Hendrik Stericher is in die tronk. Dit, terwyl hy heeltemal onskuldig is.

Wat doen jy as jy deur die polisie in hegtenis geneem word vir ’n moord wat jy nie gepleeg het nie? Hoe bewys jy jou onskuld as hulle glo ’n opslagkoeël uit jou geweer het die dood van jou buurman se kind veroorsaak? Dis presies wat met Hendrik Streicher gebeur. Hy is summier opgesluit en nie eens sy aanklaer vriendin, Amalia, of sy slim prokureur kan hom los kry op borg nie. Boonop is die speurder wat die ondersoek lei nie opgewasse vir die eise wat ’n moordondersoek aan hom stel nie. Motordiefstalondersoeke is sy spesialiteit. Eers wanneer Hendrik se prokureur aandring op ’n ondersoek ter plaatse kom daar onweerlegbare getuienis na vore wat sy onskuld bewys.

Heiliger deur Dibi Breytenbach (Lapa Uitgewers, R230) is ’n heerlike spanningsverhaal.

Breytenbach se kennis oor regsprosedure en die regstelsel onderlê ’n geloofwaardige verhaal waar die ontknoping eers reg aan die einde kom. Die frustrasie van ’n gewone mens wat met die  verkeerde kant van die regstelsel te doen kry, word goed uitgebeeld en die leser kan nie anders as om empatie met die hoofkarakter te hê nie. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

Dorado, Tom Dreyer (Penguin Books, R220)

Dorado kan beskryf word as wit lig wat deur ’n prisma skyn. Die verhaal handel oor Gilbert Du Toit wat sy dag tot dag bestaan agtergelaat het en met sy karavaan en Ford Capri op reis gaan. Daar is egter meer fasette wat tot die leser spreek. Die haarfyn lyn wat tussen normaal en abnormaal is en hoe maklik ’n gebeurtenis die lyn laat vervaag. ’n Persoon se verlede bepaal tot ’n groot mate jou wese. Wat die doel van die lewe is en “quo vadis” is vraagstukke waaroor talle mense wonder.

 Dorado laat die leser met die wete dat elke mens uniek is en ’n spesifieke rol in die toneelspel van die lewe vertolk. Ek sal Dorado aanbeveel as ’n boek op die moet lees-lys van 2017. – Yvette Bezuidenhout

FOTO: verskaf

Nomme 20 Delphistraat, Shirmoney Rhode (Modjaji Books, R150)

Hierdie debuutbundel neem lesers op ’n opwindende ontdekkingstog wanneer die digter haar kleurvolle, vrolike maar ook soms moeilike ondervindings wat in Delphistraat beleef is, deur gedigte oorvertel.

Rhode dui aan dat sy in ’n buurt grootgeword het waar geweld alledaags is: “Soe sal djy jou liggaam offer”, en gee lesers ’n kykie na die moeilike lewe waaraan sy gewoond geraak het.

Die digter skryf hoe boekkennis en lewensondervinding wêrelde uit mekaar is en dui aan dat die twee in haar lewe moeilik versoenbaar bly.

Rhode het geen pretensies nie, maar deel haar ervarings, herinnerings en “lifetime choices” skroomloos. Sy vertel hoe sy as jong kind haar ma gevra het of breakfast inderdaad verwys na ’n “vis-wat-brêk”, om te wys hoe onkundig sy vantevore was.

Sy lewer kommentaar oor die onderdrukking van die moedertaal van Khoi- en Sansprekers, en verwys ook na Taal teenoor moedertaal, of Engels en standaard-Afrikaans.

Die bundel getuig van ’n jong, optimistiese gees en ononderdrukbare optimisme ten spyte van die wrede werklikheid waarvan Rhode geheel bewus is. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

Boekstaaf, Nini Bennett (Cordis Trust Publikasies)

’n Bundel wat boei en jou bybly. Wat Bennett se werk onvergeetlik maak, is haar varsheid, soos Eikson, wat die bekende beeld bevat van ’n mot wat aangetrek word deur ’n kers of Ikarus se vlug na die son.

Maar sý skryf van geloof in die mot op pad na die ‘godeson’, as die ‘kers blouer brand en in spiraalrook doof’, en sluit af met die geliefde wat soos ‘n ‘eikson in die was’ gegiet is.

Bennett skryf oor temas soos liefde en dood, van mens en dier: ‘om te dood is delikaat’. Ander temas in Boekstaaf is die natuur, die vernietigende uitwerking van mense op die aarde en die sirkelgang daarvan: diere, insekte, bome sowel as blomme.

’n Besondere gedig oor ‘die slak dra sy heraldiek sierlik, sleep// tyd se silwer spirale agter hom aan,// mantel, voet en skulp; ek treur// oor die broosbreek van die week// wapenskild...’ wys haar unieke aanslag.

Soos altyd, kruisverwys die welbelese Bennett na ander skrywers, soos haar Blomme van onheil oor ’n gestorwe vrou met ’n Poe-aanhaling wat intertekstueel verwys na Baudelaire se Fleurs du Mal.

