Ja, die vroue glo hulle gaan met ’n moederskip weggevoer word na ’n planeet in die buitenste ruim waar hulle ouderdom gaan fnuik en ’n fantastiese lewe gaan lei. Is hierdie mense stapelgek, of steek daar waarheid in hul storie? Dís die verhaal wat Chanette Paul in haar nuutste boek, Uit die bloute (Lapa Uitgewers, R315), vertel. Jojo Richter word deur Irene Richter, die nuwe vrou in haar eks se lewe, gevra om die groep te ondersoek. Irene glo vas haar vervreemde suster, Diana, is deur hulle gebreinspoel om deel van die groep te word. Die gebeure skop af wanneer Irene ’n handgeskrewe brief van haar suster kry. Sy gaan sien die grafoloog Ayla Hurter om te probeer vasstel of die brief eg is. Ayla se suster, Nimue, en Diana is boesemvriendinne. Irene se besoek aan Ayla ontketen ’n kettingreaksie van botsende belange. Die verhaal wat ontvou is vol kinkels, met tonne aksie, moorde, sluipmoorde en verdwynings wat boei tot die einde. Heerlike karakters en interessante gebeure maak dat jy die boek nie kan neersit nie.

Ek het per e-pos met Chanette gesels oor Uit die bloute.

Dis die vyfde boek waarin Jojo Richter die hoofkarakter in die verhaal is. Toe jy haar aanvanklik geskep het, het jy gedink jy sal haar weer in ’n boek gebruik?

Jojo verbeel haar dalk sy is die hoofkarakter in veral die laaste twee verhale, maar sy is nie.Terwyl ek aan Siende blind[2013] geskryf het, het ek iemand nodig gehad wat meer bedrewe was met sekere goed as Cara, die hoofkarakter. Jojo het in haar wapperende kaftan opgedaag.Teen die einde van die storie het ek vermoed sy gaan weer haar opwagting maak en was half verras toe sy net ’n klein aandeel gehad het aan Raaiselspieël[Maart 2014], wat op Siende blind gevolg het. Toe ek egter aan Ewebeeld [November 2014] begin skryf, was Jojo daar in volle wapenrusting. Sy het selfs ’n sekondêre hoofkarakter geword. Ek vermoed sy het haar ’n bietjie gewip omdat ek haar eenkant toe geskuif het om die Offer-tweeluik [2015-’16] te skryf. Toe ek aan Paaiboelie [2017] geskryf het, moes ek net keer of sy het die hoofkarakter oorskadu. En dieselfde het gebeur met Uit die bloute.

Hoe het jy haar karakter geskep?

Eintlik skep ek nie karakters nie. Ek vermoed hulle broei – sonder my medewete of toestemming – in my onderbewussyn uit. Hulle kom heelhuids na my toe en ek leer hulle met verdrag net ál beter ken. Soms verstaan ek hulle eers teen die einde van die eerste weergawe van my storie. Soms eers wanneer ek die manuskrip herskryf.

Soos feitlik al my karakters is Jojo suiwer fiktief. Sy het dalk wel hier en daar ’n baie ligte klap weg van mense wat ek al teëgekom het, maar ek sal nie eens kan sê wie of wat nie. Tog is sy vir my baie werklik.

Het haar karakter deur die jare verander?

Ja. Sy word ouer en al die ervarings waardeur sy gaan, skep die geleentheid vir groei as mens. En natuurlik leer ek haar met elke boek beter ken. In Ewebeeld, maar veral in Paaiboelie, begin ’n weerloser sy van haar blyk. Sy word sestig en kan nie mooi verstaan hoe dit gebeur het nie. Sy begin so tussen al die dinge deur bestek opneem van haar lewe. Sy raak verlief en dit verander ook sake.In Uit die bloute kom die besef dat haar lewensverwagting beperk raak, ál duideliker na vore. Sy bevraagteken haar lewenswaardes en kom agter dat sy nie meer kan byhou met al die tegnologiese ontwikkelings nie.Tog bly sy inherent die hardkoppige, flambojante Jojo Richter wat in die eerste plek oor my pad gekom het. Steeds die Jojo Richter wat glo dis sy teen die wêreld en die scoreis een-nul. Ek verstaan haar en haar vertwyfelinge net algaande ál beter.

Doen sy altyd wat jy vir haar beplan?

O genade, nee, Jojo vang aan net wat sy wil. Ek kan soms nie byhou met al haar grille en geite nie. Daar gee ek vir haar Joachim en kyk wat maak sy – word skielik skaam vir haar lyf. Dit het ek glad nie voorsien nie.Sy tree ook dikwels glad nie op soos ek verwag nie. Soms slaan sy net ’n heel ander koers in. En daarmee saam natuurlik die storie.Soms wonder ek of ek nie dalk skryf net om agter te kom wat my karakters gaan aanvang nie.

Jy kruisverwys in baie van jou boeke na gebeure of karakters uit jou vorige werk. Hoe hou jy kop met al die storielyne en karakters?

