Moord, geweld, smokkelary, kinderpornografie, dwelm- en kinderhandel is van die temas wat Annerle Barnard in haar hoogs gewilde jeugverhale takel. Vir haar tweede boek, Sindikaat (Tafelberg, R195), met die sestienjarige Paul as hoofkarakter is sy in 2019 met silwer in Sanlam se jeugliteratuur-kompetisie bekroon. Die verhaal het in haar debuut, Sweepslag, met dawerende sukses afgeskop toe sy in 2017 die kompetisie se kortlys gehaal het.  

Paul het die vermoë om hom telkens op die verkeerde tyd op die verkeerde plek te bevind en diep in die moeilikheid te beland. Wanneer hy per ongeluk by sy vriend Chang se huis iets in ’n boks beskuit sien, verskyn hy op die radar van die gewetenlose Chinese mafia. Sy pa huur ’n eks-recce, Bossie, om hom op te pas nadat hy doodsdreigemente kry. Bossie besluit Paul en sy vriende Karlien en Adriaan moet saam met hom “met vakansie gaan” na Zambië en Zimbabwe. Dis maklik om agtervolgers in Afrika af te skud – so redeneer hy altans. Hy ken die terrein en het ou weermagkontakte daar op wie hy kan staatmaak. Wanneer hulle die grens oorsteek, word die groepie deur die skurke aangeval. Maar hoe weet hulle waar hulle is, want Bossie het hulle die dood voor die oë gesweer indien hulle hul selfone sou saamneem.


Die Chinese mafia is nie die enigste mense wat Paul se bloed soek nie. In Sweepslag het hy hom die gramskap van Mikki Dimitriou en sy swaer Angel Aghostinho op die hals gehaal nadat hy ontsnap het uit die huis waarin hulle hom en ’n klomp meisies gevange gehou het om as seksslawe te werk. Ná sy ontsnapping is die hele nes van onheil deur die Valke oopgekrap en Paul is ’n sleutelgetuie in die saak.

Hy leer mense se donker kant ken en besef nie almal is wat hulle voorgee om te wees nie. Die lekkerlees-stories vol aksie behoort adrenalien-junkies tevrede te stel. Daar is genoeg bloederige gevegte, intrige en ook ’n bietjie liefdesdrama om hulle enduit te boei. Wie sou kon dink dat Bloemfontein soveel aksie en drama kan oplewer!

 
Ek het per e-pos met Annerle Barnard oor haar skryfwerk gesels.


Vertel my meer van jouself, wie is jy en wat doen jy?

Ek was jare gelede ’n Engelsonderwyseres en het van nature ’n groot passie vir geletterdheid, waarskynlik iets wat ek van my ouers gekry het. Albei was groot lesers asook voorstanders van lees en spreekbuise vir die kognitiewe en ander voordele wat lees bied.

Ná ’n paar jaar as onderwyseres en lektrise aan ’n tegniese kollege het ek my vir ongeveer twaalf jaar in die korporatiewe sektor begewe. Tans skryf ek soggens. Smiddae ry ek my twee seuns (en dikwels ook hul maats) rond en saans is skoolwerk en familietyd (wanneer ons nié nodig het om vir sport rond te ry nie).

Hoe het jy by skryf uitgekom?

Vanaf vyftien het ek al geweet ek wil graag skryf, maar in ’n plattelandse omgewing klink skryf so vergesog dat ek dit nooit eens hardop erken het nie. Ek het geen idee gehad hoe om by my droom uit te kom nie en het dit deur die loop van die jare op die agtergrond geskuif, maar nooit daarvan vergeet nie. Intussen het ek baie gelees en die jeug met wie ek te doen gehad het, probeer motiveer om te lees. In 2013 het ek uiteindelik die geleentheid gehad om ’n slypskool van Riana Scheepers by te woon en onmiddellik daarna werk begin maak van my droom.

Interessant: Terwyl ek stilweg besig was om verskeie slypskole te oorweeg, het ’n jare lange vriendin, sonder enige voorafkennis rakende my planne, uit die bloute vir my ’n SMS gestuur om te sê dat ek moet skryf.

Waarom skryf jy jeugverhale en spesifiek meer gemik op seuns?

My plan was nooit om jeugverhale te skryf nie. Ek het destyds met ’n volwasse roman begin toe ek ’n e-pos aangaande ’n kompetisie vir kinderstories ontvang. Tydens die skryf van die kinderstorie het ek besef dat die storie eintlik ’n jeugroman wou wees. Dis hoe Sweepslag tot stand gekom het en ek het nog glad nie weer daaraan gedink om volwasse fiksie te skryf nie. Die jeug is die toekoms. Kofi Annan het gesê: “Geletterdheid is ’n brug tussen ellende en hoop.” Ek skryf in die hoop dat onwillige tienerlesers ná die eerste hoofstuk die res sal wíl lees.Ek het nie doelbewus beplan om fiksie te skryf wat meer op tienerseuns gemik is nie, en volgens boekhandelaars en lesers is ’n aantal van my lesers volwassenes van albei geslagte. (Volgens navorsing is 55% van jeugfiksielesers volwassenes.) Benewens letterkunde en jeugfiksie lees ek graag misdaadfiksie. Ek hou van aksie, ’n vinnige tempo en ’n kinkel in die storie. Vanweë my gestoei om my seuns aan die lees te kry, weet ek dat die spanningslyn snaarstyf moet bly, anders verloor hulle belangstelling. Ek vermoed al hierdie faktore het ’n invloed op die fiksie wat ek skryf.

