Ricus is ’n motorwerktuigkundige, maar hy is nie sommer ’n gewone een nie. As jy verwag om hom met ’n moersleutel in die hand te sien waar hy buk oor ’n oop motorenjinkap, gaan jy teleurgesteld wees. Nee wat, hy is ook ’n terapeut wat mense help om verskillende persoonlike probleme op te los.

In Sally Andrews se jongste boek, Tannie Maria and the Satanic Mechanic (Umuzi, R230) speel dié eksentrieke motorwerktuigkundige ’n groot rol in die dramatiese gebeure wat so vermaaklik en boeiend vertel word. Hy is die sogenaamde satanic mechanic waarna in die titel verwys word. Sy terapiegroep bestaan uit uiteenlopende karakters wat elkeen ’n andersoortige probleem ervaar waarmee hulle sy hulp benodig.

Ek was gek oor die eerste boek in die Tannie Maria Mystery-reeks, Recipes for Love and Murder. Daarin is ons voorgestel aan Tannie Maria, die vrou van die koerant wat mense se probleme oplos deur vir hulle ’n resep voor te skryf!

Sy is steeds besig met haar werk by die koerant, maar wroeg self met ’n paar duiwels uit haar verlede. As sy hierdie duiwels nie besweer nie, sal sy nooit gemaklik wees met haar en speurder Henk Kannemeyer se verhouding nie. Op sy aandrang gaan sien sy ’n berader wat haar op ’n dieet sit. Die hoofstorielyn gaan egter oor Slimkat, leier van die San, se moord. Hy is vergiftig en sterf voor Tannie Maria. Natuurlik kan sy nie anders as om betrokke te raak by die ondersoek nie.

Omdat haar berader se raad nie werk nie nader sy Ricus om deel van sy terapiegroep te word. Daar gaan sy probeer om vrede te vind met haar lyf, wat natuurlik verband hou met haar intimiteitsprobleem met Henk. Maar die moord op Slimkat speel ook ’n rol in die vertroebeling van haar verhouding met Henk, want hy wil nie hê sy moet betrokke raak by die saak nie. Maria kan nie anders as om deur ’n sameloop van omstandighede betrokke te raak nie, want tydens een van hul terapiesessies by Ricus word nog iemand vermoor. Hoe hou Slimkat se moord verband met die ander moord, en wat is Tannie Maria se rol in die gebeure?

Dis ’n boeiende verhaal met volop spanning, humor en eksentrieke karakters en ongewone liefde. Mens kan nie anders as om die boek op te slurp nie. Hierdie leser sien met groot afwagting uit na nog ’n Tannie Maria verhaal. 

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Katerina se mojo, Kristel Loots (LAPA Uitgewers, R214,95)

Katerina is ’n sterk vrou met ’n eiesoortige mooi, al is sy effens oorgewig. Sy probeer net oorleef. Haar man, Simon, is ’n ongevalle dokter (lees werkslaaf) wat te min tyd het vir haar en die tweeling. En met twee tieners in die huis is dinge beslis nie maklik nie. Wanneer Simon dus beslis is om te emigreer Kanada toe, verloor Katerina haarself heeltemal en haar wêreld slaan bollemakiesie. Sy gaan beslis nie saam as die alomteenwoordige beeldskone verpleegsuster Jennifer ook gaan nie – al is sy Simon se regterhand en al verseker hy haar dat hulle net “buddies” is.

Ons kan almal met hierdie verhaal identifiseer, vol eietydse kwessie soos rebelse kinders met skoolprobleme, egskeiding, skinderbekke, korrupte landsake en moordslagoffers wat in noodgevalle beland.  Ook rakende wat die moderne vrou van die huwelik verwag en hoe maklik daar ’n afgrond binne die huweliksbed kan oopgaan.

’n Baie humoristiese lees wat jou regdeur hardop laat lag en selfs hier en daar ’n traan laat afvee! – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Moord op Karibib, Isa Konrad (LAPA Uitgewers, R215)

Deur op die verkeerde tyd op die verkeerde plek te wees, word Alet Gouws teen haar sin by ’n moordondersoek ingetrek. Sy’s ’n mishandelde vrou wat van haar man probeer ontsnap, maar op Karibib vind sy nie vrede nie. Die plaaslike polisieinspekteur, Con Dorfling, worstel met sy eie spoke. Nie hy of sy geniet dit dat hulle van mekaar afhanklik is nie, maar omstandighede gooi hulle die heeltyd saam totdat die liefde uiteindelik begin blom. Dié deel van die storie was vol van die soort clichés en onwaarskynlikhede wat in stroperige liefdesromans voorkom. Krapperig of lekker? Dit sal afhang van jou smaak in boeke.

Die moordstorie was wat my laat aanhou lees het. Die vermoorde – ’n skatryk boer van die omgewing - was ’n opperste vark. Al sy naastes is verdagtes. Hul stories en moontlike motiewe was interessanter as die twee hoofkarakters s’n. Egbreuk, dronkenskap, bedrog en skandaal eskaleer en loop uiteindelik uit op geweld. Die karakters is almal verstrengel met mekaar op maniere wat eers aan die einde uitkom en die moordenaar blootlê.