Wat karakters uit vorige boeke betref, moet ek soms gaan seker maak van detail, maar my karakters en stories is vir my baie werklik, daarom is dit nie moeilik om te onthou wie pas waar in en dies meer nie. Toe ek byvoorbeeld ’n joernalis nodig kry in Uit die bloute, het ek dadelik onthou Xanthe van Fortuin [2008] was een. Waarom ’n nuwe karakter nader hark? En boonop was Xanthe andersins ook perfek vir die rol.My storielyne is redelik verwikkeld en om die een of ander rede is daar altyd ’n hele menigte karakters. Elkeen van hulle asook hul agtergrond – selfs goed wat nooit in die boek genoem word nie – is egter vir my duidelik omlyn.Terwyl ek skryf, stel ek wel vir elke boek ’n tydrooster op sodat ek weet wie was hoe oud in watter jaar en wat die hoofgebeure in hul lewe is. Daarby voeg ek ook uitsonderlike nuusgebeure wat moontlik ’n invloed op hul lewe kon gehad het.

Plot jy altyd die verhaal eers uit of is dit ’n organiese skryfproses?

Ek is ’n organiese skrywer. Dit sal my eindeloos verveel om te skryf aan ’n storie as ek presies weet wat wanneer en waar gaan gebeur. Aan die begin weet ek iemand gaan liefkry en/of iemand gaan boet vir sy/haar dade. Dis die soort boek wat ek skryf. Die res kom met verdrag.Ek beplan wel entjies vooruit terwyl ek skryf en saans as ek bestek opneem, maar selfs dít werk meermale nie uit soos ek dit voorsien het nie. Dit gebeur dikwels dat ’n karakter uit die bloute my storie te bowe val of dat een wat ek gedink het ’n goodie is, toe eintlik ’n baddie in skaapsklere is. En dit verander natuurlik die hele loop van die verhaal.Navorsing ry ook soms beplanning in die wiele. Ek dink iets gaan op ’n sekere manier uitwerk en dan lees ek iets raak wat veroorsaak dat dit nie kan werk nie. Of ek kry ’n nuwe plan. Elke boek is vir my ’n reis in onbekende gebied en na ’n onbekende bestemming.

Die gebeure in Uit die bloute draai rondom vreemde vlieënde voorwerpe. Was dit die afspringplek vir die verhaal?

Vandat ek as kind saam met my ouers verby die Flying Saucer Roadhouse in Pretoria gery het, fassineer vlieënde pierings my. Ek het al baie daaroor opgelees en kyk graag na programme op The History Channel oor die onderwerp. Ek wou al ’n geruime tyd iets daaroor inweef in ’n storie, maar dit het net nooit so gebeur nie.Toe sit ek eendag in ’n besonder mismoedige bui oor al die misdaad, aggressie en magsug – nie net hier nie, maar die wêreld oor – en wonder waarom mense nie in vrede kan saamleef nie. Nie elkeen hul plekkie in die son kan gun nie.En toe wonder ek in ’n lawwe oomblik of die aarde nie dalk ’n strafkolonie is van ’n ander sterrestelsel nie, soos Australië die strafkolonie van Brittanje was. Of al die aggressiewe, magsugtige mense van daardie sterrestelsel of planeet nie Aarde toe verban is nie. Dat dit is waarom hier soveel haat en nyd is. Dis net daar dat ek geweet het ek gaan iets daaroor skryf, al klink dit hoe verspot. Uit die bloute het in groot mate hieruit voortgespruit.

Moes jy baie navorsing vir die verhaal doen?

Geweldig baie. Nie net oor VVV’s nie, maar ook oor grafologie, oor begrippe soos Indigo, Crystal en Rainbow Children. Oor Elizabeth Klarer. Oor Stockholm-sindroom en sommer ’n menigte ander goed. Gelukkig geniet ek navorsing!

Wat was die vreemdste ding wat jou opgeval het in jou navorsing oor VVV’s?

Dat daar soveel mense is wat weier om hul name te verstrek en weier om enige vergoeding te aanvaar vir die publikasie of dokumentering van hul ervarings nadat hulle glo hulle in kontak was met ’n buiteruimtelike vaartuig en/of die insittendes daarvan. Hoekom sou hulle so iets versin as dit nie vir geld of tydelike roem is nie? Hulle baat net mooi niks daarby nie.Nog iets wat my opgeval het, is die oorweldigende aantal voorvalle wat opgeteken is – ook in Suid-Afrika – en dat die verskillende voorvalle, en die detail rondom dit, so ongelooflik ooreenstem. En dit in verskillende lande, op verskillende kontinente, onder verskillende kulture.Wat vir my ook geweldig interessant was, is dat die Afrika-legendes en veral die skeppingsmites van volke soos die Zoeloes, die Dogon van Mali en vele ander dikwels verwys na reptielagtige wesens wat in vreemde vlieënde voorwerpe Aarde toe gekom het. En nie net in Afrika nie, ook onder inheemse volkere van die Amerikas, Australië en elders. In hierdie mites is dit dikwels die reptielagtige wesens wat onmin en verdeeldheid onder die mensdom saai. Wat ’n mens nou weer laat dink aan die slang van Genesis.En dan is daar natuurlik die Ruwa-voorval in 1994 in Zimbabwe wat vir Jojo – en ook vir my – so onverklaarbaar is.