Jy sal dié bundel weldeurdagte gedigte met hulle nuutskeppings lees, en herlees. -Mariette Postma

FOTO: verskaf

Eye of a Needle and other stories, Cornelia Fick (Feathers Publications, R230)

Hierdie versameling van 41 kortverhale wissel almal in lengte en styl. In die openingsverhaal ontmoet ons vir Irvin. Irvin bedel langs die pad en maak notas aan homself oor al die mense wat hy sien. Hy hou daarvan om mense dop te hou sodat hy later hul stories kan neerskryf. Deur sy skryfwerk hoop hy om sin te maak van sy omstandighede. In die verhaal DD goes to hospital, word die hoofkarakter so sleg deur ’n verpleegster behandel dat DD wonder hoekom hy so dom was om seer te kry sodat hy hospitaal toe moes gaan. Patchwork is ’n versameling van blitsverhale. Deur die kort grepies uit die hoofkarakter se lewe word die leser blootgestel aan die pyn van ’n verraaiing, nie net die man wat haar met ’n buurvrou verneuk het nie, maar ook die pyn van ’n lewe wat deur haarself verraai is. Drome wat nooit bewaarheid is nie. In Belinda vertel haar oom die verhaal van Belinda se groot liefde, Ferdinand. Ferdinand en Belinda was smoorverlief, maar haar pa het nie van Ferdinand gehou nie. Vir Belinda was daar nooit weer iemand vir wie sy so lief is nie.

Met verdere titels soos “To die for”, “Getting along” en “Walking school” word die leser op ’n reis gevat van grepies uit verskeie karakters se lewens, sonder om jou ’n lang genoeg blik te gee om te kan oordeel. En tog is dit moeilik om hulle te vergeet.   - Antoinique van Staden

FOTO: verskaf

The Book of Gold Leaves,  Mirza Waheed (Penguin)

Die boek is die tweede publikasie uit die pen van die Indiese skrywer, Mirza Waheed. Die verhaal speel af teen die agtergrond van Srinagar, Kasjmir in die vroeë 90’s. Die leser word op 'n reis geneem deur die lewens van Faiz, 'n Sjia-moslem en papiermaché kunstenaar en Roohi,  'n Sunnitiese-moslem. Faiz droom daarvan om meesterstukke op doek te maak, terwyl Roohi haar verdiep in haar studies en wag op ware liefde. Die twee raak verlief en verbreek alle sosiale konvensies. Dan moet Faiz vir 'n tyd weggaan omdat hy 'n belangrike missie moet vervul. Te midde van politieke onrus, staar die twee uitdagings in die gesig. Die verhaal bereik 'n klimaks wanneer 'n familielid 'n noodlottige prys betaal. Op die uiteinde seëvier die liefde, te midde van groot hartseer. Die verhaal is boeiend en hou die leser deurentyd gevange. Die leser word weggevoer na 'n ander wêreld wat terselftertyd bekoor en verryk. Hierdie is 'n leeservaring wat niemand wil misloop nie. 'n Genotvolle verhaal in puik skryfstyl. - Anne Marais

FOTO: verskaf

The diver’s clothes lie empty, Vendela Vida (Atlantic Books, R338)

Die verteller van hierdie meervlakkige roman reis van Florida na Casablanca in Marokko en word dadelik beroof van haar rugsak met al haar dokumente, tegnologie en persoonlike besittings in die hotel waar sy tuisgaan. Pogings om hulp van die polisie te kry, laat meer vrae as antwoorde.

Hierdie ongewone roman word deur ’n verteller in die tweede persoon weergegee. Die feit dat sy in die tweede persoon na haarself verwys, reflekteer haar vervreemding. Hierdie afstand van haarself skep spanning wat die leser noop om voort te lees, op soek na ’n ontknoping van die chaos wat sy voortdurend saai.

Rumi se gedig het dieselfde titel as die roman en sy vertel van haar fassinasie met water en duik toe sy ’n tiener was. Die byna ondraaglike persoonlike verliese wat die verteller gely het verklaar haar gebrek aan belangstelling en diepliggende depressie vir die leser.

’n Roman deur ’n bekroonde outeur wat wys hoe die wonde wat kinders ongemerk opdoen, ’n ondraaglike las kan word. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

Trigger Warning Short Fictions and Disturbances,  Neil Gaiman (Headline UK, R310)

Hierdie versameling van 23 kortverhale en gedigte van Neil Gaiman is al voorheen in ander bundels gepubliseer. Dit is ’n diverse verskeindenheid stories wat die leser boei en wat propvol intrige en misterie is. ‘The Thing About Cassandra’ is ’n moderne verhaal met ’n verrassende en vreemde einde en ‘The Sleeper and the Spindle’ is ’n feëverhaal met ’n donker kant. ‘A Calendar of Tales’ vertel ’n kort storie vir elke maand van die jaar. Dit is geïnspireer deur die twiets wat Gaiman van sy aanhangers ontvang het oor ’n jaar en dit sluit onder andere in ’n mini wetenskapfiksiestorie en ’n feministiese seerower saga! Elkeen van die 23 stories en gedigte het ’n geheimsinnige ondertoon en mens kry die gevoel dat daar ’n dieper betekenis agter elkeen is.  Dit is ’n interressante bundel en sal beslis baie gewild wees onder Gaiman-aanhangers. – Danica Gouws