Sowel Sweepslag as Sindikaat bevat so ’n bietjie romanse ter wille van diegene wat daarvan hou. Dis oneindig belangrik dat ons die jeug aan die lees kry. Die meeste tienerseuns wat ek ken, reken boeke is “girlie” en vervelig. Hulle hou van aksiefilms (byvoorbeeld die Jason Bourne/Jack Reacher-tipe films), maar besef nie dat hierdie films hul oorsprong in boeke gehad het nie. Daar is régtig vir elke persoon ’n genre.


Wat was die sneller vir die eerste boek?

Ons was saam met vriende in hul motorboot op die Vanderkloofdam. Toe ons naby ’n eiland stop en ek hoor dat die diepte daar 85 meter is, het ek gedink dis die ideale plek vir ’n misdaad. Boonop is al die kinders toe oorboord om te swem (darem mét lewensreddingsbaadjies). Die heel eerste konsep vir die storie het dus met Paul begin. Terug in Bloemfontein was ek besig met navorsing vir die storie toe ek ’n nuusberig hoor oor die ontvoering van twee meisies van Bloemfontein. Dit het dadelik my storie in die mensehandelrigting gestuur – totaal onbepland.

Hoe het jy jou in die kop van ’n tiener geplaas om die verhaal uit Paul se oogpunt te kon vertel?

My heel eerste poging het geklink na formele kommunikasie met ’n korporatiewe kliënt. Toe ek dit besef, het ek begin luister na my seuns en hul maats en ook my stiefdogter en susterskind (destyds tieners). Verder het ek ’n sielkundige geraadpleeg wat slegs met die jeug werk. Die grootste uitdaging in daardie stadium was om my tienerkarakter nié soos ’n verantwoordelike ouer te laat klink nie. Ek het die sielkundige ’n paar keer geskakel om te vra hoe ’n tiener op ’n spesifieke situasie sou reageer. Addisioneel het ek artikels oor die tienerbrein en -besluitnemingsprosesse bestudeer en met vriende gesels wat tieners in die huis het. Deur vriende en kennisse het ek al stories gehoor wat my laat huil het van die lag, asook baie ontstellende stories.

Moes jy baie navorsing doen?

Ja, albei boeke het baie navorsing geverg, maar dit was ook geweldig interessant. Mense is gelukkig baie behulpsaam wanneer dit kom by die deel van hul kennis. Die sielkundige was van groot hulp, so ook ander tienerouers, medici, regs- en polisiemense, wapenkenners, menseregtespesialiste, vlieghengelaars en kenners van spesifieke Afrikalande. Soms verloor ek my so effens in die navorsing omdat dit so interessant is en dan moet ek myself weer oortuig dat ek genoeg weet om die storie geloofwaardig te skryf.

Waarom donker temas soos kinderhandel, dwelms en kinderpornografie aanroer?

Ek lees graag koerant en die temas in Sweepslag en Sindikaat is albei geïnspireer deur nuusberigte. As sodanig is dit realistiese fiksie en reflekteer ’n aspek van die werklikheid. Daar was die laaste paar jaar gereeld nuusberigte oor kinderhandel, dwelms en die seksuele misbruik en -verfilming van minderjariges in die Vrystaat en die res van Suid-Afrika. Menseregtekenners reken dat bewusmaking tot verminderde blootstelling lei. Volgens die internasionale slawerny-indeks (Global Slavery Index) is ongeveer 155 000 mense in Suid-Afrika in die een of ander vorm van moderne mensehandel vasgevang en staan 54% van die bevolking die kans om in hierdie strik te trap. Dit is dus ’n baie relevante tema – net soos die smokkelhandel in bedreigde spesies (Sindikaat).

Die jeug is nie dom nie en jy kan hulle beslis nie ’n rat voor die oë draai nie. Vanweë tegnologie en ons veranderende, hedendaagse samelewing is die jeug baie meer blootgestel as ’n paar dekades vantevore. In internasionale jeugfiksie is géén tema taboe nie. Fanatiese tienerlesers lees dikwels vanaf vyftien volwasse fiksie, wat enige tema aanraak. ’n Onderwyseres het eendag vir my gesê een van haar leerlinge het Afrikaanse fiksie beskryf as net nóg ’n Afrikaanse cliché. Dis belangrik dat die jeug graag boeke in hul moedertaal sal wíl lees en daar is regtig uitmuntende, moderne Afrikaanse fiksie beskikbaar.

Wat het jy geleer in Sweepslag wat jou gehelp het met die skryf van Sindikaat?