Die karakter Ayla is ’n grafoloog. Het jy een besoek om jou handskrif te ontleed as deel van jou navorsing?

Weer eens stel ek al ’n hele paar jaar belang in die ontleding van handskrif. Nie net forensiese ontleding nie, maar ook ontleding vir profileringsdoeleindes. Ek het my handskrif reeds ’n paar jaar gelede oor die pos laat ontleed – met verrassende resultate – en ook ’n paar boeke daaroor aangeskaf. Toe ek agterkom Ayla is ’n grafoloog, het ek egter veel wyer navorsing gedoen en onder andere hulp gekry van Sandra Fisher van graphology-world.com. Veral met betrekking tot lelike en/of onleesbare handskrif.

Irene is hardekwas, maar het op my as leser gegroei. Het jy van die begin af van haar gehou?

Ja, ek het, al is dit nie altyd ewe maklik om van haar te hou nie. Ek het onmiddellik met haar simpatie gehad. Oënskynlik is sy Jojo se meerdere en het alles wat sy wil hê, insluitend Valk, maar sy bly vermoed dat sy vir Valk tweede beste is ná Jojo. Sy is in ’n mate die poor little rich girl, maar gelukkig is sy ook soveel meer as dit.

Gaan ons vir Jojo in ’n volgende boek sien?

Nie onmiddellik nie, maar ek voorsien nog een boek oor haar – die laaste een. Ek skryf nou eers aan iets anders, al was ek half van plan om hierdie laaste boek van haar ná Uit die bloute aan te pak. Ek vermoed ek is maar net traag om finaal van haar afskeid te neem.

Jy is nie net ’n skrywer nie, maar doen ook ander werk. Wat doen jy alles?

Ek doen manuskripontwikkeling vir Lapa Uitgewers. In Engels sou jy dit seker structural editing kan noem, maar dit strek heelwat wyer as dit. In SA moet jy maar altyd meer as een ding in jou werksomskrywing inkorporeer.Deesdae lees en evalueer ek so een tot twee manuskripte per maand, maar voorheen was dit veel meer. Ek het egter aansienlik afgeskaal omdat ek andersins nie genoeg tyd vir my eie skryfwerk kry nie. Ek werk ook deesdae net met manuskripte van skrywers saam met wie ek al ’n lang pad gestap het, almal nou reeds gepubliseerde skrywers, en slegs nou en dan met ’n manuskrip van ’n nuweling wat werklik baie potensiaal het.Verder doen ek op informele vlak navorsing oor genres en trends

in die internasionale ontspanningsfiksiemark. Dis vir my en my uitgewers belangrik om te weet wat in die internasionale speelveld aan die gang is.Ek het voorheen skryf-/slypskole aangebied, maar dit het net te tydrowend geraak. Ek word egter steeds soms uitgenooi om oor skryfsake te praat en doen dit graag as ek tyd het. Ek het ’n paar bydraes gemaak tot Die Afrikaanse Skryfgids, wat dit makliker maak om vir skrywers, veral beginnerskrywers, daarheen te verwys pleks van telkens dieselfde raad te gee.

Wou jy altyd skryf en hoe het alles begin?

Ja. Vandat ek kan onthou, het ek maar stories uitgedink en vandat ek ’n sin aanmekaar kon slaan, vir myself stories neergeskryf. Dis asof daar net hierdie ding in jou is. Ek was so sestien toe ek in ’n dapper oomblik ’n sprokie, Tant Mollie en die stoute feetjie, na Siembamba gestuur het. Dié is tot my verstomming aanvaar en voorgelees.In matriek het ek verlief geraak op een van die gewildste seuns op skool en geweet ek staan nie ’n kans nie. Ek was heeltemal te teruggetrokke en nie deel van die in-groep nie. Toe skryf ek maar ’n storie waarin my hoofkarakter wel raakgesien word. In my tweede jaar op universiteit was ek brandarm en het dié storie Huisgenoot toe gestuur en dis aanvaar.Daarna het talle stories gevolg, maar almal is teruggestuur. Toe begin ek glo dit was beginnersgeluk en ek kan nie werklik skryf nie. Twintig jaar later het ek geweet as ek nie nou begin skryf nie, gaan ek nooit die moed hê nie. En dis waar dit werklik begin het. Dis nou drie en twintig jaar later en ek skryf steeds. Want ek kan, soos Martin Luther, nie anders nie.

Raak jy nog opgewonde as jy jou jongste boek vir die eerste keer in jou hande hou?

Elke liewe keer. Ek kan dikwels steeds nie glo dat ek toe waaragtig ’n skrywer geword het nie. Dat mense waaragtig my boeke koop en lees nie.Elke boek is vir my baie spesiaal. Elkeen is vir my deel van my DNS. Omdat ek as aangenome kind nie weet waar ek vandaan kom nie, nie broers of susters het nie en boonop kinderloos is, is my boeke die enigste spoor wat ek ná my dood kan agterlaat – hoe tydelik ook al. My stories is al wat sal kan getuig: Chanette was hier.