, vir die paparazzi weg op ’n klein Weskusdorp waar sy karakter kwaai bots met die omgewing.


Hierdie is jou eerste roman. Beplan jy om nog te skryf?

Ek sal seker aanhou om te dans tussen genres, en ek is oop vir enige verhaal of studie wat in my agterkop wil posvat. Daar is ’n paar dinge in die kweekmasjien, maar wie weet wat volgende daar gaan uitbroei ...

Pamina se speellys word aan die einde van die verhaal gedeel. Watter liedjies is daar op joune?

Soos ek genoem het, het Pamina my vinyl-versameling geleen, daarom lyk ons klassieke rock-playlists maar baie dieselfde: vol Led Zeppelin, Nazareth, The Doors asook die rustiger Fleetwood Mac, Paul Simon en Leonard Cohen. Maar die afgelope tyd het ek weer Death Cab for Cutie, ’n gunsteling uit my studentedae, spreekwoordelik afgestof en dis tans boaan my speellys. In terme van nuwer musiek geniet ek ook op die oomblik die dromerige pop-klanke van Arizona en die opgewekte, afgeronde beats van Neiked.

En natuurlik is Wolf de Jager se fiktiewe treffer “Tyd om eerlik te wees” my liedjie van die jaar! Dis na aanleiding van Die tragiese saak van Pamina Vermaak spesiaal geskep deur Hunter Kennedy, Fred den Hartog en Laudo Liebenberg en nou beskikbaar op alle digitale platforms.