Konrad vang die Namibiese landskap baie goed vas. – Helen Schöer

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Killing Monica, Candace Bushnell (Little Brown, R305)

PJ Wallis is wêreldwyd bekend as die skepper van die Monica-boeke en -rolprente.  Die aktrise wat Monica speel, SondraBeth, is PJ se beste vriendin, en PJ lewe ’n luukse lewe en woon die een na die ander partytjie en geleentheid by. Alles natuurlik te danke aan haar karakter Monica. Oënskynlik lyk dit asof al PJ se drome waar geword het … maar alles is nie maanskyn en rose nie.  PJ is moeg vir Monica, om net Monica-boeke te skryf en konstant met Monica vergelyk te word.  PJ breek weg en skryf iets anders.  Ongelukkig wil haar aanhangers, eksman, uitgewer, agent en vele ander nie die einde van Monica sien nie. Is haar enigste uitweg om Monica dood te maak?  Ons leer ken PJ op die stadium waar dit lyk asof alles uitmekaar begin val …

’n Lekker ligte verhaal wat teen ’n vinnige pas lees en wat ’n verassende einde het. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

What Poets Need, Finuala Dowling (Kwela Books, R221)

Ek was so meegesleur deur dié boek, dat ek die aandete in die oond laat verbrand het. My kop was in Kalkbaai, saam met die karakters, baie ver van my eie kombuis af.

John Carson is ’n digter met ’n ongelukkige liefdeslewe. (Kry ’n mens ooit digters met gelukkige liefdeslewens?). Die boek bestaan uit sy e-posse aan Theresa, sy geliefde, ’n ouer, getroude vrou wat hom nie meer wil sien nie, maar steeds met hom wil korrespondeer. Hy skryf elke dag aan haar en die boek dek ongeveer vier maande van sy lewe. Dis ’n heerlike voyeuristiese plesier om te kan deel in elke klein detail van dié innemende verteller se persoonlike lewe wat met soveel verbeelding en teerheid weergegee word. Elke newekarakter, van sy 9-jarige susterskind tot die plaaslike bergie tot sy vriend se hond, skitter in hul menslikheid – ja, die hond ook. Kalkbaai self word ’n kleurvolle karakter, en nie net ’n plek nie.

Carson (of Dowling dan nou) rumineer ook oor die verleiding van woorde en die digproses. Dis interessant, slim en plek-plek baie snaaks: arme Carson aanvaar onder meer ’n opdrag om ’n plaaslike restaurant se spyskaart in rym oor te skryf.

Die leser is dankbaar aan Theresa, die perfekte muse. Dis immers haar onbereikbaarheid wat Carson inspireer om so met woorde te flankeer.

Ek wens Dowling wil ons trakteer met ’n opvolg wat weer Theresa se e-posse aan Carson bevat, want ek is nog lank nie moeg vir hierdie verhaal en sy karakters nie. – Helen Schöer

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

My everything, Katie Marsh (Hodder UK, R210)

Eens op ’n tyd was Hannah en Tom smoorverlief. Maar dit was eens op ’n tyd.  Nou, in hul dertigs, het die tyd skaduwees gegooi oor hul verhouding. Al wat vir Tom tel, is sy werk by ’n prokureursfirma in Londen, vir Hannah ignoreer hy heeltemal. Hannah is ’n onderwyseres in ’n skool waar sy nie wil wees nie.  Sy wil ’n verskil maak, in Tanzanië! Vandag gaan sy Tom vertel dat sy hom verlaat, maar die noodlot het ’n ander idee. Tom kry ’n beroerte en as gevolg van Hannah se sterk pligsgevoel, voel sy dat sy moet bly om hom te versorg. Maar wat van hààr drome?

Die storie wissel tussen die hede en die verlede, en geleidelik leer jy meer oor hoe hul verhouding ontwikkel het en hoe hulle uitmekaar gedryf het. Al is dit ’n tema wat depressief klink, is die storie vol humor en het ek dit regtig baie geniet.  – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Who do you love, Jennifer Weiner (Simon & Schuster, R215)

Rachel en Andy ontmoet mekaar alreeds op agtjarige ouderdom, een aand in die hospitaal se ongevalle afdeling. Sy het ’n hartoperasie ondergaan en hy het ’n gebreekte arm wat behandel moet word.  Andy lyk so bang en alleen daar waar hy sit in ontvangs dat Rachel hom een van haar vele sagte speelgoed beertjies gee. Hulle vertel ook vir mekaar hul stories van hoe hulle daar geland het. Die lewe neem sy loop.  En dan terwyl albei op hoërskool is, loop hulle mekaar weer raak.  Albei gaan op ’n uitreik-kamp wat huise bou vir minder bevoorregtes. Rachel kom uit ’n gegoede Joodse huis. Andy daarenteen het ’n enkel ouer en dit gaan broekskeur. Hy begin hardloop en ontdek hy blink uit daarin, en dit word sy lewe, sy ontsnap van alles wat druk en pla. Hulle is smoorverlief aan die einde van die kamp. Dit ontwikkel eers in ’n ernstige verhouding ’n paar jaar later wanneer albei universiteit toe gaan. Andy berei hom voor om deel te neem aan die Olimpiese Spele en Rachel verloor so bietjie van haar identiteit deur deel te wil wees van die “in” groep op kampus. Hulle opbreek is onafwendbaar.  Daar volg ’n huwelik met drie dogters vir Rachel en ’n goue Olimpiese medalje vir Andy.  En heeltyd is daar hierdie “gemis” in albei se lewens.  Daar is groot teleurstelling in albei se lewens.  Hulle het mekaar eintlik na alles so nodig, maar gaan hul paaie ooit weer eendag kruis?  - Jenny du Toit