Om nie moed te verloor nie en dat dit oukei is om ná die eerste honderd woorde te wonder hoe ek uit ’n idee ’n hele roman gaan ontwikkel.

Ook was ek met Sindikaat minder onseker oor hoe ek die roman wou struktureer. Met die eerste weergawe van Sweepslag was ek onseker oor absoluut alles behalwe die protagonis. Ek het tydens die skryf en herskryf aan min of meer elke aspek van die roman verander. Met Sindikaat het ek ’n beter idee gehad van wat ek wou doen, maar albei romans was klippe kou en herkou. Skryf is ’n geïsoleerde proses, in teenstelling met ’n korporatiewe omgewing waar daar altyd meer senior kollegas is wat bereid is om hul kennis en ervaring te deel.  

Gelukkig het ek nou ’n paar fantastiese skrywersvriende met wie ek gedagtes kan uitruil.


Hoe skep jy jou karakters? Grond jy hulle op mense wat jy ken of is hulle suiwer fiktief? Ek dink hier aan Bossie en aan Paul se pa.

Ek skep fiktiewe karakters, maar ek leen wel persoonlikheidseienskappe by werklike mense. Wat betref Paul se pa: Ek ken ’n hele aantal regsmense en uit die aard van hul werk is hulle redelik gefokus op oorsaak en gevolg. Ook ken ek ’n hele aantal mense vir wie grys areas nie bestaan nie, wat hulle perfek maak vir werksomgewings waar eerlikheid en integriteit van groot belang is. Dis uit ’n kombinasie van hierdie eienskappe wat Mark Rudman ontstaan het.

Vir Bossie se karakter het ek ook eienskappe by werklike mense geleen. Hul persoonlikhede verskil, maar die gemeenskaplike faktor is dat hulle alle vrae aangaande hul beroep ontduik. Omdat hierdie mense so vaag oor hul lewe en beroep is, is Bossie in my kop ook so ’n bietjie van ’n enigma.

Recce’s is, volgens kenners, vanweë hul opleiding beter toegerus om die psigologiese nadraai van geweld te verwerk en ek weet dat die fisieke en psigologiese keuring van recce’s geweldig streng is. Dis hoekom ek ’n oud-recce as Paul se lyfwag gekies het. Albei my boeke is realistiese fiksie en in Sindikaat het ek Bossie nodig gehad om te doen wat Paul, vanweë sy ouderdom en tekort aan ervaring, nie self sou kon doen nie.

Vertel my meer van jou skryfproses: Enige plek, enige tyd, of gedissiplineerd volgens ’n roetine?

Ek probeer om soggens te skryf en dwing myself om voor die rekenaar te gaan sit, of ek gemotiveerd is of nie. Ek geniet dit om te skryf en sluit die wêreld doelbewus uit wanneer ek werk. Soms trek die lewe sy eie toutjies en kom ek vanweë omstandighede ’n paar dae lank nie by my rekenaar uit nie. Dit spook altyd by my, want “ledigheid is die duiwel se oorkussing”, het ek kleintyd geleer.

Ek werk normaalweg in my studeerkamer, maar het al dikwels met my skootrekenaar in ’n koffiewinkel, by twee vriendinne se huise, of in my motor langs die sportveld gesit en werk. Ek kan eintlik enige plek werk, mits ek minstens ’n uur lank tyd het.

Jou eerste boek is benoem vir die Sanlam-prys vir jeugliteratuur en nou is Sindikaat die silwer-wenner. Hoe voel dit?

Vir my was die oorwegende gevoel een van dankbaarheid. Vreugde ook, ja, maar wanneer ’n mens op ’n later ouderdom in jou lewe eers begin skryf en ’n prys wen, is dit beslis rede tot dankbaarheid. Ek het al geleer dat jy niks as vanselfsprekend moet aanvaar nie en jou hele lewe in dankbaarheid moet lewe, meer nog indien jy goeie gesondheid ervaar en mobiel is. Ek probeer my seuns leer dat jy jou talente moet gebruik (dit beteken beslis nié dat jy altyd moet wen nie), want anders kon ’n ander persoon eerder die talent ter sprake ontvang het.  Iewers in Kringe in ’n bos sê Saul Barnard die lewe toets jou aan jou drome om te kyk of jy die moed het om hulle in te haal. Almal het ’n talent ontvang, maar om die moed bymekaar te hark om daardie talent te ontwikkel, is die groot ding. Mens is natuurlik altyd bang vir mislukking, maar as Edison duisend keer met die gloeilamp kon stoei ... Sukses is ’n leerproses.

Wat lê nou vir jou voor?

Ek kou en herkou wolframstaal (tungsten steel) met die manuskrip waaraan ek tans werk. Hierdie manuskrip het verskeie unieke uitdagings. Wanneer ek moedeloos wil raak, herinner ek myself daaraan dat geeneen van my manuskripte tot dusver per hommeltuig gearriveer het nie en dat jy die hindernisse in jou kop moet plattrap. Wanneer jy iets nuuts aanpak, gaan dit uiteraard dikwels met frustrasie en foute gepaard. Aanhouer wen.